Ons is hierdie week in die storms saam met Jesus. Ek is baie verbaas oor hoeveel mense my per e-pos laat weet het dat hulle nou in hulle persoonlike lewens deur storms gaan. In my pastroale werk tel ek dit ook op. Ek het hierdie week ‘n paartjie gesien wie se verhouding deur ‘n baie ernstige storm gaan. Ek weet van ‘n tiener wat sommer ‘n slegte storm beleef. Gister was ek by ‘n pa wie se 16 jarige seun selfmoord gepleeg het. So is daar verskeie mense in verskillende storm vasgevang. In vandag se gedeelte is die dissipels weer in ‘n boot. Hierdie keer is Jesus nie by hulle in die boot nie, die see is rof, maar dit is darem nie ‘n storm nie.
45Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. 46Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.
47Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. 48Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu, 50want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”51Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan…
Ek probeer my indink wat die aard van Jesus se verhouding met sy Vader was en hoe Jesus se gebedstyd moes verloop, maar ek kan nie regtig nie. Hierdie tye van meditasie wat ek sover in hierdie 40 Dae beleef is vir my besonders omdat ek tog ook beleef dat die Woord vir my lewend word en dat dit Here self in hierdie tye by my teenwoordig is. Toe ek hierdie gedeelte vanoggend lees, toe besef ek dat die Heilige Gees ook deur hierdie werkswyse by ‘n behoefte aan ‘n meer intieme en naby verhouding met God wakker maak.

Ek dink vanoggend aan ‘n paar dinge waar ek nodig het om Jesus se stem te hoor wat sê: “Moenie bang wees nie.” In my geestesoog sien ek Jesus op die woeste water aangestap kom. Ek sien hoe Hy eers by my verby wil gaan, maar dan saam met my in die boot klim. Dit is wat ek nou nodig het oor hierdie dinge. Hierdie dinge is nie ernstige storms nie. Niks wat dreig om die bootjie van my lewe te laat omslaan nie. Dis net moeilik. Ek roei en ek roei, maar dit voel soms asof ek nie vordering maak nie. Ek sien Jesus saam met my in die boot. Dit raak buite stil. Dit raak binne in my ook stil.
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
29“Kom!” sê Hy.Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Ek probeer my in Petrus se skoene indink. Ek kan natuurlik nie anders as om bietjie bewondering vir Petrus te hê nie. Hy het ten minste die waagmoed om te probeer. Ek is vanoggend bewus van my gemaksone. In my eie bootjie gaan dit soms maar moeilik. Ons roei teen die wind in. Maar ten minste ken ek die veiligheid van my eie bootjie – my selfgemaakte gemaksone. Om uit daardie veilige bootjie te tree en op die water te loop is geen grap nie.
Petrus soek darem eers bevestiging. Hy spring nie sommer uit en begin loop nie. Here, as dit regtig U is…” Ek wonder vanoggend hoeveel keer het ek dit al gevra en toe nooit begin stap nie, omdat ek nie die opdrag “Kom!” gehoor het nie. Ek dink daar was dikwels nie die opdrag nie. Want dit was nie Jesus nie. Ek dink egter ook daar was die kere wat die opdrag daar was, maar ek wou dit nie hoor nie. Ek dink ook daar is baie kere stemme wat klink asof dit Jesus is, maar dan is dit nie Hy nie. Ek dink aan die kere wat ander my wil saamsleep op iets wat hulle passie is en nie myne nie. Dit is so maklik om sulke mense se passie te verwar met die Jesus wat sê Kom!”. My gebed is dat die Here in hierdie 40 Dae tyd vir my sal leer om te hoor en te onderskei.
Ek kan onthou van kere wat ek glo ek op die water geloop het. Ek kan onthou van kere wat ek probeer het om op die water te loop – en gesink het. Vandag wonder ek: Wat het die mees blywende indruk op my gemaak, die “loop” of die “sink”? Mens sou dink dat dit die kere moet wees wat jy op die water geloop het, maar dit wil vir my lyk dat die negatiewe emosies gekoppel aan “sink” so erg is dat dit die meer blywende indruk laat. Met die verloop van tyd word mens se wil om te waag stil.
Maar Jesus se woorde konfronteer my met die werklikheid: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” As ek nie meer kans sien om te waag nie, is dit niks anders as kleingeloof nie.
Ek sou darem maklik ‘n motiveringspraatjie hieruit kon haal en sê: “If you wan’t to walk on water, you’ve got to get out of the boat.” Maar dit alles is nie so maklik nie. Dit is vir my amper asof ek weer van voor af sal moet leer loop.
Hier binne in my is daar tog ook ‘n klein stemmetjie wat sê: “Jy is besig om op die water te loop. Moet net nie afkyk nie. Hou net jou oë op Jesus. Die wind is soms sterk. Maar jy is besig om te loop.”
Uiteraard gaan hierdie gedeelte deur die loop van die dag by my bly. Ek kry net die gevoel dat die Here nog nie met my klaar is oor hierdie gedeelte nie.
Here Jesus U stuur my ook soms vooruit. Ek moet ook soms teen die wind in roei en dit gaan dan moeilik en dit vat lank. Ek besef vanoggend dat U my wel sal “inhaal”. As dit nodig is Here, klim by my in die skuit en laat die wind rondom my en die storm binne in my stilraak. Maar, Here as U my op die water wil laat loop, laat ek nie U opdrag mis nie. Laat my hoor as U sê: “Kom!” Ek wil wees waar U is, selfs al is dit waar die wind op sy ergste waai.
Amen