KAN JY HOOR? (DAG 14)

Sover geniet ek hierdie 40 Dae in die Woord. Ek wonder gister so tussen alles deur hoekom dit so besonders is. Einde laaste lyk dit vir my die antwoord lê in die neerskryf van my gedagtes. Alhoewel ek van my gedagtes hier by die koffietfael neerpen, het ek ook my eie aantekening wat ek in die boek maak. Die skryf sit sonder twyfel my gedagtes aan die gang en hou dit aan die gang.

Vandag gaan dit oor die genesing van die doofstom man. (Markus 7:31-37)

31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe ‘n dowe man wat ook ‘n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”
Wees die doofstom man: 

DoofHierdie is vanoggend vir my moeilik. Ek probeer my indink hoe dit voel as ek niks sou kon hoor nie. Dit is nou vroegoggend in my studeerkamer. Alles is stil, maar dit is ook nie stil nie. Op die kerk se toring sit daar ‘n uil. In die oggende hoor ek soms roep. Ek het hom vanoggend weer gehoor. Die dag is besig om te breek en die voëltjies is al lankal een vir een besig om wakker te word. Die geraas wat hulle in die bome rondom die huis maak is amper oorverdowend as jy so vroeg in die oggend jou aandag daarop vestig. Hoe sou dit wees om die dinge nie te kan hoor nie? Hoe sou dit wees om my vriende se lippe te sien beweeg en ek moet deur liplees probeer uitwerk  wat hulle sê? Ek sukkel. Dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan nie alle klanke uitdoof nie.

Wanneer ek my egter in die man se posisie probeer indink, dan moet ek sê dat ek my lewe lank dofstom was. Die mense het my gebrek geken. Die gemeenskap het my nogal  verdra. Ek het soms selfs die indruk gekry hulle verdra my nie net nie, hulle hou ook van my en daarom het hulle my op die dag na hierdie Man toe gebring. Ek was effens skrikkerig toe Hy my eenkant toe vat en hierdie vreemde dinge met my doen. Hy sit sy vingers in my ore en smeer spoeg aan my tong. Ek sien Hy kyk op na die hemel en sê iets en ewe skielik kan ek hoor. Oorweldigend verwarrend. Ek het geen idee gehad wat besig is om met my te gebeur nie.  Ek besef toe ek hoor, maar ek weet nie wat ek hoor nie. Dan probeer ek iets sê en wonder bo wonder klink die geluide wat by my mond uitkom anders as altyd. En die mense wat my na Jesus toe gebring het kan verstaan wat ek sê.

Prakties: Ek wonder waarmee kan ek dit in my eie lewe vergelyk. Eerstens sien ek die vreemde manier waarop Jesus te werk gaan. Hy hanteer mense wat Hom nodig het en in wie se lewe Hy ‘n verskil wil maak elke keer anders. Hy luister na die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeïing gely het. Hy vat aan Jaïrus se dogtertjie se hand. Hy vergewe die man wat verlam is se sonde voor Hy hom gesond maak. Hy bid voor Hy die skare kos gee. Hy “challenge” Petrus om op die water te loop. Hy klim by die dissipels in die boot. Hy praat net ‘n woord en die storm bedaar. Miskien wil die Here my dit laat raaksien vanoggend. Hy laat Hom nie in werkswyses en resepte en patrone indruk nie. Hy is die kreatiewe God wat elke keer op ‘n ander manier doen wat Hy wil doen. Ek dink juis wanneer ons Hom probeer vaspen in patrone en respekte en werkswyses wat ons godsdiens en sonder verhouding kry.

Maar, in die posisie van die dowe man. Hy moes van voor af leer praat. Hy moes van voor af leer watter geluide wat beteken en aan wie of wat watter geluide behoort. Ek dink aan hoe ons elkeen van ons kinders so met die loop van die tyd leer ken het en elkeen op ‘n ander manier – selfs in soortgelyke omstandighede – moes hanteer. Ek dink vanoggend aan die tyd toe ons na Waverley toe gekom het. Ek kon nie alles wat in my vorige gemeente het net so oordra nie. Ek moes opnuut leer hoor en selfs sien.

 Wees een van die man se vriende:

 Weereens is hier ‘n geval van geloof wat by iemand anders lê. Die vriende bring die doofstom man na Jesus toe op grond van hulle geloof en hulle vertroue. Die vraag sou wees: Op wie se geloof maak Jesus die man gesond? Maak dit regtig saak? Ek dink nie dit sou vir die vriende saak gemaak het nie. Ek dink ook nie dit sou vir die man saak gemaak het nie.

Ek wonder soms of ons nie te hard probeer om geloof in ons geloof te hê nie. As hier nou ‘n wonderwerk gebeur dan vra ons: Aan wie se geloof of werk of opoffering of gebed moet ons nou hierdie saak toeskryf. Met ander woorde: Wie moet ons bedank? As jy nou in ‘n slaggat wil trap moet jy begin om mense wat hulle kant bring in ‘n gemeente te bedank. Jy gaan altyd iemand se naam nie sê nie. Jy gaan altyd iemand kwaad maak. Intussen is dit alles die werk van die Here.

Ons beleef mooi tye in ons gemeente. Wie moet ons bedank? Moet ons die dominees bedank wat die leiding neem? Moet ons die kleingroepleiers bedank wat die kleingroepe so mooi lei? Moet ons die gemeente bedank wat so “boots en all” in hierdie ding ingespring het? Moet ons Rick Warren bedank?

Laat ons die Here dank! Aan Hom alleen die eer!

Hoe is die Bybelgedeeltes op jou lewe van toepassing en wat gaan jy daaromtrent doen?

Ek het gister alreeds iets geleer van die gemaksone. Die skuit is die gemaksone en ek sal eerder die winde van die lewe vanuit my gemaksone aandurf. Ek het gister al besef dat die Here my dalk voorbrei om bietjie uit my gemaksone te tree en my op ‘n terrein te begeef wat vir my klein bietjie onseker is en my selfs sou kon bang maak. ‘n Terrein waar ek sal nodig hê om nuwe vaardighede aan te leer. Ek het geen idee wat dit is nie, maar die Here het my aan die dink.

Ek sal geduldig wag tot ek die opdrag hoor: “Kom!”

Gebed

Here Jesus, ek weet nie hoe die toekoms lyk wat U vir my beplan nie. Ek besef vanoggend dat U in staat is om elke keer weer op ‘n unieke manier in my lewe betrokke te wees en te doen wat ek nodig het. Ek bid dat U my ore sal oopmaak sodat ek duidelik sal hoor wanneer U sê “Kom!”. Ek bid ook Here dat U my sensitief sal maak vir die “doofstom” mense rondom my wat ek tot by U moet bring sodat U met U wondermag in hulle lewens kan werk. Gee dat my geloof en vertroue genoeg sal wees om my nie te laat twyfel in wat U in sulke mense se lewens kan doen nie. Ek beaam wat daardie mense gesê het: “Alles wat U doen is goed.”

Amen

3 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

3 responses to “KAN JY HOOR? (DAG 14)

  1. Johan

    Gelukig verjaarsdag vandag Doom.

  2. Christelle van der Walt

    Middag Ds. Attie, ek is drie dae agter, ek probeer my bes om op te vang.

    BAIE GELUK – VERJAARSDAGWENSE!

    Mag die Nuwe Lewensjaar gevul wees met Vrede en Geluk! GOD se rykste Seënwense in die Gesin, Gemeente en hier rondom die Koffietafel.

    Ek is drie dae agter en sterk oppad om op te vang. Pragtige stuk ook vir my hierdie. Ek verwonder my ook oor Jesus se krag en mag. Dankie vir die mooi gebed.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s