GELYKENIS 30: DIE EISE VAN DISSIPELSKAP

Ek lees vanoggend op Ding se “blog” ‘n vraag oor wat is die kern van die Christelike geloof. Vandag se gelykenis gaan oor die eise van dissipelskap. Deel van Jesus se antwoord is:

“As iemand na My toe kom kan hy nie my dissipel wees nie, tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters , ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig , gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders as hy die fondamente gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien met hom die spot dryf. Hulle sal sê: Hier is ‘n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.” (Lukas 14:25-30)

My antwoord aan Ding sluit aan by hierdie voorbeeld wat Jesus gebruik het. Elke een wat in Jesus as Verlosser glo is bedoel om ‘n dissipel, ‘n getroue volgelinge van Jesus Christus te wees. My beskeie mening is dat ons die evangelie goedkoop gemaak het in die manier waarop ons bekering verkondig en praktiseer. (NET MAAR MY MENING)

Die westerse kerke se evangelisasie het nie die boodskap van afstand doen ingesluit nie. Die westerse kerke se beheptheid met getalle het gemaak dat die boodskap van bereken eers die koste geïgnoreer is. Ons wil net aan die einde kan spog met hoeveel mense ‘n rympie (dalk ‘n gebed???) opgesê het.

Hier is my antwoord aan Ding:

Hi Ding:

Baie mense probeer mos maar die goeie nuus wat die Bybel en veral die Nuwe Testament vir ons bring op verskillende maniere sê. Twee begrippe sê dit vir my: JESUS CHRISTUS en ALLESOMVATTENDE GENADE.

Die belangrikste ding wat ons as Christene het om hierdie wêreld aan te bied is Jesus Christus. Jesus Christus is die mensgeworde Seun van God wat deur sy sterwe en opstanding ons sondeskuld by God betaal het en dit vir ons moontlik gemaak het om in ‘n persoonlike verhouding met God te ‘n nuwe lewe te lewe.

Evangelisasie beteken vir my dat ek aan mense vertel van die alles-omvattende genade van God en dan probeer ek mense aanmoedig om as volgelinge van Jesus Christus te lewe.

Ek mag verkeerd wees, maar op hierdie stadium in my lewe is ek nie meer so baie seker of mense deur die opsê van ‘n rympie in die vorm van ‘n gebed erfgename van die ewige lewe word nie, dit lyk vir my al hoe meer dat God die Vader van ons verwag om as volgelinge van die Here Jesus in hierdie wêreld te leef.

Dan ook weer word volgeling van Christus Jesus nie in die eerste plek ‘n morele kwessie nie (alhoewel moreel-etiese kwessies vir die volgeling van Christus Jesus krities belangrik is), die volgeling van Christus Jesus word in die heel eerste plek iemand wat die boodskap van die allesomvattende genade van God in die lewe en werk van Christus Jesus aan ander oordra.

Die moreel-etiese lewe, (heilige lewenswandel) is dikwels ‘n uitvloeisel van hierdie boodskapper-lewe. Ek sien dan meestal ook hierdie moreel-etiese hoë standaard lewe by mense wat ernstig is oor die uitdra van die goeie nuus van Christus Jesus.

Omdat ek vir so baie vergewe is, praat ek graag oor die genade van God in Christus Jesus, maar ek probeer ook dankie sê met die manier waarop ek lewe – ek droom daaroor dat God die Vader nooit sal ophou om my te verander totdat my lewe 100% Christus Jesus uitbeeld nie. (2 Kor. 3:18)

My stuiwer in hierdie armbeurs.

6 thoughts on “GELYKENIS 30: DIE EISE VAN DISSIPELSKAP

Add yours

  1. Goeiemore, Doom! Baie dankie vir Doom se moeite en tyd en verduideliking – soos altyd is dit kwaliteit aandag – ding waardeer dit.

    Doom praat hoog geletterd vir ou ding, maar ding herkou nog stelselmatig aan alles wat Doom verduidelik het. Doom, nou wonder ding intussen: weer eens objektief beskou – daarna gekyk as ‘n leerstelling, reg, wat is belangriker: die feit dat Jesus Christus as mens gebore moes word; die feit dat Jesus Christus as mens moes sterf; die feit dat Jesus Christus die dood moes oorwin en opvaar na die hemel?

    Dankie vir die lekker stoomkoffie, Doom!
    Groete
    d

  2. Ding: Moeilik om daardie een te antwoord. Elke een van die gebeure het eie waarde. Ek verkies om my geloofsreis te koppel aan verskillende van die sake.

    So bv. sê Johannes die Woord het mens geword. Daarmee bedoel hy dat ons in Jesus kon sien hoe God se Woord in ‘n liggaam gestalte kry. Die Woord moet in my ook weer vlees word. Ek moet so lewe dat mense my lewe kan lees as hulle nie die Bybel lees nie. My lewe moet mense aan Jesus – die mensgeworde woord herinner.

    Maar op hierdie geloofsreis is dit ook baie kere nodig dat ek sterwe aan myself. Dat ek die eie ek kruisig, sodat ek alles kan word wat God bedoel het ek moet wees. Sonder die sterwe aan myself – gelyk word aan Jesus in sy dood is ‘n lewe wat mense sal herinner aan Jesus nie moontlik nie. Dit is die moeilike deel. Niemand hou daarvan om bv. te sê: “Sorry, ouens ek was verkeerd of ek het nie reg met julle gemaak nie of ek het hierdie ding verkeerd verstaan!” nie. Naar wanneer ek dit kan sê, sterf ek aan myself.

    Maar die opstanding van Jesus maak my opstandig. Ek staan ook op. Die dood is vir my oorwin en ek het saam met hom die dood oorwin. Dit beteken onder andere dat ek die dag as ek doodgaan, saam met Hom in die paradys (waar dit ookal mag wees) sal wees. Maar Christen wees kan tog nie vassteek by “‘n Pie in the sky when you die.” nie. Christenskap oorwin reeds in hierdie lewe. Ek oorwin ook elke dag hierdie doodsbestaan wanneer ek opstaan tot ‘n nuwe lewe van gehoorsaamheid aan Christus.

    Maar dan ook, die kere wat ek so swaarkry en teenkanting kry en dom dinge aanvang, dan het ek die Here Jesus nodig waar Hy aan die regterhand van die Vader sit, en vir my intree. Hy vra die Vader om asseblief tog te vergeet die dom ding wat ek nou weer aangevang het en dan herinner Hy die Vader daaraan dat my naam met ‘n spyker in sy handpalms gegraveer is.

    Met ander woorde. My verhouding met die Here Jesus kan vergelyk word ‘n lewensreis. Op hierdie lewensreis is Jesus vir my alles wat ek ooit sal nodig hê.

    Op hierdie stadium bv. is die feit dat Hy aan die regterhand van die Vader sit en vir my intree, vir my van onskatbare waarde. Oor ‘n maand sal dit waarskynlik anders wees.

    Onthou gerus maar: Ek ken ten dele en ek gaan ook by jou leer.

  3. Doom! Jy verduidelik mooi – ek sal ure na jou kan luister. Dis asof dit my hart is wat luister en jou hoor; nie my ore nie. Dankie.

  4. Attie, Jy is in die kol. Graag voeg ek by. Die dissipelskap waarna jy verwys kan nie sonder gehoorsaamheid gedoen word nie. Dit lyk vir my dat die gehoorsaamheid dikwels afgeskeep word. Die uitleef(“moreel-etiese lewe”) van die boodskap van Jesus is by talle christene ver benede peil. Ek wonder hoeveel mense tot bekering gekom deur ander se getyuienis as deur ‘n “geforseerde gebedjie” Jy is reg hierso. Dalk is die antwoord te vinde by Matteus. Die kerk bestaan volgens Matteus uit die “dissipels”, “broers” en “geringes” wat met geloof en gehoorsaamheid gereageer het op die koms van die koninkryk (22:1-14; 21:33-46).
     Wesenlik aan die term “dissipel” is die gedagte dat dit ’n persoon was wat deur Jesus geroep is om Hom te volg ten einde te deel in sy sending. Wat nodig is dat daar dissipels in 2007/8 sal navore kom wat iets verstaan van leiers wees wat in die Naam van Jesus met
    liefde, diensbaarheid en nederigheid leiding gee.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: