My telefoon het die Donderdag-aand baie laat gelui. Die stem aan die anderkant was sag en baie seer. “Sal dominee asseblief my broer begrawe.” Ek sê ek sal graag en dit maak nie saak dat ek hom nie geken het nie. Ek ken hierdie snikkende vrou wat met my oor die telefoon praat. Begrafnis is mos vir die lewendes. Die lewendes moet getroos en bemoedig word. Ek sien die suster die Maandag en ons gesels oor hoe hy dood is en vandag besef ek dat ons nie daardie dag regtig by sy lewe uitgekom het nie. Ek raak net bewus van ‘n dieper seer waarvan ek nie weet nie. Ek dink sy het die vrae ontduik. Dalk het ek nie gevra nie. So kom Donderdag 10 uur. Dis begrafnis. Ek doen begrafnisse klein bietjie anders. Ek doen eers die bedankings en dan preek ek. Hierdie keer het die bedankings my preek verander. Die skraal man staan op. Hy kom die bedankings doen. Hy bedank almal wat bedank moet word. Toe hy klaar is, sê hy sy suster wil ook iets sê. Sy suster kom lees ‘n brief. ‘n Liefdesbrief wat die man wat die bedankings gedoen het geskryf het aan die man wat ons vandag begrawe. Twintig jaar sy lewensmaat. En ek kyk oor die klein groepie mense by die begrafnis. Ek sien seer wat dieper lê as enige seer wat ek in ‘n baie lang tyd gesien het. Ek sien ‘n 82 jarige pa uit wie se oë die trane net nie wil ophou vloei nie. Ek sien die suster wie se skouers net nie kan ophou ruk nie. Ek sien ‘n man wat my nie in die oë kan kyk omdat hy nie seker is of hy mag wys dat sy seer waarskynlik die seerste is nie. En ek is geroep om te troos. Ek is geroep om die troosloses te troos. Deur my gedagtes flits al die tekste oor homoseksualiteit en al die menings en die uiterste sensitiwiteit van hierdie saak. Maar ek gee vir die oomblik nie om nie. Voor my is stukkende mense wat getroos moet word en wat bemoedig moet word. En ek verander my preek daar op my voete. Pslam 23 sal vandag nie werk nie. Ek sê iets oor dat daar baie dinge is wat ons nie verstaan nie. Ek sê iets oor dat ons elke mens sy hartseer moet gun.
Ek druk die 82 jarige pa se hand by die graf. Hy sê: “Ek gaan hom so mis dominee. Hy was goed vir my.” Ek stap na die een wat ons begrawe het se suster toe en sê vir haar sterkte. Sy sê: “Dankie dat dominee verstaan.” Ek stap na die bedanker toe. Ek weet nie wie se hartseer lê die diepste nie. Die 82 jarige pa sin, of die man wat nou hier ‘n lewensmaat van 20 jaar begrawe . Ek sê ek is jammer oor sy maat wat dood is, want ek is regtig jammer. Hy sê: “Ons was die enigste gay paartjie in ons vriendekring, maar ons was die gelukkigste paartjie in ons vriendekring. Hy was my lewe.” Ek weet nie wat meer om te sê nie. Ek nooi hom om asseblief eendag met my te kom gesels. Hy rol sy moue op, hy gaan nou die liefde van sy lewe se graf toegooi.
Ek stap weg en het nog steeds het ek nie die finale antwoord oor die gay-vraagstuk nie. Ek het nie eers vir myself ‘n finale antwoord nie. Maar vandag gee ek nie om dat ek nie ‘n antwoord het vir die vrae wat mense vra nie. EK is nie geroep om vrae te antwoord nie. Ek is geroep om skape op te pas. Ek stap terug kar toe. Ek is kwaad vir myself oor die trane uit my oë uitloop. Ek is kwaad omdat ek toelaat dat mense se seer my so diep kan raak. Kwaad omdat ek die laaste twee keer dit reggekry het om nie saam met mense te huil nie, nou vandag… Wanneer gaan ek dit regkry nie saam te huil nie. Die rit huistoe is stil. Renate sê niks nie. Sy weet. Sy was daar. Sy het ook die brief gehoor.
Ek sê niks nie. Ek dink netw eer aan die egdagte wat tydens die preek by my opgekom het – ek glo dit was die Heilige Gees: Ons is nie die hekwagters by die deure van van die Vaderhuis nie. My gedagtes gaan verder met die gedagte. Ek is net die een wat die padkaart teken. Die roete aandui. Die adres gee. Die visitekaartjie afgee. Elkeen sal maar self sy weg moet vind en sy kanse moet waag en moet kyk of hy daar kan inkom.
Gelukkig is dit ook nie Petrus wat die deur van die Vaderhuis sal oopmaak soos baie dink nie. Dit is die Vaderhuis. Ek dink die Vader sal self die deur oopmaak. Of dalk is dit meer soos daardie gelykenis van die verlore seun – ons Pa sal op die stoep sit en ons van ver af sien aankom en hy sal ons tegemoet hardloop.
By die huis gooi ek ‘n sterk koppie koffie in en ek gaan kruip vir ‘n paar minute weg in my studeerkamer. Vir een of ander rede kan my oë nie fokus op die boom in die tuin en die lastige hond voor die venster nie. Lyk asof alles swem. Ek bid nie, ek praat sommer maar net. “Dankie Vader dat die finale besluit oor wie ‘n kamer in U Vaderhuis kry, nie myne is nie. Vader, ek het U visitekaartjie afgegee by hierdie stukkende mensies. Ek weet van hulle ken U adres. Eintlik dink ek almal van hulle weet waar U bly. Ek hoop daar is van hierdie mense wat U gaan kontak sodat U hulle kan help. Sal U asseblief met hulle net so mooi werk as wat U met my gewerk het na my egskeiding en al daardie ander kere wat ek U so seer gemaak het. Werk saggies met hierdie mense, Vader. So saggies as wat net U kan.”
Sjoe, hierdie inskrywing het my so geroer dat my rekenaarskerm ook nou wasig voor my is. Dit moet moeilik wees… Mens kan nie jou rug draai op mense se hartseer nie… maak nie saak wat die omstandighede is nie…
Attie, jy is net menslik, jou skrywe het aan ons harte geraak! Het gesukkel om die res klaar te lees. Skerm het voor my oe geswem. Ek verstaan, het ook ‘n familielid wat so eensaam lewe.
As ons nie kan huil saam ander en kan hartseer raak oor iets nie sal ons nooit eendag soos Jesus kan word nie. Ek dink die geheim om regtig op die punt te kom wat ons sê dat ons OMGEE is die dag wat ons saam kan huil dan kan ons ook makliker saam lag. Dankie Doom!
Attie. Ek wens jy was my dominee. Dit gaan immers oor die ongelooflike liefde wat ons van God kry om met mekaar te deel.
Hallo Attie,
Jou skrywe hierbo het my baie,baie diep geraak. Die lewe is so ontsettend kort.
My eks man is ook gay. Hy en sy lewensmaat is deur almal verstoot, familie, vriende en kerk.
Alle kontak, indien enige, van vorige vriende en familie is slegs om hulle op hul sondigheid te wys. As ek steeds gelowig was sou ek gebid het : “Vergewe hulle Vader want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Maar weet jy wat? Hulle WEET wat hulle doen! Hulle is wrede en skeinheilige bliksems. Maar dit daar gelaat. Hierdie is jou blok, nie myne nie.
Ek wil net se dat jy moet onthou wat jy hier geskryf het en dat jy ander leraars moet bedag maak op die wreedheid van hul gemeentes teenoor die gelowige gays in hul midde. Hulle kry ontsettend swaar en smag om aanvaarding. Soos jy tereg sê: Net julle God het die reg om te besluit wie hy in jul hemel sal toelaat.
Groete
Karin
My naam is stoutsus en ek is ding se sus. Ek voel bietjie ongemaklik om so by die koffietafel te kom staan met ‘n naam soos myne. ‘n Dominee en ‘n stoutsus in een vertrek is soos modderskoene op ‘n skoon mat.
Ek is vandag hier vir die eerste keer, want ja, ek het nie erg aan preke en dominees nie. My boeta het my gevra om te kom inloer, so ek het. Ek skuld hom dit na die laaste twee dae se katte kwaad.
DA, as jy vooraf geweet het daardie man is gay, sou jy hom steeds begrawe het? Sal jy weer ‘n gay persoon begrawe? Hoe voel jy persoonlik regtig oor gay mense?
Dankie, ek loop eers.
stoutsus
Hallo dominee Attie
Baie dankie vir hierdie inskrywing, en baie dankie vir wat jy voel vir daardie mense. My regte pa is gay, nog altyd, ek weet nie anders nie. Dis net hartseer dat ek moes toekyk al die jare hoe hy verstoot word deur almal. Ek persoonlik dink regtig die kerke moet hulle houding teenoor gays verander, hulle is ook mense, mense vir wie ons baie lief is.
Homoseksualiteit is vir my ‘n moeilike onderwerp. So jammer soos wat ek vir die man in jou inskrywing voel, kan ek net nie saam stem dat dit ‘reg’ is nie. Jammer. Indien jou dogter nie gay was nie, sou jy dieselfde gevoel het? Wat, in jou opinie, se^ die Bybel van homoseksualiteit? Of vergeet eerder van die Bybel, want dis nie agv wat daar staan wat ek so voel nie. Ek kan nie vir een oomblik dink dat dit ‘reg’ kan wees om gay te wees nie, maar dis net ek. Dit voel nie, klink nie, lyk nie en kan nie reg wees in my opinie nie en ek het tot hierdie besluit gekom lank voor ek die Christen geloof aanvaar het. In elk geval, net omdat ek dink dit is verkeerd, beteken dit nie ek moenie lief wees vir hierdie mense nie en vice versa. Ek vind inelkgeval baie meer teenkanting of fobie kan jy maar se^ teen mense wat teen homoseksualiteit is as mense wat dit goed praat (heterofobies?). Dis inelkgeval ‘n baie mooi ding wat jy gedoen het en die Here sien jou hart, maar hoe preek ek nou vir ‘n dominee! 🙂
Oor n leeftyd het ek n belangstelling in studies en teoriee oor Homoseksualiteit.Plek en tyd laat nie n breedvoerige bespreking hier toe nie. Niemand weet regtig hoekom en hoe dit gebeur nie,nou soek hulle ook n DNA (geen).Kan n mens jou self of met Jesus se hulp jou daaruit red ?
Is dit soms net n verskoning vir promiskuieteit,hetsy homo- of hetero.?
Die Bybel verklaar onomwonde dat beide verkeerd is.,net soos diefstal ens.
Is sulke mense bestem tot verdoemenis?Kan hulle soos n dief n Christen wees ,en hulle sondes bely,en gered word vir die ewigheid.
Ja, ek glo dit,want nie een van ons is sonder sonde nie.Wie wil die eerste klippe gooi?
Stem saam, wat is “erger” sonde – moord, prostitusie of homoseksualiteit. Jesus het hom juis met die mense vermoei terwyl Hy op aarde was en nou is ons Sy verteenwoordigers hier op aarde. Dan MOET ons ook aan moordenaars, verkragters, leunaars, mense wat skinder of selfs homoseksuele mense God se liefde en genade bewys en uitleef. Iemand het dit genoem – God haat die sonde maar Hy het die sondaar so lief dat Hy Seun gestuur het om die sonde van ons skoon te was. Dankie Vader dat ons vandag U ambasudeurs kan wees. Help ons vandag deur U Gees wat in ons lewe om AL U kinders met U liefde en genade te help en te versorg.
Attie, dankie vir wat jy geskryf het. Ek dink elkeen stap maar sy pad. Maar ek moet bieg dat ek nooit regtig uit die ouer se oogpunt gedink het nie. Jy het my nou weer daaraan herinner en spesifiek Lidia Theron se boek “Jy bly my kind” wat vir my baie insae gegee het in die ouer se belewenis wanneer hul kind gay is. ‘n Mens vergeet so maklik om ook aan ander te dink.
In elk geval.
Soos wat ek deur die kommentaar gelees het, was ek ook maar weer eens dankbaar en verlig dat ek meer as 10 jaar terug my rug op die Christelike geloof gedraai het. Sodra Christene homseksuele mense in dieselfde asem as moordenaars en verkragters noem, besef ek opnuut, die kerk is nie die plek vir ‘n gay persoon nie.
Hi
Ek stem saam. Wie is ons om sonde te veroordeel?
Jy het jou Baie goed van jou taak gekwyt. Ek voel ook wat verkeerd is is verkeerd, maar wie is ons om te oordeel.
Ek lees baie hier… maar het nog nie ‘gepraat’ nie!
Persoonlike gevoel, maar ek wens daar was meer ‘dominies’ soos jy!
Brilliant inskrywing…. het ‘geraak’ daar waar dit saakmaak!
Willem: Ek weet daar is baie ander dominees wat soos ek voel oor hierdie dinge. Ek wonder as jy met jou dominee gaan praat wat sy reaksie sal wees.
Karin: Dit is nogal vir my mooi dat jy aan jou eks man se kant staan in hierdie saak. God is ‘n God van genade. Daar is na my mening net te veel mense wat reken hulle het God in die sakkie en bo toe en hulle weet presies hoe God oor alles dink en veral hoe Hy gaan optree. Ons as dominees worstel ook maar met hierdie goed met die gebrekkige insig wat ons het.
Stoutsus: Ek wil net sê ek het gaan inloer by wat jy met Ding se “blog” gedoen het. Lekker gelag. Ja ek sou hom steeds begrawe het as ek vooraf geweet het. Ja ek sal weer ‘n gay persoon begrawe. Ek ken ‘n paar gay mense en ek aanvaar hulle vir wie hulle is.
Karoles: Die kerk is maar net mense. Hulle maak baie foute en maak in die proses baie mense seer. Dit is jammer, maar stadig maar seker kom ons daar.
Roer: My dogter se “gay” wees het my oë oopgemaak vir hoe die dinge ‘n pa se hart in sy diepste wese raak. Ek verkies om nie “gay” wees oor ‘n reg verkeerd boeg te gooi nie. Ek verkies om te sê: “Ek weet nie.” Wat ek wel weet is dat God aan my opdrag gegee het om my naaste lief te hê. Gay mense is ook my naaste. Ek worstel ook maar met die finale antwoord, en totdat ek dit het, gaan ek maar met die antwoorde werk wat ek het: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Jak: Ek dink ook dit is soms ‘n verskoning vir promiskuïteit, maar ek sou kies om daaroor nie te veralgemeen nie. Daar is mense wat met die Bybel onder die arm homoseksualiteit ten sterkste veroordeel, en dan self besig is om seksueel die kat in die donker te knyp. Dit is skynheilig. Jy maak die belangrike punt: Homoseksuele mense kan ook deur die genade van God gered word.
Pietertjie: Stem saam. God haat die sonde, maar het die sondaar lief.
George: Ek het weer my rug op ongelowiges gedraai omdat die sondige aard van die mense maar orals wys – nie net in die Christelike geloof nie. Die problem is: Die Here en die wêreld verwag van Christene meer as wat die Here en die wêreld op hierdie stadium van ons kry. Dat Christene sal moet antwoord omdat hulle mense soos jy weggedryf het van die Christelike geloof, dit is gewis so. Dalk kan ons maar saam bly dink.
Platerfuss: Bly jy het gepraat. Dankie.
Attie
En as al die woorde geuiter is en al die gedagtes georden is, sal die stilte vir ewig repliek lewer…
Attie – dankie vir hierdie inskrywing. ek dink jou blog doen baie vir die beeld van dominees soos jy, wat hulle bemoei met die werklike taak van liefde en troos. ek ken self so een.
ongelukkig sal dominees soos julle harder moet praat as julle wil hE dat gay mense uiteindelik ook vry kan voel om troos in die kerk te kry. nommer 10 hier bo laat my ruggraat kriewel en ek verstaan george se antwoord. en ek voel so hartseer vir sy part.
Idiwidi: Eintlik is hierdie “blog” tipe van my stokperdjie. Ek het al die jare ‘n geestelike joernaal gehou waar ek my tye met die Here neergeskryf het. Nou doen ek dit hier. Niemand het ooit my joernaal gelees nie, nou lees ‘n paar mense my “blog” en neem selfs deel aan my gesprekke met die Here. Ek moet egter ook erken dat ek van mening is dat ek meer leer as wat enige iemand anders op hierdie “blog” leer. Einde laaste probeer ek bietjie skaaf die beeld wat die wêreld van ons Here Jesus het.
Dankie.
Dit is seker een onderwerp waar ek nie graag my opinie sal wil lig nie, maar die wete dat God se liefde ons almal omvou is vir my die antwoord.
Attie jou hantering van die situasie dink ek was puik. Dankie dat jy n mens – mens is wat verstaan
Attie: Ongelukkig te ver van ‘n dominee af hier in Indie. Maar 23 jaar terug het ek gepraat en is my drome eenklaps vernietig.
Willem: Ek is baie jammer om dit te hoor. Dalk kan ons maar met mekaar gesels.