Ek maak vanoggend my Bybel oop om Psalm 23 te lees. Hierdie is die Bybel wat die NG Gemeente Bergsig op 24 April 1987 (More sal dit 26 jaar gelede wees.) vir my gegee het toe ek daar as dominee in my eerste gemeente bevestig is. Die bladsy is verweer en selfs al bietjie geel gevat. Hierdie is die Psalm wat ek meestal by begrafnisse lees. Of by die graf of dan, in die geval van ‘n verassing net voor die kis vertrek. Dit is nou natuurlik as die familie nie vir my vra om uit Psalm 23 te preek vir die begrafnis nie. Die bladsy verweer is omdat ek al heelwat mense in die reën begrawe het en die reëndruppels het die bladsye bietjie verniel. (Ek moet darem ook erken dat die druppels nie altyd reëndruppels was nie.) Die geel is maar van baie hanteer.
Maar Psalm 23 is vir my ‘n Psalm vir die lewe.
1’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.2 Hy laat my rus in groen weivelde.Hy bring my by waters waar daar vrede is.3 Hy gee my nuwe krag.Hy lei my op die regte paaietot die eer van sy Naam.4 Selfs al gaan ek deur donker dieptes,sal ek nie bang wees nie,want U is by my.In u hande is ek veilig.5 U laat my by ‘n feesmaal aansit,terwyl my teëstanders moet toekyk.U ontvang my soos ‘n eregas,ek word oorlaai met hartlikheid.6 U goedheid en liefde sal my lewe lank by my blyen ek sal tuis wees in die huis van die Heretot in lengte van dae.
Die teks waaruit ons volgens die Revised Common Lectionary Sondag gepreek het, was Openbaring 7:9-17. Psalm 23 is dan een van die teksgedeeltes wat saam met die Openbaringteks gelees moet word. In vers 17 staan daar:
“… want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”
Hiermee wil ek enersyds weer beklemtoon met watter sorg die tekste gekies word, maar andersyds besef ek net weer dat die God van Openbaring ook Dawid se God was. Dieselfde God wat vir Dawid ‘n herder was en wat vir die dissipels gesê het dat Hy die Goeie Herder is, is ook die God wat in Openbaring in beheer van die geskiedenis is. Wanneer God op die eiland Patmos aan Johannes openbaar wat binnekort gaan gebeur, dan vind daardie Openbaring ook plaas binne Johannes se eie verstaans- en leefwêreld. “Die Here is my herder.” kry in Openbaring ‘n wonderlike meer volledige betekenis.
Ek gaan net vers een vat en dit met die hulp van die SÊ DIT! metode lees. Volgens die metode van meditasie plaas ek elke keer die klem op ‘n ander woord.
DIE Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Vir my sê hierdie enkele woordjie dat daar geen spekulasie kan wees oor die persoon waaroor hier gepraat word nie. Hierdie woordjie sê ook vir my dat Psalm 23 saam met die res van die Bybel gelees moet word. Indien nie, kan ‘n Boedis ook op die Psalm aanspraak maak en dan sê dat Boeda sy herder is. Die res van die Bybel maak dit egter duidelik dat dit gaan oor die God wat Hom in die geskiedenis en in die Woord bekend gemaak het.
Die HERE is my herder, ek kom niks kort nie.
Nie enige God nie, maar die een wat Dawid ook leer ken het as God en Here. Die Hebreeuse woord is “adonai”. Die een wat heers, wat in beheer is.
Die Here IS my herder, ek kom niks kort nie.
Die woordjie “is” is tog belangrik. Dawid kan sê “is” want die Here is ‘n lewende Here. Ek kan vandag sê “is” want dieselfde Here het Homself ook in Christus aan die kerk geopenbaar as die Goeie Herder. Nie verlede tyd nie, maar hede. Die Here was dit nie iewers in my verlede nie. Hy is dit nou. Ook nie toekomstige tyd. Hede! Hy sal nie eendag my herder wees nie, Hy is dit nou. Wat Openbaring my leer is dat wie en wat Hy nou vir my is eendag in vervulling en voltoiing sal gaan. Maar, Hy is vandag my herder.
Die Here is MY herder, ek kom niks kort nie.
Ek het nogal nodig om so nou en dan daaraan herinner te word dat die Here my persoonlike herder is. Daarmee probeer ek Hom nie vir myself opeis nie. Ek het net nodig om daaraan herinner te word dat Hy van my weet. Soos een van die kinders in die belydenisklas onlangs vir my sê: “Wanneer ek belydenis van geloof aflê, bely ek nie net my geloof nie, ek bely ‘n verhouding.” Ek bely in hierdie woorde ‘n persoonlike verhouding met die Herder.
Die Here is my HERDER, ek kom niks kort nie.
Hierdie woord is so ryk aan betekenis dat mens net oor die enkele woord sou kon mediteer en lank daarmee besig bly. Ek dink aan versorging en voorsiening en bewaring en beskerming en beskutting. Vir vandag sal dit vir my genoeg wees om te weet dat Hy my na die fonteine met die water van die lewe toe lei en dat Hy al my trane afdroog. (Openbaring 7:17)
Die Here is my herder, EK kom niks kort nie.
Weereens die persoonlike gedagte. Die Here is ook my persoonlike herder. Ek kom niks kort nie. Ons maak altyd baie daarvan dat ons ‘n persoonlike verhouding met God moet hê. Maar God het ook ‘n persoonlike verhouding met my. Ek is nie vir Hom net nog een van sy ontelbaar baie kinders nie. Hy ken my op die naam. Hy ken my omstandighede en hy weet ook wat die beste vir my is.
Die Here is my herder, ek KOM niks kort nie.
Die teenwoordige tyd. Op hierdie oomblik is dit die situasie in my lewe. Maar ek het soveel vertroue in die Here wat my herder is dat ek weet dat dit more ook die geval sal wees soos dit in elk geval nog altyd die geval is.
Die Here is my herder, ek kom NIKS KORT NIE.
Tieners kry nie altyd hulle sin by hulle ouers nie. Tieners moet dikwels “nee” hoor. Hulle hoor ook “nee” vir iets wat hulle gedink het ‘n billike versoek is. Goeie ouers sê net vir goeie en vir die regte redes “nee”. Tieners word dan soms kwaad vir hulle ouers, maar die feit dat hulle kwaad is omdat hulle nie met hulle ouers saamstem nie, beteken nie hulle is reg en die ouers is verkeerd nie. Die feit dat hulle as tieners nie kan insien of verstaan waarom die ouers “nee” sê nie, beteken nie dat die ouers verkeerd is en hulle reg nie. Waar daar ‘n goeie verhouding tussen ouers en tieners is, leer tieners gou om hulle ouers se “nee” te aanvaar, selfs al verstaan hulle nie alles nie.
Die feit dat ek nie alles het wat ek dink ek behoort te hê nie, beteken nie dat ek iets kort kom nie. Ek het wat ek het omdat my Herder vir my alles gee wat ek nodig het. Somtyds beteken dit die krag om ‘n kruis te dra. Somtyds beteken dit om met ‘n duidelike “nee” saam te leef.
GEBED
U, Here, is my herder en ek kom niks kort nie. Met hierdie belydenis, Here God, aanvaar ek vanoggend dat U in beheer van my lewe is. Ek bely opnuut dat U ‘n God van goedheid en liefde is. U voorsien in my behoeftes en U gee ver bo wat ek bid of dink. Dankie vir die openheid in ons verhouding dat ek by U, die enigste Ware en Almagtige God, kan kom “aanklop” en kan kom bid vir die dinge wat ek dink ek nodig het en wat U nog nie voorsien het nie. Wanneer ek vra, vra ek met die diepe wete dat die finale sê en die finale besluit by U lê. Ek onderwerp my met vrede en vreugde aan U liefdevolle gesag en bid: Laat U volmaakte wil ook in my lewe geskied.
Amen
Dit is vir my altyd interessant, om mense se vertellings en soos Ds. dit vanoggend met ons deel, oor hoe die pad al gestap is met GOD as HERDER, te hoor.
Ps. 23 is seker die mooiste Psalms in die Bybel en seker ook die eerste Psalm wat elke dooplidmaat uit sy kop moes ken.
Op my aannemingsertifikaat, 6 Feb. 1982, staan Ps. 23:4 wat ek ook gekies het as kernteks.
Ek beskou hierdie Psalm van Dawid as een van die “goue sleutels” tot GOD se Koningkryk.
Baie dankie vir die mooi boodskap en gebed.
Beste Ds attie,
Hierdie Psalm het ook vir my ‘n baie spesiale betekenis. Een aand in Junie 1976 lees iemand vir my die Psalm uit Die Boodskapper. Die volgende oggend verneem ek my suster is op 29 jarige ouderdom oorlede. Wat my staande gehou het, was die versie: In U hande is ek veilig. Daardie wete gee my sekuriteit, selfs in die donkerste omstandighede.
Baie dankie vir u mooi boodskap vandag en elke dag.
Verstommend hoe die Here sulke dinge werk.
Annalize Van Wyk
Die Here is my herder ook ek dink altyd aan ps 23 as ek myself vind in donker tye.