‘n Kersboom in ons woonkamer tydens kersfees

Ons huis sal , soos elke ander jaar, hierdie kersfees ‘n kersboom hê.

Eerskomende Sondag (27 November 2011) is die eerste Sondag in Advent. Die eerste Sondag van Advent is die begin van die kerkjaar. In die kerklike jaar is daar vier Adventsondae waartydens Christen dwarsoor die wereld hulle voorberei om op Kersdag die menswording van God in Christus Jesus te herdenk.

Kerstyd leen hom totbesondere simboliek. Een universele simbool van kersfees is die kersboom. Ek weet van baie Christene wat nie kersfees vier of ‘n kersboom het nie omdat die oorsprong een of ander heidense fees sou wees.  Ek het nog nooit die teorie ernstig bekyk nie, so ek gaan nie my mening daaroor gee nie. Wat ek wel weet is dat Christene Kersfees gemaak het en miljone mense sal op 25 Desember 2011 weer die geboorte van Jesus herdenk en elke feitlik elke nuuskanaal oor die wereld sal iewers daaroor berig. Ons gedenk die geboorte van Jesus Christus.

Oor die kersboom. Die kersboom het tog godsdienstige betekenis. Die kersboom verwys vir baie Christene na die boom van die lewe in die middel van die tuin van Eden waarvan ons in Genesis lees. Die boom herinner ons dus aan die skepping en dan ook aan die koms van Christus om die skepping te verlos. Ja, Christus het nie net gekom om ons van ons sonde te verlos nie. Christus het gekom om sy skepping te verlos. (Romeine 8:19-20)

In Jesaja 11 lees ons ook van die stomp van Isai waaruit n takkie sal uitspruit. Mens sou kon sê dat die stomp van Isai (Dawid se pa) die famielieboom van Jesus verteenwoordig. Die kersboom sou dan ook ‘n simbool kon wees van die takkie wat uitgespruit en tot volle wasdom gekom het.

Erens moes iemand ‘n boom of twee afgekap het wat hulle gebruik het om die kruis van Jesus Christus te maak. Die kersboom sou ons ook daaraan kon herinner en daarom sal daar iewers aan ons kersboom een houtkruisie hang. Sodat ons nie die groot prys wat Hy moes betaal kan vergeet nie.

In Openbaring lees ons ook van n boom in die middel van die tuin. Tussen die hoofstraat van die stad en die rivier aan die anderkant staan die boom van die lewe. (Openbaring 22:2) Die boom van die lewe dra twaalf keer per jaar en die blare van die boom bring genesing vir die nasies. (Openbaring 22:3) Die kersboom in ons woonkamer sal ons ook met verlange laat uitsien na die dag wanneer Jesus weer gaan kom en ons in die Nuwe Jerusalem rondom die boom van die lewe fees sal vier.

In ons huis sal die kersboom vir ons die verhaal vertel wat begin by God die Skepper, deur die geskiedenis van Israel en die belofte van die Messias en sy sterwe aan die kruis, tot by die wederkoms wanneer die Een wat die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde is, sy plek op die troon sal inneem.

Die Inligtingswet

In n artikel op BEELD se webblad staan daar:

Die meerderheid van parlementslede het Dinsdagmiddag ten gunste van die ad hoc-komitee se verslag oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting gestem.

229 LP’s het ten gunste van die wetsontwerp gestem, 107 LP’s het daarteen gestem en 2 LP’s het nie gestem nie.

Minstens 35 ANC-LP’s het teen die wetsontwerp gestem.

Ek persoonlik sien hierdie as een van die donker dae in die geskiedenis van Suid Afrika. Die ooreenkomste met die wet wat op Woensdag 19 Oktober 1982, wat later bekend geword het as “Swart Woensdag”, deur Jimmy Kruger in die tyd PW Botha afgekondig en met rampspoedige gevolge toegepas is, is duidelik.

Een van die belangrikste probleme met die wet is dat daar nie ‘n klousule is wat ‘n persoon wat geklasifiseerde inligting het beskerm sou die inligting in openbare belang wees nie. Bv. sou die inligting oor Julius Malema, Bheki Cele, Minister Cwele, ens. nie aan die lig gekom het sou die wet voorheen in werking gewees het nie. Die openbare vervolger het ook haar kommer oor die wet reeds laat hoor.

Die feit dat die Nelson Mandela kantoor vir Herinneringsdag hulle stem teen die  wet laat hoor het, spreek boekdele.  Almal weet hoe versigtig hulle is om enige uitsprake teen die ANC te maak. Juis omdat NelsonMandela nie vanuit die graf wil regeer nie. Groot ANC leiers (Hoofsaaklik van die verlede) is openlik krities. Byvoorbeeld Jay Naidoo en Ronnie Kasrils. Daarmee saam is dit ook belangik  dat sommige ANC LP’s teen die wet gestem het, ten spyte van die feit dat hulle nie net verplig is om teenwoordig te wees nie, maar ook om ten gunste van die wet te stem. Hierdie is uitsonderlike gebeure in en vir die ANC. Dalk is Terro Lekota reg dat die ANC Swart Dinsdag  sal betreur wanneer hulle in die opposisie banke sit. Dalk is Helen Zille reg dat die DA teen 2017 die regering kan oorneem. Evita sê: “It is a goverment by the people, for the people by people who don’t care for the people.”

Enige persoon hoef net in die media te kyk na die bekendmaking van talle gevalle van korrupsie deur verskeie hooggeplaasde lede van die ANC. Natuurlik is die media nie engeltjies nie en doen hulle dinge verkeerd en is beriggewing soms nie van die beste nie, maar feit is dat die meerderheid van hierdie onthullings in ‘n groot mate waar is. Ons weet nog nie wat die uitkoms gaan wees rondom die onthullings van beweerde korrupsie teen Julius Malema en nou Mac Maharaj nie.

Mense kritiseer die wet vir verskeie redes. Ek dink sommige kritiseer dit omdat hulle dink en voel alles wat die ANC doen moet teengestaan word. Ander kritiseer die wet omdat hulle regtig donker wolke op die horison sien. Korrupsie in die regering en die ANC is besig om die armstes van die armes te benadeel. Die wet maak dit onwettig, strafbaar met tot 25 jaar tronkstraf,  om enige geklasifiseerde inligting wat dalk in openbare belang mag wees, bekend te maak.  Die wet maak die prosedure waarvolgens duidelikheid oor sulke inligting gekry kan word onhoudbaar en die werkswyse sal net lei tot die vervolging van die persoon wat die inligting het.

Gelde wat aan luukse verblyf, duur motors, uitspattige partytjies, omkoopgeld vir tenders spandeer is, sou alreeds ‘n groot verskil kon gemaak het in vraagstukke soos HIV/VIGS, behuising, onderwys, mediese versorging, ens. Hierdie wet gaan nie net beteken dat sulke onnodige kostes in die toekoms as geheim geklassifiseer word en dus nie toeganklik vir die algemene publiek gaan wees nie, maar daar gaan in die toekoms niks wees wat sulke kriminele bedrywighede verhinder nie. Hoekom dan nou nie omkoopgeld vat as die wet my gaan beskerm nie.

Ek verstom my egter vir Christen leiers se swye oor hierdie saak. Die sosiale ongeregtigheid wat op die medium tot langtermyn die gevolg van hierdie wet gaan wees, moet nog gesien word. Maar ek wonder soms of die kerk nie so graag die ANC ter wille wil wees dat hulle liewers niks wil sê nie. Ek is verbaas oor almal wat hulle stemme laat hoor oor die missionêre karakter van die kerk en in so ‘n belangrike saak swyg.

