VANDAG NOG SAL JY SAAM MET MY IN DIE PARADYS WEES

Wat gebeur as ‘n mens doodgaan?

Mens esal aanhou om die vraag te vra. Ek is nie ‘n akademikus nie en het beslis nie genoeg kennis om finale uitsprake oor hierdie sake te maak nie en sou heeltemal bereid wees om hieroor te sê: “Ek verstaan nog nie alles nie.” of selfs: “Ek dink ek moet anders dink oor hierdie saak.” Tog is die hele gedagte oor die lewe na die dood iets wat vir gelowiges ‘n ontsaglike groot bron van hoop is.

Ek moes hierdie ding vir myself verstaanbaar maak sodat ek kan probeer om vir mense troos en veral hoop te bring.

Vir my is Jesus se antwoord op die versoek van die moordenaar aan die kruis een van die meer hoopvolle uitsprake in die verband. Meeste ken die gebeure. Die misdadiger is saam met Jesus gekruisig. Op een of ander manier het die misdadiger tot die oortuiging gekom dat Jesus die Messias is en dat God deur Hom besig is om beheer te neem en dat God dus weer koning gaan wees. In sy misdadiger-gemoed is daar geen onsekerheid dat hy gaan sterf nie. Geen mens word in daardie tyd aan ‘n kruis gehang en oorleef dit nie. Ongeag watter godsdienstige agtergrond hy gehad het, hy sou geweet het van lewe na die dood want dit is wat feitlik elke godsdiens in sy tyd geleer het. Hier langs hom sterf nou ook ‘n Man wat belowe het dat Hy steeds sal regeer self al is Hy dood. Daarom die versoek: “Dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.” Jesus se antwoord:

“VANDAG… sal jy saam met my in die paradys wees.”

Sekere Nuwe Testamentici sien die “paradys” hier nie as die finale bestemming nie, maar die sorgelose tuin, die plek van alle vrede en rustigheid, waar die dooies rus terwyl hulle wag op die aanbreek van die nuwe dag. Ek sien in ‘n sekere sin ‘n teenstelling in Jesus se antwoord op die man se vraag. Die vraag skep die indruk dat die man iets ver in die toekoms verwag. Jesus bring dit met die antwoord tot by vandag, die hede.VANDAG sal jy saam met my in die Paradys wees.

Ek weet nie presies waar Jesus was in die drie dae tussen kruisiging en opstanding nie. Dit wil tog vir my lyk asof hy by wyse van spreke ten minste ook met die “laat-verloste-misdadiger” skouers geskuur het. VANDAG sal jy SAAM MET MY in die PARADYS wees. Ons weet dat ons almal ook gaan opstaan soos Jesus uit die dood opgestaan het en dat ons verheerlikte liggae gaan hê (Ek weet nie presies wat dit beteken nie.), maar voordat Jesus opgestaan het dus ook voordat hierdie misdadiger sou opstaan, sou hulle iewers tyd saam deurbring. Paulus het ook daardie verlange gehad om te gaan en by Christus te wees.

Paulus het geweet van die tyd wat min is en dat Jesus weer moet kom en dat die wederkoms ook die dag van finale geregtigheid sal wees. Maar hy het tog verlang om heen te gaan en by Christus te wees. Ek verstaan dit as dat ek my oë in hierdie lewe toemaak en dit in die Paradys by Christus oopmaak.

“Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is sy stem sal hoor en sal uitgaan. Die wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en die wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” (Johannes 5:28-29)

Ek het dit nou maar vir myself so uitgewerk: Daar is die lewe wat ons nou lewe, dan is daar die dood en dan is daar die lewe na die dood, in die paradys, en dan is daar die opstandingslewe.

NT Wright formuleer dit so: Die lewe na die lewe na die dood.

Wat dink jy?

12 thoughts on “VANDAG NOG SAL JY SAAM MET MY IN DIE PARADYS WEES

Add yours

  1. Ds Attie, baie dankie vir die verduideliking. Ek glo ook (in die afwesigheid van meer inligting) dat die lewe na die dood dalk uit twee fases bestaan. Dit bring my terug by die hemel. Die hemel is dalk ook ‘n toestand / plek wat baie meer omvat as wat ons ooit kan droom. Ek dink wat dalk altyd belangrik bly is dat na die dood ons by die Here is, die waar en hoe wat nie presies aan ons geopenbaar is nie. Dit wil ook vir my voorkom asof die ongelowiges op ‘n “ander plek” (die doderyk) sal wees saam met die bose / satan. Ons kan nou maar net spekuleer, maar eendag sal ons die volle waarheid ken. Ek weet egter waar ek nie my oë weil oop maak nie, maak nie saak of dit die bose of die satan genoem word nie – daar wil ek nie wees nie.

  2. Johan – Ek dink nie ons moet die hemel as ‘n plek of selfs ‘n toestand sien nie. Die hemel is waar God is. Die Nuwe Jerusalem sal wees waar God volkome in beheer is. Die Paradys is vir my hemel omdat, soos die misdadiger, maak elkeen wat doodgaan sy oë oop in die teenwoordigheid van die Here. Hierdie lewe het ook sy hemel-momente wanneer God se teenwoordigheid en heerskappy deurbreek. Soos jy sê is dit baie meer as wat ons kan droom en bly dit in ‘n baie groot mate ‘n misterie omdat ongekende dinge met beperkende taal beskryf moet word.

    1. Attie, jy is reg – die hemel is waar God is. Dan moet dit ook volg dat die hel is waar God nie is nie. Dit maak die twee begrippe nou baie duidelik. Dankie dominee. Ek het vandag iets geleer.

  3. Ding wil net heeleerste kom sê: ek dink een van die moeilikste verantwoordelikhede van ‘n dominee, gebore uit verwagting by mense, is om met gesag te praat oor wat na die dood gebeur. Heelwat predikante skram oënskynlik wyslik weg van die onderwerp – die veiliger keuse. Ding haal Ding se hoed af vir Doom Attie, omdat Doom voel-voel versigtig wel dapper genoeg is om oor hierdie onderwerp te gesels.

    Doom, reken Doom die lewe ná die dood, in die paradys en die opstandingslewe is twee verskillende fases wat chronologies op mekaar volg?

  4. Het Doom al die boekie: “Eerste vyf minute na die dood” deur Izak Burger (?) gelees? Ding het op ‘n stadium oor die boekie gestruikel en die aankoop daarvan regverdig met die verduideliking dat dit eintlik vir Moedertjie se alewige nuuskierige brein bedoel is, maar Ding het dit natuurlik eers self gou deurgedraf… Vir Ding was dit sinvol om vir Moedertjie die boekie te kon gee sodat sy elders ook kon lees en bevestiging vind vir haar eie gedagtes – hoofsaaklik om hoop en berusting te probeer help vind.

  5. Ding neem alweer Doom se HELE koffietafel oor – hoeveel sitplekke is beskikbaar rondom die tafel? Ding sit sommer nou op al die stoele en gesels te lekker met Dingself… Askies, Doom – as almal maar so geduldig soos die rekenaarskerm kon wees.

    Doom, ek reken nogal dat gelowiges oor die algemeen daarvan oortuig is dat daar wel chronologies verdere, verheerlikte lewe is ná afsterwe van hierdie fase van lewe. Voorts word dit seker ook algemeen aanvaar deur gelowiges dat daar ‘n wederkoms sal wees wat gepaard sal gaan met oordeel.

    Natuurlik is dit menslik om te wonder oor: wat gebeur tussen afsterwe en oordeelsdag? Vandaar Ding se aanvanklik vraag: sien Doom die lewe ná die dood as ‘n fase chronologies voor die opstandingslewe? Wanneer kom daar dan die fase van ‘n lang slaap of rusperiode?

    Ding sal eers hier halt, maar daar is nog so ‘n kwart arsenaal van woorde wat sou kon volg….

  6. DIng…
    Jy is reg ek trap maar versigtig.
    Iemand het eendag vir Augustinus gevra wat God gedoen het voor hy geskep het. Augustinus het geantwoord dat Hy ‘n spesiale plek voorberei vir almal wat sulke moeilike vrae vra. hehehehe
    Ek verstaan dit op die stadium wel so dat dit kronologies is. Eers die tyd in die Paradys en dan die opstanding van die dooies of die wederkoms waar ons almal saam met God die nuwe hemel en die nuwe aarde beleef.
    Ek is nie ‘n universalis nie – met ander woorde ek glo nie dat almal wel op een of ander stadium gered gaan word nie. Ek glo daar is mense wat die ewigheid gaan deurbring op ‘n plek waar God nie is nie – die hel. Ek glo daar gaan een “grand finale” wees wanneer Jesus weer gaan kom van waar ons almal wat in Hom glo saam met Hom sal wees.
    Help dit?

  7. Ai Doom, dis wat mos so lekker is van Doom Attie – Doom kan so hoog praat en as Ding hier kom aansit, dan kan Doom so mooi vir 5-jarige Kleinding verduidelik. Ek waardeer daai – partykeer verstaan Ouding dinge, maar solank Kleinding nie ook verstaan nie, verstaan EK nog nie, sien. Ja, ek hou van hoe Doom glo… maar nou – die stoute outjies wie nou gaan ween en tande kners, gaan hulle reguit soontoe as hulle hierdiekant kis, Doom? Of gaan hulle ook eers Paradys toe?

    Ding leer nogals baie hier by Doom Attie – dankie daarvoor. En Ding hou van die Augustinus mens – smaak vir Ding DIS nou omtrent ‘n slim mens! Augustinus laat vir Doom aan Moedertjie dink met die slim antwoorde toe Ding nog helemal net klein was.

  8. Oor daardie een sal ek bietjie moet gaan kers opsteek en mooi gaan dink. Op hierdie stadium wil ek reken dat hulle reeds met gekners en die geween begin.
    Die Roomse ouens en sommige van die Universaliste sê nee daar is nog eers ‘n kansie, nadat iemand nou hier die laaste keer die besoedelde asem van hierdie lewe geteug het, om nog ‘n keer tot ander insigte gebring kan word. Rob Bell sal byvoorbeeld sê dat hulle in daardie tussentyd deur God se liefde oorrompel gaan word, kom wat wil.
    Ons moet maar dink.
    Ek dink baie oor die mense wat so heftig wil hê daar moet ‘n verskriklike hel wees. Ek kry soms die gevoel dat hulle wil hê daar moet ‘n hel wees omdat “ons” hel op aarde was omdat ons nie alles kon gedoen het wat die “hel-verdienende-sondaars” met soveel oorgawe en vreugde en plesier gedoen het nie.
    Ek verstaan en glo dat die Bybel leer dat daar wel ‘n plek is waar hierdie geween en gekners gaan gebeur. Ek sou egter nie kwaad wees vir God as Hy sou besluit Hy gaan almal genadig wees nie.
    Ek peins nog oor hierdie een en sal dalk een of ander tyd weer daaroor skryf.

    1. Attie, net toe ek dink ek ken nou die antwoord op die inskrywing van jou val dit my by dat ek al my lewe lank nog gewonder het oor die “wegraaping”. Ek het ene Tim la Hay (nie seker oor die spelling nie) se boeke gelees, en dit het my laat wonder. Die “wegraaping” maak vir my geen sin nie. Hoe moet ons die “teorie” hanteer?

  9. Doom, Ding reken ons beperkte verwysingsraamwerk en bepaalde begrip van tyd is wat dit vir ons moeilik maak. Om te verstaan. So ook ons onvermoë om werklik die grootsheid en omvang van God begripvol te peil. Ding het lankal aanvaar dat die onvermoë om anders as manman se lewenservaring en -begrip te dink, eerder ‘n kniehalter is as ‘n veiligheidsnet.

    Ding sien raak wat Doom sê oor ‘n verskriklike hel – miskien wil mense daai so glo, soos Doom verduidelik. Miskien maak daai glo die idee van glo en goeddoen die moeite werd, maw “ek sal maar eerder die noupad loop, want ek HET nog my eie tande en boeta, kners wil ek darem nie kners nie”… Maar begin ‘n mens nie soooo dink wanneer ‘n mens eintlik jou oog van die bal afhaal nie? Maw: moet manman nie maar eintlik net goeddoen uit dankbaarheid uit nie? En nie soseer omdat manman nie wil hel toe gaan nie? Miskien is dit ‘n mate van troos wanneer die “hel-verdienende-sondaars” manman se lewe so vertroebel – dat manman dan reken “toemaar, boetie, die wiel sal draai en God slaap nie…”. Ding is maar op daardie gebied weer eens geweldig simplisties in Ding se denke: wat maak dit saak of X, Y, Z nou die brood aan beide kante gebotter kry – lekker morsig en geil hierdie kant los rondwei EN dan anderkant begenadiging kry? Is mos nie asof dit Ding se hemel is waaroor Ding kan besluit nie, ja. Net so as ‘n nagedagte …. Ding moet darem meld dat Ding al so driekeer in Ding se lewe regtig iemand toegewens het om moeilik dood te gaan.

    Ding sien Doom is lekker wyd aan’t dink….

  10. Ja dit is as jy meer inligting verlang van die he’ll en lewe na die dood kontak my gerus wees geseend in Jesus Christus

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: