Ek het gisteraand met die tieners gepraat oor eredienste. Nou help dit nie mens praat met tieners oor eredienste as hulle nog nie ‘n besluit geneem het oor kerk toe gaan nie. Ons ervaring is dat ‘n groot groep van die tieners wat aan die einde van die jaar belydenis van geloof aflê, wegraak en dan soms eers terugkom kerk toe wanneer hulle kinders laerskool toe gaan.
Ek het toe vir die tieners tien redes gegee wat mense gebruik om te verduidelik waarom hulle nie kerk toe gaan nie. Die tien redes was:
1. Ek is as kind gedwing om kerk toe gaan.
2. Mense in die kerk is skynheilig – hulle dink hulle is beter as ander.
3. Daar is soveel verskillende kerke, ek kan nie besluit na watter een toe om te gaan nie.
4. Ek het gegaan, maar ek het gou verveeld geraak en toe besluit om nie weer te gaan nie.
5. Ek gaan met spesiale geleenthede kerk toe.
6. Nie baie van my vriende gaan, so ek gaan ook nie kerk toe nie.
7. Ek sal gaan wanneer ek bietjie ouer is.
8. Ek het net nie tyd nie, my program is te vol.
9. Die kerk is of te warm of te koud.
10. Die kerk is net agter geld aan.
Ek het hulle bietjie hieroor laat gesels, en toe die volgende vergelyking gebruik wat hulle aan die giggel gesit het:
Sê nou jy sou op dieselfde manier redeneer oor bad:
1. Ek is as kind gedwing om te bad, nou bad ek nie meer nie.
2. Mense wat bad dink hulle is skoner as ander – daarom bad ek nie.
3. Daar is soveel verskillende soorte seep – ek kan nie besluit watter een om te gebruik nie, nou bad ek liewers nie.
4. Ek het op ‘n stadium gebad, maar ek het gou verveeld geraak en toe besluit om nie meer te bad nie..
5. Ek bad net met spesiale geleenthede.
6. Nie baie van my vriende bad nie, so ek bad ook nie.
7. Ek sal bad wanneer ek bietjie ouer en bietjie vuiler is.
8. Ek het net nie tyd nie, my program is te vol.
9. Die water is nooit die regte temperatuur nie – veral nou met ESKOM.
10. Die ouens wat seep maak is net agter geld aan.
Op die ou end het ek tien redes gegee waarom ek kerk toe gaan:
1. Ek is daarvan oortuig dat die Here my geroep het om in ‘n verhouding met Hom te leef, en kerk toe gaan is deel van my verhouding met die Here.
2. In die kerk en tydens die erediens beleef ek die teenwoordigheid van die Here. Nie elke keer op dieselfde plek of dieselfde manier nie, maar tog.
3. Elke keer as ek op ‘n Sondag-oggend kerk toe gaan, vier en verkondig ek die opstanding van die Here Jesus. Die Joodse Sabat was op Saterdag – Jesus het op ‘n Sondag opgestaan.
4. Wanneer ek kerk toe gaan is ek gehoorsaam aan die Woord van die Here (Hebr. 10:25) en doen ek wat Hy van my verwag.
5. Ek volg die voorbeeld van die eerste Christene. (Hd. 20:7)
6. Ek volg Jesus se voorbeeld – dit was vir Hom ‘n gewoonte, (Lukas 14:6) ek kan maar dieselfde gewoontes as Hy hê.
7. Die kerk, erediens en die saamwees met ander gelowiges help my om geestelik te groei.
8. In die kerk en die erediens kom ek ook in aanraking met mense van wie ek soms nie, hou nie, en dan leer ek om ook met sulke mense oor die weg te kom. Ek leer verhoudingsvaardighede.
9. Die kerk en die erediens is die plek waar ek die geleentheid kry om die gawes wat die Here vir my gegee het te gebruik.
10. Die kerk is vir my soos ‘n spanpraatjie in die kleedkamer voor ‘n wedstryd. Ons Kaptein (Jesus Christus) herinner ons aan die wedstryd wat voorlê en wat belangrik is, terwyl ons Afrigter (Die Heilige Gees) ons herinner aan alles wat ons geoefen het en hoe ons dit moet gebruik wanneer die wedstryd aan die gang is.
Ek wonder wat is jou gedagtes hieroor.
Hallo Attie,
Ek loer so nou en dan hier by jou in maar ek glo nie ek het al kommentaar gelewer nie. Die onderwerp wat jy aanraak is baie belangrik. Ek het dwarsdeur my eie lewe baie van daardie selfde redes aangevoer as verskoning hoekom ek nie kerk toe gaan nie. Die laaste stukkie van jou post waar jy kerk toe gaan met bad vergelyk is PUIK beeldspraak!
Ek dink die probleem met baie mense wat so anti-kerk is lê by hulle self. Hoe kan iemand wat gered is so ‘n stelling maak? Dit is ‘n duidelike aanwyser dat hulle nog nie gered is nie en het dus hulp en voorbidding nodig.
Ek is op 29 April, so paar minute voor middernag, gered.
Ek dink daar is moontlik ‘n kommunikasie gaping tussen die wat gered is en die wat nog nie so geseënd is nie. Pas na my redding het ek besef dat ek baie dinge in die lewe nou uit ‘n ander lig beskou. Moontlik vergeet diegene wat al geruime tyd gered is hoe moeilik of onmoontlik dit is om dinge te verstaan of in te sien as jy nog in die duister is.
Ek sal graag met jou wil kommunikeer. My e-pos adres is;
knersis dot epos at gmail dot com.
Ek soek tevergeefs na ander christelike bloggers. Kan jy help.
Mooibly,
k
Knersis:
Ek is bly jy lewe uiteindelik kommentaar.
Daar is nie baie Afrikaanse Christen-bloggers nie, maar die meeste van “MY KUIERPLEKKE OP DIE NET” is ander Christen-bloggers. Natuurlik is my gunsteling Jesus Creed en NT Wright se webwerf, maar NT Wright se webblad kan dalk ‘n bietjie taai wees.
My ervaring met die verskonings is dat mense regtig glo dat dit geldige verskonings is. Ek verkies om eerder positiewe redes te gee as wat ek die hele tyd die wat so dink verkeerd wil bewys.
Hi Ds
Ek moet vir u se my seun was baie getref deur die diens gisteraand en het dadelik toe hy in die motor klim vir my vertel.
Baie dankie vir die goeie werk wat u met en vir ons kinders doen.
lekker dag
Dankie Attie – baie interessant – ek dink jou beeld van die bad is baie gepas.
o ja, op ‘n heel ander noot (ek wil nie die gesprek in ‘n verkeerde rigting stuur nie – dalk kan jy eendag hieroor iets se). NT Wright is ‘n bishop hier in Engeland waar ek woon. Bishops woon ook die parlement hier by en kan hulle menigs oor sake gee. Hierdie week word daar hier gestem oor embrio kloning wat mens en dier embrio’s om mediese navorsings redes wil kloon. Glo word “dit” dan na ‘n sekere tyd vernietig … DIe wetenskaplikes beweer dat dit sal help om oplossings te vind vir siektes soos Alzimers (verskoon die spelling) ens. Ander wetenskaplikes meen weer dat dit nie moreel geregverdig kan word nie. Dit sou interessant wees om ander se opinie hieroor te hoor.
Groete
Willem
Ek wil weer begin om terug te gaan kerk toe. Ek oorweeg dit al baie lank. Toe ek nog kerk toe gegaan het was ek baie betrokke, in die koor, sondagskool ens.
Ek weet tensy ek nie ophou om te leef soos wat ek doen nie, sal ek nie welkom wees om deel te neem aan al hierdie dinge in die kerk nie. Ek is geskei, swanger, nie getroud met die pa van die babatjie nie. Ek voel asof ek in hulle oë te veel van ‘n sondaar is om aanvaar te word.
As ek ‘n paar maande wag, getroud is, die baba het ens. sal ek aanvaar word en dan maak dit nie saak wat in die verlede gebeur het nie? Ek wil bitterlik graag teruggaan, maar ek sien nie kans vir die veroordeling nie. Hoe maak ek om te voel ek is welkom?
Ek het ophou kerk toe gaan na aanleiding van ‘n paar insidente kort voor my ma se dood. Ek het nie saamgestem met die manier wat die leiers van onderskeidelik die gemeente en die selgroepe haar situasie hanteer het nie. Later het ek ander motiewe ook begin bevraagteken, en my gevolgtrekkings het my ontnugter gelaat in die beeld wat ek van “kerk” as ‘n instansie gehad het.
Ek voel doodeenvoudig nie op my gemak in die kerk nie, amper soos ‘n skoolseun wat voor die hoof se kantoor wag om ingeroep te word. Ek soek egter geen verskonings vir die feit nie.
Die gemeente, die liggam van Christus is vir Hom ongelooflik belangrik en dit kry vir my persoonlik uitting in die kerk waarheen gaan en die gelowiges saammet wie ek aanbid. Die Woord is duidelik oor die God se Liggaam in hierdie wêreld en ek twyfel of jy werklik as gelowige gaan groei as jy nie deel van hierdie liggaam is nie (natuurlik nie noodwendig ‘n kerk per se nie, eerder die gemeenskap van gelowiges in welke opsig).
Ek het al vandag 10 keer die post kom lees. Ek self was al in ‘n fase van om en by 2 jaar gewees waar ek telkens verskonings uitgedink het om nie kerk toe te gaan nie. Dit was meer oor omstandighede as oor die kerk self. Ek is vandag een van die skynheiliges wat die banke vol maak.
Attie, in plaas om 10 redes te gee oor hoekom ‘n mens wil kerk toe gaan, sal ek eerder werk aan een rede. Ek sal persoonlik tot aan die einde van die bad redenasie geluister het, gehoor daar kom 10 redes en my ore gesluit het. Op elkeen van jou 10 redes om te gaan kan ek ‘n teen argument uitdink. Wat baie maklik is as jy verskonings uitdink.
Ek kan lekker van die wal af raad gee, maar ek kan nie self nou dadelik aan 1 goeie allesomvattende rede dink om kerk toe te gaan nie. Dit kan self van mens tot mens verskil. Ek sal vanaand daaroor slaap en more ‘n antwoord daarop gee.
Ek dink ek en Adri is kop aan kop met die hoeveelheid kere wat ons vandag hier kom lees het. Skitterend Attie… Ek het dit nie net geniet nie dit het vandag weer vir my so baie beteken. Dankie
Riana: Die tieners bly vir my ‘n baie groot uitdaging.
Willem: Ek het nog nie juis oor daardie aangeleentheid gedink nie.
Oopkop: Ek is in my hart oortuig daar is gemeentes wat jou sal verwelkom. As jy hier was, sou ek jou met oop arms ontvang het en jou teenwoordigheid verdedig het vir wie ookal iets daaroor te sê gehad het. Dalk net omdat ek self maar ‘n pad van skaamte moes loop.
Jaco: Ek kan verstaan dat iemand so voel nadat hulle sulke negatiewe dinge beleef het. Ek gaan jou nie probeer oortuig nie, maar ek sou tog vra dat jy weer dink – is alle gemeentes en kerk regtig dieselfde?
Adrie: Dit verskil van mens tot mens. Hierdie is tien redes waarom ek kerk toe gaan. Geen teenargumente gaan my anders oortuig nie. My allesomvattende rede: Omdat die Here my eerste liefgehad het..
Pikkelik: Ek is bly as ek vir jou iets kon beteken.
Attie, 80% van die graad 12’s het na jou diens vir my vertel dat hulle kom kerk toe om antwoorde te kry en kry dit ook meeste van die tyd! Dit is hartseer dat die meeste van die ouers blyk nie in staat is om antwoorde vir hul tieners te kan gee nie. Kan dit dalk wees omdat so baie ouers ook altyd redes/verskonings soek om nie kerk toe te gaan nie? (Ek was lank ook een van hulle.) Dan is daar so baie mense wat so graag wil deel wees van ‘n kerk wat jou sal aanvaar soos wie en wat jy is soos “Oopkop”?
Attie, ek is bly jy neem die vyeblare (verskonings) weg en jy het die saak baie goed gestel.
http://www.bosparra.com/het-die-kerk-die-kat-aan-die-stert-beet
Attie, baie dankie vir wat jy vir die Koningryk beteken. Jy is goud werd vir Jesus Christus. Nie net wat die jonges betref nie maar ook vir ons oues in die aftree oorde.
Hierdie is nie ‘n beuel blaas comment nie, maar wel eerder om jou aan te moedig om Sy Naam en Woord te verkondig. Die beeld wat jy gebruik is regtig baie treffend.
Baie dankie ook vir wat jou postings vir my persoonlik beteken.
A3: Ek groei self soveel geestelik deur dit wat op hierdie “blog” gebeur – maar dankie vir jou opmerkings.
Ds Attie
Blogers ek is bevoorreg om ‘n lidmaat van Ds Attie se gemeente te wees. Broers en Susters wees oopkop, die Heilige Gees het jou op die blog laat ingaan. Sodat jy antwoorde vir jou siel kan kry en die verskonings wat ons so maklik maak om nie kerk toe te gaan kan beveg. Neem daai eerste tree ek gaan kerk toe jy sal voel en sien dit word al makliker en ‘n voorreg. Die tyd is naby vir Pappa Vader om sy kinders te kom haal. Wees bevoorreg om ‘n kans te kry en reg te maak en reg te LEEF.
Ds Attie ek lees op die oomblik “Die Hemel is ‘n werklikheid”.
Ek sal baie graag U mening oor die boek wil hoor.
Baie liefde groete
Marinda
Attie, soos gewoonlik, briljant. Ek sit al n paar dae en dink oor die post….
K, daar is heelwat Christene hier…. En soms waar jy dit die minste verwag! (((knersis)))
Hi Attie
Dis my eerste keer wat ek die website sien.
Ek was self ‘n tiener by die kerk gewees en ek en meeste van my maters het geloop.
Die redes hoekom ons die kerk verlaat het was omdat ons die volgende probleme daar ervaar het (dit wat ek nou se was ons persoonlike opinie en nie noodwendig die meerderheid se probleem nie- dit was ook voor Ds. Attie begin het) Ek wil dit graag deel nie om die kerk sleg te se nie maar sodat jul in die vervolg minder rebelse tieners verloor.
Attie ek wil nie ‘n twis he oor die verlede nie- maar ek hoop dat die tiener denkwyse wat hier uitgebeeld word jul kan help om ons beter te verstaan- ons is nog jonk en maar baie voute maar ons dink nie altyd soos jul oor situasies nie.
1. Ons het nie God in die kerk beleef nie maar wel die reels- ons was jonk en het dus begin rook en drink, daar was aanhoudend gese ons is nie dan welkom in sy huis nie want ons is nie “skoon nie”
In plaas daarvan dat julle die tieners aanspreek oor hul sonders probeer eerder net vir hul bid en leer hul van God se liefde en vergifnis.
2. As jy sonde pleeg gaan jy hel toe- dit was baie drasties gestel en ek verstaan jul wil he ons moet soet wees en ons sondes belei. Ons begin dan voel dat as Jesus vir almal se sondes gesterf het- hoekom mag ons dan nie rook en drink nie. Hy het dan geweet ons gaan al hierdie sondes pleeg. Ons besef nie op die stadium dat ons uit dankbaarheid ‘n heilige lewe moet probeer lei nie.
3. As jy swart aantrek is jy van die ondergrond af- Dit gaan nie net oor swart hare, naels, tattoo’s piercing of kort rompies nie. As jy ongepas aantrek is jy nie welkom in die kerk nie want dan is jy ‘n vals beeld van ‘n christen. Ek was gevra om die jeug orkes te verlaat oor my donker voorkoms want my image is nie volgend di kerk se standaarde nie. Tieners gaan deur fases wat hul “ander tipes” klere of voorkomste begin dra- dit is deel van hul ontwikkeling en dus moet die kerk probeer om hul te aanvaan net soos hul is want hul hart bly dieselfde. As mens dus begin stry en dit nie verandering aanvaar nie dan word hul harte hard teenoor die kerk.
4. Om in leierskap of in die kollig te wil wees by die kerk- beteken jy wil “shine” vang vir jouself.
Baie tieners veral en my pelle was deel van die jeug orkes en daar was vir ons gese dat ons doen dit nie vir God ni maar net vir ons self. Almal van ons was deur God geroep om ‘n verskil te maak. Die kerk sien nie altyd God se plan in Sy kinders raak nie.
5. Jy mag nie iemand oordeel nie- dit was een van die mees steenstrydigste goed wat ons kon beleef by die kerk omdat die kerk ons so geoordeel het. Dit het begin lei na konflik met God want ons verstaan nie hoekom sy mense die wette kan afdwing maar dit self nie toepas nie. Aanvaar almal net soos hul is- verseker hul ook dat slegs God hul kan verander en hul kan oordeel.
Nou ja- dis baie gese. Ek het die kerk al vergewe want ek weet dit was gebeur het is in die verlede.
Vir die mense wat dit lees- ek vra jul mooi om nie kwaad te word nie- maak regtig hul harte oop en as jul nie saam stem met wat ek gese het nie. Gaan bid daaroor en hoor by God wat hy jul hier wil leer. Dit is nie ‘n aanval op die kerk nie- ek weet van te veel kerke waar sulke goed gebeur.
Vir die tieners wat dit lees- probeer eerder by God hoor wat sy plan is met jul lewe. As jul ‘n probeem het met ‘n kerk of die kerk ‘n probleem het met jul- gaan bid daaroor voordat jul mense beskinder en sleg se.
Ds. Attie- dankie dat jy harder probeer om met die tieners te werk en hul deurmekaar emosies en gedagtes te probeer verstaan. Ek hoop die opie gaan jou meer in die toekoms kan help of iemand anders se lewe te verander.
Carla