DIE HEILIGE GEES EN MY SELFOON

Ek moes gisteroggend (Dinsdag 14 Mei) een van die plaaslike hoërskole se saalopeninge behartig. Altyd vir my ‘n voorreg. Maar… om ‘n groep hoërskoolkinders se aandag aan die begin van ‘n skooldag vir 15 minute te hou is nie ‘n grap nie. Daarom maak ek maar altyd van ‘n metafoor gebruik. (Jesus het feitlik net van metafore, dit is gelykenisse, gebruik gemaak toe Hy mense geleer het.)

Aangesien dit eerskomende Sondag Pinkster-Sondag is en die kerk dwarsoor die wêreld die uitstorting van die Heilige Gees en daarmee saam die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk vier, het ek gedink om ook oor die Heilige Gees met hulle te praat. My metafoor was ‘n selfoon.

‘N SELFOON WERK MET ‘N ONSIGBARE SEIN

Sonder ‘n sein is ‘n selfoon niks werd nie. Enige iemand wat met Blackberry werk weet dat “bbm” bietjie probleme gee. Maar feitlik al die kinders is met “bbm” aan mekaar verbind. Dit is hulle manier om mekaar gratis op hoogte te hou van wat in hulle lewens aan die gang is. Wanneer “bbm” af is, beteken dit nie daar is nie ‘n sein nie. Dit beteken net Blackberry het een of ander probleem. Dit is eintlik Blackberry se “operating system”, BIS. wat probleme gee.

Die Heilige Gees is God met ons en in ons en om ons. Hy is aan die werk. Oor presies wat Hy doen, kan mens by ander geleentheid gesels. Die feit dat ek nie bewus is van sy werking nie, beteken eerstens nie dat Hy nie aan die werk is nie, en tweedens beteken dit nie eens dat Hy nie in my lewe aan die werk is nie.

Ek het vir hulle gevra om terug te dink aan die laaste keer toe hulle ‘n ding gedoen het wat hulle geweet het hulle nie moet doen nie. As hulle mooi terugdink, dan sal hulle onthou dat daar tog iets was wat vra: “Dink jy dit is die regte ding om dit te doen?” of: “Jy weet mos jy behoort die nie te doen nie!” Of: “Jy gaan later skuldig voel oor wat jy nou gaan doen!”

Daardie is die werk van die Heilige Gees. God het ons as mense met ‘n gewete geskep om ons te help om die regte ding te doen en die verkeerde dinge te vermy. Ons gewete is op ‘n besondere manier sensitief vir die werking van die Heilige Gees. As daardie herinnering vervaag, of as dit vir my maklik maak om die “stemmetjie” te ignoreer, beteken dit nie dat die Heilige Gees sy krag verloor het of nie werk nie. Die Heilige Gees gaan egter nie my besluite vir my neem nie. Ek moet self kies.

Die “sein” is altyd daar. As die boodskappe nie deurgaan of deurkom nie, beteken dit nie daar is fout met die sein nie. Die fout is eerder by die “operating system”.

‘N SELFOON WAT NIE GELAAI IS NIE IS NIKSWERD NIE 

Dit gebeur nogal met my dat ek in die aand voor ek gaan slaap my selfoon se kabel in die selfoon indruk en dan aan die slaap raak terwyl my selfoon deur die loop van die nag laai. As ek dan die volgende oggend wakker word, kom ek agter die kabel was nooit by die muur ingeprop nie. Iemand moes dalk stofsuig en toe is die foon se kabel uitgeprop of iemand het my twee-punt prop vir iets anders nodig kry.

Dan sukkel ek gewoonlik deur die dag. My selfoon is nie gelaai nie so ek kan nie my boodskappe kry nie en ek kan ook nie boodskappe stuur nie. ‘n Christen moet ook sy batterye laai. Ek dink mens laai jou geestelike batterye deur kerk toe gaan, deur die Woord te lees en deur te bid deur met ander Christene ‘n ondersteunende verhouding te hê en deur deel te wees van God se werk in hierdie wêreld.

Ek probeer nie sê dat iemand wat nie kerk toe gaan nie, kan nie ‘n Christen wees nie. Ek verstaan net die Nuwe Testament so dat God gelowiges vir mekaar gegee het om mekaar ook te bemoedig en aan te spoor en te rig. Die Heilige Gees is aan die kerk gegee waarvan ek as individu ‘n lid is. Ek dink die bywoning van eredienste is vir gelowiges belangrik.

Wanneer ons egter by die Woord en gebed kom, tel ek by tieners ‘n skuldgevoel op. Hulle het die indruk dat ‘n mens lang stukke uit die Bybel moet lees en lang tye moet bid. Ek is nie so seker of dit noodwendig so is nie.