Missionêr beteken om jou stem te laat hoor teen enige vorm van sosiale ongeregtigheid. Ek kry soms die gevoel dat die enigste sosiale ongeregtigheid waarteen Christen leiers hulle stemme laat hoor is die foute wat die NG Kerk in die verlede gemaak het. DIt is inderdaad baie maklik om vandag op te staan en te se as ek in die apartheidsjare geleef het, sou ek ook in opstand gewees het. Sommige se selfs hulle sou waarskynlik op Robben Eiland gewees het.

Hierdie is een van daardie geleenthede waar ons ons stem moet laat hoor.

 

MISSIONER: BRING MENSE BY JESUS

Ek hoor Saterdag  John Burke van Gateway Church maak hierdie opmerking op ‘n video snit : “If your unchurched friends are not coming to faith and becoming the church, you are not missional. Period.” Ek maak toe die opmerking dat ek nie meer met die opmerking kan saamstem nie. Iemand maak toe die opmerking dat ek hy nie meer met die opmerking kan “disagree” nie. Die persoon het my toe aan die dinge gesit.

John Burke was by die geleentheid spreker by die 2010 VERGE-NETWORK konferensie. Ek volg graag VERGE NETWORK vir twee redes. Die een is die klem wat die groep op disselskap plaas, en dan natuurlik hulle benadering tot die missionale karakter van die kerk. VERGE-NETWORK plaas dan ook baie klem op Missionêre Geloofsgemeenskappe as die manier waarop die kerk in ons post-moderne wêreld behoort te funksioneer.

John Burke verwoord my kommer. Ons kerke is besig met geweldig baie missionêre aksies. Die NG Kerk is naas die staat die organisasie wat die meeste geld spandeer aan mense in nood in Suid Afrika. Ek weet van geen gemeente wat nie self fisies ‘n missionere projek in hulle onmiddelike omgewing en gemeenskap het nie. Maar… week na week, maand na maand, jaar na jaar is dit dieselfde gesigte wat voor ons sit. Lees voort “MISSIONER: BRING MENSE BY JESUS”

Prof Piet Naude oor BELHAR

Ek lees gieter hierdie kommentaar van Piet Naude op LITNET. Ek dog ek plaas dit hier as iemand dalk wil lees.

Ek was op pad tussen George en Port Elizabeth toe ek die sms van kollega Rheti van Niekerk kry dat die NGK se Algemene Sinode deurbraakbesluite oor kerkhereniging en Belhar geneem het. Ek is nie tans meer aktief betrokke by kerklike leierskap nie, en het nie die binnekringdebatte noukeurig gevolg nie.

Maar ek was onmiddellik bly en verlig oor die nuus.

Die rede hiervoor is dat ek nooit sinies oor die kerk of spesifiek die NGK was of kon word nie. Tydens ’n bespreking van my Belhar-monografie, Neither calendar nor clock,  in Bloemfontein het die gespreksleier uit Nederland gevra: “Hoe kan jy nog lidmaat van hierdie kerk bly?” My antwoord was: “Dis God se kerk, en Christus se Heerskap kan op die lang duur nooit gekeer word nie – al vat dit jare, en al gebeur dit deur skade en skande.”

Die besluit oor kerkhereniging is nie regtig nuut nie. Die NGK het in 1986 die draai weg van ’n rasgebaseerde ekklesiologie gemaak, en toe reeds ’n verbintenis tot sigbare kerkeenheid uitgespreek. Wat wel nuut is, is die dringendheid en duidelike praktiese riglyne hoe so ’n proses kerkregtelk moet geskied. Die daad word nou by die vroeëre woord gevoeg, en dit moes eintlik al lankal gebeur het.

Dis ’n uiters wyse en nugtere besluit wat wil keer teen verdere kerkskeuring (soos die APK) en teen moontlike onverkwiklike stryde agterna. Dit sal nou koelkopleierskap en goeie teologiese begeleiding verg om die pad deur gemeentes en ringe te loop terug na die Algemene Sinode.

Die eintlike deurbraak lê in die Belhar-besluit.

Vir baie ontleders en teoloë was die normatiewe Gereformeerde karakter van die NGK op die spel met Belhar. Ek en ander het met besonderheidsontledings aangetoon waarom die NGK in 1986 en die jare daarna nie konstruktief met Belhar kon omgaan nie: dis aanvanklik beskou as aanval op die NGK; die feit van ’n belydenis was as onnodig radikaal gesien; die ontstaansgeskiedenis het die motiewe van die NGSK verdag gemaak; en daar is lomp, maar onsuksesvolle, pogings aangewend om die inhoud van die belydenis te diskrediteer.

Maar die diepste redes vir die NGK se onbeholpe hantering van Belhar was teologies van aard: die NGK se teologiese rigting in die eerste helfte van die 20ste eeu is deur ’n spesifiek Suid-Afrikaanse vertolking van Abraham Kuyper se  neo-Calvinisme en die Skotse piëtisme van Andrew Murray bepaal. Die neiging was dus om vanuit die skepping en die pluriformiteitsbeginsel te dink eerder as vanuit die herskepping en die versoening in Christus. Die werklike posisie van Johannes Calvyn en die konfessionele impak van Karl Barth het eers in die vroeë 1970’s begin om stadig in die teologie van die NGK in te sypel. Laat ons nie vergeet dat van die heel eerste geskrifte oor ’n belydende kerk uit die pen van Beyers Naudé gevloei het nie, en die hoofstroom bereik het in die werk van die Stellenbosse dogmatikus Willie Jonker. 

Hierteenoor het die destydse NGSK hul Gereformeerde selfverstaan sterk vanuit Barth en Bonhoeffer en die ekumeniese teologie bedink. Belhar 1982 was die resultaat van ’n lang en moeisame tog om eenheid, versoening en geregtigheid vanuit die Bybel en die Gereformeerde tradisie tot belydenis te omvorm.

In hierdie sin was Belhar dus teologies gewoon te vroeg vir die NGK.

Ek is nie so seker dat die NKG se huidige besluit uit ’n diep teologiese verskuiwing spruit nie. Vyf-en-twintig jaar het ’n nuwe geslag gebring met minder emosionele en historiese bagasie. Die demokratiese oorgang in Suid-Afrika het lidmate al hoe meer gemaklik laat word in ’n multikulturele samelewing waar besluitnemingsbevoegdheid nie meer eksklusief by Afrikaners lê nie. En die proporsionele vermindering van die Gereformeerde aandeel aan Christene in Suid-Afrika speel waarskynlik ook ’n rol om liewer saam te staan as alleen.

Maar teologie staan mos nooit los van konteks nie. Wat nou nodig is, is herbesinning van die NGK se teologiese rigting. Menslik gesproke sal Belhar baie moeilik deur die NGK self aanvaar word, maar dat ons Belhar in ’n herenigde kerk sal ontmoet, staan nou ten minste vas.

Dis nooit te laat om te bely nie.             

EK WIL NET GOD SE SPOOR SNY

Ek dink die laaste paar weke dikwels oor leierskap.

Ek hoop dit is algemene kennis dat iemand wat in die alledaagse lewe ‘n leier is nie noodwendig ‘n goeie leier in ‘n gemeente ook sal wees nie. Ek dink die teendeel is dikwels (nie in alle gevalle nie) waar.

‘n Leier in n gemeente moet tot n sekere mate ‘n aangename persoon wees. Mense moet met hom oor die weg kan kom en hy/sy moet dit vir hulle maklik maak om met hom/haar oor die weg te kom. John Maxwell reken “Leadership is influence. Nothing more. Nothing less.” ‘n Aangename persoonlikheid en die feit dat mense van jou hou gee natuurlik vir jou n basis omm van te werk om mense te beïnvloed.

Iemand met ‘n aangename persoonlikheid kan mense egter ook negatief beïnvloed. Leiers kan ook sulke aangename mense wees dat mense alte lekker in hulle gemkasones ontspan. Hoe meer tuis jy my in my gemaksone laat voel, hoe meer hou ek van jou. Ek vertrou op jou as my geestelike leier om seker te maak dat ek nie nodig het om my grense te skuif nie. Solank dit gebeur het jy my ondersteuning.

Steve Jobs was nogal van mening dat ‘n mens iets moet ontwikkel wat mense nie weet dat hulle nodig het nie. Lees voort “EK WIL NET GOD SE SPOOR SNY”

Die boodskap van Jona

Ek is elke tweede Dinsdag by ‘n groep jongmense – almal profesionele mense onder 35. Met die uitsondering van een paartjie het almal reeds kinders. Ons gesprekke is altyd baie interessant omdat hulle nie huiwer om hulle vrae te vra nie. Gisteraand was Jona ons tema.

Uit die aard van die saak moes die kwessie oor vis aan die orde kom. Was daar regtig ‘n vis? Nadat hulle n rukkie gesels het, het ek verduidelik dat die kenners se menings uiteen loop. Daar is die wat sê die hele verhaal is waar en dat God  wat alles geskep het en Jesus uit die dood laat opwek het ook eenmalig ‘n vis kon skep om Jona in te sluk en hom na drie dae weer op die strand uit te spoeg. Ander is weer van mening dat die verhaal is maar Jona gebruik die vis as ‘n metafoor om te verduidelik wat hy deurgegaan het vandat hy oorboord gegooi is totdat hy uiteindelik op die strand uitgespoel het.

‘n Verdeer mening is dat die verhaal van Jona ‘n mitologiese verhaal is wat ook in ander godsdienste opduik en in die Bybel beland het deur iemand wat die mitologiese verhaal geneem het en dit oorvertel het om in die konteks van Israel se godsdiens te pas. Lees voort “Die boodskap van Jona”

Wat beteken dit om ‘n Christen te wees?

Eerstens moet ek sê: Kyk mooi na die vraag. Die vraag is nie wie is ‘n Christen en wie is nie ‘n Christen nie. Wie Christene is en wie nie Christene is nie, is heeltemal n ander debat. Dit is nie waaroor ek ‘ n paar gedagtes wil neerskryf nie. In elk geval dink ek ons dink te veel kere dat om  “in te stemtot sekere geloofswaarhede” die finale aanduiding is van wie ‘n Christen is en wie nie.

Wat beteken dit om ‘n Christen te wees is bietjie meer prakties?

Om ‘n Christen te wees beteken dissipelskap. ‘n Lewenslange stap agter Jesus aan. As volgeling van Jesus is so n persoon TOEGEWY AAN … Lees voort “Wat beteken dit om ‘n Christen te wees?”

Wat is die evangelie?

Ek lees tans Scot McKnight se jongste boek “The King Jesus Gospel: The Original Good News Revisited.” Ek het reeds in ‘n vorige “post” oor die boek iets geskryf. Ek het die boek een keer vinnig deur ges-“scan”. Nou lees ek meer aandag vir ‘n tweede keer deur die boek. Alhoewel Scot se boek fokus op die wyse waaropsy “tribe”, die “evangelicals”, die evangelie gereduseer het tot die verkondiging van ‘n boodskap van verlossing en nie die volle en dus ware evangelie nie, is die boek tog vir ons ook van waarde omdat die “evangelicals” van die VSA ‘n baie groot invloed op ons as NG Kerk ook het.

Scot McKnight en NT Wright beweeg baie naby aan mekaar. Enige iemand wat Wright lees sal besef dat McKnight soos hy dink en voel met betrekking tot Israel en Jesus se rol daarin. Beide lees die Bybel binne die raamwerk van groter verhaal waar daar ‘n bepaalde ontwikkeling is. Lees voort “Wat is die evangelie?”

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