HEMELVAART (2) JESUS ONS VOORSPRAAK

IMG-20130510-WA0000Ons dogter René is hierdie jaar in graad 11, “sixteen going on seventeen”. Sy en haar ma het ‘n besondere verhouding en hulle praat baie. Van tyd tot tyd gebeur een van twee dinge. Of die kind maak ‘n fout (Gelukkig is sy een van daardie voorbeeldige en soet kinders, so dit gebeur nie baie nie), of sy  wil iets vra waaroor sy onseker is wat my reaksie gaan wees. Hoe dit ookal sy, sy het ‘n bepaalde benadering wat sy volg. Sy bespreek die saak eers met haar ma. Haar ma ken my beter as enige ander mens in die wêreld en ons stem oor die meeste dinge in elk geval saam. Renate en René handel sekere dinge tussen die twee van hulle af en ek sien maar net dit gebeur. Daar is egter die sake waaroor Renate gewoonlik voel ek behoort te weet en ek en sy moet saam daaroor besluit.

As René ‘n fout gemaak het, hoor ek gewoonlik op ‘n manier daarvan wat sê: Sy het droog gemaak, maar ek het dit hanteer en dit is hoe ek dit hanteer het.  Nege uit die tien kere is die saak dan ook afgehandel. Die kere wat René egter ‘n spesiale versoek het en Renate dink dit is die regte ding, is die benadering ‘n bietjie anders.

‘n Voorbeeld is toe sy besluit het om te gaan vir oudisies vir die Universiteit van Pretoria Jeugkoor. Die implikasie, sou sy die oudisies slaag, was ‘n maandelikse betaling asook twee toere. Hierdie jaar (2103) gaan hulle Namibië toe en volgende jaar gaan hulle Latvia toe vir die Wêreld Koor Olimpiade. Onnodig om te sê, pa is maar ‘n salaristrekker en sulke geld kom nie sommer uit die agtersak uit nie. Maar hulle het kom vra. Eers het Renate alleen gepraat en ek en sy het lank en baie gepraat en alle moontlikhede oorweeg en al ons beplanning gedoen en maniere uitgewerk hoe Renê self sou bydra om hierdie ding moontlik te maak. Op die ou end het ons ingestem vir die oudisies en sy het geslaag en nou is sy deel van die koor wat Junie-maand Namibië toe gaan en volgende jaar Latvia toe. René het die grootste deel van haar sakgeld vir twee jaar prysgegee en Renate gee elke begrafnis waarvoor sy speel se geld vir die toere.

Renate is vir René ‘n voorspraak by my. Renate verstaan René en daarom is sy die ideale voorspraak. Renate het egter ook uit die aard van die feit dat sy my vrou is en ons ‘n baie spesiale verhouding het, baie invloed by my. Renate is ook bereid om baie opofferings te maak om vir René net die beste te gee. As sy alreeds dink ‘n saak het meriete is die stryd meer as half gewonne.

Die Heidelbergse Kategismus sê dat Jesus opgevaar het na die hemel en waar Hy nou aan die regterhand van die Vader sit, is Hy nie net daar om te heers nie. Hy is ook ons Voorspraak. Hy pleit vir ons. Artikel 26 van die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit treffend: 

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie, Hy ‘ wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp 2:6, 7 en Heb 2:17). As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God?

Ek glo in Jesus Christus  …

wat opgevaar het na die hemel

en sit aan die regterhand van God

die Almagtige Vader…

 

4 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

4 responses to “HEMELVAART (2) JESUS ONS VOORSPRAAK

  1. is dit nou nie mooi gestel nie

    ek as moeder weet ook presies wat dit is om die tussenganger te wees tussen papa en sy klong, maar ek weet ook diep in my hart wanneer klonkie direk na papa toe sou gaan, dit nie my uit die pad skuif nie, maar dat hy daardie diepgewordtelde verhouding tussen hulle so onderhou en voed

  2. Christelle van der Walt

    Ons is saam met julle bly oor René se prestasie – Baie Geluk! Sy het ‘n talent en sy moet dit uitleef. Ek sien dit as ‘n kans in ‘n leeftyd. Ma-dogter verhouding is eintlik hoe dit hoort en dan die Pa-seun verhouding. Twee van my dogters is nou al uit die skool en hulle vra nog steeds ons raad en natuurlik my laat-lam, Elaine, nou in Gr.7. Ma moet maar partykeer self kop-krap want ek sal vir jou sê die tieners van vandag groei in ‘n totale ander era as ons. Wat baie goed werk is wanneer ek Pa se hulp inroep dan is alles sommer in ‘n kits weer reg.

    Om terug te kom nou na ernstige sake: Ek is bly dat julle die saak met Barend mooi hanteer het.

    Dankie vir die mooi boodskap vandag!

    • Christelle van der Walt

      Die grondslag van die ouerhuis bepaal die geloofsgroei van die kind. Dit loop eintlik hand-aan-hand.

  3. Thys

    Doom:
    Dankie man. Ek is ook opgewonde oor jou dogter se prestasie, maar as ek nou gisteraand se preek in gedagte hou en vanoggend se stukkie lees dan gebruik jy dit as metafoor om te verduidelik hoe Jesus ons Voorspraak by die Vader is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s