EK BLY IN SUID AFRIKA

Ek het lank terug al hierdie besluit geneem: Ek bly in Suid Afrika!

Ek het meer as genoeg rede om die land te verlaat. Ek neem ook niemand kwalik wat die land verlaat nie, want die redes om te gaan is baie en almal dra gewig. Ek wil ook niemand verwyt wat gaan nie. My broer en sy gesin is in die VSA en ek was alreeds twee keer by hulle gewees – nou wel as deel van studietoere by hulle gaan kuier, maar ek was darem al daar.

Nou wonder ek of daar nog ander soos ek is. Ek wonder of daar nog mense is wat besluit het: Ek bly hier! Ek kan nie sê dat ek regtig ‘n rasend positiewe verwagting oor die toekoms van hierdie land het nie, maar ek gaan nog steeds hier bly.

Ek kan nie sê dat ek ‘n waarborg het dat ek nie een of ander tyd (weer) geroof gaan word nie of dat  ‘n derde kar van my gesteel gaan word nie. Maar ek gaan bly.

Ek het ook geen waarborg dat die geweld in die land nie dalk my eie lewe of die lewe van iemand baie naby aan my gaan eis nie. Maar ek gaan nêrens nie. Ek bly hier.
Ek het geen waarborg nie, maar ek bly. Ek wil bly. Ek weet dat dit selfs vir sommige ouens na dwaasheid gaan klink, maar dit is hoe ek voel.

Twee redes waarom ek bly:

1. Hierdie is my land. My kinders bly my kinders selfs al maak hulle droog, hierdie land is nie die ideale land nie, maar dit bly my land.
2. As gelowige glo ek dat die Here vir my ‘n werk in hierdie land het. Ek wil doen wat Hy wil hê ek moet doen. Ek of iemand in my familie mag dalk sterf terwyl ek hierdie gehoorsaamheid leef, maar dit is hoe ek voel.

Nou wonder ek: Is daar nog iemand wat dalk bereid is om te sê dat hulle bly en waarom hulle bly.  Die doel is nie om die wat die land verlaat het en nog die land gaan verlaat  as slegte mense uit te beeld nie, want ek dit nie dit is waar nie. Die doel is net dat die ouens wat bly dalk sê waarom hulle bly.

Hoekom bly jy in Suid Afrika?

41 Kommentaar

Filed under Nagedink

41 responses to “EK BLY IN SUID AFRIKA

  1. Ons bly ook. My redes is hier. http://wosonki.wordpress.com/2008/03/03/die-besluit-is-geneem/

    Die vraag is. Ons is nou hier, gaan ons iets doen om die situasie te probeer verbeter?

  2. Gaan lees gerus wat sê Jaco, maar ek “paste” sy berlangrikste redes hier: Ek gaan nie emigreer nie want:
    1. ‘n Afrikaner is ‘n bouer en ‘n oprigter, nie ‘n breker en ‘n verwoester nie.
    2. As ‘n soldaat het ek ‘n plig gehad om diegene te beskerm wat hulleself nie kan beskerm nie. Alhoewel ek lankal nie meer ‘n soldaat is nie, is dit steeds my taak as man. Deur te emigreer neem ek moontlik my vrou na veiliger oorde, maar ek laat ‘n leemte in die familiestruktuur wat baie meer as net een persoon raak.
    3. Ek is nie bereid om alles wat ek tot stand gebring het in die laaste 17 jaar net so op te gee om êrens anders te moet gaan oor begin nie.
    4. Ek is niemand se bywoner nie. As immigrant is dit presies wat jy word in jou nuwe tuiste.
    5. Ek is van Afrika. My voorvaders is van Afrika. 8 geslagte lank. Europa is nie my huis nie. Afrika se rooi stof was nie maklik uit jou gees nie.
    Dankie Jaco.

  3. Ek het ook al lankal besluit om te bly. Ek kan lank of kort daarvoor skryf.

    Die kort weergawe: Ek voel tuis hier. Dit is my huis, ‘n ander land sal nooit my huis wees nie. Dit is vir my lekker hier.

