Ons kerkraad se aanbeveling oor Artikel 1

Die volgende skrywe met betrekking tot die kerkraad se aanbeveling is gister by die eredienste van ons gemeente uitgedeel:

AGTERGROND

Die kerkraad het die laaste paar weke ʼn inligtingstuk oor die proses met betrekking tot die Wysiging van Kerkorde Artikel 1 aan die gemeente beskikbaar gestel. Op die inligtingstuk het die kerkraad bekend gemaak dat ʼn buitengewone kerkraadsvergadering op Maandag 23 Maart 2015 gehou sou word waarop die kerkraad ʼn besluit sou neem oor die aanbeveling om aan die gemeente te maak. Die kerkraad het op Maandag 23 Maart 2015 die saak met openheid, eerlikheid, verdraagsaamheid en liefde bespreek.

DIE VERGADERING

Die gesindheid op die kerkraadsvergadering was een wat getuig het van wedersydse begrip en gewilligheid om nie net na mekaar te luister nie, maar ook waar en wanneer nodig deur die feitelike van die situasie gelei te word.

Die optrede van die kerkraadslede tydens die vergadering getuig juis van die gesindheid wat die voorgestelde nuwe Artikel 1 van die Kerkorde, in die NG Kerk in Suidelike Afrika tot stand kan bring. Die Algemene Sinode het gedroom van ʼn kerk waar ons ten spyte van ons verskille steeds deur die eenheid wat die Gees smee aan mekaar gebind sal bly.

Die besluit van die kerkraad was nie eenparig geneem nie, maar wel met ʼn twee derde meerderheid. Die kerkraad het dit goed gedink om kerkraadslede die vryheid te gee om volgens hulle gewete tydens die gemeentestemming te stem en ook volgens hulle gewete in gesprekke met die gemeente betrokke te raak.

AANBEVELING

Die kerkraad het op ʼn buitengewone kerkraadsvergadering gehou op 23 Maart 2015 besluit om aan die gemeente aan te beveel dat die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde goedgekeur word.

DIE PAD VORENTOE

Van nou af tot 16 Mei is ʼn tyd waarin die gemeente ingelig gaan word oor die aangeleentheid. Elke lidmaat het die vryheid om volgens sy/haar persoonlike oortuiging te stem. Nadat die gemeente gestem het sal die kerkraad op 25 Mei 2015 ʼn besluit neem wat in ooreenstemming met die gemeente se besluit is.

Die kerkraad het die leraars versoek om hierdie besluit van die kerkraad aan die gemeente oor te dra en te motiveer waar nodig. Na die erediens van Sondagoggend 3 Mei 2015 sal daar by 30ste Laan, Cunninghamlaan en Huis Vergenoeg ʼn inligtingsgeleentheid wees waar die gemeente ingelig word oor die Wysiging van Kerkorde Artikel 1.

In hierdie tyd is die gebed van die kerkraad dat dieselfde gesindheid wat tydens die kerkraadsvergadering geheers het, ook in die gemeente na vore sal kom wanneer ons oor hierdie uiters sensitiewe saak met mekaar praat.

Wie sit aan die tafel? (Tienernagmaal)

Ons gemeente vier een maal per kwartaal tydens die aanddiens, wat hoofsaaklik ‘n tienerdiens is, nagmaal. Terwyl ek voorberei het vir die aand het ek skielik besef dat ons met betrekking tot die tieners geweldig baie as vanselfsprekend aanvaar. Ons bedien nagmaal, maar ek het gewonder watter persentasie van hulle het al ooit met iemand gepraat oor waar die nagmaal vandaan kom en wat die betekenis daarvan sou wees. Ek het toe die aand op die volgende manier ingerig.

Ek het die nagmaalstafel reg in die middel van die liturgiese ruim geplaas. Ons het gelukkig groot hout stoele wat in die verlede seker by die nagmaal gebruik is. Ek het een van die groot stoele in die middel geplaas en die Christuskers reg voor die stoel op die tafel. (Ons steek by elke erediens die kers aan as simbool van die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus.) Weerskante van die groot stoel het ek twaalf ander stoele gepak.

Met Lukas 22:14-23 as teks het ek verduidelik waar die nagmaal vandaan kom. Lees voort “Wie sit aan die tafel? (Tienernagmaal)”

Die Onderskeiding van God se wil

Ons gemeente is nou besig met die reis van die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes. Op hierdie stadium het ons al bietjie na die gemeente luister, ons is besig om na die gemeenskap te luister. Hierdie is ‘n ries nie ‘n program nie. Hier is nie duidelike stappe wat ‘n mens moet volg nie. Dit wil vir my lyk asof onderskeiding krities belangrik kan raak vir hierdie proses. Onderskeiding is ook een van die kapasiteite wat aangeleer moet word. Toe ek eers hieroor begin dink, toe is ek eintlik verbaas hoe baie ‘n mens dit nodig kry.

Ek besef ek het hierdie pad gestap toe ek oor die beroep na Waverley gemeente moes besluit. Ek het ook in ‘n mate hierdie pad gestap toe ek Renate gevra het om met my te trou. Toe ek dit eers begin neerskryf, toe besef ek dat ek dit dalk baie meer kan gebruik. (Ek dink selfs die lidmate van die NG Kerk kan dit in hierdie tyd gebruik as hulle moet besluit waar hulle die kruisie moet trek oor die wysiging van kerkorde artikel 1). Ek sou dit gebruik as ek weer ‘n kar moet koop of ‘n groot uitgawe moet aangaan. Ek dink selfs onderskeiding kan ‘n leefstyl word.

Omdat ek dit graag vir ons taakspan sou wou aanleer, het ek ‘n paar gedagtes met behulp van ander neergeskryf. Hier is dit:

As Christene moet ons deurlopend besluite neem en onderskei tussen reg en verkeerd. Somtyds moet ons selfs vir ander mense help om ʼn belangrike besluit te neem. Besluitneming of onderskeiding kan soms ʼn verwarrende proses wees.

Sommige Christene dink dat as ek tussen twee moontlikhede moet kies, dan is die wil van God gewoonlik die moeiliker besluit en die een wat van jou die meeste opoffering vra. Ander glo weer God se wil is die besluit wat die meeste geld in bring, beste voordele vir my inhou, persoonlike sukses waarborg en waaruit ek die meeste voordeel trek. (Die invloed van ʼn verbuikerskultuur, materialisme en “Voorspoed-teologie” wys in hierdie denkpatroon.) Daar is ook diegene wat dink dat as jy nie iets wil doen nie, dan is dit juis ʼn aanduiding dat dit God se wil vir jou lewe is. Ander glo weer presies die teenoorgestelde. Daar is ook die mense wat die Bybel oopmaak en dan glo dat hulle met hulle vingers die vers gaan raak druk wat vir hulle duidelik sal maak wat God se wil is. Ander wil besluite en onderskeiding met hulle verstand uit redeneer en werk gewoon met ʼn lysie van voor- en nadele.

Ander worstel met vrae soos: Hoe maak ons met die sogenaamde “oop deure” en ander tekens wat oor ons pad kom en ons eie begeertes en behoeftes en self-opoffering?

Elke Christen behoort die dissipline of gewoonte van Bybelse onderskeiding onder die knie te hê. Hierdie dissipline of gewoonte gaan egter oor meer as goeie oordeel, oop deure en besluitnemingsvaardighede. Regte besluite en die onderskeiding van God se wil vloei vanuit ʼn persoonlike verhouding met die Here waarin gebed in besonder ʼn rol speel. Met ander woorde as ek God se wil oor ʼn saak wil ken of as ek moet onderskei wat waar is en selfs wat gedoen moet word, dan is dit nie ʼn tegniek wat ek uit die lug uit gryp en nou vinnig ʼn paar goed doen, en dan verwag dat ek die regte besluit sal neem nie. Die gawe van onderskeiding en die neem van besluite wat in ooreenstemming met God se wil is, vorm deel van my persoonlike verhouding met die Here wat deurlopend in stand gehou word.

Onderskeiding is verder gebaseer op die werklikheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid en werksaamheid in die lewe van die gelowige en die geloofsgemeenskap. Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons sal lei en God se wil aan ons bekend sal maak.

Ons kan op die Heilige Gees staat maak om:

  • Ons te verseker van God se liefde, goedheid en betroubaarheid (Rom 8:16)
  • Ons te oortuig van sonde, en hoe en waar ons nie eerlik is met onsself nie (Joh 16:8)
  • Ons in die volle waarheid te lei en ons lewens voor te berei vir die nuwe lewe wat Christus bring (Joh 16:13)
  • Christus in en deur ons te verheerlik (Joh 16:14) deur alles wat met ons gebeur.
  • Die vrug van die Gees in ons na vore te bring (Gal 5:22-23)

As ons God se wil wil ken, moet ons verseker wees van God se liefde.  Onderskeiding is gebaseer op ʼn intense vertroue van God se mooiste en beste bedoelings vir die skepping, die kerk, en my persoonlik. As ons nie God se bedoelings kan vertrou nie en as ons bang is dat sy wil ons lewens kan omkrap in plaas daarvan om dit meer sinvol te maak, kan ons vermoë om op Hom te wag en sy stem te hoor ernstig in die wiele ry. As ons nie in ons harte daarvan oortuig is dat God met sy wêreld op weg is en in sy wêreld aan die werk is nie, dan gaan ons leiding soek en vra vir dit wat vir ons persoonlike of selfs vir die gemeente of die kerk belangrik is, maar nie wat vir God se wêreld en God se plan met hierdie wêreld die beste is nie.

Dit is uiters noodsaaklik dat ons in hierdie proses van onderskeiding ons gevoelens oor ons vertroue van God eerlik en opreg teenoor Hom uitspreek. Voordat ek kan hoop om sy leiding te ervaar, moet ek weet hoe ek dink en voel oor God se leiding en God se wil vir my lewe en die implikasies van gehoorsaamheid. Deur hierdie eerlike en opregte gevoelens teenoor God uit te spreek, skep ons vir die Gees die ruimte en die geleentheid om ons opnuut te oortuig van God se liefde en trou en leer Hy ons hoe om God te vertrou.

As ons God se wil vir ons lewe wil onderskei, sal ons ook vir die Gees van Waarheid die geleentheid moet gee om ons bewus te maak van die dinge wat ons besluitneming gaan beïnvloed. Hierdie is dinge soos: status, persoonlike agendas, ons eie gemak, persoonlike vrese, dinge wat ons voorheen gesê het, ens. Dit is uiters noodsaaklik dat ons ons persoonlike agendas aan God bekend moet maak en vir Hom moet vra wat dit is wat in ons moet sterf en gekruisig moet word voordat ons sy wil sal raaksien.

Iemand bid soos volg wanneer hy op soek is na leiding en nodig het om God se wil te onderskei: “Here, ek is bereid om te ontvang wat U gaan gee, te laat los wat U wil neem, klaar te kom sonder die dinge wat U gaan weerhou, doen wat U van my verwag en te wees wie U wil hê dat ek moet wees. Amen”

Wanneer ons hart gereed is om te ontvang wat dit ook al is wat God gaan sê, is ons in ʼn posisie waar ons kan wag en luister vir enige aanduiding van die Here se kant af. Ons rus in die stil en seker vertroue dat ons nie nodig het om dinge op ons eie uit te sorteer nie. Ons raak sensitief vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat geopenbaar word in liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Die aanwesigheid van hierdie dinge in ons lewens herinner ons daaraan dat ons nie buite die grense van God se sorg en kennis kan beweeg nie.

Praktiese aanbevelings:

Moenie te haastig wees nie. Die proses van onderskeiding is nie ʼn haastige en vinnige ding nie. Dit is beter om nie alles op een slag te doen nie. Hierdie proses kan selfs die kern van jou stiltetyd of tyd alleen met God wees oor ʼn paar dae of selfs weke. As mens oorhaastig is, kan jy dinge besluit wat jou eie gedagtes is, en nie God se leiding is nie. As mens op God se leiding wag, neem dit tyd. Nie elke besluit wat jy neem hoef dieselfde proses en al die stappe in te sluit nie. Sommige besluite is makliker as ander. Ek sou ook aanbeveel dat wanneer jy ʼn belangrike besluit moet neem of op soek is na God se wil of onderskeidend wil leef, dat jy jou gedagtes iewers neerskryf. Gaan dikwels terug na waar jy die vorige keer was en kyk wat die Here reeds gedoen het en waarmee Hy reeds besig is. (Ek stel vir myself ‘n tydsbeperking waarby ek naastenby hou. Ek bly besig totdat ek voel dat ek ‘n besluit in ooreenstemming met God se wil en God se hart geneem het.)

  1. Wees stil in die teenwoordigheid van die Heilige God. Konsentreer op God se liefde en goedheid. Dank Hom vir die Heilige Gees wat in jou woon en ook die Een is wat jou lei. (Jy sou Johannes 16:5-15 kon lees en nadink en bid oor die werking van die Heilige Gees in jou lewe en hoe dit van toepassing is op waar jy jou op hierdie stadium in jou lewe bevind.)

  2. Dink na oor wat dit beteken om volkome oorgegee en gehoorsaam te wees aan God se plan en God se wil. (Hier kan jy Romeine 12:1-21 gebruik om na te dink oor ʼn lewe van volle oorgawe en aanbidding.)

    • Bely enige iets wat maak dat jy Hom nie ten volle kan vertrou nie.
    • Bely enige iets wat verhinder dat jy in volle oorgawe aan Hom lewe.
  3. Watter rol speel hierdie besluit of keuse in wie jy werklik is en wie jy aan mense voorgee om te wees?

    • Bely enige valsheid indien nodig – waar jy voorgee om iets of iemand te wees wie jy nie werklik is nie. Wanneer jy met jou mond een ding sê maar in jou hart ʼn ander ding wens of (Jy kan Romeine 7:21-25 lees en daaroor nadink om jou hiermee te help.)
  4. Wat is jou motiewe vir hierdie besluit? Wat is die diepste redes waarom jy ʼn besluit wil neem of nog nie ʼn besluit geneem het nie?

    • Bely daardie onsuiwer motiewe wat jou terughou.
  5. Konsentreer op Jesus se gebed in die tuin van Getsemané: “Nogtans nie wil nie, maar U wil geskied.” Bly met die een sinnetjie besig tot jy beleef dat dit werklik uit jou hart uit kom en dat jy bereid is om alles prys te gee om God se wil te doen en sy wil in jou lewe te laat geskied. Vra God om jou te verander sodat jy met jou hele lewe sy heerlikheid en sy liefde sal verkondig. As jy nog nie hierdie gebed met volle oortuiging kan bid nie, bid dan dat die Here dit vir jou moontlik sal maak. Wees eerlik met jouself. As jy agterkom dat jy nie die gebed met oorgawe kan bid nie, neem tyd. Kom selfs die volgende dag terug totdat jy hierdie gebed met oorgawe en alle eerlikheid kan bid.

    • Praat met God oor die dinge wat keer dat jy die gebed bid. Vra Hom om dit weg te neem en reg te maak.
  6. Vertel nou vir die Here van jou besluit of keuse. Ondersoek die saak in fyn besonderhede. Skryf jou gedagtes iewers neer.

  7. Deel nou jou begeertes met God. Wat is dit wat jy wil jy hê?

    • Is dit wat jy wil hê dalk ʼn weerspieëling van ʼn dieper, selfs ander, begeerte of selfs ʼn seer?
    • In hoe ʼn mate is die besluit wat jy moet neem in harmonie met liefde vir God en liefde vir jou naaste?
    • Hoe neem hierdie besluit jou dieper en dieper in getrouheid en goedheid in en die weerspieëling van die karakter van Jesus Christus?
  8. Gebruik jou verstand:

    • Hoe help hierdie besluit jou om die vrug van die Gees uit te leef?
    • Hoe gaan jou besluit ander mense raak? Sal hulle dit as ʼn besluit van liefde en lewe beleef?
    • Skryf die voordele en die nadele en die gevare van elke moontlikheid neer.
  9. Gee aandag aan jou gevoelens:

    • Wat van hierdie besluit maak jou rustig omdat jy besef dat dit die vrug van die Gees, soos liefde, vreugde, geloof, vrede, in jou wakker maak? Hoekom dink jy beleef jy dit?
    • Wat maak jou positief opgewonde en gee vir jou hoop?
    • Probeer jouself in ʼn situasie uitdink waar jy die betrokke besluit geneem het. Wat beleef jy?
    • Wat van hierdie besluit ontstel jou en maak jou onrustig en verward? ʼn Verkeerde besluit laat mens dikwels van God en mens verwyder voel.
    • As jy voor God staan en aan Hom moet verduidelik waarom jy hierdie besluit geneem het, hoe sou jy jou besluit motiveer?
  10. Gee aandag wat die Here vir jou sê terwyl jy die Bybel lees. Is daar iets wat van toepassing sou kon wees op die besluit waarmee jy op hierdie stadium worstel en die onderskeiding wat jy moet maak? As ek deur my Bybel blaai is ek altyd verbaas oor die datums en gebeure wat in die kantlyn staan. In my gewone leesprogram, het die Here al by herhaling die Woord gebruik om my gedagtes te vorm.

  11. Kry die raad van volwasse Christene wat na jou en saam met jou sou luister. Vra vrae soos:

    • Is ek ʼn goeie rentmeester?
    • Hardloop ek wag van iets af, of ek hardloop ek na iets toe in plaas daarvan om te wag?
    • Is ek oop vir ander leiding as dit wat ek tans dink die leiding is wat ek kry?
    • Hoe dien hierdie besluit gemeenskap en die gemeenskap?
  12. Lê jou besluit aan die Here voor. Bid vir wysheid en die vryheid van die Gees en dat die Heilige Gees deurlopend in jou sal werk. Wag. Vra die Here dat Hy jou hart en verstand en gees in harmonie met mekaar sal bring. Bevestig al drie die besluit wat jy wil neem?

  13. Moenie haastig wees nie. Wag op die Here.

Vrede.

Leonard Sweet – ‘n Paar gedagtes

Ek het Maandag Leonard Sweet se toerustingsgeleentheid, wat deur e-kerk gereël is,  by Pierre van Ryneveld bygewoon . Ek kan my eenvoudig verluister aan die man se manier van praat. Hy is ‘n bobaas storieverteller wat stories op so ‘n manier vertel dat jy deel van die storie word en voor jy jou weer kom kry, word jy deur die storie gevorm.

‘n Paar dinge wat hy gesê het, het my nogal laat dink. Hy het gepraat van die belangrike rol wat die etenstafel in die Joodse lewe gespeel het en onder andere ook in die lewe van die Amish in die VSA. Lees voort “Leonard Sweet – ‘n Paar gedagtes”

WYSIGING VAN ARTIKEL 1 VAN DIE KERKORDE VAN DIE NG KERK

Hier is die inligting wat Sondag in ons gemeente versprei ismet betrekking tot die wysiging van Artikel 1.

Agtergrond

Ons gemeente (NG Waverley) vorm deel van die NG Kerk in Suid Afrika. Hierdie verhouding met ander NG gemeentes word die “kerkverband” genoem. Die kerkverband behoort vir elke lidmaat van die NG kerk belangrik te wees aangesien dit een manier is waarop ons uitdrukking gee aan die eenheid van die kerk. In sy Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 het Jesus vir die eenheid van die kerk gebid. As gemeente moet ons hard werk om uitdrukking te gee aan daardie eenheid.

As NG kerk gee ons op verskillende maniere uitdrukking aan hierdie kerkverband. Lees voort “WYSIGING VAN ARTIKEL 1 VAN DIE KERKORDE VAN DIE NG KERK”

Tieners en gewoontesondes

Na al die jare is dit nog steeds vir my lekker om met tieners hulle lewens te mag deel. Ek besef telkens dat my tyd hiervoor minder en minder raak. In die NG Kerk lê die tieners aan die einde van Graad 11 of begin van Graad 12 belydenis van geloof af. Ek het deur al die jare nog gekies om hierdie groep tieners deur hierdie jaar te begelei. Hierdie jaar gee ek bietjie aandag aan die vrae waaroor hulle graag wil gesels. Ek het hierdie jaar se groep aan die einde van verlede jaar ontmoet en gevra: Wat is die vrae waaroor julle graag volgende jaar sou wou gesels? Nou gee ek aandag aan daardie vrae en so nou en dan gooi ek iets in wat hulle nie gevra het nie, maar wat ek dink vir hulle belangrik is om oor te dink.

Een van hulle vrae was: Wat maak God met gewoontesonde? Gelukkig het ek twee teologiese studente wat saam met my dink wanneer ek voorberei vir die Sondagaand se aanddiens en die onderwerp wat die tieners in die kleingroepe gaan hanteer. Toe ek met hulle hieroor praat, was ek verbaas om te hoor dat die een sê dat hy nie regtig weet wat met die term bedoel word nie. Ons moet dus eers antwoord op die vraag: Wat is gewoontesonde?

Gewoontesonde is ‘n sonde waarmee ons worstel. Lees voort “Tieners en gewoontesondes”

Koninkryk – Alreeds en nog nie – Daarom kan dinge nie bly soos dit nog altyd was nie.

Die koninkryk van God is een van die belangrike fokuspunte van die boodskap wat Jesus Christus gelewe en verkondig het. Die koninkryk van God is veral in die laaste helfte van die vorige eeu al meer verstaan as dat dit uit twee diemensies bestaan: Die alreeds en die nog nie. Sekere aspekte van die heerskappy van God is “alreeds” sigbaar in hierdie lewe, maar daar sal altyd die dimensie wees, wat “nog nie” sigbaar is of gerealiseer het nie. In Jesus se lewe breek die alreeds van die koninkryk of heerskappy van God deur, terwyl die “nog nie” ook blyk. Alhoewel Hy sommige mense gesond maak (alreeds), maak Hy nie almal gesond nie (nog nie). Alhoewel sommige kies om die goeie nuus te glo (alreeds), kies almal (nog) nie om dit te glo nie.

Een van die belangriker dinge om te aanvaar is egter die verhouding tussen koninkryk en kerk. Lees voort “Koninkryk – Alreeds en nog nie – Daarom kan dinge nie bly soos dit nog altyd was nie.”

‘n Trinitariese verstaan van kerk wees (En iets oor Artikel 1)

Van Gelder en Zscheile het my bewus gemaak van die belangrikheid van ‘n Trinitariese ekklesiologie. Daarmee saam natuurlik die reeds bekende (In teologiese kringe ten minste) onderskeid tussen die Weste en die Ooste se verstaan van die Triniteit. Ek wil nie regtig daardied verskil bespreek nie, maar ten minste net dat daar in die laaste twee dekades in besonder ‘n nuwe ontwaking in belangstelkling van die Triniteit is. DIe kerk praat reeds sedert Karl Barth van ‘n Trinitariese missiologie. Daar word die mees besondere goed gepubliseer oor ‘n Trinitariese spiritualiteit.

Wat van besondere belang is, is dat daar ‘n nuwe belangstelling is in die relasionele(verhoudings-)aard van die Triniteit. “The Trinity is seen as a community whose orientation is outward, and whose shared love spills over beyond itself. Moreover, the concept of perichoresis , or the mutual indwelling/interpenetration of the three persons in a dynamic, circulating movement, has offered rich analogies for human interdependence and relational community.”  (Van Gelder en Zscheile p 104) Die mens wat na die beeld van God geskep is, is dus ‘n interfahanklike en verhoudingswese waar daar vir die individualisme van die laat modernisme feitlik geen ruimte is nie. Geen mens vertoon die volle wese van God nie. Slegs in die mensgeworde Seun van God het die volheid van God liggaamlik kom woon. “In this trinitarian perspective to be a person is to partiicipate in others’ lives, to have an identity shaped by other persons, rather than to be an isolated individual.”

Op hierdie punt is die Trinitariese verstaan van kerk wees belangrik en baie waardevol. Lees voort “‘n Trinitariese verstaan van kerk wees (En iets oor Artikel 1)”

NG Kerk: Wysiging van Kerkorde Artikel 1. ‘n Mening.

DIe wysiging van kerkorde Artikel 1 is in sekere kringe hoog op die agenda van dit wat tans besig is om in die NG Kerk te gebeur. Ek dink ek behoort van die begin af my kaarte op die tafel te sit. Ek is van mening dat lidmate van die NG Kerk “Ja” moet stem vir die wysiging van Artikel 1. Die redes waarom ek so sê, is die volgende:

Eerstens maak die nuwe Artikel 1 voorsiening vir belydenisse wat nog nooit in die kerkorde vervat is nie. Op hierdie stadium maak die Artikel net voorsiening vir wat ons ken as die Drie-Formuliere van Eenheid (Die Nederlandse Geloofsbelydenis; dIe Dordtse Leerreëls en die Heidelbergse Kategismus) Een van die wat nou genoem gaan word is die Apostoliese Geloofsbelydenis. Die Apostoliese Geloofsbelydenis is die belydenis wat bekend is by die meeste van ons lidmate omdat ons dit dikwels tydens eredienste bely. Die ander twee belydenisse is die belydenisse van Athanasius en Nicea. ‘n “Ja” stem sê maak hierdie belydenisse ook deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk.

Tweedens skep die wysiging van Artikel 1 ruimte vir diegene wat die Belharbelydenis as in ooreenstemming met die Woord van God beskou en wil bely. Lees voort “NG Kerk: Wysiging van Kerkorde Artikel 1. ‘n Mening.”

Blog at WordPress.com.

Up ↑