NIE NET VIR HIERDIE LEWE NIE

Ek lees vanoggend 1 Korintiërs 15:19-26. Ons is nog steeds in die week nadat ons die opstanding van Christus gevier het. Dit is so gepas dat ons ook in ons tekste aan die saak aandag gee. Die metode wat ek vanoggend gebruik is die SÊ DIT! metode. Hierdie metode werk gewoonlik met enkel verse met teologiese of leer-inhoud. Ek lees dus die gedeelte op soek na die een vers wat my aanspreek.

Vers 19:

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Volgens die metode plaas ek nou elke keer die klem op ‘n ander woord en dink na oor die betekenis daarvan.

AS… 

In hierdie sin wil “as” vir ons laat verstaan “indien dit die geval is dat”. Met ander woorde indien jy op ‘n bepaalde manier dink of optree, dan gaan daar bepaalde gevolge wees.

… ONS… 

Die “ons” is natuurlik Paulus en die gemeente aan wie hy geskryf en die van ons wat nou 2000 jaar later ook in die opstanding van Jesus glo.

As ons NET… 

By my skep die woord ‘n beperkende indruk.  Ek weet dit gaan in die teks oor die opstanding so dit lyk vir my Paulus wil gelowiges waarsku om nie die impak van die opstanding te minimaliseer nie. Maar, hierdie woord is nie ‘n uitsluiting nie. Met ander woorde, dit sou nie heeltemal verkeerd wees om tog op Christus te hoop vir die dinge van hierdie lewe nie. Die probleem is as ons dit NET vir hierdie lewe doen.

As ons net VIR HIERDIE LEWE… 

Vir my lyk dit asof dit hier gaan oor die lewe wat ons nou lewe. Met ander woorde dat die opstanding van Jesus net vir hierdie lewe waarde en betekenis het.

As ons net vir hierdie lewe ONS HOOP…

Hoop het vir my altyd die betekenis van ‘n vetroue op God dat Hy vir my iets sal doen wat ek nie vir myself kan doen nie en dat Hy sekere dinge sal laat gebeur waaroor ek geen beheer het nie. Hierdie hoop het dikwels te make met die werk van sy koninkryk waarin ek betrokke is, maar in alle eerlikheid moet ek ook sê dat ek dikwels met hierdie hoop na Hom toe kom dat Hy wat in staat was om sy Seun uit die dood te laat opstaan ook hierdie ding sal doen wat ek nie kan nie. Hoe dit ookal sy, dit is hoop vir hierdie lewe.

As ons net vir hierdie lewe ons hoop OP CHRISTUS … 

Hierdie is eintlik ‘n baie vroom mens wat hier geskets word. Hierdie is dalk ‘n mens wat werklik met sy hele hart glo dat hy niks in hierdie lewe sonder God kan doen nie en dat God inderdaad by herhaling ingryp in sy lewe en wondere doen. En daar is nog niks mee verkeerd om God deel te maak van elke aspek van jou lewe nie. Dit is die regte benadering en God wil hê ons moet Hom ontdek waar Hy in ons daaglikse aan die werk is, maar daar is nog meer as dit. Meer as God aan die werk in my alledaagse lewe. Ons beperk God as ons hom net vir die dinge van hierdie lewe vertrou. Maar ons beperk God ook as ons Hom nie vir die dinge van hierdie lewe vertrou nie.

As 0ns net vir hierdie lewe ons hoop op Christus VESTIG …

Ek kry die indruk dat die mens wat Paulus beskryf nie ‘n onseker Christen is nie. Hier is ‘n stukkie vastigheid in sy verhouding met die Here. Hy het sy hoop op Christus gevestig. Daar kan tog sekerlik nie veel fout mee wees nie. Paulus wil ons egter waarsku dat daar dalk tog fout mee is. Want hierdie is nie n beperkende Christus nie, maar ‘n beperkende hoop. Hierdie gelowige het onbeperkte hoop en vertroue in Christus, maar dit is net vir hierdie lewe.

Ek dink vanoggend aan soveel mense wat al in my lewe oor my pad gekom het wat met stukkende hoop lê omdat die verkondigers van die voorspoed-evangelie die indruk gelaat het dat God in hierdie lewe net die beste wil en gaan gee. En dan met daardie “hoop” bid en pleit en smeek en vra en roep ek oor my besigheid en my werk en my gesin en my huwelik en my gesondheid en ag sommer alles. Dan gebeur dit net nie soos ek gedink het nie. En my lewe stort in duie. My verhouding met God verkrummel. Ek verkrummel.

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, IS ONS … 

“Is ons…”, met ander woorde, ons gaan nie in die toekoms dit wees nie, ons is dit nou reeds. Ek word op hierdie oomblik gekonfronteer met die vraag: Waarvoor het ek my hoop in Christus gevestig? In hoe ‘n mate is my hoop net op die dinge van hierdie lewe?

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons DIE BEJAMMERENSWAARDIGSTE VAN ALLE MENSE 

Hierdie is mense van wie mens dikwels in baie opregtheid sê “ag siestog”. Hierdie ding het hulle regtig plat geslaan. Wanneer die dinge waarop hulle gehoop het en waarvoor hulle die opgestane Christus so vertrou het, nie realsieer nie, dan stort alles in duie. Mens kan nie anders as om hulle baie jammer te kry nie.

Die teenoorgestelde is natuurlik die wat die woordjie NET baie ernstig neem. Ek vertrou die opgestane Here Jesus met alles in my lewe en ek bid sonder ophou vir alles en enige iets in my lewe. Maar, diep binne in my hart weet ek dat die eintlike betekenis van die opstanding iets is vir die lewe hierna.

Hierdie mense wat net vir hierdie lewe op Christus vertrou, is nie altyd selfsugtige mense nie. Ek ken mense wat ook vir die daaglikse uitleef van hulle getuienis as volgelinge van Jesus Christus hulle hoop op Hom vestig. Met ander woorde: Ek hoop ook om my roeping as volgeling van Jesus Christus met die opstandingskrag van die Here Jesus uit te leef. Die probleem is dat ook sulke mense dikwels teleurgesteld staan. Mens hoor hulle soms sê: Ek was so oortuig dat dit is wat die Here wou hê dat ek moet doen. Mens hoor ook deesdae teoloë en predikante wat uitsprake maak wat ‘n mens laat wonder: Is daar enigsins in hierdie mense se perpektief op dinge ruimte vir die opstanding van die vlees.

Die probleem is dat as sulke dinge in hierdie lewe nie uitwerk soos sulke mense (en soms ek) gehoop het nie, verpletter dit hulle geloof en hulle hoop. Maar die manier om by die teleurstellings van hierdie lewe verby te leef, is om my hoop ook te vestig op Christus wat die eerste een was om uit die dood op te staan om nooit weer te sterf nie. Ek weet dat ek daarom ook uit die dood sal opstaan om nooit weer te sterf nie. In daardie lewe sal daar nie meer trane of honger of naaktheid of dors of ellende wees nie.

WAT GAAN EK NOU HIEROMTRENT DOEN?

Eerstens gaan ek aanhou om vir hierdie lewe my hoop op Christus te vestig. Ek gaan met waagmoed dinge in gebed vir Hom gee en met waagmoed dinge aanpak wanneer ek daarvan oortuig is dat dit is wat Hy wil hê dat ek moet doen. Maar ek gaan nie vasval by die dinge wat nie uitwerk soos ek dink en hoop nie. Ek gaan daarby verbywerk in die wete dat hierdie lewe nie die laaste sê het nie.

GEBED

Here Jesus, ek dank U dat U die dood oorwin het. Ek dank U dat U opnuut vir my kom wys het dat selfs al bring die bose magte van hierdie wêreld hulle sterkste en hulle beste, sal U steeds oorwin. Ek leef vanuit U belofte dat U by my en elkeen van ons teenwoordig is deur die werking van die Heilige Gees. U ken vanoggend my behoeftes en my nood. U weet van daardie dinge waarvoor ek U vertrou wat net U kan doen. Ek kom pleit dat U dit sal doen. Ek het soveel vertroue in U onpeilbare liefde dat ek met groot gemak kan sê: Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied. Meeste van alles dank ek U vanoggend vir U opstanding en dat ek kan weet dat ek eendag ook uit die dood gaan opstaan om die ewige lewe met U te leef.

Amen

3 Kommentaar

Filed under Pentecost

3 responses to “NIE NET VIR HIERDIE LEWE NIE

  1. Christelle van der Walt

    Goeiedag Ds. Attie, ons was bietjie weg daar in Hoedspruit, Klaserie se wêreld vir Paasfees, plaas Porcupine met ‘n regte, egte klein Kerkie wat nou 10 jaar oud is, sitplek vir net 16 mense. Daar is tot ‘n orrel. Als was vol stof en spinnerakke en die tuintjie was verwaarloos. Terwyl almal fotos geneem het van als het ek sommer net daar op die preekstoel gestaan en gelees uit die Bybel wat oopgeslaan was op Jesaja 42.

    Die les wat ek nou daaruit vir my saamgeneem het was dat ons moet nie ons verhouding met GOD verwaarloos nie.

    Pas nogal by die boodskap wat Ds. vir ons vanoggend hier het. As jy nie jou geloof bou en koester nie vergaan dit en is daar niks oor vir die hier namaals nie.

  2. Christelle van der Walt

    Hi rerig Ds? Ek het gedink julle het al lankal van my vergeet.

    Ons was bietjie weg en ek het al die elektroniese goeters afgesit en ons het in ‘n boskamp gebly en was dit nou weer lekker om leeus in die nag te hoor bril. So baie wild gesien en lekker om die kampvuur gekuier. Ons was Kruger Wildtuin toe vir een dag. Gevoel of ek ‘n maand weg was. “My batterye is nou weer gelaai.”

    Ek het Koffietafel ook gemis, julle weet mos ek is altyd dae agter met als. Spook nou weer om op te vang.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s