Tieners: Selfrespek en groepsdruk.

Ek het vanoggend Oos-Moot Hoërskool geopen en is gevra om oor respek te praat.

Toe ek hoor dat ek oor respek moet praat was die eerste vraag wat ek vir myself gevra het: Wie is die persoon vir wie ek die meeste respek het en hoe tree ek op teenoor die persoon vir wie ek soveel respek het?

Die persoon vir wie ek die meeste respek het, is my vrou. Ons het mekaar lank geken voordat ons begin dink het dat ons lewensmaats sou kon wees. Ons het verskeie skool-verwisseling en skool-verlaterskampe saam gedoen. In die tyd het ons mekaar baie goed leer ken. Op sulke kampe kan mens nie anders as om oor jou lewe en die verskillende waardes en norme te praat nie.

Ek en Renate kom uit verskillende agtergronde. Soveel so dat sy sê dat sy op skool nie twee keer na my sou gekyk het nie. Sy was deel van die voorbeeldige groep en ek deel van… wel die ander groep. Ek het ‘n groot stuk rebellie en opstand in my gehad waaraan ek op verskillende maniere uitdrukking gegee het.

Renate was een van die toppresteerders in die skool en ek het gesukkel om deur te kom en het by herhaling kort duskant skors omgedraai. My rebelse lewe is daarna voortgesit in die weermag. Genadiglik het ek daar tot bekering gekom en is my lewe in heeltemal n nuwe rigting gestuur.

In die tyd wat ons vriendskap al hoe hegter geraak het, het ons dikwels die verskillende agtergronde waaruit ons kom bespreek. Die beginsels en waardes wat vir elkeen belangrik is, is deurgetrap. Na ongeveer twee jaar se kuier het daar iets tussen ons ontstaan wat ‘n mens as “vas uitgaan” sou kon beskryf. Sonder dat ons so ooreengekom het, het elkeen van ons op verskillende tye besluit dat ons nie weer met ander mans en dames enige iets anders as net platoniese vriendskappe sou hê nie.

Maar waar kom respek in hierdie verhaal in?

Respek beteken vir my onder andere dat ek nooit iemand anders in ‘n posisie sou plaas waar hy/sy sy/haar beginsels op die spel sou plaas nie. Ek het soveel respek vir haar gehad dat ek haar nooit in ‘n posisie sou wou plaas wat sy na die tyd sou voel dat haar self-respek ‘n knou gekry het nie. Natuurlik het dit sekere implikasies vir die aard van ons seksuele verhouding gehad, maar ook veel meer as dit.

Ek sou nooit van haar verwag om in geselskap te wees of by ‘n geleentheid te wees waar mense haar met iets negatiefs sou assosieer nie.

Ek het klem daarop gelê om nooit op enige manier voor haar of van haar te praat wat sou laat blyk dat ek vir haar enige iets anders as intense respek gehad het nie.

Selfrespek en groepsdruk by tieners is na my mening twee kante van dieselfde munt. Wanneer mens toegee aan groepsdruk gee jy in effek van jou waardes prys. Wanneer jy jou waardes prysgee daal jou selfsrespek omdat jy besef jy kon nie staande bly nie. Daarmee saam het die boelie en die persoon en persone wat vir die groepsdruk verantwoordelik is, ook n baie groot probleem met selfrespek en dan natuurlik respek vir ander. ‘n Boelie wil ander kry om dieselfde leefstyl as hy/sy te handhaaf sodat hy/sy kan sê: “Almal doen dit!”

Boelies en drukgroepe het so min respek vir ander dat hulle nie omgee  as hulle optrede ander mense van hulle selfrespek ontneem nie. Derhalwe is dwelms, drank, seksuele losbandigheid en baie ander dinge so ‘n groot probleem. Ons probeer tieners met skuldgevoelsn sover kry om sekere dinge nie te doen nie of op te hou doen. Ons weet egter dat die opwek van skuldgevoelens geensins die gewendse uitwerking het nie. Alhoewel die uitspel van die gevolge van sekere optrede meer effektief is, weet ons ook dat tieners dikwels nie baie ver in die toekoms indink nie en in ‘n groot mate vir die oomblik lewe.

Ek is van mening dat as ons tieners meer bewus kon maak van die waarde van selfrespek en selfagting ons meer sukses sou behaal.

My selfrespek maak dat ek myself nie verkleineer nie en daarom verkleineer ek ook nie ander nie.

My selfrespek maak dat ek aan my waardes vashou en daarom laat ek jou toe om aan jou waardes vas te hou.

My selfrespek maak dat ek met myself eerlik is en daarom is ek ook met ander eerlik.

So sou die lysie kon aangaan. Respek vir ander begin by selfrespek.

‘n Nuwe leefstyl begin by selfrespek. Die volhou van ‘n bepaalde leefstyl is na my mening gekoppel aan die mate van selfsrespek.

By geleentheid het iemand vir Jesus gevra wat die grootste gebod is. Jesus se antwoord was dat jy God meer lief moet hê as enige iets anders en jou naaste soos jouself.

Liefde vir my naaste begin by liefde vir myself. Respek vir my naaste begin by respek vir myself. Maar, Jesus stel ook die gebooie gelyk aan mekaar. Ek kan God nie meer liefhê as wat ek myself het nie. Ek kan God nie meer liefhê as wat ek my naaste liefhet nie. My liefde vir God kom tot uitdrukking in my liefde vir myself en my liefde vir my naaste.

Ek sou respek vir God natuurlik ook aanbidding kon genoem het.

Ek het vandag nog meer respek vir Renate as wat ek gehad het die dag toe ons getroud is. Ek kan ook met groot vrymoedigheid sê dat my selfrespek in die tyd ook toegeneem het. Of dalk, na die mate wat ek as kind van God myself deur God se oë gesien het, kon ek Renate en ander mense ook deur God se oë sien.

Die dinge wat ons gedoen het of nie gedoen het nie, het eintlik bitter min te make gehad met of iets sonde is of nie. Die eenvoudige rede waarom ons sekere dinge gedoen of nie gedoen het nie, was omdat ons mekaar liefgehad het en op daardie manier aan ons respek vir mekaar uitdrukking gegee het. Ander mense kan dit anders doen en anders daaroor voel. Vir ons twee het dit gewerk.

Respek het natuurlik ook te make met die feit dat ons na die beeld van God geskep is, daaroor by ‘n volgende geleentheid.

Psalm 116 – ‘n Baie Persoonlike Psalm

Ons het ons kleingroep se gesprek gisteraand begin met die vraag: “Vertel van  ‘n keer toe die Here op ‘n besondere manier tot jou redding verskyn het?”

Die rede waarom ons met die vraag begin het, is omdat daar in die eerste vers van Psalm 116 staan:

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

Wat my getref het, was dat nie een in die groep vertel het van ‘n radikale of  dramatiese ding wat die Here in antwoord op een of ander gebed gedoen het nie. Lees voort “Psalm 116 – ‘n Baie Persoonlike Psalm”

Hy sal (het) ook my graf ontsluit.

Die beste tronkgebou ooit.

Baie jare gelede het ’n bekwame argitek ’n tronkgebou ontwerp en daarop aanspraak gemaak dat niemand uit daardie tronk sal kan ontsnap nie. Nadat die tronk in ’n klein dorpie in Engeland opgerig is, het die owerhede gedink dat dit ’n goeie plan sou wees om Houdini, die wêreldberoemde ontsnappingskunstenaar, te nooi om te toets of die aanspraak van die argitek waar is. Houdini het juis nie lank voor
daardie tyd gespog dat geen tronk hom ooit sou kon binnehou nie.

Houdini het die uitnodiging aanvaar en met ’n groot media gevolg by die tronk opgedaag. Hy het in een van die selle ingegaan. Die tronkbewaarder het met ’n groot geknal die tronkdeur agter hom toegeslaan. Houdini het geluister hoe die sleutel in die slot gesteek word, hoe die tronkbewaarder die sleutel uittrek en hoe sy voetstappe wegsterf. Toe haal Houdini sy gereedskap uit en begin om aan die deur te werk.

Hy was baie verbaas om te ontdek dat nie een van sy beproefde metodes die slot kon oopmaak nie. Hoe hy ook al probeer het, die deur wou net eenvoudig nie oopgaan nie. Die ure het verbygetik. Die sweet het hom afgetap. Hy was verslae, want hy kon nog altyd daarin slaag om enige deur oop te maak. Uiteindelik het die groot Houdini tou opgegooi. Van pure uitputting het hy teen die deur geleun – en toe gaan dit oop. Die tronkbewaarder het nou wel die sleutel by die slot ingesteek, maar dit nooit gedraai nie. Die deur was nooit gesluit nie. Die enigste plek waar die deur gesluit was, was in Houdini se kop.

Al wat hom gevange gehou het, was sy gedagtes, sy instelling teenoor die skynbaar geslote deur. Hy het immers vas geglo: Die deur voor my het ’n slot wat oopgemaak moet word.

Die nood wat ons elke dag beleef en die dood waarmee ons so dikwels te make kry mag vir ons dalk lyk na ’n tronkdeur waaragter ons  toegesluit is. Maar, soos die lied sê: “Die Heer, die Sleuteldraer sal ook my graf ontsluit.” Daarom is daar niks in hierdie wêreld wat my van God se trou kan wegruk nie. Nie eers die dood nie. Niks op aarde kan my dood verhinder nie, maar niks op aarde kan my van God se trou beroof nie. Die opstanding is nie die oplossing vir die probleem van my dood nie. Die oplossing is die belofte dat God getrou is. Die dood sal wel die tronkdeur agter my laat toeklap, maar die deur sal oopgaan.

Wanneer ek in moedeloosheid teen hierdie deur leun, sal ek in die arms van die getroue God val.

Here, ek vertrou op U

Ons het in ons kleingroep gisteraand oor Psalm 16 gepraat.

Ons het die gesprek begin deur met mekaar te praat oor mense wat ons vertrou en wat tot gevolg gehad het dat ons daardie mense vertrou. In kort kom ons toe tot die gevolgtrekking dat ‘n mens iemand vertrou omdat hy hom oor ‘n tyd as betroubaar bewys het. ‘n Mens raak die skielik eendag betroubaar nie. Mens groei wel in jou betroubaarheid, maar dit is dikwels, veral in die lewe van volwassenes, ‘n eienskap wat nog altyd daar was, maar waarvan ons nie geweet het nie. Ons ondtek die eienskap met die verloop van tyd.

Die tweede vraag was toe oor hoe ons God vertrou. Lees voort “Here, ek vertrou op U”

Empatie

Ek kom van tyd tot tyd op ’n punt in my gebedstyd waar ek ontdek dat ek elke keer dieselfde rympie oor en oor bid. Wanneer ek dit agterkom, dan gaan soek ek na een of ander bron wat my kan help om nuwe inhoud aan my gebedslewe en dan ook aan my stiltetyd te gee. So het ek al Simply Christian van NT Wright ontdek; “The Hour that Changes the World” van Dick Eastmann en dan natuurlik die formidabele werk van Richard Forster Celebration of Discipline.

Ek lees op hierdie stadium Brian McLaren se jongste boek: “Naked Spirituality: A Life with God in Twelve Simple Words.” Die boek doen vir my wat die titel belowe. My lewe saam met God het meer betekenis en diepte deur die gebruik van twaalf eenvoudige woorde. Ek hoop om in die nabye toekoms ’n geleentheid op die webtuiste te skep waar ’n paar van ons saam die boek kan lees (Een hoofstuk per week.) en dan ook ’n gesprek daaroor kan voer.

Maar, die rede waarom ek vanoggend besluit het om hierdie stukkie te skryf is juis oor een van hierdie woorde. Die sewende van die twaalf woorde is “PLEASE: the practice of compassion and intercession, strengthening through empathy.” Let daarop dat hierdie woorde nuwe inhoud aan ’n mens se gebed gee, maar dat dit ook “the practice of compassion” tot gevolg het. Met ander woorde, my persoonlike verhouding met God is nie beperk tot my binnekamer nie, maar is veronderstel ’n verskil te maak in hoe ek my Christenskap uitleef.

Ek was verstom toe ek vanoggend oor die dinge begin dink en bid oor vir mense begin bid wat een of ander vorm van nood beleef. Lees voort “Empatie”

Fliek: The Blind Side.

Ek het gisteraand die fliek “The Blind Side.” gekyk.

Die rolprent vertel die ware verhaal van ’n jong man, Michael Oher,  wat op die strate van Memphis woon. ’n Vrou, Leigh Anne Tuohy, stop  een aand langs hom, laai hom saam met haar gesin in haar motor
en laat hom deel word van haar gesin. Michael ontwikkel tot een van die beste voetbal-spelers in die geskiedenis van Amerika.

Wat my egter getref het, is hoe die elemente van die Evangelie in hierdie rolprent na vore kom. In die gebeure het ek beleef hoe Leigh Anne Tuohy in Michael se lewe die rol speel wat God in ons lewens speel.

Eerstens is dit God wat my langs die lewenspad kom kry het, toe ek nêrens gehad het waarheen ek kon gaan nie. Leigh Anne dwing in ‘n sekere sin vir Michael om in die kar te klim.

Hoe moes God my nie dwing om my eie reis prys te gee sodat ek saam met Hom kon reis nie. Lees voort “Fliek: The Blind Side.”

Blog at WordPress.com.

Up ↑