GELYKENIS 12: VERGEWE ASSEBLIEF!

Ons leef in ‘n gemeenskap wat ‘n onblusbare behoefte het aan vergifnis.

In Spanje word die storie vertel van ‘n pa en sy seun wat van mekaar vervreem geraak het. Die seun het weggeloop van die huis af en die pa het na hom gaan soek. Die pa het vir maande aaneen na sy seun gesoek, maar kon hom nie opspoor nie. In ‘n laaste desperate poging om met sy seun versoen te raak, het die pa ‘n advertensie in die koerant van Madrid geplaas. Die advertensie was: “Liewe Paco, ontmoet my asseblief Saterdag voor hierdie koerant se kantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Jou pa.”

Daardie Saterdag het 800 Paco’s opgedaag wat graag deur hulle pa’s vergewe wil word.

Hoeveel keer moet mense vergewe? Dit is waaroor vandag se gelykenis gaan.

“Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: ‘Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?

Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg en gesê: ‘Betaal wat jy my skuld!’ Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

Toe sy medeamptanre sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie? Die koning was woedend en het hom oorgegee om gematrel te word totdat hy al die skuld betaal het.

‘So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.'” (Matteus. 18:21-35)

Wanneer ‘n mens hierdie vraag wat Petrus vra lees, dan wil dit lyk asof hy al begin het om die boodskap wat Jesus wou oordra te verstaan, naamlik dat die eise van gehoorsaamheid in die koninkryk van God verder strek as die van die Fariseërs. Die Fariseërs se standaard vir vergifnis was drie keer. Hulle lei dit af van Amos 2:6: “So sê die Here: Selfs as Israel net drie keer sonde gedoen het, sou ek sy straf nie herroep nie. Maar nou het hy ‘n vierde sonde daarby gevoeg… daarom sal Ek…” Hieruit is afgelei dat God se vergifnis so ver as drie oortredings strek, maar die vierde ooortreding word gestraf. Daarom het die Fariseërs geleer dat ‘n mens net drie keer hoef te vergewe.

Petrus verstaan die standaard van die koninkryk is hoër. Hy is bereid om sewe keer te vergewe. In hierdie gelykenis lees ons van die beginsels wat Jesus weer en weer geleer het terwyl Hy op aarde was.

(i) ‘n Mens moet vergewe as jy vergewe wil word. As ek nie breid is om my medemens te vergewe nie, kan ek nie hoop dat God my sal vergewe nie. (“Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” – Matteus 5:7 en ook Matteus 6:14, 15 en Jak 2:13)

(ii) Hierdie punt word beklemtoon deur die verskil tussen dit wat die twee mans geskuld het. Die een skuld die koning miljoene. Die ander een skuld sy medeamptenaar ‘n paar rand. In die Ou Vertaling wys die verskil duidelik. Die amptenaar skuld die koning 10 000 talente. Die medeamptenaar skuld die man 100 pennings.

ARS Kennedy het die vergelyking so geskets. Veronderstel hierdie twee manne moes hule skuld in 10 sente betaal. Die een wat sy medeamptenaar geld geskuld het, sou sy skuld in sy sak kon dra. Die een wat die koning miljoene geskuld het, sou ‘n weermag van ongeveer 8,600 mans nodig gehad het om sy skuld rond te dra.

Die punt is: Niks wat mense ooit aan ons kan doen, kan vergelyk word met dit wat ons aan God gedoen het nie. En as God my skuld vergewe het, moet ons ook ons medemens hulle skuld vergewe. Niks wat ons ooit vergewe kan eers naastenby vergelyk word met dit waarvoor ons vergewe is nie.

Dink bietjie hieroor, dan kan jy dalk saamgesels:

Wat het dit vir jou beteken om iemand anders te vergewe?

Wat het dit vir jou beteken om deur iemand anders vergewe te word?

Hoe het die feit dat die Here jou vergewe het, jou vergifnis van ander mense geraak?

Watter verband is daar tussen vergifnis en gesondheid en ‘n vol vreugdevolle lewe?

12 thoughts on “GELYKENIS 12: VERGEWE ASSEBLIEF!

Add yours

  1. Om ander nie te vergewe vir die onreg wat hulle jou aangedoen het nie, om met haat en wraakgedagtes saam te lewe, vergiftig ‘n mens van binne. Maak jou bitter en lelik. Daarom dra ek nie wrokke in my rond nie.

    Maar om te vergewe en vrede te maak, beteken nie vir my ek moet my verhouding, van watter aard ook al, voortsit met daardie persoon nie.

    Soms moet mens vergewe en dan aanbeweeg, weg van die een aan wie jy vergifnis gegee het, vir jou eie gesondheid en beswil.

    Maar die grootste hiervan, vir my, is om te leer om jouself te vergewe. Dit is baie keer moeiliker as om enige iemand anders te vergewe.

  2. Ek stem absoluut saam met jou unobastardo. Vergewe is moeilik. Baie moeilik. Maar dis bevrydend ook. Ek het geleer dat vergewe help om wonde te genees. Vergifnis vir my is om te “let go of the hatred”. Maak jouself los en beweeg aan.

  3. Die keer wat eerste by my opkom waar ek vergewe is: My twee dogtertjies onderskeidelik 8 & 10 se skool het een Vrydag-middag vroeer uitgekom. Ek het afgespreek dat ek hulle sou kom haal (Oupa kry hulle gewoonlik in die middae). Dit ontwikkel toe in ‘n nagmerrie Vrydag en plus minus 1uur 20 minute te laat onthou ek van my twee dogtertjies. Ek het teen die spoed van wit lig gejaag en in trane by die skool gearriveer. Albei van hulle het met 2 rooi gesiggies (van die hitte) by die busstoppie vir my gewag. Ek het soveel keer jammer gese, en glo my ek het innige berou gehad, maar tot my verbasing was hulle albei baie bly om my te sien, en heel kalm toemaar mamma ons is net dors & honger. Hulle het dit nooit ooit weer opgehaal nie, en nadat ek die vierde keer gese het ek is jammer het hulle in ‘n koor laat hoor – dis okay Mamma ons is nie kwaad nie, ons verstaan. Ek het agterna daaroor gedink. Was dit die werklike berou of was dit die kinderlike vergifnis wat die uiteinde so soet smaak gegee het. (Ons het roomys onder die bome geeet en die kliente moes maar vir ‘n oomblik was) Dan het ek ‘n ander vergifnis prentjie in my lewe een waar ek moes vergewe. Ek het vergewe, maar hoekom dink ek nog so baie daaraan, en wat is die nare gevoel wat ek kry as ek haar sien? Tog vertrou ek weer. Ek besef dat vergifnis vir haar niks beteken, dit is ek wat die bevryding nodig het. Dit beinvloed alleenlik my lewe. Al het ek haar vergewe hoef sy sekerlik nie onder my vriende te tel nie, of hoe?

  4. boer: Ek dink aan die Pous wat die persoon wat op hom geskiet het in die tronk gaan besoek het. (Skuus ek het nie nou die name gaan opsoek nie) Hy het die man vergewe sonder om met die regstelsel in te meng.
    Na my mening beteken vergifnis nie dat die gevolge van my oortredings gekanseleer word nie. As ek met die soek van my vergifnis die motief het dat die gevolge gekanseleer moet word, dan het ek ‘n agenda.
    Vergifnis is vir my ‘n verhoudingsaak. Vergifnis herstel my verhouding met God en met myself en dan eers met die ander persoon. Vergifnis maak my gesond, nie die persoon wat vergewe word nie.
    Ek stem egter ook saam dat vergifnis soms vir my toelaat om aan te gaan met my lewe, dikwels sonder die persoon wat my seer gemaak het en dan natuurlik ook sonder die seer van die seermaak.
    In ons personeel Bybelstudie oor die saak vanoggend het iemand juis gesê dat vergifnis dikwels gebeur sonder dat die persoon wat vergewe word weet dat hy vergewe word.
    Op hierdie stadium sou ek kies om nie by die doodstraf debat betrokke te raak nie.
    Kom ons kyk hoe reageer die ander.

  5. Oor vergifnis – beter as Bastardo kon ek dit nie gestel het nie. Veral die deel dat dit soms die moeilikste is om jouself te vergewe. Ek het in die lewe geleer dat, soos Ds Attie se, vergifnis mens toelaat om in vrede aan te gaan, maar SONDER die persoon wat jy vergewe het. Mens lewe vorentoe, nie agteruit nie.

    Doodstraf – taai tameletjie daardie. Voor ek regte geswot het, was ek vuur en vlam pro-doodstraf, maar intussen het ek heelwat ander uitkyke hieroor gesien, gelees en bestudeer. En dit het al werklik gebeur dat onskudige mense tereggestel is. Hoe keer mens ooit so ‘n vonnis om? Jy kan nie, niks kan die onskuldige se lewe weer aan hom teruggee nie.

    My eie menswees, my binneste, SKREE egter vir doodstraf wanneer kinders en ou mense, weerloses, seer gemaak word. Dan wil die dier in my oorvat en ek soek geregtigheid, wraak. Ek wil doodmaak, want ek voel daardie misdadiger verdien nie die lewe nie. Hy het nie respek vir ander se lewe gehad nie, hoekom moet daar respek vir sy lewe aan hom betoon word?

    En dan onthou ek – die wraak kom my nie toe nie. God sal geregtigheid laat geskied. Nie my wil nie, Sy wil. Dis moeilik, dis VREK moeilik. Maar dis hoe dit is, hoe dit moet wees.

    En tog, as iemand ooit eendag my kinders, my geliefdes, skade aandoen – ek weet nie. Tot dan sal ek nie weet of ek genoeg vergifnis in my het nie.

  6. oor vergifnis – ek wil graag byvoeg dat die voorbeeld van ons Hemelse Vader nagevolg moet word. Sy vergifnis van ons sonde is om dit te verwyder so “ver as wat die Ooste van die Weste verwyder is”. daardie oneindigheidsafstand vra dat ek ook so moet kan vergewe. Dit lyk vir my dat ons onsself tyd moet gee om te kan vergewe. Dit is alleen moontlik na vele gebede, skerp luister na die Gees se stem en die waagmoed om dan te vergewe.
    Attie – die saak oor vergifnis sonder dat die ander party weet -is interessante saak waaroor ek gemaklik is. Natuurlik is daar die “voorwaarde” dat dit nie skuilplek moet wees om nie met die ander persoon te praat nie. Daarom is Tanzie reg as sy beweer dat na vergifnis die ander persoon nie noodwendig jou vriendin hoef te wees nie.

  7. Oor vergifnis: Ek dink mens kan maklik die “op jou eie vergewe” saak so hanteer dat jy jou verantwoordelikheid ontduik. Ek dink die vraag behoort te wees: Wat is die beste vir die ander party? Nie: Wat is die beste vir my en wat sal my beter laat voel nie?

    Jesus se voorbeeld is dalk die riglyn: As jy by die altaar kom en jy ontdek iemand het iets teen jou, gaan maak reg. Nie: As jy by die altaar kom en jy kom agter jy het iets teen iemand…

    Ek glo egter ook dat elke situasie onder leiding van die Heilige Gees en op meriete hanteer behoort te word.

  8. Iemand het een keer vir my om vergifnis kom vra. Nogal iemand saam gebring om getuie te wees van die vergifnis vra proses. Toe die vergifnis-vra-sessie verby is, was ek die een wat soos ‘n skurk gevoel het. Hierdie ander persoon het op so ‘n manier vergifnis gevra dat ek op die ou end oortuig was daarvan alles was my skuld.

  9. Kandas het hy dan vergifnis gevra om homself beter te laat voel? Of uit ware berou? Ek dink nie dit is reg om vergifnis te vra sodat jy jouself op die skouer kan tik en se: “sjoe wat ‘n wonderlike mens is ek, altyd die minste….” As die skuld by my le moet ek dit aanvaar, ten volle, en myself ook kan vergewe. Maar die belangrikste in die proses van vergifnis is vir my die gesond maak van die slagoffer.

  10. Vergifnis is ‘n keuse wat mens maak. Sommige mense maak van vergifnis die “ultimate” goeie werk. Dit lyk soms asof hulle rekord hou van hoeveel mense hulle al vergewe het. Skrikwekkend hoe sommige mense die vergifnis oomblik gebruik as ‘n verskoning om alles te sê wat hulle nog altyd vir daardie persoon wou gesê het, maar nog nooit die moed gehad het om te sê nie.
    Juis daarom sien ek vergifnis veel eerder as ‘n saak van onbeperkte eerlikheid tussen my en God waar ‘n derde persoon net betrek word as dit regtig nodig is. Vergifnis is vir my dikwels ‘n geloofsverklaring. Iets soos: “Here ek glo dat U die wond wat deur hierdie ding veroorsaak is kan genees. Ek vergewe en verklaar daarmee dat ek graag genees wil word.”
    Hoeveel keer? Sewentig maal sewe keer. As die persoon van nie een keer weet nie, maak dit ook nie saak nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: