Stille Nag
Kersdag kan ʼn mens nogal met gemengde gevoelens laat. Aan die een kant die rustigheid en die vrede wat eintlik net met ʼn kersoggend gepaard kan gaan. Rustigheid omdat alles toe tog gedoen gekom het. Rustigheid, sommer net omdat dit Kersdag is en dit is hoe dit veronderstel is om te wees.
Die gemengde gevoelens kom wanneer jy jouself toelaat om bietjie te dink oor alles wat gebeur en wat besig is om te gebeur. Op Oukersaand wanneer persente gewoonlik oopgemaak word en op Kersdag self wanneer ons kerk toe gaan. As jy jouself net so ʼn bietjie kans gee om te dink, dan wonder jy: Is dit nou waaroor al die bohaai gegaan het? Is daar nie meer as net dit wat ons nou hier beleef nie?
Hierdie gemengde gevoelens maak dat ʼn mens dalk dink dat as jy volgende jaar net ʼn klein bietjie meer moeite met familie en vriende en geskenke en vakansiereëlings doen, dan sal die dag dalk vir jou ook anders wees.
Die wat op ʼn Kersfeesmore kerk toe gaan beleef hierdie gevoel dalk nog meer. Ons ken die verhaal nou al so goed. Dalk al te goed. Ons probeer ons indink in hoe dit moes gewees het om Josef of Maria of een van die herders of een van die wyse manne te wees. Lees voort “Preek: Kersdag 2014 Hebreërs 1:1-10”