Preek: Matteus 13:24-30, 36-43

Daar sing Steve Hofmeyer vir hom ‘n storm los toe hy by die Oppikoppifees en in Australië die stem sing. Volgens hom ‘n stukkie protes teen dit wat tans in die land aan die gebeur is en spesifiek dit wat besig is om met die Afrikaansprekende mense gebeur. Desmond Tutu het op sy beurt mense baie ongemaklik gehad met sy opmerking dat hy persoonlik ‘n ondersteuner van genadedood is. Dan is daar ook nog die oorlog tussen Israel en Palestina waar mense teenoor mekaar te staan kom. Ander warm onderwerpe is natuurlik ontgroenings- of inlywing- of verwelkoming – of oriëenteringsstradisies en kultuur by verskillende Universiteite. Homoseksualiteit, saamwoon voor dioe huwelik, kerkeenheid, die Belhar belydenis.

Die briewekolomme van die koerante is aan die gons oor hierdie dinge en die sosiale media is nie vir een oomblik stil nie.

Die bietjie wat ek hieroor gelees het, laat my besef: Ons wil graag in ‘n swart en wit wêreld leef.  Ons wil graag in ‘n wêreld leef waar ons kan sê: Steve is reg en die wat van hom verskil is verkeerd. Desmond Tutu probeer om God te speel, hy is verkeerd en die wat van hom verskil is reg. Israel is die uitverkore volk. As Christene het ons ‘n geestelike en ‘n emosionele band met die Land Israel en in ‘n sekere sin ook met sy mense. Ontgroening berei mens voor vir die lewe. Moenie inmeng met kultuur en tradisies nie. Hoe maak ons hierdie argumente werk in ‘n wit en swart wêreld waar ‘n ding net reg of verkeerd kan wees?

In al hierdie gesprekke is daar Christene, kinders van die Here, aan albei kante van die argumente. Daar is Christene wat sê Steve sê wat in ons harte leef. Daar is Christene wat sê:Steve praat nie namens my nie. Daar is Chirstene wat sê Desmond Tutu se opmerking maak sin. Daar is selfs Christene wat sê: As ek ooit in die situasie beland dat masjiene my aan die lewe moet hou, skakel die masjiene af. Daar is Christene wat sê Desmond Tutu probeer God speel. Daar is Christene wat sê: Israel het die reg om te doen wat hulle doen. Daar is Christene wat sê: Israel is besig met ‘n misdaad teen die mensdom. Daar is Christene wat sê: Ontgroening vorm ‘n mens. Daar is Christene wat sê: Ontgreening grens aan liefdeloosheid.

Hoe leef ons met hierdie dinge saam in ‘n wêreld waar dinge wit of swart, reg of verkeerd, goed of sleg moet wees? Is dinge regtig so wit of swart in God se koninkryk?

Ek dink hierdie gelykenis wat Jesus vertel het, kan dalk vir ons ‘n aanduiding gee van hoe ons in hierdie situasie moet optree en moet dink.

Die koninkryk van God is soos…

Kom ons begin by Jesus se bedoeling met hierdie gelykenis. “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op land gesaai het.” (13:24) Met hierdie gelykenis wil Jesus sy hoorders destyds en ons as lesers vandag laat verstaan hoe God se koninkryk werk. Jesus gebruik die bekende, boerdery, om die onbekende, die koninkryk, te verduidelik. Jesus se hoorders het geweet van boere en saailande en saad en slawe en onkruid en oestyd. Jesus sluit aan by hulle leefwêreld om die koninkryk te verduidelik.

Die dissipels, en waarskynlik die ander mense ook, het nie dadelik Jesus se gelykenis verstaan nie. Wanneer Jesus en sy dissipels weer alleen is, dan vra sy dissipels: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid en die land.” (13:36)

Jesus se verduideliking bring duidelikheid oor ‘n paar dinge:

Die een wat die goeie saad saai is die Seun van die Mens, Jesus self.

Die saailand is die wêreld.

Die goeie saad is die mense van die koninkryk.

Die onkruid is die aanhangers van die Bose.

Die een wat die onkruid saai is die duiwel.

Die oes is die voleinding van die wêreld.

Die wat oes is die engele.

Die Saailand

Jesus se verduideliking help sonder twyfel. Maar, ons weet en verstaan nog nie alles nie. Ons kan nog ‘n paar gevolgtrekkings maak. Een van die eerste gevolgtrekkings dink ek het juis te make met die koninkryk. In Jesus breek die nuwe bedeling van God se koninkryk aan. (Matteus 4:17) Die koninkryk van God kom in hierdie wêreld. Volgens hierdie verhaal kan die wêreld waarin God se koninkryk kom met ‘n saailand vergelyk word.

Ons moenie hierdie gelykenis verwar met die gelykenis van die saaier nie. In die gelykenis van die saaier saai die boer sy saad op verskillende tipes grond. In hierdie geval is dit ‘n saailand. Die goeie saad word gesaai op ‘n stuk grond wat spesifiek vir hierdie doel voorberei is. Goeie saad word op goeie grond gesaai. Wanneer die slawe later die onkruid ontdek, vra hulle nie oor die grond nie. Hulle vra oor die saad. Hulle vra nie of die grond sleg was nie. Hulle vra of die saad dan nie goeie saad was nie.

God se koninkryk kom in die wêreld wat Hy vir Homself geskep het. Toe Hy dit geskep het, was dit goed. (Genesis 1-2)

Maar hierdie koninkryk is alles behalwe ‘n statiese en rustige plekkie. Die koninkryk is nie een of ander bestemming nie. Die koninkryk van God is nie soos die lughawe waar jy jou kaartjie en jou paspoort wys en deur die doeane gaan en dan net wag om op die vliegtuig te klim om hierdie wêreld te verlaat nie.

Die koninkryk wat in Jesus tot by ons gekom het, is nie ‘n plek waar ‘n mens met jou voete omhoog sit en wag dat die einde moet kom nie. Die koninkryk van God is ‘n plek waar saailande voorberei word, saad gesaai word, oes versorg word en oes ingesamel word. In die koninkryk word daar gewerk.

 

Die boer

Ons weet na aanleiding van Jesus se eie verduideliking dat Hy self die boer is. Uit die verhaal wat Jesus vertel kan ons nog ‘n paar afleidings maak. Eerstens is hierdie nie ‘n bestaansboer nie. Hierdie is nie ‘n boer wat net boer om hom en sy gesin en dalk ‘n paar ander mense aan die lewe te hou nie. Hierdie is ‘n groot boer. Hierdie boer het slawe wat vir hom werk. Bestaansboere is boere wat maar net hulleself en hulle gesinne of families het wat op die lande werk.

‘n Ryk boer soos hierdie werk tog sekerlik nie self op die land nie. Hy het slawe. Hulle werk op die landerye. Die boer hou toesig. In hierdie verhaal is dit die eienaar self wat die saaiwerk doen. In sy verduideliking maak Jesus dit ook duidelik. Hy sê: “Hy wat die goeie saad saai is die Seun van die mens.” (13:37) Die Seun van die mens is self in sy koninkryk aan die werk.

Jesus kom vestig God se koninkryk op aarde. Die wat deel word van die koninkryk betree nie ‘n ruskamp of ‘n wagkamp nie. Die koninkryk is ‘n plek waar daar gewerk word. Die Koning van hierdie koninkryk is self aan die werk. Ek dink aan Jesus se laaste belofte aan sy dissipels. Nadat Hy hulle uitgestuur het om in die koninkryk te gaan werk, maak Hy hierdie belofte: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (28:20) As ons die taal van die gelykenis moet gebruik, dan sê Jesus vir die dissipels dat Hy by hulle gaan bly tot en met die oestyd. Ek stuur julle om te werk. Maar ek self werk ook.

Jesus is met ander woorde nie weg hemel toe en nou is ons, die kerk, op ons eie nie. Hy sit nie aan die regterhand van die Vader en hoop maar vir die beste nie. Hierdie wêreld is God se saailand. Dit is Hy self wat saai. God is steeds in hierdie wêreld aan die werk.

Die man in hierdie gelykenis het goeie saad gesaai. (13:24) Die goeie saad is die mense van die koninkryk. (13:38) Vanselfsprekend dan dat as die goeie saad die mense van die koninkryk is, dan is die koring ook die mense van die koninkryk. Saad wat besig is om te groei. Die man saai goeie saad.

Die vyand

Maar op hierdie saailand is dit nie die boer wat aan die werk is nie. Die vyand is ook aan die werk. (13:25) Volgens Jesus is hierdie vyand die duiwel. (13:39) Ons verstaan dit. Die duiwel is los in hierdie wêreld. Daaroor hoef ons nie te debateer nie. Die vyand saai onkruid. Hy saai onkruid op die goed voorbereide saailand. Hy saai onkruid op ‘n stuk grond wat skoon gemaak is sodat daar nie enige tekens van onkruid is nie. Die vyand saai sy onkruid tussen die koring. As gevolg van die vyand is daar onkruid waar daar eintlik net goeie koring moes wees.

So is die koninkryk.

Die onkruid word sigbaar

Op ‘n dag kom die slawe van die boer na hom toe. (13:27) Mens wonder oor die slawe. Jesus help ons nie. Hy sê nie wie die slawe is nie. Slawe is natuurlik die boer se helpers. Ek dink ons kan op grond van die res van die Nuwe Testament sê dat Christene gelyk slawe en koring kan wees. Hoor hoe stel Paulus dit in 1 Korintiërs 3:9: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.” Ek en jy is gelyk koring en slawe. Ons groei en ons werk. So al groeiend werk ons. Al werkend groei ons.

Die slawe kom een oggend by die boer. Hulle verstaan nie. Hulle weet die boer het goeie saad gesaai. Maar nou sien hulle daar is ook onkruid. “Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword.” (13:26) Met ander woorde, hierdie koring en die onkruid het die hele tyd saam gegroei. Niemand het gedink daar is onkruid tussen die koring nie. Maar, toe die koring in die aar begin kom, toe sien hulle die verskil. Die aar is die vrug van die koring. Onkruid dra nie koring as vrug nie. Onkruid se vrug lyk anders as koring se vrug.

Tot op daardie stadium het die koring en die onkruid dieselfde gelyk. Sommige mense sê dat hierdie spesifieke onkruid soos koring lyk – dus vals koring is. In hierdie omstandighede het die slawe ‘n bepaalde verantwoordelikheid. Verwyder die onkruid tussen die koring. Nou dat die koring in die aar begin kom kan ons sien wat is koring en wat is onkruid. Kom ons trek die onkruid uit.

Hierdie verhaal gee vir ons eintlik ‘n goeie beeld van hoe die koninkryk van God kom. Die koninkryk van God kom terwyl koring en onkruid langs mekaar en teen mekaar groei. Die koninkryk van God kom terwyl mense van die koninkryk en aanhangers van die bose daagliks met mekaar skouer skuur.

Los die onkruid

Daar het reeds een ongewone ding gebeur. Die boer van hierdie saailand laat nie sy slawe saai nie. Hy saai self sy goeie saad. Hier is ‘n tweede ongewone ding wat gebeur. Die boer gee opdrag dat die onkruid nie nou bymekaar gemaak moet word nie.

Enige tuinier gaan vir jou sê, dit is nie ‘n goeie plan nie. Onkruid en goeie plante is met mekaar in ‘n stryd gewikkel. Hule is in ‘n stryd gewikkel vir die voedingstowwe, water, sonskyn, ens. En vir een of ander rede slaag die onkruid mos gewoonlik daarin om die water en die voedingstowwe makliker en beter by te kom. Die regte ding sou wees om die onkruid uit te trek.

Maar, dit is so al asof die onkruid weet dat hulle dalk uitgetrek gaan word. Hulle maak seker dat hulle sterk wortels vervleg is met die swakker wortels van die plant of die koring. Iemand sê vir my daar is ‘n onfeilbare resep om te weet of ‘n plantjie onkruid is. Trek aan hom. As hy maklik uitkom is dit nie onkruid nie.

God se koninkryk is anders

In God se koninkryk werk dinge anders. Dit is juis die rede hoekom God sy eie Seun moes stuur om sy koninkryk op aarde te vestig. Die reëls van die koninkryk is anders as die reëls wat ons ken. Die mense van die koninkryk leef volgens ‘n ander stel reëls. In God se koninkryk geld ander reëls en beginsels as wat ons gewoond is.

Mens sou kon sê hier is twee koninkryke. Die koninkryk van die koring en die koninkryk van die onkruid. Maar hierdie twee koninkryke is nie so duidelik onderskeibaar as wat ons graag sou wou hê nie.

Moenie ‘n fout maak nie, ons dink dit is maklik. Ons dink ook soos die slawe. Dit is duidelik dat hier onkruid is. Ons weet hoe lyk die onkruid. Ons kan dit uittrek.

Wanneer ek en jy na ‘n fliek kyk, dan sien ons gewoonlik, indien nie altyd nie, onsself in die held of heldin van die verhaal. Wanneer ons na Jesus se gelykenisse of die verhale van sy lewe kyk, is dit dieselfde. In die gelykenis van die verlore seun gee ons nie om om die verlore seun te wees nie. Die verlore seun word deur God terugverwelkom. In die verhaal van die vrou wat in owerspelbetrap is, identifiseer ons met die vrou. Sy word deur Jesus vergewe. Vir geen oomblik sal ons dink dat ons dalk die oudste seun in die verhaal is nie. Ons sal dit nie eens waag om te dink dat ons dalk die rol van die pa in daardie verhaal kan speel wat die verlore seuns en dogters terug verwelkom nie. Ons sal ook nooit sover gaan om te dink dat dit ons is wat die owerspelige vrou met klippe in ons hande voor Jesus kom neergooi nie. Ons sal dit ook nie waag om te dink dat ons dalk die een kan wees wat intree en keer dat sy gestenig word nie. As ons die Bybel lees sien onsself in die rol van die begenadigdes. Dalk juis omdat daar in God se koninkryk ander reëls en beginsels geld as wat ons gewoond is.

In hierdie gelykenis is dit nie anders nie. Ons eerste reaksie is: Ek is die koring. Ek is die goeie saad. Ek is die goeie saad wat deur die Seun van die mens gesaai is. Kyk na my, kyk hoe kom ek in die aar. Kyk hoe dra ek die vrug van die goeie saad wat ek is. Dalk sal ons nog van tyd tot tyd erken dat ons nie volmaak is nie. Ons maak almal mos maar foute. Maar, die Here ken my hart. Die Here verstaan my bedoeling.

Maar, ons kyk nie op dieselfde manier na ander mense nie. Ons sien in ander mense dieselfde foute wat ons maak, maar ons weet op een of ander manier onmiddelik wat hulle motiewe was en hoe hulle harte werk en wat hulle gedink het. En op grond van dit wat ons sien en hoe ons oor hulle motiewe en denke oordeel, besluit ons: Julle is onkruid.

Vir ander mense geld ander reëls en ander beginsels as vir onsself.

Ek en jy is nie skoon bladsye nie

Ons maak die fout om te dink ons is ‘n skoon bladsy. Deur die bloed van Jesus is ek skoon gewas. Hierdie bladsy is skoon. En God het deur sy Gees en deur sy Woord op hierdie skoongewasde bladsy kom skryf en op hierdie bladsy is net God se wil en God se Woord en God se Gees. Intussen is dit nie waar nie. Omdat ek hierdie skoon bladsy is, is ek die ideale persoon om die onkruid uit te trek. Ek is hierdie skoon bladsy wat mense kan reghelp en regsien.

Ons is in ons harte so dankbaar dat hierdie verhaal van die koninkryk voorsiening maak vir die voleinding. Ons is dankbaar vir die brandende oond. Hierdie mense wat ander mense laat struikel en ander mense in sonde laat val en hierdie mense wat die wet van God oortree, hulle verdien die brandende oond.

Elkeen van ons is ‘n bladsy. Maar niemand is ‘n skoon bladsy nie. Maar nie een van ons kan sê dat dinge wat met ons gebeur het en dinge wat ons beleef het en hoe mense ons hanteer het, het geen invloed op wat op hierdie bladsy staan nie. Ons dink ons is die ideale persoon om die onkruid uit die samelewing te verwyder.

So kyk ons na die Steve situasie en ons glo ons is in ‘n posisie om nou te besluit. ‘n Christen, ‘n mens van die koninkryk, koring volgens hierdie gelykenis, kan nie anders as om met Steve saam te stem en kan nie anders as om soos hy en baie ander oor die lot van die Afrikaanse mense in Suid Afrika te dink nie. Wie anders as Steve dink, is onkruid. Kom ons trek hulle uit.

Wat van Desmond Tutu en sy uitspraak oor genadedood. Theuns Botha van die Christen Demokratiese Party het klaar besluit Desmond Tutu is ‘n kind van die duiwel. En almal wat met Desmond Tutu saamstem is aanhangers van die Bose, onkruid. Hulle moet uitgetrek word.

Israel en Palestina kan ook opgelos word. ‘n Christen kan nie anders as om aan Israel se kant te wees nie. Wie aan Palestina se kant is, is aan die kant van terroriste. Terroriste wat die regering van Israel omver wil werp. Onkruid. Kom ons trek hulle uit. Kom ons berei hulle voor vir brandoond.

Intussen is daar mense van die koninkryk, koring, goeie saad wat deur die Seun van die mens, Jesus self, op hierdie saailand, die wêreld, gesaai is wat aan die ander kant van elkeen van hierdie redenasie staan.

Steve se sing van die stem dra nie by tot nasiebou nie, maak dit nie makliker vir Afrikaanse mense in hierdie moeilike land waarin ons lewe nie. Hoe kan ‘n Christen anders daaroor dink?

Desmond Tutu het dalk ‘n punt beet. Mense se menswaardigheid word soms ernstig aangetas deur masjiene wat hulle aan die lewe hou. Hoe kan ‘n Christen anders daaroor dink?

Palestina het meer Christene as Israel. Ons behoort aan die kant van Christene te wees. Israel huiwer nie om onskuldige mense met hulle bomme dood te maak nie. Hoe kan ‘n Christen Israel se optrede goedpraat?

So kan ons praat oor ontgroening by Universiteistkoshuise. Ons kan praat oor die gaping tussen ryk en arm. Ons kan ons menings lig oor die verskil in salarisse van die laags-besoldigde mense en die hoogs-besoldigde mense in ons land. Ons kan praat oor stakings en mense se reg tot stakings. Ons kan so praat oor homoseksualiteit en oor kerkeenheid en oor die Belharbelydenis.

Ons dink ons kan hierdie beoordeling doen. Want ek is goeie saad, ek is koring wat besig is om in die aar te kom, ek is ‘n mens van die koninkryk. Ek is hierdie skoon bladsy waarop God deur sy Woord en deur sy Gees geskryf het. Ek weet en ek verstaan. Ek ken onkruid as ek onkruid sien.

As Christene sê ons so maklik: Trek daardie onkruid uit. Daardie mens is onkruid, aanhanger van die Bose. Daardie mens verdien die brandende oond waarvan Jesus in hierdie gedeelte praat.

Hoe dink jy voel die Christengesin wat gisteraand soveel as veertien mense in ‘n 4 meter by 4 meter geboutjie geslaap het terwyl ek en jy heerlik in ‘n slaapkamer geslaap het wat groter is as die meerderheid mense in Suid Afrika se huise? Hoe dink jy voel Christenmense wat in hierdie hele week nie soveel kos gesien het as wat ek en jy vanmiddag by die Sondagmaal gaan eet nie? Hoe dink jy voel daardie Christenarbeider wat in ‘n jaar nie soveel gaan verdien as wat ek jy in ‘n maand verdien nie?

As dit die koring en die slawe se werk was om onkruid bymekaar te maak, hoe sou die situasie gelyk het. As die slawe van die koninkryk sou probeer om die onkruid uit te trek, sou die skade aan die koninkryk onmeetbaar wees.

Beteken dit ek as Christen mag nie ‘n mening hieroor hê nie. Natuurlik nie. Jy mag en behoort  ‘n mening hieroor te hê. Maar as jou mening daartoe lei dat ander mense as onkruid gebrandmerk word en as die manier waarop jy jou mening uitspreek daartoe lei dat God se Naam en God se eer aangetas word, dan het ek en jy die grens oorgesteek. Dan gaan daar mense wees wat na my en jou wys en sê: Hoe kan so ‘n persoon koring wees? Verseker moet hy/sy onkruid wees.

Jesus sê: In God se koninkryk werk dit anders. In God se koninkryk groei koring en onkruid saam. In God se koninkryk is dit nie die werk van die slawe of van die koring om die onkruid uit te trek nie en bymekaar te maak vir brandoond nie. In God se koninkryk is dit God se werk. God en sy engele sal aan die einde van die tyd daaroor besluit.

Want eerstens moet ons erken, alhoewel ons so graag wil glo dat ons hierdie goeie saad en hierdie wonderlike koring is, het die wortels van die onkruid ook maar in elkeen van ons se lewens vastrapplek gekry. Kyk maar na jou emosie toe ek netnou die opmerking oor hierdie uiters omstrede sake gemaak het. Het ons meer bewyse nodig dat die wortels van die onkruid ook maar dwarsdeur ons harte loop? Hierdie skeiding tussen koring en onkruid loop nie net regdeur die koninkryk nie, dit loop ook reg deur ons harte.

‘n Koninkryk van hoop

In God se koninkryk kan die ondenkbare gebeur. Onkruid kan koring word. In God se koninkryk kan die wortels van onkruid wat ook dreig om my hart en lewe te verstrengel deur die werking van God se genade en God se Gees oor tyd sterf. Juis daarvoor het die Seun van die mens gekom. In God se koninkryk is die bloed van Jesus Christus die wonderlikste onkruiddoder denkbaar. Juis daarvoor is die Seun van die mens steeds in sy skepping aan die werk.

Hierdie is die boodskap van die gelykenis. God se koninkryk kan met ‘n saailand vergelyk word. God saai goeie saad op hierdie saailand. God werk in sy saailand. Die vyand werk ook. Die vyand saai onkruid. Maar God se koninkryk is ‘n koninkryk van hoop. ‘n Koninkryk van hoop wat sê: Hou goeie moed, Ek het die bose reeds oorwin. Hou goeie moed, in Christus is julle meer as oorwinnars deur Hom wat julle eerste liefgehad het. Hou goeie moed, die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk waar hy sy onkruid kan saai. Maar, wie in My bly en ek in Hom, daardie persoon sal groei en vrugdra.

Hierdie gelykenis wil vir ons sê: Jy is goeie saad. Groei. Los die bymekaarmaak van die onkruid in God se hande. Onkruid is God se werk. Hy en sy engele sal sorg. Intussen, as jy dink dit is nodig, sê jou sê oor Steve en Desmond Tutu en Israel en Palestina en ontgroening en homoseksualiteit en Belhar en kerkeenheid. Maar, pasop om in jou uitsprake enigsins ‘n aanduiding te gee dat jy dink dat die wat van jou verskil onkruid is.

4 Kommentaar

Filed under Preke

4 responses to “Preek: Matteus 13:24-30, 36-43

  1. Derick Saaiman

    Broer Attie,

    Baie dankie vir hierdie boodskap.Dit is inderdaad rigting gewend.

    Derick Saaiman.

  2. skymunki

    amazing!

  3. Ds Attie

    Die kwetsende aanvalle wat Christine teen mekaar loots in die media en ook in die kerk spreek beslis nie van liefde en respek nie.
    Jesus het egter vir die vrou wat op owerspel betrap is gesê om nie meer te sondig nie. Paulus moes vir Petrus teregwys omdat hy nie meer saam met die onbesnedenes wou eet nie.
    Ons het wel ook ‘n plig om mekaar te ondersteun en tereg te wys. Ongelukkig word dit al te dikwels met ‘n “jy is onkruid en ek is koring” gesintheid gedoen en dan gaan die geleentheid vir saamgroei verlore.

    As ek moes sê wat ek dink van Steve en Tutu dan sal dit wees dat hulle menings my koud laat…… Miskien geniet mense dit om iets nuuts te hê om oor te stry? Ek wonder…

    Groetnis
    Gerrit

    • Gerrit

      Gerrit, jy is heeltemal reg. Die manier waarop Christene mekaar en ander mense wat van hulle verskil, in die openbare media slegsê bevorder nie sinvolle gesprek nie. Dit is dalk juis die rede waarom so baie Christene liewers nie sê wat hulle dink en voel nie. As ons na mekaar kon luister op ‘n manier wat sê: Ek aanvaar dat jy ook ‘n legitieme mening het en dat jy my dalk kan help, sou die wêreld ‘n beter plek gewees het.

      Ons hoef natuurlik nie ‘n mening oor alles te hê nie…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s