GELYKENIS 13: DIE EIENAAR BESLUIT OOR DIE SALARIS

 Ons kan verseker wees dat die koninkryk van die hemel die standaarde van regverdigheid en billikheid te alle tye sal handhaaf. Maar ons kan ook met die verwagting leef dat die wêreldse standaarde vir billikheid en regverdigheid in die koninkryk van die hemel dalk op sy kop gedraai kan word. In vandag se gelykenis is dit wat gebeur:

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, en hy sê vir hulle:  ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal’. Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander daar rondstaan, en hy sê vur hulle : ‘Waarom staan julle heeldag werkloos rond?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie. ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

Toe dit aand geword het, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.

Die wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê: Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.

Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

‘So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.'”  (Matteus 20:1-16)

Die volgende opmerkings kan ons help in hierdie voorbeeld wat Jesus gebruik het beter te verstaan:

(i) Hierdie gelykenis is in ‘n sekere sin ‘n waarskuwing aan die dissipels. Hulle het die voorreg gehad dat hulle heel eerste die Christendom betree het. Hulle moet egter nie die fout maak om te dink hulle is meer waardevol of kosbaar vir God as ander wat deur die loop van die eeue Christen sou word nie.

Daar is oral mense wat dink dat ‘n gemeente aan hulle “behoort” en dat hulle die laaste sê oor alles moet hê net omdat hulle al baie lank in die spesifieke gemeente is.  In die Christelike kerk is daar eintlik nie senioriteit gekoppel aan tydperk nie.

(ii) Hierdie voorbeeld is ook ‘n waarskuwing aan die Jode. Die Jode het geweet hulle is die uitverkore volk en sou niemand ooit toelaat om dit te vergeet nie. Die gevolg was egter dat hulle neergesien het op enige ander volk. Daar was die gevaar dat daardie gesindheid ook in die Christelike kerk ingedra sou word. In God se ekonomie is daar nie so iets soos ‘n uitverkore volk of ‘n spesiale volk nie.

(iii) In hierdie gelykenis is daar ook die troos van die Here. Dit maak nie saak op watter stadium van sy lewe enige mens die koninkryk van God betree nie, die mens wat aan die einde van sy lewe die koninkryk van God aanvaar, is vir God net so kosbaar as die persoon wat die Here van sy jeug af dien.

In Openbaring het die heilige stad twaalf hekke. Daar is hekke na die ooste  – die rigting van die opkomende son, waar ‘n mens aan die begin van sy lewe kan instap. Dan is daar ook hekke aan die westekant van die stad – die rigting waar die son sak, waar iemand ook aan die einde van sy lewe in die heilige stad kan inkom. Selfs die persoon wat in sy jeug sterf en die persoon wat na ‘n lang en goeie lewe sterf kan maar weet dat die Eienaar vir elkeen dieselfde loon sal gee.

(iv) Hierdie voorbeeld laat ons weereens die wonderlike liefde van ons Vader raaksien. Op daardie markplein het manne rondgestaan, gereed om bekwaam om te werk, maar niemand het hulle gehuur nie. In sy groot liefde gee die eienaar van die wingerd vir hulle werk omdat hy nie kan verdra dat hulle so sonder werk rondstaan nie.

Ook in die loon sien ons die eienaar van die wingerd se liefdeshart. Hy het geweet die dagloon was net genoeg. As hy enige een van die werkers minder as dit betaal, sal hy nie in staat wees om daardie aand vir sy vrou en sy kinders kos te koop nie, daarom gaan die eienaar by regverdigheid verby en gee vir hulle meer as wat hulle verdien het. Hierdie voorbeeld beskerm die basiese regte van ‘n werker. Die reg om ‘n werk te hê en die reg om ‘n billike loon te ontvang.  

(v) Hier is ook die vrygewigheid van God. Hierdie manne het nie almal dieselfde werk gedoen nie, maar hulle het dieselfde loon gekry. In die eerste plek is dit belangrik om raak te sien dat alle diens of werk aan God vir God ewe belangrik is. Die vraag is nie hoeveel werk gedoen is nie, maar wat die gesindheid is waarmee dit gedoen word. Die Here kyk nie na die hoeveelheid werk wat gedoen is nie, Hy kyk slegs om te sien of jy alles gegee het wat jy moontlik kan gee. In die tweede plek is alles wat ons van God ontvang genade. Ons kan nie genoeg doen om God se genade te verdien nie.

(vi) Die belangrikste les is die gesindheid waarmee die werk gedoen is. Hier is twee groepe. Die eerste groep het ‘n ooreenkoms gehad. Uit hulle optrede is dit duidelik dat dit net vir hulle belangrik was om soveel “loon” as moontlik by die eienaar te kry, daarom die ontevredenheid wanneer die wat vyf-uur begin dieselfde loon kry as hulle wat ses-uur die oggend al begin het. By die wat later begin werk het, was daar geen sprake van ‘n ooreenkoms nie. Hulle was net verheug oor die geleentheid om te kan werk. Hulle was tevrede om die loon in die hande van die eienaar te laat.

‘n Christen is nie ‘n Christen as dit vir hom oor enige vorm van loon gaan nie. Die Christen werk vir die vreugde om God te mag dien en in God se diens te mag wees. Baie mense in hierdie wêreld wat baie groot toekennings van baie mense gekry het, sal ‘n baie lae plek in die koninkryk hê. Maar die wat die Here met oorgawe en uit liefde gedien het, dankbaar vir die voorreg om die Here te kan dien, daardie mense se loon sal groot wees in die hemel.

Wat in hierdie voorbeeld van Jesus is die meeste van toepassing om jou situasie?

Hoekom sou sommige mense hierdie praktyke in hierdie gelykenis as onregverdig beskryf?

Hoekom sou sommige mense hierdie praktyke as groothartig beskryf?

Hoe sou jy die praktyke in hierdie voorbeeld besklryf?

5 thoughts on “GELYKENIS 13: DIE EIENAAR BESLUIT OOR DIE SALARIS

Add yours

  1. “‘n Christen is nie ‘n Christen as dit vir hom oor enige vorm van loon gaan nie. Die Christen werk vir die vreugde om God te mag dien…” Die eerste keer toe ek hierdie woorde lees was dit vir my ‘n klein bietjie te hard en te skerp. Hoe meer ek dit gelees het, hoe meer het ek besef dit is so. Ek wil nie die Here dien omdat ek iets daaruit gaan kry nie. Ek wil die Here dien omdat ek Hom liefhet. Dit is vir my ‘n voorreg om die klein bietjie wat ek vir die Here doen uit dankbaarheid te mag doen. Ek verstaan nie dat Hy mense soos ek gebruik nie, maar ek is dankbaar dat Hy dit wel doen.

  2. Hierdie gelykenis veroorsaak baie ongelukigheid in die wereld.
    Lank gelede het my werkgewer vir my die stuk in die bybel aangehaal om vir my te verduidelik hoekom ek minder salaris kry as my mede werker hoewel ek vir die maatskapy meer verdien het. Nou dat ek n werkgewer is, sien ek dit anders.
    Mense het ook al vir my vertel dat hulle eers later hulle sal bekeer en dan die gedeelte aangehaal.

  3. Alec: Ek dink wat hierdie gelykenis wil gebruik om te besluit hoe hy sy werkers se vergoeding moet bepaal, mis die punt. Iemand wat hierdie gelykenis aanhaal om die oonblik van hulle bekering uit te stel, speel met God se genade. Beide is ‘n gevaarlike speleltjie. Een bring jou in die moeilikheid met die regering en die ander een kan jou dalk net in die moielikheid bring met God.

  4. “By die wat later begin werk het, was daar geen sprake van ‘n ooreenkoms nie. Hulle was net verheug oor die geleentheid om te kan werk. Hulle was tevrede om die loon in die hande van die eienaar te laat.”
    Ek sal darem baie graag hierdie gesindheid deel van my eie lewe wil maak. Ek is so dankbaar vir elke stukkie genade wat ek van God ontvang het en vir elke keer wat Hy vir my ‘n nuwe begin moontlik gemaak het, dat ek met groot vrymoedigheid die loon (indien enige ) in sy hande sal laat.

  5. Pasop dat werke nie baie subtriel by ons skuil nie. Let bv na lang en GOEIE lewe aan die einde van punt 3.

    Ek dink ook nie daar is enige gronde om punt 4 uit die gedeelte af te lei nie.

    Eweneens is daar geen sprake van gsindheid sos in punt 5 nie. Nog ‘n subtile vorm van werke.

    Danie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: