DIE GEBED VAN ‘N GELOWIGE HET ‘N KRAGTIGE UITWERKING

In Jakobus 5:16 staan hierdie woorde:

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

Die vers staan natuurlik in die konteks van ‘n hele paar dinge oor gebed.

As daar iemand onder julle is wat swaarkry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is moet hy lofliedere sing. As daar iemand is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. (Jakobus 5:13-15)

Hierdie teks is nou nie so eenvoudig soos om ‘n “bumper-sticker” op jou kar te sit wat sê: “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.” nie. Hierdie teks bring twee keer siekte in verband met sonde.  Vers 14 en 15 gaan oor iemand wat siek is wat gesond wil word. As die ouderlinge vir die sieke kom bid, sal hy gesond word en as dit gepaard gaan met sonde sal die sonde hom vergewe word. Vers 15 se eerste helfte gaan ook oor sonde wat teenoor mekaar bely moet word SODAT julle gesond kan word.

Wanneer mens dus oor Jakobus 5:16 dink moet jy eerstens die hele vers lees en tweedens die konteks. Ons word hier gekonfronteer met die verhouding tussen sonde en siekte en genesing en vergifnis. ‘n Verband wat ook nie so eenvoudig en maklik is om te verduidelik en te evrklaar nie. Wanneer is siekte dan nou as gevolg van sonde? As ek nie siek word nie, is dit omdat daar nog ongelyde sonde in my lewe is? Hoekom word mense wat nie in God glo nie, dan gesond en mense wat hulle sonde bely word nie gesond nie? Hierdie vers konfronteer ons dus ook met die realiteit van onbeantwoorde gebede. ‘n Realiteit wat vir baie mense so ‘n werklikheid is dat dit hulle vrymoedigheid om te bid steel.

Dalk is hierdie al ‘n holrug geryde frase: In gebed gaan dit in die heel eerste plek oor verhouding. My verhouding met God en my verhouding met my naaste. My verhouding met God se koninkryk en my verhouding met God se wil wat op die aarde moet geskied net soos in die hemel. Wanneer gebed gebruik word as ‘n towerstaf of ‘n formule of ‘n meganisme om God so te beheer sodat my wil op aarde moet geskied, dan het die gebed van iemand wat in die krag van gebed glo geen uitwerking nie.

Ek wil aansluit by Phillip Yancey wat in sy boekie oor gebed pleit dat ons die misterie of geheimenis van gebed moet behou. Wanneer Jesus die gelykenis vertel van die vriend wat sy vriend gaan opklop omdat ‘n ander vriend hom opgeklop het vir brood, dan gaan dit daaroor dat ons deur gebed ‘n verhouding met God moet bou waar ek te enige tyd enige iets vir Hom kan kom vra. Daar is nêrens ‘n waarborg dat die kragtige uitwerking van ‘n gelowige se gebed tot gevolg gaan hê dat hy alles gaan kry wat hy vra nie. Oor onbeantwoord gebede moet ons eerder ons kop skud. Watter verduideliking ookal gegee word, die probleem gaan nie opgelos word nie. Die misterie van gebed het daarmee te make dat ons ook hier sal sê: Ons verstaan nie hierdie werking ten volle nie, maar ons sal aanhou bid.

Ek het ‘n paar jaar terug ‘n Youtube video gesien van iemand wat God uitbeeld as ‘n “butler” in ‘n groot “mansion”. In die video is die “butler” dan altyd gereed om sy “meester” te bedien en vir hom te kry en te gee alles wat hy vra. Ek wonder darem vir hoeveel mense is God soos die “butler” van gereed moet staan om te gee wat hulle (selfs in die Naam van jesus) vra en te doen soos hulle voorskryf. Die “butler” spreek dan ook die “bidder” aan as “Master”. (Ek kry net nie weer daardie video nie.)

In sy boekie Simply Christian beklemtoon NT Wright ons gebedsarmoede. Juis omdat ons gebed gefokus geraak het op dit wat ons van God kan kry. Hy pleit vir die teruggaan na die gebede van die Bybel en veral liturgiese gebede waarin ons weer fokus op verhouding en God se wil en God se koninkryk en wegdraai van ons eie koninkryke en ons eie wil.

Eugene Peterson skryf in sy boekie Working the Angels dat ons moet teruggaan en gaan kyk na veral die gebede in die Psalms. Maar, dat ons nie net die wonderlike Psalms waarin ons dinge vir onsself vra moet bid nie, maar dat ons ook moet kyk na die Psalms waar die bidder blyk bevry te wees van alle selfsug, selfgerigtheid en eie geregtigheid.

Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking, maar wat ek in Lukas 11:1-13 lees is dat die kragtige uitwerking heel eerste by my begin. God verander my voor Hy die wêreld verander. God verander eers my binnekant voor Hy my buitekant verander. In Jakobus sien ons inderdaad dat die gebed van ‘n gelowige ‘n kragtige uitwerking het met betrekking tot die vergifnis van sonde en die herstel van verhoudings. Ek sien in Jakobus dat as siekte die gevolg is van sonde, dan gaan die persoon in antwoord op die gebed van die ouderlinge (nie eers sy eie gebed nie) vergewe word en hy gaan gesond word. In vers 16 is daar iets van dieselfde gedagte. As Christene hulle sondes teenoor mekaar bely vind daar genesing plaas. Maar steeds gee Jakobus 5:16 nie ‘n waarborg dat alle gebede van gelowiges beantwoord gaan word nie. Jakobus 5:16 laat ons met vrae oor goed soos onbeantwoorde gebede.

Maar Jakobus 5:16 maak my opgewonde want ek weet dat deur gebed en deur die Heilige Gees wat God my in antwoord op gebed gegee het, gaan God my gebed gebruik om my die mens te maak wat Hy bedoel het ek moet wees. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking, maar dikwels, nee meestal, is die uitwerking nie wat ons gedink het dit gaan wees of wou gehad het dit moet wees nie.

Dat God in antwoord op gebed selfs sy plan sou kon verander, blyk tog uit die Bybel so. Moses oortuig God om saam met Israel te trek nadat Hy besluit het Hy gaan nie. Abraham oortuig God om nie die hele Sodom en Gomorra te vernietig nie. Maar dan vernietig God weer nie vir Nineve nie, ten spyte daarvan dat Jona anders “gebid” het. Dat God in antwoord op gebed wonderlike doen, is ook so. Ek dink aan Elia wat bid dat dit moet reën en dan reën dit. Maar veral Elia, lees ons dat Hy as profeet God se wil en God se hart geken het en dat Hy geweet het dit is nou die tyd vir die reën wat God wil gee. Moses en Elia en baie ander in die Bybel en in die geskiedenis moedig my aan om erns te maak met my gebedslewe en nooit op te hou vra nie.

Die eintlike Grieks lees hier “regverdige”. Ek dink aan die mees regverdige persoon ooit: Jesus van Nasaret. Hy het gebid: “Vader, laat hierdie beker by my verbygaan.” Die Vader het nie die gebed van dié Regverdige verhoor nie. Maar, watter kragtige uitwerking het die gebed van dié Regverdige nie gehad nie. Ek word vandag steeds vergewe as gevolg van die kragtige uitwerking van die gebed van die Regverdige.

Ek het lankal daarmee vrede gemaak, dat ek nie my rug op God gaan draai nie. Selfs al antwoord Hy nooit weer een van my gebede nie. Maar Hy weet ook dat ek sal bid: Laat ons nie in die versoeking kom nie. Moenie die lewe nog moeiliker maak as wat dit is nie.

6 thoughts on “DIE GEBED VAN ‘N GELOWIGE HET ‘N KRAGTIGE UITWERKING

Add yours

  1. Met die inskrywing kan ek myself vereenselwig, maar ek groet nou eers hierdie blog, nie omdat ek kwaad is vir iemand nie, maar bloot omdat ek die gebruik van die sosiale media nie opbouend en produktief vind nie. Ek verkies om eerder iemand in die oë te kyk as ek met hom of haar wil praat.

      1. Soms is dit beter om stil te bly en ek dink nou is my beurt. Ek maak te veel mense kwaad met my kommentare. Ek sal maar eerder oor ‘n koppie koffie met mense oor ons Here praat.

    1. Johan
      DIt bly jou keuse. Ek het nie regtig gelees dat jy iemand kwaad maak nie. Ek het wel gelees dat veral DIV met jou verskil het en jou baie moeilike vrae gevra het. maar, dit bly jou keuse.

  2. Nie my wil nie maar U wil. Dit is waaroor alles gaan. Ek het dit so intens in my lewe beleef. Daarom sal ek aanhou bid, want God is my Vader en my vriend. In enige verhouding gaan dit oor kommunikasie. Hoe meer ek met my Vader praat hoe meer kom ek en Hy op dieselfde golflengte. Net soos ‘n pa weet wat goed vir sy kind is, net so weet Hy wat goed vir my is,

  3. Wat ekself al beleef het omtrent onbeantwoorde gebede: geen mens kan standhou teen GOD se wil nie en dit is daarom so tot jou eie beswil. Nog ‘n anderding wat ek ervaar het en dit geld vir letterlik als wat jou lewe raak en dit is: – kennis –

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: