Alleman het gister op my skryf oor GOD HET NIE ‘N BLOUDRUK-PLAN VIR JOU LEWE NIE, kommentaar gelewer. Die kommentaar kom basies daarop neer dat ek in die skrywe die leer oor die uitverkiesing van die tafel afvee sonder om een teksvers vir my standpunt te gee. Nou gaan ek ook nie juis vandag ‘n klomp tekste aanhaal nie.
Die vraag gaan vir my oor die vrye wil van die mens. In hoe ‘n mate het die mens ‘n vrye wil of het God vooraf reeds besluit hoe alles gaan gebeur en eindig. Die gesprek oor die saak gaan baie ver terug – sover as Calvyn en Arminius, dalk selfs Augustinus. Ek is soms bekommerd dat sommige van ons as Gereformeerdes so Calvinisties is dat as ons moet kies tussen Calvyn en die Bybel gaan ons eerder Calvyn kies.
Een van ons belydenisskrifte Die Dordse Leerreëls is by die Sinode van Dordt in 1618-1619 opgestel in reaksie op Arminius se standpunte. By die geleentheid is die vyf punte van Calvinisime geformuleer. Die vyf punte is:
1. Totale verdorwenheid van die mens – Mense is nie van nature daartoe geneig om God lief te hê nie.
2. Onvoorwaardelik uitverkiesing – God het in die ewigheid besluit aan wie Hy genade sou betoon en wie nie.
3. Beperkte versoening – Wat Jesus aan die kruis gedoen het, is genoeg vir almal wat uitverkies is.
4. Onweerstaanbare genade – God se genade is sterker as die weerstand wat enige een wat Hy uitverkies het sou kon bied.
5. Volharding van die gelowiges – Die wat God geroep het om aan Hom te behoort sal nie verlore gaan nie.
Oor elkeen van hierdie punte is daar boeke geskryf. Lees voort “UITVERKIES”