Ek en Renate was vir die eerste keer in ‘ n baie lang tyd alleen op ‘n Saterdagoggend. Toe ons vanoggend besef Rene speel netbal in Sasolburg en Elane is by ‘n vriendin gryp ons die geleentheid aan om ontbyt te gaan eet.
Nadat ek ‘n bietjie afrondingswerk aan moreaand se preek gedoen het, is ons oppad Botaniese tuine toe om ontbyt daar te eet. Ons is verstom toe ons daar kom en al die karre sien. In die Restaurant was daar een of ander Christelike vrouebyeenkoms aan die gang waar hulle op ‘n stadium ‘n prys gee vir die vrou wat die mees “flashy” skoene aanhet. Hulle moedig mekaar ook aan om op die uitkyk te wees vir mense wat nog nie die seen beleef wat hulle beleef nie en hulle na die volgende geleentheidnte nooi.
Thomas, ons vriendelike kelner, oortuig ons om die buffet te probeer. Net R85.00. Ons neem Thomas op sy woord en gaan kyk nie eers voordat ons instem nie. Nadat ek en vroutjie ons dagboeke gekoordineer het, durf ons die buffet aan en staan verstom oor die gebrek aan verskeidenheid. Klein gesnyde omelet, pap, sous, sampioene, varkworsies en spek is die somtotaal van die buffet. Al die kos is egter lekker voorberei.
Thomas kom vra wat ons wil drink en ons besluit om mangosap te probeer. Met die eerste slukkie besef ons die sap het ‘n byt in. Ons vertel vir Thomas daarvan en hy is meer as gewillig om vir ons eerder van die lemoensap te bring.
Na ‘n laaste koppie koffie betaal ons ons rekening. Ons los vir Thomas ‘n groot fooitjie want ek voel nog skuldig oor Maandag toe ‘n man wat saam met my en ‘n ander groep mans my skaam gemaak het. Toe Thomas hom vra wat hy gaan eet, toe antwoord hy: “Dieselfde as daai baas.” Ek kon my ore nie glo nie.
Ek weet nie of Thomas dit onthou nie. Ek weet ook nie of hy dit gehoor het nie. Ek het.
Die oggend saam vroutjie was lekker. Ons dagboeke het nou waar nodig dieselfde inskrywings en ek voel ‘n klien bietjie beter na Maandag se gebeure. Ek voel egter nie soveel beter dat ek weer R85.00 vir Thomas se buffet sal betaal nie.