BELYDENISAFLEGGING – ‘N MENSGEMAAKTE WET?

Ek en my belydenisgroep vir 2012 het verlede Sondag-aand ons “journey” vir die jaar saam begin.Vroeg reeds het een van die kinders gevra:

Hoekom moet ons hierdie mensgemaakte wette volg? Dit gaan mos net oor ‘n verhouding met die Here.

Ek het die vraag laat oorstaan tot gisteraand en toe het ons as groep daaroor gepraat. Ek was toe nie verbaas om te hoor waarom sommige van die kinders moeite doen om belydenis van hulle geloof af te lê nie. Die volgende redes is genoem:

  1. As ek nie belydenis van geloof aflê nie, gaan die dominee my nie trou nie.
  2. As ek nie belydenis van geloof aflê nie gaan die dominee nie my kinders doop nie.
  3. As ek nie belydenis van geloof aflê nie, mag ek nie nagmaal gebruik nie.
  4. As ek nie belydenis van geloof aflê nie, gaan die dominee my nie begrawe nie.

Ek kon nie anders nie, ek moes dadelik hierdie dinge aanspreek.

In die eerste plek sal bitter min indien enige dominee vir jou vra of jy belydenis van geloof afgelê het as jy wil hê dat hy jou moet trou. Jy hoef nie lidmaat van my kerk of enige ander kerk te wees as jy wil hê dat ek jou moet trou nie. Jy hoef nie eers ‘n Christen te wees nie. Ek sal wel met so ‘n paartjie ‘n paar gesprekke hê, so daardie vanghek staan oop.

Die kwessie van die doop kan ‘n probleem wees. Aan die ander kant is doop ‘n handeling van ouers wat hulle geloof in Jesus Christus openlik bely waarin hulle onderneem om die kind wat die Here vir hulle gegee het so groot te maak dat hy/sy ook die drie-enige God sal bely. Hoekom jou kind doop as jy hom/haar iets anders wil laat glo as wat jy glo?

Die nagmaal is natuurlik geen probleem nie. As jy glo dat Jesus Christus die Seun van God is wat aan die kruis vir die sonde van die mensdom, en ook vir joune, gesterf het, dan kon jy gister in ons gemeente saam met ons die nagmaal gevier het.

Ek, en feitlik elke dominee wat ek ken, begrawe enige iemand wat my vra. Sulke tye is tye wat mense nodig het om te hoor van God se liefde en genade en van die hoop wat daar is vir die wat in Jesus glo.Ons verkondig dit by elke geleentheid.

Maar hierdie jaar is baie meer as om hierdie groep tieners toe te laat om een of ander nuwe vorm van lidmaatskap van die kerk te ontvang. Vir my as begeleier is hierdie  belydenisjaar die manier waarop die kerk gehoorsaam is aan Jesus se Groot Opdrag:

Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleiding van die wêreld.” (Matteus 28:18-20)

Toe ek die jongmense vra wat hulle dink dissipelskap is, het die standaard deur die dak gegaan. Ek het hulle rustig laat gesels oor wat ‘n dissipel is. Aan die einde het ek hierdie vraag gevra:

As jy nou vir jouself ‘n punt uit tien moet gee vir hoe ‘n goeie dissipel jy is na aanleiding van ons gesprek, hoeveel sal jy jouself gee?

Die hoogste telling rondom die tafel was 3. Ek self ingesluit.

Belydenisafelgging is n manier wat die NG Kerk wil gebruik om van jongmense getroue volgelinge van Jesus te maak. Maar, dissipelskap kan ook al te maklik weer ‘n wet word.

Wat leer ons ons kinders oor dissipelskap?

Hoe verstaan jy dissipelskap?

10 thoughts on “BELYDENISAFLEGGING – ‘N MENSGEMAAKTE WET?

Add yours

  1. Attie, soms skryf jy iets op jou blog waaarop mens nie anders kan as om te reageer nie. Ek praat uit ondervinding, en ek glo baie van “my tyd se mense” sal dalk saamstem as ek sê dat in die tye toe ons “aangeneem’ was, dit eintlik gegaan het oor die wettiese aspeke – ken die 10 gebooie uit jou kop, noem die 66 boeke van die Bybel op, sê die geloofbeleidenis hardop op, ens, ens. Die wat dit kon doen is “aangeneem” en die wat dit nie kon doen nie, moes weer probeer. Na my “aaneming” was ek alles behalwe ‘n dissipel (volgeling) van die Here, hoewel ek die wettiese sy van die “kerk” baie goed geken het. Ek het die kerk van die Here geken, maar nie die Here van die kerk nie. Ons prediking het bestaan uit ” …..as jy sonde doen is jy reguit op pad hel toe….”, en dit het gepaard gegaan met ‘n geslaan op die preekstoel en ‘n luide stem van die dominee. Daarna het almal gesê; Die dominee het weer vandag ‘n baie goei preek gehad. As kind was ek “bang” vir die Here want Hy sit en hou my dop om my te straf as ek sonde doen. Dit was die boodskap wat ons Sondag vir Sondag gehoor het.

    Ek het eers ‘n dissipel geword (ook maar so 3), toe ek vrygemaak is van die wettiese en geglo het dat die Here my “pa” is en ek sy “stout en ongehoorsame” kind is. As ek stout is maak dit nie dat ek ophou om sy kind te wees nie – net soos my kinders nie ophou om my kind te wees as hulle ook stout en ongehoorsaam is nie.

    Ek is nie ‘n teoloog nie, maar ek dink die afleggging van belydenis van geloof moet eerder gaan om die jong mense te leer van die betekenis van die doop, die nagmaal, ens. en veral oor die genade van God en van God self. Die inhoud van die Bybel moet deur ouers, groot ouers en dmv die kategese aan kinders geleer word deur “strories oor te vertel”. Ek hoor gister in ‘n diens dat die kerk maar net ‘n 8% inpak het op die kind se godsdiens, maar dat die huisgesin 60% inpak het. Skole se inpak het ietwat verdwyn. As ons jongmense (voornemende ouers) kan leer van die God van die Bybel en hulle bmagtig om weer hulle kinders te leer van die God van die Bybel, is ons op ‘n wen pad.

    Ek is baie opgewonde oor my kerk en die pad voorentoe, al verskil ek soms met sekere dinge, dink ek ons hoor die stem van die Here en is ons besig om beter dissipels te word – dalk so 5 uit 10?

  2. Johan, dankie vir jou koement. Ek is ook ‘n ds in die NGK en het in ‘n sekere sin ‘n “kleintjie dood” aan die belydenis aflegging, oor die waarheid van meeste van jou storie; asook die kinders se reaksie in Attie se klas. Miskien is ek origens te radikaal, maar dis sulke wan persepsies oor belydenisaflegging wat soms maak dat ek sommer glad nie dit wil doen nie!

    Ek stem 100% saam dat ouers ‘n BAIE groter rol moet speel in die geloofsvorming van ons kinders; en dat die kerk se rol heelwat kleiner moet raak. Belydenisaflegging gaan vir my oor ‘n antwoord van die kind op die doop belofte wat 16+ jr gelede aan hom gemaak is: dit behoort nie oor mensgemaakte wettiese reels te gaan nie, maar alleen oor die kind se verhouding met die Here! Dis juis hierdie mensgemaakte reels wat maak dat my seun, nou al op universiteit, steeds nie belydenis wil afle nie. Maar dat hy glo en sy geloof as ‘n lewende verhouding beleef; is verseker waar!

    Ek het die gebruik gehad dat ek nie dag en datums van belydenisaflegging op die kalender geskeduleer het nie maar vir die jongmense gese: as jy gereed is, doen aansoek! As daar 1 of 10 is, reel ons ‘n datum. Dit is tog in die eerste plek ‘n geleentheid tussen die kind, die Here en sy ouers wat die doopbelofte afgele het.

    1. Ds. Ekkedink,
      Ek hou baie van wat ek hoor en die onderwerp lê my baie naby die hart.
      Twee opmerkings:
      1.Baie mense wat “tot geloof kom”, of ‘n verdieping van hulle geloofslewe beleef, verlang om “oorgedoop” te word as “bewys” van hulle nuutgevonde geloof. Ek dink wat hulle eintlik wil doen is om aan die wêreld te sê, ek is nou ‘n dissipel van die Here en ek wil nou my geloof bely waar ek die doop belofte van my ouers “myne maak” en waar ek my nou (opnuut) verbind as dissipel van die Here. Ek dink die mense wat aandring om “oorgedoop” te word verstaan dalk nog nie mooi die doop as sulks nie. By die doop is God aan die woord, terwyl by die aflegging van Belydenis, die mens aan die woord is. As jy eenmaal tog kind van die Here is (by die kinder doop), is jy altyd kind van die Here en kan jy nie by die “oordoop” weer kind van die Here te word nie. Dit is die tipe van ding wat geleer moet word by die Belydenis klasse – dink ek in my eenvoud omdat dit nooit aan my as jongmens verduidelik is nie. Ek moes net sekere goed uit my kop leer en eksamen aflê om “aangeneem” te kon word. Ek veroordeel nie mense wat weer gedoop wil word nie – my eie seun wat 5de jaar teologie swot het ook as skoolseun hom laat groot doop om sy nuwe verbintenis to die Here sigbaar te belei. As ek eendag by die Jordaan rivier staan sal ek my self ook (dalk) laat doop, maar nie “oor doop”, maar net die ritueel herhaal terwiller van die oomblik en geskiedenis en die plek. Nou dat my seun die doop beter verstaan, weet hy dat dit nie regtig nodig was om weer gedoop te word nie, maar ek glo die Here verstaan sy en andere se hart wat dit wil doen en ons moet maar geduld daarmee hê, maar tog aan diesulkes verduidelik dat daar wel ‘n groot verskil is tussen geloofsbelydenis en die doop.
      2. Ek het vandat ek regtig ‘n dissipel van die Here geword het (ongelukkig nie 10/10 nie, maar darem so ±3/10, en toe ek 28 jaar oud was) ook begin dink dat daar nie datums moet wees wanneer jong mense belydenis van geloof moet / hoef af te lê nie. Die predikant moet jong mense begely na ‘n keuse om belydenis van geloof te wil aflê wanneer hulle gereed is om dit te doen en nie om net eendag kinders te kan doop nie, maar omdat hulle wil antwoord op die doopbelofte van hulle ouers en daarmee saam omdat hulle dissipels van die Here wil wees.
      Dit is maar my persepsie oor die hele saak en dalk is ek totaal verkeerd. Dit is goed en lekker om oor die dinge te praat, alehoort ek eintlik te werk.

  3. Ek dink mens moet versigtig wees om die baba met die badwater uit te gooi. Die wan-persepsies wat die kinders oor die belydensaflegging het, moet van iewers kom. Ek weet niemand preek dit nie. Die bron is dus moontlik tweeledig. Dalk vriende. Indien dit die vriende is, hoekom het die ouers (Die tweede moontlike bron) dit nie reggestel nie. Volgens my inligting is dit omdat ouers nie met hulle tieners hieroor praat nie.
    Nou plaas ons hierdie verantwoordelikheid vierkantig terug in ouers se hande waar die groot meerderheid nie sulke gesprekke voer nie.
    BELANRGIK: In dieselfde groep is daar tieners wat die regte verstaan het. Met ander woorde, moenie veralgemeen nie. Daar is ouers wat hulle doopbelofte nakom en mooi met hulle kinders hieroor praat.
    In hierdie groep is daar kinders wat nog nooit gesprekke gehad het soos die wat ons hierdie jaar gaan hê nie. Ek het al kinders se lewens in ‘n jaar soos hierdie sien verander.
    Belydenisaflegging is ‘n werkswyse. Daar is op die stadium nie iets anders of iets beters nie. Die aanmeld oplossing is nie DIE oplossing nie. Daar is geen waarborg dat die wat kom aanmeld baie anders dink en voel as die wat die gewone proses gevolg het nie.
    Ek motiveer ouers so goed as wat ek kan om hulle deel te doen, maar ek het uitgewerk dat ek deur die loop van die jaar, kampe ens ingesluit ongeveer 60 ure het om met hierdie groep te werk. Ek weet ek sal met eerlikheid voor die Here kan staan oor die pad wat ek met hierdie groep gestap het.
    Ek is nie moedeloos nie. Ek is opgewonde oor die geleentheid wat die here vir my gee om met hierdie 25 jongmense ‘n pad te stap.

    1. Attie, ek hoor wat jy sê en ek is dankbaar vir die “nuwe benadering” en vir die pad wat jy met die kinders gaan stap. Ek het gister in ‘n preek gehoor dat ‘n kerk maar net 30 minute in 25 Sondae (vakansies bygereken) het om die kinders te “onderrig”. Dit beteken net 750 minute in een jaar, bestaande uit 262,800 beskikbare minute, of in persentasie, net 0,29% van die beskikbare aantal ure in ‘n jaar. Navorsing het getoon dat ‘n kind 60% – 65% van sy godsdiens by sy ouers en groot ouers ontvang en net 8% by die kerk. My afleiding is dus dat die kind wie se ouers en groot ouers hulle taak en doop belofte nakom, vêr kan kom met die addisionele 8% of 0,29 % van die beskikbare ure in ‘n jaar.

      My bekommernis lê by die kinders wat nog soekende is en my persepsie is dat die 0,29% of 750 minute per jaar, of die 8%, of selfs die 60 ure soos wat jy beoog, dalk net nie voldoende kan wees nie. Onthou die 60 ure is vir die hele groep van 25 kinders. dit beteken slegs 2½ uur aan elke kind.
      Ek glo nie dat dit genoeg is nie. Ek het vir ‘n paar jaar saam met Oom Dirk Hanekom die onderhoude by C-laan gevoer voor belydenisaflegging en ons kon dadelik sien waar die ouers ‘n rol gespeel het en waar nie. Die kinders wat nie die nodige onderrig by die huise kry het ‘n “probleem” en van hulle vereis dalk elk 60 uur of langer in ‘n jaar.

      Op die stadium mag belydenisaflegging dalk die aangewese werkswyse wees in die afwesigheid aan iets beter, maar ek glo ons moet altyd streef na die volmaakte en ek glo nie die huidige werkswyse is naby die volmaakte nie. As ek dalk verkeerd is, ontstaan die vraag onwillekeurig: Waar is die jong mense wat belydenis van geloof afgelê het? Hoekom “raak so baie van hulle weg” nadat hulle belydenis van geloof afgelê het – nie net in ons kerk nie, maar oral in alle kerke? Is dit dalk die die rigtingwyser dat ons moet streef na ‘n ander werkswyse? Ek weet regtig nie.

      Attie,
      Ek is dankbaar vir die pad wat jy met die kinders gaan stap en ek glo dat jy groot seën sal verkry. Ek is ook dankbaar dat ons openlik op jou blog oor die dinge kan praat. In my geval was “aanneming” maar net ‘n “hekkie” in my lewe waar ek moes / moet oorkom, eerder as ‘n voorreg en ‘n seën. Ek was nie gereed om die belofte af te lê nie, maar in my tyd was dit “die regte ding” om te doen. In gesprekke met ander mense en vriende, so om ‘n braaivleis vuur, het ek ook maar die gehoor dat dit vir baie ook maar net “iets is wat gedoen moet / moes word om klaar te maak met Sondagskool” – selfs by my eie twee seuns. Dit is beslis nie die reël nie, maar tog iets om in gedagte te hou ek dink die toets van hoe suksesvol, al dan nie die huidige werkswyse is, of nie is nie, lê in die hoeveelheid kinders wat na aflegging van geloof steeds aktief betrokke is by die kerk.

      Bitter min ouers praat vandag met kinders oor godsdiens. Die dominee doen dit mos Sondae, of die ouers is te besig, of die kinders is te besig, of die ouers is nie onderrig genoeg nie. Chris het gister syfers genoem oor die saak wat my verbaas het.

      In gesprek met my Engels sprekende kollega by die werk so paar weke gelede oor die doop, is sy opmerking dat die doop maar net die manier is om jou ‘n naam te gee. Ek en ander in die gesprek was stom geslaan oor sy absolute onkunde oor die saak, maar ek wat hom beter ken voer dit terug na sy onderrig tuis oor die saak.

      Ek debateer sommer so in die algemeen oor die saak en lewer nie kritiek nie en is nie negatief nie. Ek dink baie oor die goed en lees deesdae nogal baie daaroor. Ongelukkig het ek nie die antwoorde nie en bly my bydra maar by vra, vra. iewers gaan iemand dak eendag met die regte antwoorde kom.

      Al wat wil sê, en waaroor ek nogal sterk voel is dst baie ouers dalk ook onderrig nodig het om hulle te bemagtig om ‘n al groter wordende rol te speel by hulle kinders se godsiens onderrig. My oorlede moeder en vader het tyd gemaak om ons kinders te onderrig en te leer en het die saaitjie geplant om al meer en meer daaroor te leer. In hoeveel huise van vandag gebeur dit nog gereeld? Ds Chris Lötter het gister skokkende syfers van die preekstoel genoem na aanleiding van ondersoeke wat gedoen was, juis oor dier saak en daarom sê ek dat daar dalk net ‘n ander werkswyse moet / kan wees as die huidige werkswyse, of na gesoek moet word, anders is ons oor 10 jaar dalk net in die moeilikheid. Miskien is daar te min navorsing gedoen oor die saak – ek weet nie en kon ook nie iets op die interet daaroor kry nie.

      Dankie vir die gesprek en sterkte met wat jy doen en gaan doen. Onder omstandighede en vir die huidige is dit die beste werkswyse, maar ons moet maar bly vra, vra.

  4. In die belydenis is daar tog ‘n gedeelte van dat jy die “kerk” se leerstellings aanvaar as “die ware en enigste” leer. Asook dat jy jouself onderwerp aan “kerklike opsig en tug”.

    Maar wat gedoen as die “kerk” se leer nie meer ooreenstem met God se Woord nie. Moet ons nou (as belydende lidmate) eerder glo wat geleerde mense vir ons vertel as wat Die Bybel vir ons vertel? Moet ek glo in ‘n God wat Jesus uit die dood kon opwek, maar wat nie kan sorg dat Sy Woord reg geskryf is nie? Talle dominees (nie almal nie – glad nie!) “interpreteer” met hulle menslike kennis die Woord en as jy vir hulle ‘n vraag stel rondom die kerk se leer, word jy afgemaak as “iemand wat die Bybel nie in die konteks van die tyd waarin dit geskryf is” verstaan nie. Iemand wat nie die kennis van die dominee het nie en dus nie die Bybel korrek kan “interpreteer” nie. Dis tog immers dieselfde redenasie wat die katolieke kerk in die middeleeue gehad het en wat deels die hervorming teweeg gebring het,

    Hoekom moet ek dat my kinders voor die altaar van menslike geleerdheid buig, en hulself met ‘n belofte verbind aan ‘n organisasie wat grotendeels dele van geloof vermy (soos geestelike oorlogvoering, demoniese manifestasies, gawes van die Gees)? Hoe kan ek, as ‘n Christen, hul voor ‘n kansel laat belowe dat die instansie se leer die ware en volkome leer is, waar in die Sondagskool klas die ander kerke as sektes afgemaak word? (Afguns en hoogmoed is tog immers teen God se Woord en Wil?). Wat het geword van verdraagsaamheid? Wat het geword van al die teksverse wat vertel ons mag nie mekaar veroordeel nie, nie op feeste wat ons beoefen of kos ons eet nie? So as iemand anders dalk ‘n ander manier het om God te dien, maar tog glo Jesus is Koning, Seun van God en die Bybel is die onfeilbare Woord van God, hoekom moet ek hulle afmaak as “minder” as myself?

    Ek hou van “bottom lines”. Hier is myne (my opinie natuurlik). Ek het belydenis afgelê en vir jare Sondagskool gehou en al daai dinge. Ek kan nie met ‘n skoon gewete my kinders laat belydenis aflê, en hulself vasbind aan doktrines wat soms dwaal van God se Woord nie. Of hulsels laat verbid aan ‘n organisasie wat sekere onderwerpe vermy of afmaak dat dit net “vir daai tyd” was nie. Selfs ‘n organisasie waarin die een dominee mag preek daar is nie ‘n hel nie, dat “die duiwel” net ‘n filosofiese konsep is wat mense van “daai tyd” gebruik het om menslike foute te beskryf, of selfs waar die geleerdes kan wonder of Jesus werklik fisies uit die dood opgestaan het. Of ‘n organisasie wat toelaat dat een dominee op die kansel van ‘n ander gemeente (wat ook NG is) mag sê dat hul “praise en worship aande is alles net ‘n show en daar is geen waarde in praise en worship nie”. Weereens, dis nie alle dominees nie. Glad nie. Daar is baie “amazing”, Gees-vervulde dominees in ons land. Tog lê ons nie ‘n eed af (of maak ‘n belofte) waarin ons verklaar die dominee is reg nie, maar “die kerk”. Nie die Bybel nie – “die kerk”. Nie onderdanigheid aan God of Sy Woord nie, maar aan “die kerk” en “sy” leerstellings. Dis waar my probleem lê. Ons lê ‘n eed af voor menslike geleerdheid, gehoorsaam menslike komitees, sit elke Sondag stil, mag nie vrae vra nie en vergeet so stil-stil van die Here.

  5. Martin.
    Dankie vir jou inset. Daar is natuurlik baie vrae wat gevra kan word na aanleiding van jou skrywe. Is dit regtig so maklik om te gloe wat “die Bybel vertel?” Laat selfs ‘n eenvoudige lees van die Bybel mens nie ook maar met baie vrae nie? Soos byvoorbeeld: Vrouens moet altyd ‘n hoed dra? Vrouens mag nie in die kerk praat nie? Nêrens in die Nuwe Testament staan dat ons nagmaal met kelkies mag gebruik nie.
    Ek dink daar is verwarring en as jy die dag dag die geloofsgroep vind waar almal oor alles uit een mond praat, laat weet my. Ek sou graag wou aansluit. Mense gaan maar altyd weer dinge sê seermaak.
    Almal van ons is mos maar bietjie geleerd oor die Bybel. Wie se geleerdheid is nou reg? Joune of die professor sin. Net soos syne nie altyd noodwendig reg is nie, is joune ook nie altyd reg nie.
    Net soos jou woorde hier ook maar gaan seermaak oor jy so skerp veroordelend is teenoor mense wat ook op hulle eie manier die Here opreg wil aanbid, maar net nie oor alles glo en dink soos jy oor alles glo en dink nie.
    Baie jare al word daar in geen Sondagskoolklas van groepe as sektes gepraat en dat hulle verkeerd en ons reg is nie.
    In ons jeugbediening en die meeste (indien nie almal nie) ander jeugbedieninge waarvan eki weet fokus ons op jeug-vorming. DIssipelskap.
    Dan moet ‘n mens lank en indringend gaan praat oor die “kerk”. Want duidelik is kerk soos jy dit verstaan nie kerk soos on dit bedoel nie. Kerk is dinamies – die liggaam van Christus. Kerk beteken: Christus is die Hoof. Kerk beteken Jesus is hier in beheer. Belydenisaflegging beteken ek belowe trou aan die koning van die kerk.
    So sou ek kon aangaan.
    Jy het jou beeld van “kerk” en “belydenis-aflegging” geprojekteer en dink almal bedoel dieselfde wanneer hulle daarvan praat.
    Niks is verder van die waarheid.
    Ek dink nie aan dieselfde dinge wanneer ek “kerk” dink as jy nie.
    Ek dink nie dieselfde wanneer ek “belydenis” hoor as jy nie.
    Groete

  6. ‘n Mens moet ook onthou dat Belydenisaflegging handel nie net oor die geloof van die kinders nie. Hulle geloof is ‘n saak wat hulle, hopelik, lank voor die belydenisaflegging uitsorteer het. Daar is geen groter vreugde om kinders in jou belydenisklas te sien wat reeds jare vroeër ‘n keuse vir ons Verlosser gemaak het nie. Ek herinner altyd die kinders dat hulle nie by belydenisaflegging as gelowiges “verklaar” word deur die gemeente nie. Hulle moet dit reeds wees. Die gemeente kan ook nie hulle geloof “toets” en bepaal wie is opreg en wie is nie. Daarom gebeur dit ook ongelukkig dat kinders deur die proses gaan sonder dat hulle altyd vir Jesus gekies het nie. Belydenisaflegging handel ook oor die status van die kinders binne die gemeente. Voor belydenisaflegging is hulle dooplidmate. Dit beteken hulle staan tegnies nog onder die verantwoordelikheid van hulle ouers, wat nog hulle doopbelofte deurvoer. By belydenisaflegging word hulle belydende lidmate. Dit beteken dat die gemeente hulle nie meer as kinders reken nie, maar as volwassenes. Hiermee saam gaan ook die kwessie van verantwoordelikheid: die kinders neem verantwoordelikheid vir hulle geloofslewe voor die kansel. Dit impliseer basies dat die ouers se doopbelofte afgehandel is en dat die kinders self verder, as volwassenes, hulle pad met God loop. Die rol van die ouers verdwyn egter nooit nie. Die verantwoordelikheid val nou op die nuwe “volwasse” lidmate.
    Die doel van kategese is om kinders voor te berei om hierdie verantwoordelikheid binne die gemeente ten volle te verstaan en uit te leef.

    1. Ds Attie, Dankie dat jy weer terug is op jou blog. Dit is lekker om dinge op die wyse met jou te kan deel.
      In my dae is ons nog “aangeneem” en dit is waarsklynlik steeds maar die mees korekte beskrywing van die gebeurtenis. Albei my kinders en kleinkinders het lank reeds voor hulle belydenis van geloof afgelê he voor die gemeente, hulle geloof in God Drie Enige bely en selfs uitgeleef voor almal wat wou luister.
      Die gebeurtenis van aflegging van belydenis van geloof is egter ‘n baie mooi en baie bruikbare en baie belangrike “ritueel”, gebruik, gebeurtenis, (noem dit soos jy wil) in enige mens se lewe. Dit is die hoogtepunt van enige dooplidmaat se pad wat hy / sy in die kerk gestap het van geboorte tot en met die gebeurtenis van belydenisaflegging. Daarna moet hulle nou die belofte voor God en die mense gaan uitleef as volwasse lidmate van die kerk van die Here op aarde.
      Baie volwasse lidmate het ‘n begeerte om hulle te laat “oordoop” , maar wat hulle eintlik wil doen is om weer openlik belydenis van geloof af te lê en ek dink meer ruimte moet in die kerk daarvoor gemaak word, eerder as om te argumenteer oor die sin om weer gedoop te word.
      Die gebeure voor die belydenisaflegging is baie beangrik en dat gaan alles oor “verhoudings” en nie oor hoeveel versies jy uit jou kop kan opsê nie of oor teologiese vraagstukke en kerkleerstellings nie. Dit gaan oor die verhoudigs tussen die dominee en die dooplidmate voor dat hulle volwasse lidmate word. Dit gaan oor die verhouding tussen dooplidmate onderling en dit gaan oor die verhouding tussen die dooplidmaat en God.
      Moet tog nie dat die wonderlike gebruik in ons kerk afgewater word tot iets anders as “belydenisaflegging” nie. Dit is geen “toets” nie, maar ‘n openbare erkenning van God Drie Enige as die Enigste en die Almagtige en die Liefdevolle Vader en ons as volwasse lidmate behoort ook meer gereeld ons geloof in die openbaar te bely.
      Dankie, Attie dat jy en ander ons kinders op die weg na volwasse lidamte begely het, soos wat die Here van ons verwag om te doen.

  7. Mag ek vra, wanneer het die aanneming en belydenis van geloof in die kerk ontstaan, en wie was die uitvinder daarvan?
    Ben.

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.

Up ↑