Daar word ‘n fabel vertel van die duiwel wat gereed was om drie jong duiwels die wêreld in te stuur. Net voordat die duiwel die drie leerlinge die wêreld instuur om mense se lewens vol versoekings en ongeloof te maak sodat hulle lewens vernietig kan word, praat hulle vir ‘n laaste keer oor strategie.
Die eerste leerling-duiwel sê: “Ek gaan vir hulle sê daar is geen God nie.” Die duiwel antwoord: “Dit sal hulle nie mislei nie, want hulle weet daar is ‘n God.”
Die tweede leerling-duiwel sê: “Ek sal vir hulle sê daar is nie ‘n hel nie.” Die duiwel sê: “Dit sal hulle ook nie mislei nie, want hulle weet sonde gaan gestraf word en die hel is die plek waar dit gaan gebeur.”
Die derde leerling-duiwel sê toe: “Ek sal vir hulle sê daar is geen haas nie. Daar is baie tyd om ‘n keuse te maak.” Toe sê die duiwel: “Gaan, jy gaan hulle lewens by die duisende vernietig.”
Die mees gevaarlike dag in die lewe van enige mens is wanneer hy “môre is nog ‘n dag” as ‘n leefstyl aanleer, maar veral wanneer dit kom by die wederkoms van Jesus Christus.
“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark in gegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem word en die ander een agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Bly dus werksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.
‘Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.‘” (Matteus 24:36-44)
Jesus kom weer om sy Koninkryk finaal hier op aarde te vestig.
(i) Jesus kom weer, maar wanneer Jesus weer gaan kom, weet God die Vader alleen en niemand anders nie. Enige spekulasie oor die oomblik en die tyd van die wederkoms is presies net dit spekulasie. Dit is nie ons taak om te spekuleernie oor die wederkoms nie, dit is ons taak om voor te berei en waaksaam te wees. ‘n Dief stuur nie ‘n sms wat sê: Ek kom vannag 24:00 by jou huis in breek nie.
(ii) Jesus kom weer en dit sal verstommend skielik en onverwags wees vir die mense wat hulle daaglikse lewe geleef asof God geen sê daarin het nie. Net soos in die tyd van Noag. Hierdie verse is ‘n waarskuwing dat ons nie so vasgevang moet word in die tydelike dat ons geheel en al van die ewige vergeet nie. Dit maak nie saak waarmee ons besig is nie, wanneer Hy roep, dan moet ons gereed wees. Die wag op die wederkoms van Jesus is nie ‘n angsbevange wag nie, dit is ‘n opgewonde wag vir ‘n wonderlike dag wat moet aanbreek.
(iii) Die wederkoms van Jesus sal ‘n tyd wees van skeiding en oordeel wanneer Hy die wat aan Hom behoort sal bymekaar maak. En die wat die keuse om Hom in hulle lewens toe te laat uitgestel het vir môre gaan veroordeel. Mense gaan nie gestraf word oor hulle sonde nie, maar omdat hulle nie as ‘n dissipel van Christus Jesus geleef het nie.
Hoe berei jy voor vir die wederkoms van Jesus?
Hoe raak die wete dat Jesus weer kom jou daaglikse lewe?
Hoe sou jy die wederkoms verduidelik aan iemand wat bitter min van die Bybel weet?
Ek sien uit na julle antwoorde op hierdie vrae. Deur die loop van die dag gaan ek van die vrae self antwoord.
Eerste vraag – Ek werk aan myself dag en nag, dis ‘n stryd tussen my sondige natuur en die nuwe mens wat die Heilig Gees vorm.
Tweede vraag – Dit is die dryfkrag vir my bestaan,
Derde vraag – Ek dink nog oor hierdie een,
Eerste vraag: Ek dink die manier om voor te berei is om seker te maak jy het die regte klere aan. Mens het die regte klere aan as jy jou “beklee met die Here Jesus”. Jesus is my Here en my Meester – ek leef in ‘n persoonlike verhouding met Hom en ek gehoorsaam Hom so ver ek kan.
Tweede vraag: Ek dink nie daar gaan een dag verby wat ek nie daaraan dink dat Jesus weer gaan kom nie, maar ek is nie ‘n stoepsitter nie. Ek probeer om in alles wat ek is en in alles wat ek doen te wys dat Hy my Here en my Meester is. In my daaglikse lewe probeer ek teenoor mense lewe soos Hy teenoor hulle sou lewe. Dit bly maar ‘n leerproses, maar Hy weet dat ek opreg is selfs al misluk ek soms.
Derde vraag: Ons was baie klein toe ons by geleentheid by my ouma gaan kuier het. Hulle het ver gebly, so ons het hulle nie baie goed geken nie. Eintlik was sy amper vir ons ‘n vreemdeling. Baie dierbaar, maar ‘n vreemdeling. Ons ouers besluit toe om een van die dae wat ons daar is by ander familie te gaan kuier en ons by ons vreemdeling-ouma te los. Ek het gekies om die hele dag in die klein voor-tuin te speel. Want as mens in die voor-tuin speel kon jy die brug sien waaroor my ouers moes ry voordat hulle by die huis aankom. Ek het heeldag die brug dopgehou. Ek onthou nog die dankbaarheid en die vreugde toe ek my ouers se karretjie oor die brug sien ry het. Toe hulle stop was ek by die hekkie en het ek vir my ma die deur oopgemaak om uit te klim.
Die wederkoms van Jesus is soos wanneer mens as klein kindjie wag dat jou ouers moet huistoe kom.
Eerste vraag: Ek dink dat ‘n mens se geloof in Jesus Christus is die beste voorbereiding wat jy kan tref vir die wederkoms. Daarmee saam lyk dit nou vir my asof mens ook moet beesig bly met die dinge wat vir die Koning belangrik is.
Tweede vraag: Die wederkoms van Jesus is soms op ‘n onbewuste vlak in my lewe aanwesig. Ek dink nie verskriklik baie daaraan nie, dalk omdat ek met die jare geleer het om te rus in dit wat Jesus klaar vir my gedoen het. As ek gehoorsaam is dit omdat ek Hom liefhet.
Derde vraag: Ek hou van kandas se storie. Kinders verstaan nogal die weggaan van ouers en hulle terugkom en daar is ooreenkomste. Ek onthou toe ek en Renate in 2004 in die VSA was vir ‘n studietoer van ses weke. Rene was toe in Graad 2. Sy het menige aand vir haar ouma gevra hoe lank nog. Toe ons op die lughawe land, was sy daar. Ek sal daardie gesiggie nooit vergeet nie.