Ons wil graag in beheer wees. In beheer van een of ander vaardigheid of vermoë. Met ander woorde, ek wil dit wat ek doen beter doen. Dalk ’n beter spreker of ’n beter strateeg of ’n beter motiveerder. Ons wil graag in beheer wees van iets buite onsself. Eksterne beheer sou ’n mens kon sê.
Die meeste mense se opleiding fokus ook op die eksterne. Ons leer wat om te dink en nie hoe om te dink nie; ons leer hoe om doelwitte te stel, nie hoe ons doelwitte moet bereik nie; ons leer van “dinge” en nie hoe dinge is nie. Ons is die hele tyd besig om die kruik van kennis voller en voller te maak, maar ons word nie geleer hoe om dit regtig te verstaan en dit effektief toe te pas nie.
Ek is tans besig met verdere toerusting. Een van die dinge wat deurlopend beklemtoon word, is dat kennis of inligting geïntegreer moet word. Met ander woorde ons moet die kennis of inligting gebruik om ons eie situasie beter te verstaan en te sê hoe dit sou lyk as ons die inligting of kennis in ’n bepaalde situasie of wat anders sou wees met betrekking tot sekere gebeure indien ons die kennis wat ons nou opdoen in daardie situasie sou kon toepas. En dan is ons toegerus om ’n verskil in die praktyk te gaan maak. Niemand kan my egter dwing om die nuwe kennis wat ek opgedoen het en die nuwe vaardighede wat ek aangeleer het, in die praktyk te gaan toepas nie. Praktiese integrasie van kennis is my keuse.
Dit beteken nie dat die verbetering en afronding van sekere talente, vermoëns en gawes nie belangrik is nie. Dit beteken net dat daar iets anders, dalk iets baie belangriker is wat ook raakgesien moet word.
Byvoorbeeld: Predikante behoort gewoonlik goeie openbare sprekers te wees as gevolg van die feit dat ons (die meeste van ons) moet en wil preek. Lees voort “in beheer van my eie groei”