  4. Ek bly! For better or worse…

    Hierdie is MY plek, ek glo ek’s met n rede hier! Ek is lief vir die mense (meeste)… En ek’s lief vir die land, die mooiste! En op my manier veg ek vir my land… Al is dit ook nou net om 1 toeris aan 1 Suid Afrikaner en 1 besondere plek voor te stel!

    Vandat ek jare terug die eerste maal oorsee was, en teruggekom het en soos die Pous gevoel het, wil ek nog steeds elke keer my land se grond soen as ek my voete op my plek in die universe se grond sit!

    En nee, ek is nie net erg bang vir vlieg nie!!

  5. Dankie Attie – dis lekker om so iets te lees. Ek het al begin voel ek baklei teen die donderweer, as ek vir mense sê ek bly hier, ongeag.

    Ek bly, tot ek die dag my laaste asem uitblaas, of dit nou aan natuurlike oorsake sal wees of nie. En ja, ek het ook al misdaad aan eie lyf gevoel. Net Vrydag het hulle ook by my dogter se huis ingebreek. Jongmense wat net nou die dag hulle goedjies begin bymekaar maak het. Dis erg.

    As my kinders besluit om te gaan, sal ek hartseer wees, maar ek sal hulle nie terughou nie.

    Maar ek gaan nêrens heen nie. My hart sal verdor in anderland. Hierdie Suiderland is my hartland, my liefland, my blyplek. Soos jy sê, mens skryf nie jou kind af nie, al het hy wat gedoen. Ek skryf nie my land af nie. Klaar.

  6. Ami

    Ek wil en sal nooit êrens anders aard nie, my hart en siel is hier vasgegom.

  7. rosalindfranklin: Ek voel ook tuis hier. ‘n Onverklaarbare tuis voel, maar dit is so.
    plattertjie: Ek weet presies wat jy bedoel. Ek onthou toe ek en Renate die eerste keer in die VSA was en ons oor Johannesburg sirkel om te land het ons ook vir mekaar gesê: Hierdie is ons land. Ons wou die grond soen.
    sonkind: Suiderland is hartland. Ek dink ons moet dit weer begin sê. Ek dink ons kinders moet hoor: Hierdie land is my land. Ek ken geen ander land nie.
    Ami: Vasgegom sonder dat mens dit besef het.

  8. Thinus

    Ek is oorsee, en ek sal wat gee om terug te kom, om die vroeg oggend te ruik, om weer te braai, om kerk toe te gaan op ‘n Sondag, om vis te vang, en om my gemeenskap te dien.

    Dis waar wat jul se: Suiderland is hartland

  9. Thinus: Ek is so bly jy neem ook deel. Ek wonder nogal wat beleef die mense wat nie in Suid Afrika is nie. Dankie vir jou eerlikheid.

  10. Alec

    Ek bly. Dis my plek.

  11. Thinus

    Hier in die buiteland se hulle ons hoort nie in SA nie omdat ons nie swart is nie, ons word gebrand as rasiste, so baie mense soos ek hier in Dubai wil terug kom maar hulle is te bang, my vrou is een van hulle, hier werk, werk, werk jy net, in winter is dit OK maar in die somer is dit ondraaglik warm, dit word 45 soos niks, somtyds baie warmer, met 80% vogtigheid. Hierdie is nie my plek nie.

    Maar weet jy doom ek sien ‘n lig aan die einde van die tonnel, ek weet nie hoekom nie, maar ek dink dinge sal vir die beter verander as ons net verby die ras en kleur kan kyk, en ons moet ook leer om verby die oenskynlike klase verskil te beweeg en besef ons is ook mense, en as daar weersydse respek is, ons moet net aanhou bid, ons oe draai na die Here toe en ek glo dit sal drasties verbeter.

    Miskien vergeet ons dat God groter as ons probleme en SA is, hy kan alles verander as Hy wil. Ons moet net vra, en Glo Hy is God

  12. Hoekom trek as die Nuwe Jerusalem, die Beloofde Land so naby is…?

    (Openb 21:1) En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.

    (Openb 21:2) En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.

    (Openb 21:3) En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.

  13. Ek stem saam – EK BLY! En ek deel julle almal se sentimente. Ek verstaan die redes hoekom so baie mense hulle tasse gepak en geloop het. Ek het begrip daarvoor, al staan ek baie keer kras teenoor hulle. Ek dink wat ons regtig nodig het, is dat die ex-pats terugkom. Kom help ons! Ons wil regtig hierdie land MAAK werk, maar dit gaan langer vat as ons dit op ons eie moet doen. Opgelet dat ek geen opsie laat vir mislukking nie? Ek weet ons sal dit regkry! Al wat ons nodig het is ‘n gekonsentreerde poging! Hef aan lê voor!

  14. Alec: Ek stem!!!
    Thinus: Ek kan verstaan dat mense bang is om terug te kom. Maar… ek is ook nie so seker dat die prentjie wat julle het die ware prentjie is nie. Mense is telkens weer verbaas as hulle hier kom en sien mens kan tog nog steeds 11 uur in die aand deur Rustenburg se strate ry.
    Johannes: Ek gaan deel wees van die nuwe Jerusalem. Maar totdat daardie dag aanbreek is ek as Christen geroep om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Deur dit wat ons doen, moet ons tekens oprig van die alreeds komende koninkryk van God. ‘n Boodskap van “A pie in the sky when you die.” gaan geen verskil maak in hierdie land en aan hierdie mense nie. Deur die liefde wat ons leef moet ons die koms van God se koninkryk sigbaar maak in hierdie stukkende wêreld.
    Gestorwe Soldaat: Ek dink soms as ons net weer die Afrikaanse mense met hoop vir ‘n beter toekoms kan mobiliseer en hulle eienaarskap kan aanvaar vir die wel en weë van hierdie land, sal jy darem ‘n ding sien. Daar is werk… Carpe diem! Gryp die dag en maak die beste van elke moontlike geleentheid.

  15. Thinus

    Doom, Ek dink jy bevestig wat ek al lankal oor twyfel, dit spyt my maar baie suid afrikaners smeer ons land baie swart en verkondig doem en verwoesting, maar dit lyk my dis nie so erg nie.

  16. Ek’s nou al ‘n jaar in Swede en ek hoort nie hier nie. My hart klop met ‘n ander ritme. Augustus is ek weer in my eie land!

  17. Thinus: Ek dink hier gebeur “bad” dinge. Moenie ‘n fout maak nie. Misdaad is ‘n probleem en die rassisme spook wil nie heeltemal gaan lê nie en die lewering van dienste is ‘n probleem en daar is korrupsie en blanke Afrikaners sukkel om werk te kry, maar ek is ernstig daaroor dat ons ‘n waardevolle bydrae het om te lewer in hierdie land.

  18. netjane: Dit sal wonderlik wees om vir jou te sê: Welkom terug in ons land, die mooiste land, Suid Afrika. Ek droom van ‘n geslag jongmense wat trots is op hulle land ten spyte daarvan dat alles nie maanskyn en rose is nie.

  19. Thinus

    Doom ek sekondeer, as ons wil kan ons dit maak werk, vir almal in SA, al wat ons nodig het is dissiplne, harde werk en ‘n vergewings gesindheid. Ek se nog steeds, miskien moet ons as die kerk die leierskap van SA se voete was en hulle salf as die leiers en ons steun en samewerking aanbied, dis dalk idealisties maar ek weet dat swartes het ‘n baie groot vergewings gesindheid en ons moet daarop staat maak om sodoende nuut oor te begin.

    Wat as….

  20. Rina

    Ek weet julle praat van emmigteer en daai goed maar ek wil iets anders vra wat hier genoem word. Dis die nuwe Jerusalem waarvan julle skryf. Gaan daar regrig ‘n nuwe stad met goue strate van bo uit die hemel aarde toe kom eendag?

    Dit staan tog so in die Bybel so maar van my vriendinne s^e dit kan nie wees nie want waar gaan al die eeue se mense dan in een stad woon. Nou weet ek ook nie meer so lekker hoe werk die goed nie.

    Ek kan nie meer met my dominee praat nie want hy doen goed wat nie reg is nie. Ek is verward.

  21. Iemand se vanoggend vir my n ding, sy is ‘n wyse vrou na wie ek gaan vir raad: Sy sê: As mens weggaan, gaan jy omdat jy vlug of weggaan van iets, of omdat jy daar oorkant regtig soveel meer gaan kry.
    Sy meen die meeste mens vlug oor geweld, maar verloor tien keer meer deur te gaan. ‘n Mindere werk, oor begin, kan nie eie huis bekostig nie, laat vriende en familie agter.

    Sy meen as jy weggaan omdat hy wegtrek van iets spesifiek, sal jy daar ook iets kry wat jou krap. Daar sal altyd iets wees.

    Ek het haar gevra na raad na aanleiding van my eie pyn en woede waaroor ek op my blog geskryf het oor my suster-hulle se emigrasie.

  22. Thinus: Ek dink ons moet iets doen en ek dink deel daarvan gaan wees dat die kerk die kloof tussen regering en kerk op so ‘n manier oorsteek dat ons steeds kritiese afstand hou. EK is egter bevrees dat sommige probeer om die regering te beindruk en dan maar net weer alles se wat die regering wil hoor. Maar ons sal die kloof moet oorbrug. Ons sal waarskynlik moet begin om in die klein dingetjies ‘n verskil te maak en dalk net goeie landsburgers moet wees. Maar ek is self nie seker nie.
    Rina: Wat ek weet is dat Jesus weer gaan terugkom. Openbaring veral is ‘n boek moet baie simboliek in en mens moet die nuwe Jerusalem verstaan as simboliese taal. Die boodskap is eerder dat dit ‘n plek gaan wees waar ons net so tuis gaan wees as wat ‘n Jood in die Bybelse tyd in Jerusalem was. Maar… ek waarsku jou nou al dat baie mense baie interpretasies hieroor het.
    rosalindfranklin: Ek dink nie mens kan na enige plek toe gaan waar daar nie probleme is nie. Ek weet van ten minste drie gesinne wat Sondag by my in die erediens gaan sit wat weg was en weer teruggekom het. Vir verskillende redes teruggekom het, maar einde laaste eerder die negatiewe hier verdra as die positiewe in ‘n vreemde land. Ek merk ook by baie land ‘n versadigingspunt op teenoor Suid Afrikaners wat na hulle land toe gaan.

  23. Rina

    Ag tog dit lyk my elke mens het sy eie interpretasie dominee Attie. Wie moet mens nou glo? Die en s^e sus en die ander s^e so. Party mense wil nie eers dat mens daaroor vrae vra of wonder nie. My eie dominee preek net oor die hel en oor sonde maar hyself staan agter die deur. Daar is ‘n snaakse ding besig om met my te gebeur maar ek weet nog nie mooi wat nie. Ek is te bang om hardop daaroor te dink.

  24. In die tyd van Jesus en Sy dissipels, met die vervolging, het baie Christenne gevlug na ander dele van die wêreld. Dit was maar hoe die kerk uitgebrei het na ander lande, dus dink ek nie daar is fout wanneer mense hulle in ander lande gaan vestig.

  25. Rina: As jou eie dominee soveel ongelukkigheid by jou veroorsaak, moet jy dit dalk oorweeg om na ‘n ander gemeente toe te gaan.
    Hans: Natuurlik is jy reg. Daar is niks fout met die wat gaan nie, maar daar is ook niks fout met die wat bly nie. Ons wat bly het goeie redes waarom ons bly. As ons by mekaar kan hoor waarom ons bly, dan bemoedig ons mekaar, want dit is die altyd die maklikste ding om hier in hierdie land te bly en dan nog positief ook te bly nie.

  26. Rina

    Dankie Attie ek oorweeg dit. Die vraag is waarheen? Ek is nie meer so seker of dominees nie maar almal op ‘n manier dieselfde is nie. Jammer ek wil dit nie lelik laat klink en jou ook verdag maak nie. Dis net dat ek voel ek is vir ‘n ride gevat en my vertroue in sulke mense is ietwat op ‘n laagtepunt. By wyse van spreke (geen direkte verwysing na jou nie) sou ek kon vra wat maak jou of enige iemand anders as die res: 😦

  27. Rina: Almal van ons leef maar vanuit God se genade. Inderdaad is geen dominee of predikant of pastoor anders as enige ander mens nie. Ek verstaan jou agterdog, maar daar is tog diegene wat anders is. Vat ‘n kans. doen ‘n bietjie “chruch-shopping” dan maak jy ‘n afspraak met iemand wat die indruk skep dat jy dalk met hom/haar kan gesels. Ek dink jy gaan verras wees.

  28. Dit maak nie saak waarheen jy immigreer nie, Suid Afrika bly brand in jou are. Ek bly al 5 jaar is die VSA maar as ek my oe toemaak sien ek die sonsondergang, ruik ek die aankomende reën, hoor ek die bosveld geluide, nêrens is die sterrehemel so mooi nie, .. ek is lief vir jou Suid Afrika!

    HEILNA DU PLOOY: OPLUGTING
    ek loop my uit die tyd uit
    op hierdie skemerende strand
    dié lug is grensloos ruim in blou en grys
    die water durend wyd
    ek loop hier in ‘n landskap sonder raam
    en in die terugspoel op die spieëlnat sand
    loop die late wolke hemelend saam

  29. Lady: Lekker om weer van jou te hoor. Jy sê dit so mooi: “Suid Afrika bly brand in jou are.”

  30. Thinus

    Ek bid vir ons land, dat ek vinnig kan terug kom. bid vir my ook

  31. Thinus: Ek kan verstaan dat jy verlang. Ek gaan bid sodat jy kan terugkom. Ek preek more-oggend hieroor. Ek gaan probeer om die preek op die “blog” te sit.

  32. Justine

    Ladyguinevere, Ek hou van wat jy sê en terwyl ek jou comment gelees het, het dié gedagte by my opgekom; ‘Dit is die stem van jou bloed wat roep na dit wat eie aan hom is.’

    Dankie

  33. Justine dis mooi, en dis so waar, ek glo dis presies wat gebeur!

  34. Ek dink ons moet weer ons liefde en ons trots vir ons land begin verwoord. Selfs die wat in ander lande woon as gevolg van verskillende redes, moet kan sê: Ek is lief vir Suid Afrika -.my vaderland.

  35. Ek “paste” my “comment” op soldaat se blog hier:

    Dit lyk my baie meer afrikaners is tans besig met dieselfde worstelings. Ek en my “lyfie” het ook die afgelope paar weke alle moontlikhede ondersoek – Kanada, VSA, Aus (waarvoor ek te oud is), Nam ens – maar nadat ons Angus Bachan (Faith like potatoes-faam) se praatjie bygewoon het, bly ons ook! Iemand het gesê: as jy dit nie hier maak nie, gaan jy dit ook nie daar doer maak nie; menende dat jou probleme in ‘n groot mate binne-in jou is.

    Hoe het Dawid in die Psalms gesê? Met my God loop ek ‘n oormag tegemoet. Dis net geloof in Jesus, en deur die kragtige werking van die Heilige Gees, dat ons dit hier kan “maak”. Maar meer nog, ons is nie hier per toeval nie; ons het ‘n roeping! Mag ons die insig kry waar en hoe; en die krag kry om dit actually te gaan doen!

    Ek is ‘n Afrikaan; in my bloed vloei Afrika se bloed, stof en sweet. My voorouers was Franse Hugenote, maar nou’s ek HIER.

  36. HeLo

    Ek wou al lankal ‘n “comment” gemaak het, maar nooit geweet hoe om my self uit te druk nie. En ook nie HOEKOM ek nie wil gaan nie. Na gisteroggend is ek oortuig(nie deur doom nie) maar in my self dat EK BLY OOK !!. Ek was, is en sal altyd lief wees vir SA, ook stem ek saam dat ons hier is om ‘n bepaalde taak te voltooi. Dit gaan nie maklik wees nie (ons kan tot later vervolg word) – maar ons kan ook dit ook nie ontwyk nie.
    Dankie Doom!

  37. Ek sal bly vir my kinders. Maar as ek jonger was en die geleentheid gehad het sou ek gegaan het.

  38. Kiwi

    Ons is reeds meer as twee jaar in NZ en het ek gekom omdat dit eerstens die opdrag van God en tweedens my huweliks belofte is dat ek my man sal bystaan deur dik en dun en ek respekteer die besluite wat hy as hoof van die huis neem.
    My hart hunker baie dae na die Kruger Nationale Park en ander parke en kan ek nie genoeg kry van die Animal Planet kanaal nie want ek mis die wilde diere verskriklik en dan is daar is dae wat ek die reuk van die kakiebos ook net so baie mis, saam met die mooi herinneringe van ons motorfiets toere na die Kaap, die walvistoere per motorfiets, die toere deur Oos Transvaal (Mpumalanga) en dan ook al ons staptoere in die Drakensberg (naby Bergville en omgewing). SA sal altyd ‘n teer puntjie in my hart hê, en bid ek dat die Here weer beheer sal kry van die land en satan en sy bose magte sal uitdryf sodat ons kan teruggaan na ons “moederhuis”.

  39. HeLo: Ons het ‘n roeping waarvoor isn nie wil terugdeins nie.
    Da Mario: Baie mense voel so. Ek verstaan dit en ek bid hulle in ale opregtheid die seën van die Here toe. Ek wil graag die ouens wat die keuse maak om te bly motiveer en help om hulle roeping in hierdie land uit te leef.
    Kiwi: Ek glo dat die manier waarop die Here beheer neem van enige situasie en enige land is deur die lewe van sy kinders. Een daad op ‘n slag. Een persoon op ‘n slag. Een dag op ‘n slag.

  40. kati

    Ek wil bietjie opstandog raak en graag mee deel, dat ek nie in Suid-Afrika gaan bly nie…

    ek wil nie hier bly nie, nie omdat dit bad is nie,maar bloot omdat dit my keuse is
    Die Liewe Here het vir my (en julle ander sukkers)HEHEH die hele wye wereld gegee om in te gaan en bos te gaan! om sy woord in een land te verspry is een ding maar om Hom in die wereld in te neem is iets besonders. iets wat net van bo af kan kom..

    ek rispekteer ieder en elk se keuse om in ons pragtige land te bly, maar wil ‘n beroep op die jeug plaas… WAT IS DIE GROTER PRENTJIE?????? en waar pas jy in, en wat gaan jy doen om dit “worth wile” te maak?….

    daar is ‘n wye wereld om te ontgin,so moenie net vas kyk in dit waar jy nou is nie, gaan kyk “daar buite” wat offer die lewe jou,en maak dan die besluit, jy kannie weet wat in die pot is as jy nie die deksel op lig nie?????

  41. Kati: Ek het geen probleem met iemand wat gaan nie. Daar is net so baie mense wat dieselfde keuse maak om te bly, maar nooit hoor dat dit ook dalk die regte keuse kan wees nie. Die uitdagings vir Christen in Suid Afrika gaan al hoe groter word. Christene wat kies om te bly aanvaar die uitdaging om ‘n verskil te maak in hierdie land. Dit is nou egter die groot uitdaging vir die kerk om die wat agterbly te begelei om ‘n kwaliteit verskil te maak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s