Ons gemeente se visie sê dat ons ‘n geloofsfamilie is wat God drie-enig voluit dien. Wat my aan betref is hierdie ‘nw onderlike visie. Ek is opgewonde oor die gedagte dat die drie-eenheid in ons visie ingebou is. Maar, die woord “geloofsfamilie” sê ook baie. As geloofsfamilie het ons mekaar nodig. ‘n Geloofsfamilie wat God drie-enig dien is vir my ‘n groep mense wat volgens Hebreërs 10 vrye toegang toe die heiligdom het (vers 19); tot God met ‘n opregte hart wat van ‘n skuldige gewete gereinig is (Vers 22); wat styf vashou aan die hoop wat ons bely. (Vers 23)
Al die mense van ‘n geloofsfamilie is natuurlik nie op dieselfde punt in hulle geloofslewe nie. Net soos almal in enige ander gesin of familie nie noodwendig op dieselfde punt is nie. In ons gesin was daar op ‘n stadium een kind in die hoërskool, een in die laerskool, een in die kleuterskool en een in doeke. Maar, ons was ‘n gesin/familie. Elkeen van die lede van daardie gesin het ander aandag op ‘n ander tyd en op ‘n ander manier nodig gehad en gekry. So is dit ook met ‘n geloofsfamilie.
‘n Geloofsfamilie het mekaar nodig.
“Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie werke.” (Hebreërs 10:24)
Tot ‘n sekere mate vereis elke tydsgees sy eie mate van bekering. ‘n Tydsgees het die geneigdheid om ons mee te sleur. Oral rodnom ons doen en dink feitlik almal op dieselfde manier. ons moet aanvaar dat ons mekaar nodig het en dat ons as geloofsfamilie saam ‘n groter verskil kan maak as wat ons as individue ooit kan maak.
‘n Geloofsfamilie Reis saam.
Christenwees is nie ‘n bestemming nie. Dit kan nie ‘n geval wees van: Ek het geloofsekerheid, ek weet ek gaan hemel toe as ek doodgaan. Christenwees is ‘n reis. ‘n Lewenslange reis. Ek dino inwillekeurig weer aan Jersus se woorde wanneer die eerste dissipels vir Hom vra: “Rabbi, waar gaan U tuis?” Dan antwoord Jesus hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” (Johannes 1:38-39) Christenwees is hierdie lewenslange reis om te sien waar Jesus tuis gaan. Treffend dat Andreas, wat een van die eerste twee dissipels was, onmiddelik vir Petrus gaan haal om saam met hom op hierdie reis te gaan. (Johannes 1:41)
Ek het maraton gehardloop toe ek op Universiteit was. Ek het alleen geoefen vir die maratonne. Die gevolg was dat toe ek my eerste maraton gaan hardloop het ek ook alleen gehardloop. Ek kon nie die maraton voltooi nie. Vir die tweede maraton het ek ‘n oefenmaat gekry en ons het aangeleer om teen mekaar se spoed te hardloop en ons het ook saam die maraton gehardloop. Ek het nie minder moeg geraak nie. Ek wou steeds me tye ophou. My hardloopmaat het my egter moed ingepraat en ek het klaar gemaak. Met tye het ek hom moed ingepraat.
‘n Geloofsfamilie reis saam. Alleen gaan ons moed opgee. Alleen gee ons moed op.
‘n Geloofsfamilie werk saam.
Die Here het vir elkeen van ons ten minste een gawe gegee waarmee ons Hom kan dien. Ek sukkel om aan ‘n gawe te dink wat nie bedoel is om in ‘n geloofsfamilie/-gemeenskap situasie uitgeleef te word nie. Wanneer mense in ‘n gemeente dien deur van hulle gawes gebruik te maak, dan sien jy baie energie en kreatiwiteit en opbou. Wanneer mense egter moet dien op terreine waar hulle nie gawes het nie, volg uitbranding en dikwels ook verhoudingsversteurings. ‘n geloofsfamilie kan nie optimaal funksioneer as elke lid nie volgens sy gawe saamwerk nie.
More skryf ek oor nog ‘n paar redes waarom ‘n geloofsfamilie belangrik is.