HEMELVAART

Vandag vier die kerk hemelvaart.

“Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer sien nie.” (Handelinge 1:9)

Hemelvaart is natuurlik nie meer ‘n vakansiedag nie. Ek dink dit is ‘n goeie ding. Maar, hemelvaart is vir Christene ‘n baie belangrike gebeure. In sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus sê Veldkamp dat daar op hierdie dag ‘n wonderlike nuwe verbinding tussen hemel en aarde tot stand kom.  ‘n Verbinding wat  voltooi sal word by Jesus se wederkoms. Hemelvaart is in ‘n sekere sin die logies volgende ding wat moes gebeur. Ek onthou dat  Professor Flip Theron gesê het dat hemelvaart nie weg-vaart, maar eerder in-vaart beteken. Die hemelvaart beteken nie dat die Jesus sy volgelinge nou aan hulleself oorlaat en die beweging wat begin is nou op eie stoom aan die gang moet kom en aan die gang moet bly nie.

HEMELVAART IS IN-VAART deurdat Jesus die hemel in is met alles wat Hy hier op aarde vermag het en dit wat Hy deur sy lewe, sterwe en opstanding vir ons reggekry het, word nou veilig in die hemel bewaar. As mens verlaat Hy sy dissipels, maar as God bly Hy in die vorm van die Heilige Gees. Maar Hy vaar ook die hemel in om daar vir ons plek te gaan gereed maak. Ons blyplek in die Nuwe Jerusalem.

Party mense steek in hulle geestelike lewe by hierdie hemelvaart vas en sit, by wyse van spreke, op die stoep en wag dat Jesus weer uit die hemel moet kom.

HEMELVAART IS IN-VAART deurdat Jesus se hemelvaart die weg baan vir die uitstorting van die Heilige Gees tien dae later en die Heilige Gees in die volgelinge van Jesus in vaar om hulle te bemagtig om sy getuies te wees. Deur die Heilige Gees beleef die dissipels ook Jesus se belofte dat Hy altyd by hulle sal wees en die belofte van die ander Trooster wat Hy (Jesus) gemaak het.

Party mense steek in hulle geestelike lewe by hierdie punt vas en beweeg van die een wonderlike ervaring of belewenis na die volgende.

HEMELVAART IS IN-VAART in die sin van die kerk se in-vaart in die wêreld in. “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van wêreld.” (Handelinge 1:8) Volgelinge van Jesus volg nou nie meer ‘n Jesus op aarde wat beperk is tot Jerusalem en die onmiddelike omgewing nie. Volgelinge van Jesus is sy getuies tot in die uithoeke van die aarde.

Hierdie is waarheen Jesus se hemelvaart en die Heilige Gees se uitstorting moet lei. Die kerk as getuies van Jesus Christus in hierdie wêreld.

Die boek Handelinge is dan juis eintlik ‘n beskrywing van hoe Jesus vanaf die regterhand van die Vader sy werk op aarde voortsit.

2 thoughts on “HEMELVAART

Add yours

  1. Dankie Attie, mooi beskryf –

    Ek het al baie kere vir myself afgevra waarom moes JESUS weggaan? Kon HY nie maar veraltyd by ons gebly het nie?

    Die energie rondom hemelvaart beteken vir my in een woord -HOOP! HY kom ons verseker eendag haal!

  2. Annalize
    Dis waar ons God gaan ons eendag kom haal ek kan nie wag om by Hom te wees nie maar vir eers moet ons vir hom werk.
    Groete.

Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