Sondag sal dit twee maande wees vandat ek en Renate en Renè, in ons nuwe gemeente “Waverley” begin het.
Die trek was nie vir ons baie maklik nie. Toe ons die laaste keer deur ons leë huis stap waar ek en Renate ons getroud-wees-lewe begin het, was die hartseer vlak – sommer baie vlak. Ons kon nie glo dat ons uitstap en op ‘n ander plek ‘n nuwe lewe moet gaan oopbreek nie. Renè het nie kans gesien om by te wees wanneer die trek gelaai word nie, ek wens ek was ook nie daar nie.
Ons jongste het soos ‘n kampioen die nuwe uitdagings aangegryp en na die eerste dag op skool huistoe gekom met ‘n paar maatjies wat sy reeds leer ken het. Nou is sy redelik gevestig, alhoewel sy soms deur hartseer oorweldig word wanneer sy na haar naby vriendinne verlang. (Die beste vriendin kuier juis hier vir die naweek.)
Renate kry so ‘n bietjie swaar. Sy mis dit verskriklik baie om musiek te maak, maar toe ons gekom het, het ons geweet dat dit die situasie sal wees. Ons het gelukkig die kans gekry om by die tieners musiek te maak en ons gryp daardie geleentheid met albei hande aan.Ek en sy mis ook die dierbare en kosbare vriende wat in Rustenburg agtergebly het, maar ons sal probeer om steeds kontak te hou, sover kry ons dit reg. Lees voort “twee maande later”