KAN ‘N GOD VAN LIEFDE DAN KWAAD WORD?

In die gesprekke oor die Nuwe Jerusalem en die ewige lewe en die hel, of die tweede dood, het ek nogal opgetel dat sommige dink dat die hel dan die gevolg is van God se toorn of woede en dat God dan nou in die hel kans kry om Hom op die arme sondaars te wreek. Onder andere het ek die vraag gekry:

Kan ‘n God van liefde kwaad word?   

Die vraag sluit natuurlik aan by ‘n hele paar Ou Testamentiese tekste wat verwys na God se toorn (Engels – wrath), dalk selfs Jesus se optrede in die tempel wanneer Hy die tafels van die geldwisselaars omgooi. Kan ‘n God van liefde kwaad word? Kan God so kwaad word dat Hy toelaat dat mense vir ewig gestraf word.

Maar, eintlik wil ek oor die “kwaad-word” iets sê. Ek dink ‘n God wat nie kwaad word nie kan ook nie liefhê nie. Die werklikheid is dat enige liefdevolle mens op een of ander stadium kwaad word. In haar boek Hope has it’s Reasons skryf Rebecca Pippert:

“Think how we feel when we see someone we love ravaged by unwise actions or relationships. Do we respond with benign tolerance as we might toward strangers? Far from it … Anger isn’t the opposite of love. Hate is, and the final form of hate is indifference.”

Ek dink elke ouer kan hiervan getuig. Ek kan. Alhoewel elkeen van ons vier kinders al by herhaling daarvan verseker is dat ons hulle liefhet en dat hulle niks sal kan doen wat sal maak dat ons as ouers ophou om vir hulle lief te wees nie. Het elkeen van die vier my al kwaad gemaak. Kwaad omdat hulle deur dom besluite en verkeerde verhoudings, met ander woorde hulle eie toedoen, seergemaak  word.

Kwaad-word is nie die teenoorgestelde van liefde nie. Haat is die teenoorgestelde van liefde. Haat op sy ergste sê: Ek gee nie om wat jy aan jouself doen nie. Jy moet nou maar jou gang gaan. Hoe meer ‘n pa sy seun liefhet, hoe meer haat hy die dronkaard en die leuenaar en die bedrieër in hom.

As ek as feilbare mens so kan voel oor my kinders, hoeveel te meer nie ‘n volmaakte sondelose en heilige God wat my gemaak het nie. God se woede of toorn is nie ‘n onbeheersde uitbarsting nie. God se woede is Hy wat weerstand bied teen die kwaad in jou as jy nie wil nie. Gaan lees bietjie weer die Ou Testament, met die perspektief. God word kwaad vir Israel omdat Hy hulle liefhet, maar sien dat hulle besig is om hulleself skade te doen en seer te maak. God word nie kwaad oor wat ons aan Hom doen nie. Hy word kwaad oor wat ons aan onsself doen.

Wat die hel of die tweede dood dan ook presies is en waar die mense gaan wees wat daar beland, is ek nie seker oor nie. Wat ek wel weet is dat Jesus ook die hel vir my betree het en daar gaan oorwin het. Jesus het alles beleef wat ek sou deurgaan indien ek in sonde sonder God sou sterf. In ons geloofsbelydenis bely ons dat Jesus ter helle neergedaal het. Die neerdaling ter helle was om die absolute en radikale God-verlatenheid te beleef. Hy lei al die angs en lyding en seer van die hel, die tweede dood. Jesus was volledig uitgewerp en verwerp. Jesus sink weg in die afgrond van van twyfel en wanhoop. Hy het die verskriklikheid van verlore wees sonder God en sonder genade beleef.

Die goeie nuus hierin is natuurlik dat Jesus se dood en opstanding vir ons die bewys is dat hy opgewasse is teen wat die hel of die tweede dood ookal sou wees. Jesus het inderdaad oorwin. Die boodskap van die hel is nie vir God se kinders iets wat hulle bang maak nie. Die boodskap van die hel vul God se kinders met ‘n oorweldigende besef van die grootheid van God se liefde as ons besef wat Jesus vir ons deurgegaan het. Ek dink nie God se toorn en liefde het Jesus in al sy felheid aan die kruis getref nie. Ek dink God het net teruggestaan en apaties toegekyk hoe die dinge oor sy Seun rol. Want, Hy wou ons red.

 

17 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

17 responses to “KAN ‘N GOD VAN LIEFDE DAN KWAAD WORD?

  1. Johan

    Liefde: God is liefde.
    Kwaad word: God hey op ‘n stadium so kwaad geword vir Moses dat Hy hom wou dood maak.
    Haat: God haat die leuen en sonde.
    Vrees: Voor die kruisiging het God ook vrees geopenbaar.

    Ek dink daar is genoeg bewyse in die Bybel dat God al vier die emosies beleef het Die verskil is dat God nooit gesondig het tydens enige van die emosies nie.
    Ja, ‘n God van liefde kan ook kwaad word juis omdat Hy lief het. My beskeie bydra vir vanoggend.

  2. Christelle van der Walt

    Jy sien Attie, dit is hoekom ek amper oor versigtig is om iets te skryf, want mense kan maklik aanstoot neem en ‘n ding verkeerd opneem en dit wil mens natuurlik nie op hierdie pragtige koffietafel blad van jou doen nie. Dankie vir die kosbare boodskappe. Dit word opreg waardeer. Daar is altyd ‘n les te leer daaruit. Ek pluk vanoggend vir jou sommer ‘n groot bos blomme om jou koffietafel op te vrolik.

    • Johan

      Christelle,
      Dit sal darem ‘n droewige dag wees as mense nie meer in liefde met mekaar oor dinge kan verskil nie. Mens hoef nie aanstoot te neem as iemand ander ‘n ander mening het nie. Niemand van ons stem altyd ooor baie dinge saam nie, maar mens moet net nie prober om jou mening in ander se kele af te druk nie. Laat ruimte vir verskille. As een ou glo daar is nie ‘n hel nie, sê maar vir hom daar wag ‘n groot verassing op hom eendag, sonder om kwaad te word of aanstoot te gee. As Barend so glo, is dit maar sy saak. Daar is selfs mense wat vadag nog glo die aarde is plat – so what?
      Niemand van ons weet regtig hoe die hemel en die hel lyk nie en waar dit is nie, maar wat ek weet is dat die hemel is waar God is en ek is bereid om te gaan waar Hy is. So weet ek ook die hel is waar God nie is nie en ek voel vere of dit ‘n plek, omstandighede, of wat ook al is – daar wil ek nie wees nie, so ek worrie nie daaroor nie. Ek prober maar net om te wees waar God is – altyd.

      • Christelle van der Walt

        Dankie Johan ek neem dit ter harte.

        Terwyl ons nou etenstyd het lees ek hierdie pragtige vers raak wat ek met julle wil deel:

        “….nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.” – Korintiërs 2:17.

        • Johan

          Christelle, ek geniet jou op ds Attie se tafel en sien ‘n mens met ‘n omgee hart. Daar is ook dinge wat my pla in die teologie en ek het al baie dasroor kommentaar gelewer, soms ongevraagd, maar altyd eerlik en opreg.
          Kan ek jou dalk sê wat ek geleer het? Vergeet alles wat jy nie verstaan nie en hou net vas aan jou geloof in God Drie Eenig. Dinge soos die bestaan van die hel, satan, hemel, wegraaping, ens id nie werklik waaroor dit gaan nie. Glo net dat God bestaan en jou lief het en vir jou gesterf het en eendag sal al die ander dinge aan jou geopenbaar word soos dit werklik is. Jesus het nie gekom om ons vsn die hel te leer nie, maar van die liefde van God en ons blyplek by God. Vir my is dit genoeg. Lekker etenstyd hou.

  3. Ek behou my die reg voor om enige kommentaar hier te “delete”. Nie omdat mense van my verskil nie, maar omdat mense beledigend raak.Ek gaan dus die laaste twee kommentare van Brend “delete”. Barend as jy nie van die gesprekke hier nie, hoef jy nie hier te lees nie.

    • Johan

      Attie,
      Ons het gisteraand selgroep gehad en oor Hebreërs 1:1-3 gepraat – die grootheid van God. Ek kon nie anders as om te dink aan Barend se siening oor die dinge nie en die hele aand het dit my gepla dat ons hom maar net “delete”. Eers het ek gedinik hy is maar net dwars, soos wat ek ook maar soms is, maar toe ek weer sy inskrywings lees kom ek iets agter van iemand in groot nood. Iemand wat kwaad is vir die wêreld en iemand wat soek na die waarheid.
      Kan ons regtig so ‘n mens net “delete”, of moet ons dit nie ons taak maak om so ‘n person te help om die evangelie te verstaan nie?
      Ek wens ek kan Barend ontmoed en man tot man met hom oor die dinge gesels. My vraag is: “Wat sou Jesus doen?”
      Ek kan hom nie net in my gedagtes “delete” nie en sal maar bid dat hy antwoorde (die regte antwoorde) vind op sy vra.
      In ‘n sekere sin het hy tog iets beet. Daar is tog maar goed wat ons vanaf die kansel geleer is wat “onwaar” is, soos o.a apartheid. Ek onthou nog baie goed hoe ek in Pretoria-Oos gesit het as student en diaken en moes luister hoe Dr. Willie Marais ons uit die Woord verduidelik het hoe reg en goed apartheid is, terwyl PW Botha en feitlik die hele Kabinet van daardie tyd op die gallery sit.

      So is daar ook maar steeds nog ander dinge ook waaroor die kerk soms “verskil” en ek gaan nie nou weer hieroor praat nie.
      Die groot problem lê daarin dat ons, ons oog van Christus afhaal en fokus op die ander dinge, soos die satan, hel en wat sonde is en wat nie. As ons ons oog op Jesus hou en ons twyfel of ies reg of verkeerd is, moet jy maar weet as jy twyfel dat oor iets, dit in 99% van die gevalle verkeerd is.
      Ek staan vanoggend voor my oom se bed in die onkologie afdeling en sien ‘n man wat op sy laaste is, maar met ‘n glimlag in sy versonke oë en toe besef en net weer: Dankie Here dat U die eerste en die laaaste is en dat U elke tree van ns lewe saam met ons loop tot die einde toe. As jy in ‘n gelowige, sterwende mens se oë kyk soos wat die geval was met my eie ouers en nou my oom, kan ek vir die wêreld verklaar: Vergeet van ‘n ronde of plat aarde, vergeet of die mosterd saad die kleinste is of nie, vergeet of die satan bestaan en of daar ‘n hel is of nie, maar weet dat Christus in volle beheer is van alles en dat Hy bestaan so seker as wat die son vandag skyn.

      Terug in my kantoor, dink ek weer aan Barend en wonder ek of iemand hom nie die blye boodskap kan gaan vertel nie. Ons spring so maklim op ‘n vliegtuig of boot met groot vanvare om mense vêr van hier te gaan “red”, maar wat van die naby ons wat ook soekend is na die waarheid.

      Attie, Ek wil jou tog vra om nie vir Barend te “delete” nie, maar om met hom kotak te maak en die blye boodskap van vergifenis, verlossing en die ewige lewe by en saam met God aan hom te vertel. Uit sy inskrywings is dit duidelik dat hy om hulp skree.

      Lekker dag.

      • Hi Johan
        Ek hoor jou mening. Hier was egter ook ‘n hele paar mense wat gekla het. Mense wil nie aan die gesprek deelneem nie, want Barend gaan hulle aanval. Barend het sy eie webblad by http://blogs.24.com/vdmbj/ so daar kan enige iemand met hom in gesprek gaan of dan sy persoonlike besonderhede kry.

        Ek dink ook nie dit is heeltemal reg om te sê Barend is nou ge-“delete” nie. DIt is maar ‘n term wat hy gebruik het in een van die komentare wat ek ge-“delete” het. Ek het drie van sy kommentare ge-“delete” en hom geblok om nie meer aan besprekings deel te neem nie. Indien hy iets sou skryf sou ek dit sien en ek kan dan besluit om dit weer te plaas.
        Groete
        Attie

        • Johan

          Hi Attie,

          Moet asb nie dink dat ek jou verkwalik dat jy hom geblok het nie. Dit is jou blog en jy moet dit bestuur na die beste van ju vermoë. Ek stem ook glad nie saam dat dit wat hy geskryf het nie en beskou dit as godslasterlik.

          Ek sou graag met die man wou praat en hom in die oë kyk as ek met hom praat. Ek wil “sien” of hy werklik glo wat hy skryf en met hom praat oor sy verwronge gedagtes voordat die man dalk “prakties” uitvind daar is toe werklik ‘n hel en dit wil ons nie hê nie, nê?

          Ek stel nie belang om sy blog te lees nie, want ek wil nie deel in iemand se blog wat na my mening God se almag belaster nie.

          Weet jy, miskien moet ek die man eerder los dat hy maar die waarheid self uitvind?

          Net so vanaf die kantlyn:
          Ek is nie meer in die kerk nie agv persoonlike redes, maar ek is vir niemand kwaad nie en is stees deel van ‘n omgeegroep van die kerk en het jou Openbaring dienste gevolg – baie goed gedoen, ds.!!!!
          Terwyl ons so in Openbareing is – Praat asb met ons oor die “wegraaping” (rapture). Ek weet wraggies nie oor die saak nie. Eers het ek daarin geglo en nou dink ek weer dit kan mos nie so gebeur nie. Nie dat dit werklik saak maak nie, maar ek het famile wat my elke dag vertel dat ons almal enige dag “weggeraap” gaan word en ek begin dit as ‘n grap hanteer en dit is seker nie mooi nie, of hoe?

      • Ons moet vir hom bid, dat ons Vader sy verstand sal open en hom ook geestelike ore sal gee. Ons moet Jesus se opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer tot op die dag wanneer Hy kom. Groete

  4. Johan: Nee, wat ek neem jou nie kwalik nie. Jy mag mos maar sê. Jammer om te hoor van die kerk….

    Ek sal by geleentheid bietjie my gedagtes oor die wegraping skryf, maar daar is eers ‘n paar goed wat moet gebeur.

  5. Ek het baie dinge wat ek verskil met die kerk maar ek wil deel bly vir so lank as wat ek geduld word. Dankie vir die omgee,

    Nag en mooibly.

    • Barend:
      Ek gee nie regtig om dat jy verskil nie. Wanneer jy van ons verskil help dit ons om weer te dink. Somtyds moet ons toegee dat jy dalk hier ‘n punt beet het. Ander kere formuleer ons net weer en beter.

      My probleem het ontstaan met die “hoe”. Aanvallend en om te beledig maak dit nie maklik nie en bemoeilik gesprek deur ander. Nie omdat hulle met jou saamstem nie, maar omdat hulle nie in ‘n woordewisseling met jou betrokke wil raak nie, of soos een vrou gesê het: “As ek een woord daar skryf gaan Barend my uithaal.”

      Ek sal graag die kommentaar toelaat wat gesprek bevorder.
      Groete

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s