P(R) AS YOU GO

Meeste kinders is met hulle selfone op ‘n “Pay as you God” kontrak. Ek gebruik sommer die woordspeling om daarop te wys dat ons nie ons gebedslewe moet beperk tot ‘n paar minute of aan die begin of aan die einde van ‘n dag nie. Ek dink die paar minute aan die begin of aan die einde van die dag is ook belangrik en het selfs HIER iets daaroor geskryf. Maar, ek kan dwarsdeur die dag in kontak met God wees. deur P(r)ay as you go! 

Voor ek ‘n toets skryf: “Here help my.”

As ek iemand sien swaarkry: “Here, hoe kan ek die persoon help?”

As ek iemand sien vir wie ek omgee: “Dankie, Here vir die persoon in my lewe!”

As ek ‘n vreemde persoon raakloop: “Here, U weet wat die persoon nodig het. Laat U wil in die persoon se lewe geskied.”

As ek ‘n versoeking tegemoet gaan: “Here, gee my die krag om sterk te staan.”

Ek persoonlik het vir myself die gewoonte aangeleer om verskeie kere deur die loop van die dag frases soos die volgende te herhaal:

“Hemelse Vader, U is die Skepper van die hemel en die aarde.”

“Heilige Here Jesus, U is die Christus, die Seun van die lewende God. Self ook God.”

“Heilige Gees, U is God met my, God in My, God om my, God deur my.”

Ander kere sal ek die Ons Vader gebed bid of selfs die Geloofsbelydenis of die samevatting van die wet herhaal.

Al hierdie dinge help my om deurlopend in kontak met God tewees.

Geniet God die Heilige Gees in jou lewe.

5 Kommentaar

Filed under Pinkster

5 responses to “DIE HEILIGE GEES EN MY SELFOON

  1. Johan

    Dankie vir die baie treffende inskrywing vanoggend. Laat my net weer besef ek is 25/7 in God se teenwoordigheid en andersom.

  2. Christelle van der Walt

    Dit is nou ‘n “raakvat” saalopening Ds.Attie! Jy het my volle aandag ook gehad. Ek gaan nou ook dubbeld seker maak dat ek die Heilige Gees in my duidelik sal hoor, sien en sal ervaar. Op die einde van die dag is dit eintlik wat werklik saak maak in elke mens se lewe. Eendag sal ons moet verantwoording doen. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons Skepper. Gister se boodskap was net so goed. Kon nie inskakel nie was geoudit.

  3. Kameel

    Ek hou van hierdie metafoor.
    Daardie wonderlike eenwees met God deur Sy Gees, en deur die loop van die dag oor alles met Hom te kan praat….. Genade onbeskryflik groot!!
    Pray as you go!!!

  4. Johan

    Verskoon tog my trots. My seun Ebert het oor November vir sy lewe geveg met lewer kanker en die kanse op herstel was baie skraal nadat hy vir 7 dae lank in ‘n koma was na die operasie. Daarna het nog 4 operasie gevolg. Hy is besig met sy gemeente jaar by NG Villieria en die Kerkraad gebruik en behandel hom asof hy reeds ‘n predikant is deur preekbeurte te deel en al die ander pligte van ‘n derde predikant aan hom op te dra. Ongelooflike geleentheid en ondevinding wat Ebert hier opdoen waarvoor ons as familie baie dankbaar is.
    Wat vir my ‘n besondere geleentheid was en wat ‘n vader en moeder se hart warm laat klop het is die twee ere dienste wat hy waargeneem het in die Pinkster tyd. Die Here het hom gespaar om steeds in Sy Konigkryk op aarde ‘n verskil te maak en ek kan ne help om te getuig van die groot genade en liefde van onse Here nie.
    Aan almal daar buite wat dalk nog twyfel aan die bestaan van God en die teenwoordigheid van die Heilige Gees elke oomblik in onse lewens – moet asb nie een oomblik twyfel nie!!! Glo soos ‘n kind dat God lewe en steeds vandag na elkeen van ons omsien en bewaar totdat Hy ons kom haal op Sy tyc en manier.
    Pinkster 2013 is ‘n geleentheid wat my altyd sal by bly.
    Aan julle almal wat Ebert ken en ondersteun het, baie dankie vir wat julle vir Ebert beteken het wat hom staat stel om die Woord van God so vol selfvertroue en in leifde en so suiwer te bring. Jesaja 42:1-4 het werklik lewend geword in sy lewe.
    Ek wou net die stukkie getuienis van die Grootheid van God en die teenwoordigheid van die Heilige Gees soos onder andere ook beskryf in Hebrieers aan julle bring.
    Bye for now.

  5. Sebastian Pistor

    Baie treffende boodskap, Attie; veral die “Pray as you go”! – Faan Pistor

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s