WAARVANDAAN SAL MY HULP KOM?

“Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.

Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.

Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm.

Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

(Psalm 121)

‘n Besondere mooi Psalm. Sê nou ons hou Bybelstudie hieroor en ons vra: Wie is God na aanleiding van hierdie Psalm?, sal daar die mooiste antwoord na vore kom: God is die Een van wie my hulp kom; God is die Een wat hemel en aarde gemaak het en daarom is Hy in staat om vir my ‘n hulp te wees;  God is die Een wat keer dat ek struikel; God is die Een wat nooit aan die slaap gevang word nie; God is die Een wat my beskerm teen natuurlike gevare; God is die Een wat my beskerm teen enige en alle gevare; God is die Een wat my die hele tyd beskerm teen enige gevare.

Tog is die Psalm nie sonder sy vrae nie. Wat sê ek vir die mense wat Sondag-oggend oorkant my huis deel was van ‘n gewapende roof? Wat sê ek vir my seun se vriend wat Saterdag-nag die heel nag deur drie rowers aangehou is en by herhaling aangerand is? Wat sê ek vir daardie jong meisie wat deur ‘n ouer seun gemolesteer is tot op die punt dat sy nie weet wat om met haar seer te maak nie? Wat sê ek vir die depressiewe sakeman wat sukkel om kop bo water te hou en sy gesin aan mekaar te hou omdat die man vir wie hy as kontrakteur werk gedoen het, hom meer as een miljoen Rand skuld? Wat sê ek vir daardie veertienjarige dogtertjie wie se ma drie dae voor haar twaalfde verjaarsdag dood is, wat nou nog nie haar twaalfde verjaarsdag se geskenke oopgemaak het nie? Wat sê ek vir die pa wie se vyfjarige seuntjie in die buiteland deur ‘n motoris doodgery is?

Die vraag is: As enige van hierdie dinge met jou gebeur het, sal jy nog steeds kan sê:

“Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.

Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.

Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm.

Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Ek het maar net gewonder.

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1)  

7 thoughts on “WAARVANDAAN SAL MY HULP KOM?

Add yours

  1. Hierdie onderwerp kom gereeld op in ons huishouding: As God belowe het om ons te beskerm, hoekom gebeur al hierdie slegte dinge in ons land? Ons kom altyd op dieselfde antwoord uit: Dis nie Hy wat dit laat gebeur nie, maar Hy sal daar wees vir jou om daardeur te kom. In ons siek en korrupte land moet ons met ons hele wese vasklou aan ons geloof, want sonder dit, sal ons ook wegsmelt in ons wêreldse wêreld.

  2. Doom
    Ek moet leer om weg te draai van ander invloede wat buite my beheer is. Soos bv wat hierdie leierskorps aanvang wat my so ontstel dat ek nie die pad volg wat God wil hê nie. Weereens baie dankie.

  3. Beste Attie,
    Ons leef in ‘n hartseer wereld. Ek glo werklik dat ons nie God daarvoor kan blameer dat ons mense in vrees leef oor die geweld en die verskriklikste armoede in ons land nie. Ons as mense het al van die begin af teen God in opstand gekom. Is die eerste moord nie tussen broers voltrek nie?

    Dis moeilik om te begryp, maar alle mense is ewe sondig en geneig tot die sonde – of dit nou ‘n gewapende roof is, of ‘n sg. onskuldige liefdeloosheid.

    Veral die Psalms in die Bybel loop soms die gevaar om konteksloos gelees te word. Dis maklik om my eie behoefte direk daarby in te lees. God is nie soos ‘n kersvader wat spring wanneer ek iets vra nie. Het Paulus nie telke male gevlug vir sy lewe nie? Het hy nie ‘n doring in die vlees gehad nie?

    Hierdie dinge is vir ons almal moeilik! Ek bid ook vir my gesin en familie se beskerming. My eie baba dogtertjie is ‘n paar maande terug byna doodgeskied in ‘n huisbraak. Ek dank die HEre Hy het haar gespaar. Aan ander wat nie so gelukkig was nie – ek huil saammet jou! Daar is dinge oor God wat ons eers anderkant die graf sal verstaan.

    Willem

  4. Ronel: Ek stem saam. Hy saal daar wees om my daardeur te help.
    Sammi: Sterkte met jou gehoorsaamheid aan die HJere.
    Willem: Ons moet so baie kere beloftes hoor van hoe wonderlik dit is om ‘n Christen te wees en hoe goed dit gaan as mens eers jou lewe aan die Here oorgee, dat ons ‘n Pslam 121 lewe verwag. Intussen is die Bybel ‘n beskrywing van God se teenwoordigheid in die lewe van mense wat die teendeel beleef. Ek wil so graag sien dat gelowiges met realisme in elke dag se lewe ingaan, wetende dat ek nie van die ellende van hierdie lewe gespaar gaan word nie, maar dat ek van God se teenwoordiogheid verseker kan word midde in al hierdie moeilikheid.
    Psalm 121 is ‘n lied wat gesing is terwyl die volk oppad was tempel toe. Ten spyte van hulle omstandighede, was dit hulle belydenis van wie God en hoe God is. In hierdie lied styg ‘n mens bo jou omstabdighede uit.

  5. Hello, Dankie vir daardie inspirerende woorde. Ek het “perongeluk” op die webtuiste afgekom.Ek het vir inspirering gesoek vir ‘n vriendin van my wat deer ‘n moeilike tyd gaan. Ek gaan self deur ‘n moeilike tyd in my huwelik en ek dank u weer eens vir die herinnering dat ons NOOIT alleen is nie.
    Carmen

  6. Jesus het gesê ons gaan dit nie maklik hê hierop aarde. Die aarde sal ons haat want dit het Hom eerste gehaat. Nêrens staan daar christene word vrygestel van misdaad of geweld nie. Misdaad is deel van ons samelewing. God sal mos nie iets oor jou bring wat jy nie kan hanteer of jou bo jou kragte versoek nie. Die Woord sê ons moenie dit vrees wat die liggaam kan dood maak maar niks aan die gees kan doen nie. Vrees Hom wat die gees kan doodmaak. Hoe hanteer jy die misdaad situasie waar jy in is , raak jy kwaad , gebruik jy geweld , of doen jy soos Jesus gesê het en verset nie jouself teen ‘n kwaadwilige persoon nie. Ons vlees dink anders en wil terug baklei om homself te beskerm.
    Die belangrikste om altyd te onthou is hoekom het jy Jesus aangeneem ; het iemand jou gesê as jy Jesus aanneem sal alles beter word of het jy dit gedoen om God se oordeel vry te spring en so van die hel gered te word. Misdaad raak ons almal en dit is nie lekker nie maar Jesus het die voorbeeld gestel – Hy’t nie terug baklei nie en Hy’t vergewe. Ons struikel en vaal want ons doen nie wat die Woord sê nie.
    Dit is hoe ek ervaar God wil hê ek dit moet sien. Almal se siening sal verskil. Hou by die Woord dis al riglyn wat rotsvas staan.

  7. Werner: Ek stem 100% met jou saam. Ek sal net aan die einde wil byvoeg dat ek Jesus as my Verlosser aangeneem het omdat ek besef het dat God my onuitspreeklik baie liefhet en dat Hy daarom die skeidsmuur tussen Hom en my afgebreek het sodat ek Hom weer lief kan hê soos Hy dit oorpronklik bedoel het. Met ander woorde: My motivering is eers liefde en dan vrees. (Vrees vir sy oordeel.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: