GELYKENIS 29: DIE LEWE IS EEN GROOT FEES

Die lewe is ‘n fees. In die Bybel word die lewe in die koninkryk baie kere vergelyk met ‘n fees. Gelukkig is die tye besig om te verander en sien mens meer gereeld ook hoe Christene uitbundig lag en die lewe geniet. Daar is geen gesonde plesier en vreugde en spel waaraan ‘n Christen nie kan deelneem nie. In vandag se gelykenis gebruik Jesus ‘n groot fees as ‘n voorbeeld vir lewe binne die koninkryk. Die Christen se lewe is vol uitbundige vreugde want sy hele lewe is by ‘n fees wat die Gasheer voorberei het en waarheen hy ons genooi het.

Een van die wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: ‘Gelukkig is die man wat aan die die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.’ 

Toe sê Jesus vir hom: ‘Daar was ‘n man wat ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het ‘n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ ‘n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop  en gaan  hulle probeer. Ek vra u, verskoon my  asseblief.’  Nog ‘n ander een sê: Ek is pas getroud, daarom  kan ek nie  kom nie.’

Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ Later kom die slaaf en sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer en daar is nog plek. Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word. Dit verseker ek julle: nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.'” (Lukas 14:16-24)

Die Jode het verskillende voorbeelde gehad waarmee hulle probeer beskryf het hoe dit sal wees wanneer God – die God van die eeue – as God van die tyd in die geskiedenis inbreek en sy Koninkryk hier op aarde kom vestig. Een van hierdie beelde waarmee hulle hierdie grootse geleenthede beskryf het was die van die Messias wat ‘n banket – ‘n groot fees gaan hou. Die man wat die opmerking maak, het hierdie voorbeeld in gedagte wanneer hy sy opmerking maak oor hoe gelukkig die mens sal wees wat sal aansit by die maaltyd in die Koninkryk van God.

In Palestina in Jesus se tyd is die uitnodigings na ‘n groot onthaal lank voor die tyd uitgestuur en mense het dan die uitnodiging aanvaar. Die uitnodiging het aangedui op watter dag die onthaal sal plaasvind, maar nie op watter uur nie. Die dag van die onthaal wanneer alles gereed is, het die gasheer dan sy slawe uitgestuur om vir die genooides te sê dat die ete gereed is. Dit was ‘n erge belediging indien ‘n genooide wat voorheen die uitnodiging aanvaar het, nou skielik aandui dat hy nie kan kom nie.

In hierdie voorbeeld is die eienaar of die gasheer God. Die genooide gaste is die Jode – God se uitverkore verbondsvolk. Dwarsdeur hulle geskiedenis het hulle gewag en gehoop vir die dag wanneer God in die geskiedenis sal inbreek en sy Koninkryk op aarde sou vestig. Nou het dit gebeur en hulle bedank die uitnodiging.

Die mense van die strate en gangetjies is die tollenaars en sondaars wat die Messias met ope arms in hulle lewens verwelkom het.

Die mense van die paaie en lanings is die ander volke vir wie daar nog meer as genoeg plek by die onthaal was.

Die verskonings wat die genooide gaste in hierdie voorbeeld aanvoer, verskil nie baie van die verskonings wat mense vandag aanvoer nie.

(i) Die eerste man het ‘n stuk grond gekoop. In hoeveel mense se lewens is dit besigheid wat hulle weghou van die fees-lewe in God se koninkryk? Ek ken maar net ons eie dorp, maar ek sien die geweldige lang ure wat mense veral die mense werk wat hulle eie besighede het en senior poste in verskillende maatskappye en organisasies beklee. Die lewe as ‘n feesete in die Koninkryk van God gaan by hierdie mense verby.

(ii) Die tweede man het vyf stelle osse gekoop, hy moes hulle gaan probeer. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ‘n nuwe “speelding” of iets nuuts in ons lewens ons wegtrek van die lewe binne die koninkryk van God. Ek moet erken dat hierdie my swak punt is. ‘n Nuwe “speelding” kry dit dikwels reg om my aandag af te trek van die feesmaal af.

(iii)  Die derde man gebruik sy huwelik en sy nuwe vrou as ‘n rede waarom hy nie na die fees toe kan gaan nie. Male sonder tal is dit die goeie dinge in ons lewens wat ons verhinder om aan te sit by die feesmaal wat vir ons voorberei is.

Hierdie feesmaal verwys natuurlik na die dag wanneer Jesus weer kom en dit sal wees soos een groot partytjie en groot feesmaal. Maar, die koninkryk het ook reeds gekom. Dit is ons as Christene se roeping en voorreg om orals waar ons gaan tekens op te rig van die koninkryk wat gekom het in Jesus Christus ons Here en die koninkryk wat nou besig is om te kom in hierdie wêreld deur die lewe van God se kinders en God se kerk en wat eendag sal kom wanneer Jesus Christus weer gaan kom.

‘ n Laaste opmerking: Ek is bevrees dat die uitnodiging vir hierdie gaste klaar genoeg was. As ek ‘n uitnodiging kry, dan is ek mos belangrik in die oë van die gasheer. Ek hoef nie eers by die feesmaal op te daag nie, ek is klaar op die lys.

Watter verskoning dink jy gebruik mense die meeste om nie aan te sit by die feesmaal nie?

Op watter maniere kom die uitnodigings by mense uit?

Met wie identifiseer jy in hierdie voorbeeld wat Jesus hier gebruik?

3 thoughts on “GELYKENIS 29: DIE LEWE IS EEN GROOT FEES

Add yours

  1. Ek dink vandag se gelykenins sluit aan by gister s’n. Mense dink daar sal nog baie kanse, so hulle sê nee dankie vir hierdie kans.

    Ek dink die uitnodignings kom by mense uit deur mense – die verkondiging van die Woord.

    Ek identifiseer met bietjie van die genooides en ongenooides. Elke dag is harde werk om my geesteslewe op die regte pad te hou, soos Jesus dit wil hê, maar soms dwaal ek effe af, maar gelukkig deur vriende wat medechristene is, kom ek vinnig weer op die regte pad!

  2. Ronel: Ek dink soms mense het die uitnodiging gekry en toe begin dink ek is so spesiaal en kosbaar en waardevol vir die Een wat die “party” hou, dat ek nie hoef op te daag nie. Ek het nog nie heeltemal klaar gedink daaroor nie, maar ek wonder soms of ons nie te veel klem plaas op die “Jy kan seker wees.” en te min op die “party”-leefstyl in die huis van die Gasheer – Christus Jesus nie.

  3. Hierdie gelykenis se dat daar ‘n groot verskil is tussen ‘uitgenooi’ en “deel aan die Gasheer se fees”. Ek dink dis die verskil tussen ‘n sin agter iemand aan te se en dan “gered” is, en die Here dien met jou hele lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: