GELYKENIS 9: DIE WAARDEVOLLE PÊREL

In die tyd toe Jesus geleef het, het pêrels ‘n besondere waarde gehad. Mense wou graag ‘n mooi pêrel hê, nie net vir die geld-waarde van die pêrel nie, maar ook omdat ‘n pêrel so baie mooi was. Dit was vir die mense net baie aangenaam om ‘n pêrel te hanteer en daarna te kyk.

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.” (Matteus 13:45-46)

Die volgende is waardevolle momente in hierdie gelykenis:  

(i) Om deel van die koninkryk te wees of in die koninkryk te wees is om die koningsheerskappy van God te aanvaar en dit beteken om sy wil te soek en sy wil te doen. Hierdie gelykenis herinner ons daaraan dat om die wil van God te doen beteken nie ‘n vaal en oninteresante lewe nie, gehoorsaamheid aan die wil van God is iets wat mooi is om na te kyk en aangenaam om te hanteer. Die resultaat van die dissipline, opoffering, self-verloëning, kruisdra is die gehoorsaamheid en die gevoel wat gepaard gaan met gehoorsaamheid aan die Koning kan met niks anders vergelyk word nie. Die enigste pad na ware vrede en kalmte en rustigheid is om die wil van God te soek en dit te doen.

(ii) Daar is baie pêrels, maar net een pêrel van besondere waarde. Daar is baie dinge in hierdie wêreld wat vir mens waardevol kan wees en besonder mooi om na te kyk en aangenaam om te hanteer. Dink maar aan kennis en die besondere vermoë van die menslike brein; kuns; musiek; letterkunde; al die oorwinnings in die lewe; diens aan ander mense; verhoudings met mense. Al hierdie dinge is waardevol en gaan dikwels gepaard met ‘n besondere positiewe ervaring waneer mens dit beleef. Maar hulle waarde is minder as die van die koninkryk van God – om God se wil te ontdek, te aanvaar en te doen.  Ons moet baie versigtig wees om die indruk te skep dat hierdie ander dinge nou skielik geen waarde meer het vir die Christen nie, hulle is nog steeds waardevol, maar van veel minder waarde as hierdie pêrel van gehoorsaamheid aan die wil van God wat in waarde uitstyg bo enige iets anders: Gewillige gehoorsaamheid wat mens ‘n vriend van God maak. (Abraham se gehoorsaamheid het hom ‘n vriend van God gemaak.)

(iii) In hierdie gelykenis gaan dit oor ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. Dit was hierdie man se lewenstaak om die pêrel te soek en te vind. In die vorige gelykenis was die man nie op soek na ‘n skat nie, maar hy het ‘n skat ontdek (Toevallig???). In hierdie gelykenis was die man juis op soek na ‘n waardevolle pêrel. Hoe dit ookal sy, of mens nou die wil van God skielik ontdek sonder dat jy daarna gesoek het en of jy die wil van God ontdek as resultaat van ‘n volgehoue soektog, dit is die moeite werd om die wil van God wat gevind is te doen.

Kaalvoetkind het gister op die blog gereageer oor Christene se getuienis. Die meeste getuienis bestaan uit die vertel van een of ander baie hartseer storie waar die Here se teenwoordigheid op ‘n baie besondere manier beleef is. Ons moet nooit ophou om daardie ervarings met ander mense te deel nie. Mense wat swaarkry wil hoor dat ander mense in tye van swaarkry beleef het dat die Here teenwoordig is.

Maar, watter impak sou dit hê as mense wat onverskillig of neutraal staan teenoor die Here Jesus en die koninkryk, by my hoor van ‘n besonder aangename ervaring toe ek die wil van God ontdek het en dit gedoen het. Is dit nie waar dat daardie gevoel met niks anders vergelyk kan word nie? Is dit nie waar dat daardie oorwinning met tye voel asof mens die wêreldbeker in rugby vir ‘n tweede keer gewen het nie? Sou dit nie wonderlik wees as die wêreld kan weet dat gehoorsaamheid aan God nie net kruisdra beteken nie, maar dat daar ook ‘n onbeskryflike gevoel van trots en prestasie en oorwinning deur ‘n mens se lyf spoel wanneer jy God se wil ontdek het en dit gedoen het nie?

Daar is ‘n paar gehoorsaamheids-geleenthede in my lewe wat uitstaan en ek troetel daardie ervaring wat met die gehoorsaamheid gepaard gegaan het met geoot sorg in my gedagtes. Daardie ervarings motiveer my om die volgende keer weer te gehoorsaam. Die hartseer van die saak is dat ek skielik besef dat daar te min van hulle is. Te min gehoorsaamheidsgeleenthede wat so spesiaal was dat dit vergelyk kan word met ‘n pêrelhandelaar wat die moeder van alle pêrels ontdek het en nou alles gaan verkoop om daardie pêrel te koop.

Een wat uitstaan is ons oudste dogter. Sy het ‘n hele paar “stupid” goed in haar lewe aangevang. “Stupid” dinge waaroor ek niks wil sê nie. Ek onthou egter die dag toe sy by die huis opgedaag het om reg te maak. Terwyl sy daar was, het – glo ek – die Heilige Gees binne in my, my herinner aan alles wat ek die laaste paar maande oor hierdie saak gelees en gedink en gewonder het. Ek het in besonder die gelykenis van die verlore seun onthou. Ek het presies geweet wat ek moes doen as ek wou gehoorsaam. Ek moes vergewe en my kind ‘n kans gee om ‘n nuwe begin te maak.

Ek onthou dat ek haar stil gemaak het. Ek het haar vasgehou en haar verseker dat ek baie lief is vir haar. Toe het ek gesê: “Kom ons maak hierdie ons nuwe begin.” Ek het daardie aand gaan slaap met die heerlikste gevoel van vrede en tevredenheid en oorwinning. Ek het gehoorsaam.

En watter wonderlike nuwe begin was dit nie. Ons kind het raakgevat en sy is besig om treetjie vir treetjie haar lewe op te bou. Sy was Woensdagaand weer hier toe ons nie hier was nie, net om bietjie met die ander drie kinders te kuier. Gesinsbande is herstel. Saterdag sal sy saam met die familie kuier rondom Elanè se belydenisaflegging. Familie bande is herstel. Sondag sal sy saam met die familie in die kerk sit. Geestelike bande is herstel. Elke keer as ek haar sien dan word ek herinner aan die kosbare pêrel van gehoorsaamheid aan God se wil. Maar meeste van alles, watter onbeskryflik waardevolle gevoel om te troetel: EK het gehoorsaam. Ek het die wil van God gedoen.

Het jy ‘n waardevolle-pêrel-storie om te vertel. ‘n Storie van gehoorsaamheid wat ander dalk kan motiveer om ook te gehoorsaam?

2 thoughts on “GELYKENIS 9: DIE WAARDEVOLLE PÊREL

Add yours

  1. Ek het gister gemis. Ek gaan probeer om daar ook ui te kom. My “waardevolle-pêrel storie” gaan oor iets wat ek nog nooit gedeel het nie. Niemand weet wie ek is nie, daarom kan ek dit hier deel. Op ‘n onverklaarbare wyse het ek ‘n tyd gelede oor my dankoffer begin dink. Ek het lank gedink. Ek het geweet my dankoffer was meer as die gemiddelde persoon sin, maar ek het skielik begin wonder oor wat God se wil was. Ek het bietjie gelees en baie gedink. Baie vir myself gesê wat ons alles met daardie geld kan doen. Tog het ek op ‘n dag die besluit geneem: Ek verhoog my dankoffer aan my gemeente. Net ek het geweet, niemand anders nie. Dit was vir my die heerlikste gevoel van genoegdoening en tevredenheid. Dit was net vir my verbasend hoe kleiner stukkies gehoorsaamheid daarna soveel makliker geraak het. Ek dink ek is tans verslaaf aan die gevoel wat gepaard gaan met gehoorsaamheid aan die wil van God.

  2. Ek het vroeër vanjaar uitgereik na iemand (uit my gemaksone uitbeweeg – ek is ‘n introvert) om gehoorsaam te wees aan wat God wou hê ek moes doen. Sonder dat ek geweet het dat haar man 2 dae vroeër op die punt van selfmoord gestaan het en dat hulle deur ‘n krisistydperk in hulle huwelik gegaan het, het ek ‘n vrou genooi (tydens ‘n nuwe intrekkersfunksie) om by ons selgroep aan te sluit. Hulle was toe al 2 maande in ons gemeente maar was nog baie vreemd, het baie gesukkel om aan te pas en het nog nie eintlik iemand geken behalwe hulle dogter wat hier gewoon het nie. Met die hulp en bystand van almal in die sel het hulle deur hulle krisis gekom en sy het naderhand ook met ander vrouens vriende gemaak. Ek is so bly dat ek gehoorsaam was en iemand anders kon help.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: