Preek: Efesiërs 1:3-14

Die nuwe jaar begin

Springgety

Hierdie is die eerste Sondag van die 2015. ʼn Nuwe jaar laat ʼn mens terugdink aan die jaar wat verby is. ʼn Vrou wat in hierdie jaar haar man in ʼn motorongeluk verloor het, skryf hierdie week so: “Die deur op 2014 is nou toe. Maar dit is al asof ek iets daar vergeet het.” Elke jaar het sy goeie en sy slegte tye. Geen mens is dieselfde mens as wat hy of sy was toe die vorige nuwe jaar begin het nie. Die gebeure in ons lewe en ons reaksie daarop verander ons die hele tyd.

Vandag se teksgedeelte maak ons baie bewus van God se goedheid in ons lewens. Ten spyte van alles wat met ons gebeur, is en bly ons steeds mense met baie voorregte. Al die mooi en goeie dinge in ons lewens is absoluut onverdiende genade. In ons gesin is ons baie dankbaar vir ʼn seun wat ʼn wonderlike pos by ʼn skool gekry het waar hy hom kan uitleef. Ons jongste dogter kry hierdie week haar matriekuitslae. Ons tweede jongste dogter is hierdie jaar finale jaar op universiteit. Sy het ʼn wonderlike werkkring by ʼn skool terwyl sy studeer. Ons oudste dogter het deur al die stakings in Rustenburg elke dag werk toe gegaan en sy het haar werk behou. Ons kon uiteindelik ons huis koop en dit verander soos ons dit graag wil hê. Al hierdie dinge is onverdiende genade. Ons betree 2015 as geseënde mense.

Ons is bevoorreg en geseën en bevoordeel. Die gemiddelde gesin in ons land het nie almal werk nie; kan nie bekostig om hulle kinders universiteit toe te stuur nie; besit nie hulle eie huise nie. Ons leef inderdaad vanuit onverdiende genade. God se seën in ons lewens. Elkeen van ons sou waarskynlik vanoggend op hierdie manier van ʼn ander stukkie onverdiende genade in ons lewens kon praat. En dan dankbaar kon wees vir God wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. (Kyk Ef. 1:3)

Maar, is dit die seëninge waarvan hier in Efesiërs 1 sprake is?

Ek is van oortuiging dat dit nie is nie. Inteendeel ek worstel hiermee. Aan die een kant weet ek dat ek die Here ernstig en intens dankbaar is en dankbaar behoort te wees omdat ons so bevoorreg is met al hierdie wonderlike voorregte en goeie dinge in ons as gesin se lewe. Aan die ander kant worstel ek met die gedagte dat daar kinders van die Here is wat baie meer toegewyd is as ek, maar nie naastenby die voorregte het wat ek het nie.

As hierdie seëninge dan gaan oor hierdie mooi en goeie voorregte in ons lewens, op watter punt kan sekere gelowiges dan begin sê: Hierdie gedeelte geld nie vir my nie. Intussen is hierdie gedeelte krities belangrik vir die kerk.

Kom ek wys net op een interessante waarheid. In hierdie hele gedeelte word daar nie een keer na mense in die enkelvoud verwys nie. Nie een keer “ek” of “my” nie. Maar elke keer “ons” of “julle”. Wat hier geskryf is, is bedoel vir die geloofsgemeenskap in Efese of dan in Waverley of waar die teks vanoggend ook al gelees word.

Hierdie gedeelte is ʼn rykdom van waarhede oor God se plan met die wêreld en hoe God sy plan tot uitvoering bring. Dit gaan nie oor die individu nie. Dit gaan nie oor my en jou persoonlik nie. Hierdie verse moet nie individualisties verstaan word nie. God se plan met die wêreld, dit is waaroor dit gaan. Mens kan nogal op ʼn dwaalspoor beland as jy hierdie gedeelte lees.

ʼn Stroom wat jou meesleur

Die wat bietjie die koerante gelees en selfs by die see was, sou weet dat ons land se kus in Desember ʼn springgety beleef het. Springgety is gevaarlik. Daar is strome op die vreemdste plekke. Indien die een wat gaan swem nie versigtig is nie, kan die strome jou bring waar jy nie wou gewees het nie en waar ander ook nie saam met jou wil wees nie. Hierdie 11 verse in Efesiërs 1 kan met so ʼn springgety vergelyk word. Hierdie 11 verse is vol strome. As jy hierdie 11 verse met ‘n individualistiese bril lees, gaan jy in ʼn stroom beland wat jou meesleur na ʼn vreemde plek. Die uitverkiesing is nog ‘n voorbeeld. Hoor hierdie vers: “So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies…” (Ef. 1:4)

Die uitverkiesing

Die wat al ʼn bietjie oor die uitverkiesing gedink het sal weet dat dit ʼn stroom is wat ʼn mens kan meevoer tot op ʼn plek waar jy op ʼn manier oor God dink wat dreig om jou teen die rotse van die res van die Woord te verpletter. Die manier waarop sommige mense oor die uitverkiesing dink kruisig die soewereine wil van God en maak van God se werk ʼn rekenaarprogram. Die teks gebruik die woord “ uitgekies” hier gebruik word nie. Hier is ook  ʼn hele paar ander woorde. Woorde soos “voorbestem”, “voorgeneem”, “uitverkies”, “sy raad en wil”. Sulke woorde skep nogal die indruk dat God lank terug sekere besluite oor sekere dinge en sekere mense geneem het en dat ongeag wat in hierdie lewe gebeur, God se besluite wat HY lank terug geneem het gaan nou gebeur. Ek hoop jy kry die gedagte dat hier ʼn stroom is wat ons kan meesleur.

Veilig in ʼn springgety

Maar, ons weet ook daar is ʼn manier om selfs in ʼn springgety veilig te wees. Swem binne die vlae wat die lewensredder geplant het. Moenie sommer op enige plek in die see inspring nie. Swem waar die vlae geplant is. Daar is die minste gevaar en daar kan die lewensredders ʼn ogie oor jou en onmiddellik raaksien as jy in gevaar is.

In hierdie teks is daar twee sulke vlae waarbinne ons redelik veilig kan swem.

Maar, voordat ons die vlae plant, kom ons kyk net eers na die strand waar ons gaan swem. As ons die strand ʼn naam gaan gee, kom ons noem die strand: God se plan. Die strand is God se plan. Hierdie teks laat geen twyfel daaroor nie. God is besig met ʼn plan en God is besig om sy plan te werk. Hier is die plan waarmee God besig is. Hierdie is eintlik die strand waarin ons ons hele Christelike lewe lank swem. “Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en by Homself voorgeneem het, om die volheid van tye te bestuur en om alle dinge in Christus onder een Hoof saam te bring – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – ja, alles saam in Hom.” (Ef. 1:9-10)

God se plan is ʼn geheimenis, ʼn misterie. Iets wat ons net nie heeltemal kan begryp nie. God se wil is hierdie dinge wat Hy besig is om te bestuur. Dit beteken dat God seker maak dat die regte ding op die regte tyd gebeur. Die plan wat God besig is om te bestuur is om alles onder een Hoof te bring. Die Een Hoof is Christus. Alles in die hemel en alles op die aarde. Hierdie is die strand waarin ons swem. Ons kan nou besluit om eerder op ons eie strand te swem, soos byvoorbeeld die uitverkiesing, of die seëninge van die Gees, of wat ook  al, of die strand van individuele verlossing en vergifnis, maar dan swem ons op ʼn vreemde strand.

Twee vlae waarbinne ons kan swem

Hierdie strand waarin ons swem is in ʼn groot see met baie strome en gevaarlike rotse. Gelukkig plant hierdie teks plant ook die vlae waarbinne ons moet swem. Die twee vlae word beskryf met die woordjie “sodat”. Die strand is God se plan om alles onder die Heerskappy van Christus te verenig. Die vlae gaan oor waarom God al hierdie ander dinge doen. Waarom het God ons geseën met al die geestelike seëninge in die hemel (1:3); waarom het Hy ons uitgekies (1:4); waarom het hy ons bestem om sy kinders te wees (1:5); waarom het Hy ons deur die bloed van die Seun vrygemaak (1:7); waarom het ons sonde vergewe (1:7); waarom het Hy die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak (1:9); waarom het Hy ons deur die Gees as sy eiendom beseël (1:13). Elkeen van hierdie “waaroms” sou dalk ʼn preek op sy eie kon wees. Maar ek dink al hierdie dinge wat God in sy groot genade vir ons gedoen het, is om ons te laat verstaan watter rol ons in sy plan met die wêreld speel. SY plan om alles onder een Hoof te verenig. Die Hoof is Christus. God het ons met elke geestelik seëning in die hemel geseën, sodat ons kan wees wat Hy bedoel het ons moet wees.

“In Christus” is baie belangrik. Die woorde word 11 keer in hierdie verse gebruik en 34 keer in die hele brief. Ons het deur geloof in Christus met Hom een geword. Alles wat met ons gebeur het, alles wat nou waar is van ons, is omdat ons “in Christus” is. Ons is wat ons in Christus is sodat ons deel kan wees van God se plan met hierdie wêreld. As ons deel wil wees van God se plan met hierdie wêreld, moet ons in God se strand binne twee vlae swem.

Eerste vlag: Heilig en onberispelik in liefde voor Hom

Eerstens: “… sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sal lewe” (Ef. 1:4b) Die tweede vlag wat die teks vir ons plant, is nog ʼn “sodat”. “… sodat ons, die eerstes wat ons hoop op God gevestig het, kan leef tot sy heerlikheid” (Ef 1:12a)

Kyk mooi na vers 4 en 5: “So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef, voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word…” As mens die uitverkiesing verkeerd verstaan, dan kan ek baie maklik begin dink dat God my uitgekies en my voorbestem het om aan Hom te behoort omdat ek so oulik is. God het my potensiaal raak gesien en Hy het gesien dat ek Hom dalk nie so ʼn slegte mens sal wees soos die prostituut, of die dwelmverslaafde, of die homoseksueel, of die dief, of die moordenaar, of die wellustige, of wat ook al nie. God het my uitgekies omdat ek beter sou wees en dan ook beter is as die volgende persoon. Dan word die uitverkiesing die seepkissie waarop ek kan staan om my evangelie van oordeel aan ander te verkondig.

Want die volgende stroom wat ons meesleur is ʼn stroom van valse gerustheid. Nou word die feit dat God my uitgekies het die versekering dat ek nie daaraan hoef te twyfel dat ek eendag wanneer ek doodgaan hemel toe sal gaan nie. Maak nie saak hoe my lewe lyk nie. Ek is uitgekies en ek wag nou maar tot ek doodgaan of tot Jesus kom, watter een ook al eerste is, en dan is alles reg. Want kyk in hierdie gedeelte. Ons sonde is vergewe en ons is verlos. God se plan was om my uit te kies, my sonde te vergewe en my te verlos sodat ek eendag hemel toe kan gaan. As ʼn bonus seën Hy my nog met al hierdie wonderlike dinge in my lewe.

Aangeneem

Hier is ʼn metafoor waarmee hierdie uitgekies of uitverkies beskryf word. Die metafoor is aanneming. God het ons “… voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word.” (Ef. 1:5a)

Wie oor aanneming vanuit ʼn posisie van hoogmoed dink en redeneer, verstaan nie die proses van aanneming nie. Baie jare terug het ʼn ma my genader. Haar dogter wat die volgende jaar in matriek sou wees, was swanger. In daardie tyd – 32 jaar gelede –  was dit ʼn baie groot “issue”. Hulle as ouers, en die dogter, wou graag dat sy matriek klaar maak. Ek het gehelp dat die jong mamma in ʼn huis kom waar swanger tiener meisies gehelp word en indien nodig selfs nog steeds kan skoolgaan. Ek het kontak gehou en die tyd van swangerskap saam met haar gestap.

Die huis het nie voorskrifte gehad oor wat sulke tiener-mammas met hulle babatjies moes doen nie. Hulle het die tiener-mammas gehelp om die besluit te neem wat die beste vir haar en vir haar babatjie sou wees. In haar tyd in die huis het sy besluit om die babatjie te laat aanneem.

In die huis was daar ook maatskaplike werkers wat die proses van aanneming bestuur het. Hulle het baie moeite gedoen en sulke ouerpare en ongebore babatjies se agtergronde by mekaar te laat aansluit. Toe die jong meisie besluit om haar babatjie te laat aanneem, is die paartjie in kennis gestel. Die voornemende ouers het niks geweet nie. Al wat hulle geweet het, was dat iewers in die Skiereiland, sou daar ʼn babatjie gebore word. Wie ooit in so ʼn situasie was sal weet: Op daardie oomblik wat hulle die nuus gekry het, het opgewondenheid omgesit in liefde. Soos ʼn ouerpaar hulle ongebore babatjie liefkry, so kry sulke ouers die babatjie lief waarop hulle wag. Die aanneem-ouers is op hoogte gehou met die vordering van die swangerskap. Die aand toe die mamma hospitaal toe is in is om geboorte te gee, is hulle in kennis gestel. Hulle is ook hospitaal toe. Daar in die hospitaal is die pasgebore babatjie in haar aanneem-mamma se arms geplaas. Dit was vir almal duidelik dat hierdie babatjie baie liefde sou ontvang. Niks minder as wat sy sou gekry het indien sy in haar geboorte-mamma se huis groot geword het nie.

Nou is my vraag vanoggend: Wat dink julle het daardie babatjie gedoen dat daardie wonderlike mamma en pappa haar aangeneem het? Die antwoord is duidelik, niks absoluut niks. Daardie babatjie kon maar net dag vir dag en jaar in en jaar uit sê: Dankie dat julle my liefhet. Dankie dat julle my gekies het.

As ek en jy dus deur God uitgekies is om as sy kind aangeneem te word, dan wil ek vanoggend vir jou sê: Jy het niks gedoen om dit te verdien nie. Indien dit op jou van toepassing is: Klim van jou seepkissie af. Daar is niks in my of jou wat maak dat ons beter is as enige iemand anders nie. God het my lief omdat Hy my gekies het. God het my gekies omdat Hy my liefhet. Ek en jy moet baie versigtig wees om nie soos die Fariseër voor in die kerk te kom staan en te sê: “Ek dank U hemelse Vader dat ek nie is soos daardie mense wat U nie uitgekies het nie.” Die meeste wat ons kan sê is: “Dankie dat U my gekies het. Ek verstaan dat dit onverdiende genade uit U Vaderhart is.”

Kyk vanoggend rondom jou in die kerk. Sien mense wat deur God gekies is omdat Hy hulle liefhet. Mense vir wie God lief is omdat Hy hulle gekies het. Kyk rondom jou in die wêreld. Sien ander gelowiges, dalk gelowiges wat radikaal van jou verskil en anders is as jy. Deur God se aanneming is hulle jou broers en jou susters. Anders as jy, maar God het hulle ook lief omdat Hy hulle gekies het en God het hulle ook gekies omdat Hy hulle liefhet.

Maar God het gekies met ʼn doel. God se doel was om ons deel te maak van die groot plan waarmee Hy besig is. Die groot plan om alles in die hemel en op die aarde onder een Hof te verenig, naamlik Christus. Die manier waarop ek deel word van God se groot plan is om heilig en onberispelik in liefde voor Hom te leef. Uitverkiesing en ʼn heilige lewenswandel moet altyd saam gesê word.

Goedkoop genade

Dietrich Bonhoeffer was ʼn predikant in die Lutherse kerk in Duitsland in die tyd van die tweede wêreldoorlog. Hy was ʼn uitgesproke teenstander van Hitler en die Nazi’s. Sy skerpste kritiek was egter teen die Lutherse kerk wat in effek toegekyk het hoe Hitler en sy manne al daardie wreedaardige dade pleeg. Bonhoeffer is daarvan beskuldig dat hy saamgesweer het om Hitler te vermoor en is op 9 April 1945 tereggestel. Hy het die kerk daarvan beskuldig dat hulle goedkoop genade verkondig.

Goedkoop genade is genade wat die ontvanger niks kos nie. Die veronderstelling is dat Jesus deur sy dood vooruit reeds vir alles betaal het. Omdat Jesus klaar betaal het, kan ek die voordele van genade ontvang sonder dat dit my enigsins iets kos. Goedkoop genade het tot gevolg dat die Christen in hierdie wêreld kan leef sonder om eers daaraan te dink om anders as die wêreld te wees. Jy kan ʼn Christen wees sonder om enigsins te verander. Jy kan ʼn Christen wees sonder om ʼn volgeling van Jesus Christus te wees.

Wie die uitverkiesing verstaan as dat God my onherroeplik gekies het om syne te wees deur die verlossingswerk van Jesus Christus waardeur my sonde vergewe is, verkondig goedkoop genade. God het my gekies en toe Hy my gekies het, het Hy ‘n plan gehad. God het my uitgekies om heilig en onberispelik in liefde voor Hom te lewe. God het ons uitgekies om deur ons lewens en deur ons leefstyl deel te word van sy plan. In hierdie see op hierdie strand te swem: Die strand van sy groot plan om alles onder een Hoof, dit is Christus, te verenig.

Jy moet verstaan dat God jou gekies en dat jy Hom nie gekies het nie. Jy moet verstaan dat God jou gekies en daarom het Hy jou lief. Verstaan ook dat Hy jou liefhet en daarom het Hy jou gekies. Maar swem binne die vlag wat die teks plant: Hy het jou gekies om deur jou heilige en onberispelike lewe in liefde deel te wees van sy groot plan.

Tweede vlag: Tot lof van sy heerlikheid

Maar die teks het ʼn tweede vlag geplant. “… sodat ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gevestig het, kan leef tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1:12) God het ons uitgekies sodat ons deur ons lewens sy lof kan verkondig. God het my uitgekies om deel te wees van sy groot plan. God het ʼn baie duidelike plan met ons lewens. Ons lewens moet Hom verheerlik. Die bedoeling van die frase is dat die koninklike majesteit van God geprys word. My hele lewe moet ʼn lewe van aanbidding wees. My hele lewe moet ʼn lied wees wat tot eer van God gesing word.

Onthou altyd: Ons lewens is nie vir mense om te sien nie. Ons lewens is nie bedoel om die applous van die skare te ontlok nie. Ons lewens is nie sodat mense ons op die skouer kan klop en kan sê: Mooi so! nie. Ons lewens is gerig op een gehoor en op ʼn gehoor van Een. “The Audience of One.”

Hierdie is die strand waar ons veilig kan swem. Die strand van God se groot plan. God se groot plan is om alles onder een Hoof te verenig naamlik onder Christus. Terwyl God hierdie plan van Hom uitvoer, doen Hy baie dinge. Hy seën ons met elke geestelike seëning in die hemel. (1:3) Hy kies ons om as sy kinders aangeneem te word. (1:5) Hy skenk sy genade vryelik aan ons. (1:6) Hy vergewe ons sonde uit die rykdom van sy genade (1:7). Hy skenk aan ons wysheid en insig om sy plan te verstaan (1:8) Hy verseël ons as sy eiendom deur die werk van die Heilige Gees (1:13)  en Hy gee vir ons die Heilige Gees as waarborg van alles wat ons nog gaan ontvang (1:14). God doen al die dinge terwyl Hy sy groot plan uitvoer. Hy doen al hierdie dinge, omdat Hy ons wil deel maak van sy groot plan. Die manier waarop ons deel word van sy plan is om heilig, onberispelik in liefde voor Hom te lewe en ʼn lewe van aanbidding te lewe.

Kersfees is verby. Dit is nou die tyd na Kersfees. Nou begin die werk van Kersfees. Hierdie gedig sê dit so mooi:

When the song of the angels is stilled,

When the star in the sky has gone,

When the kings and princes are home,

When the shepherds are back with thier flock,

The work of Christmas begins:

To find the lost,

To heal the broken,

To feed the hungry,

To release the prisoner,

To rebuild the nations,

To bring peace among brothers,

To make music in the heart. (Howard Thurman)

God se plan is dat ons deur ons dissipelskap deel sal word van die werk van Kersfees. Die enigste manier is om heilig en onberispelik in liefde te lewe. Wanneer ons as volgelinge van Jesus deel word van die werk van Kersfees, dan hoef ons nie te wonder of ons lewens ʼn lewe van aanbidding is nie. Dit sal wees.

2 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

2 responses to “Preek: Efesiërs 1:3-14

  1. Ek kan sien ek gaan weer hier inloer vir Pitkos. Hallo Attie – ek’s nuut op WordPress en strompel maar nog.

  2. Francois van Zyl

    Wonders en seën. Insiggewende boodskap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s