LOOP OP DIE WATER (DAG 13)

Ons is hierdie week in die storms saam met Jesus. Ek is baie verbaas oor hoeveel mense my per e-pos laat weet het dat hulle nou in hulle persoonlike lewens deur storms gaan. In my pastroale werk tel ek dit ook op. Ek het hierdie week ‘n paartjie gesien wie se verhouding deur ‘n baie ernstige storm gaan. Ek weet van ‘n tiener wat sommer ‘n slegte storm beleef. Gister was ek by ‘n pa wie se 16 jarige seun selfmoord gepleeg het. So is daar verskeie mense in verskillende storm vasgevang. In vandag se gedeelte is die dissipels weer in ‘n boot. Hierdie keer is Jesus nie by hulle in die boot nie, die see is rof, maar dit is darem nie ‘n storm nie.

45Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. 46Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.

47Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. 48Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu, 50want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
51Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan…
Terwyl ek lees, tref dit my dat Jesus die dissipels wegstuur terwyl Hy die mense verdaag. Hy self gaan egter die berg op om te bid. Ek het nogal die behoefte om hieroor stil te raak en te mediteer. Jesus wat sy vriende en die mense wat Hy bedien het wegstuur en doelbewus planne maak om alleen te wees sodat Hy kan gaan bid. Maak ek doelbewus planne om alleen te wees en te bid? beplan ek altyd my besige program so dat daar tyd is om te bid? Stuur ek soms mense weg met die doel om alleen by God te wees? Ek sal hieroor moet dink. 

 

Ek probeer my indink wat die aard van Jesus se verhouding met sy Vader was en hoe Jesus se gebedstyd moes verloop, maar ek kan nie regtig nie. Hierdie tye van meditasie wat ek sover in hierdie 40 Dae beleef is vir my besonders omdat ek tog ook beleef dat die Woord vir my lewend word en dat dit Here self in hierdie tye by my teenwoordig is. Toe ek hierdie gedeelte vanoggend lees, toe besef ek dat die Heilige Gees ook deur hierdie werkswyse by ‘n behoefte aan ‘n meer intieme en naby verhouding met God wakker maak.

Wees ‘n dissipel in die boot? 
Ons het ‘n moeilike nag gehad. Ons was die aand nadat Jesus die skare weggestuur het al ver in die see in. (Vers 47) Toe ons Hom die berg sien opstap het ons vermoed dat Hy gaan bid. Ons het die hele nag teen die wind in geroei. Die volgende oggend was ons nog nie aan die anderkant nie. Ek kon my oë nie glo toe ons ewe skielik hierdie gedaante op die water sien aankom nie. Die wind waai en die see is rof en ons roei vir al wat ons werd is en hier kom hierdie gedaante rustig aangestap. Ons het gedink dit is ‘n spook. Ek kan nie vir jou ons benoudheid beskryf nie. Die “spook” hoor toe ons gille. Ons hoor toe sy stem: “Wees gerus dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Toe Hy by ons in die skuit klim, toe gaan lê die wind.  Ek en die ander was baie verbaas, maar toe die wind gaan lê, toe raak dit ook rustig binne in ons.

Ek dink vanoggend aan ‘n paar dinge waar ek nodig het om Jesus se stem te hoor wat sê: “Moenie bang wees nie.” In my geestesoog sien ek Jesus op die woeste water aangestap kom. Ek sien hoe Hy eers by my verby wil gaan, maar dan saam met my in die boot klim. Dit is wat ek nou nodig het oor hierdie dinge. Hierdie dinge is nie ernstige storms nie. Niks wat dreig om die bootjie van my lewe te laat omslaan nie. Dis net moeilik. Ek roei en ek roei, maar dit voel soms asof ek nie vordering maak nie. Ek sien Jesus saam met my in die boot. Dit raak buite stil. Dit raak binne in my ook stil.

Wees Petrus (Matteus 14:28-31): 

Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29“Kom!” sê Hy.
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”
31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Ek probeer my in Petrus se skoene indink. Ek kan natuurlik nie anders as om bietjie bewondering vir Petrus te hê nie. Hy het ten minste die waagmoed om te probeer. Ek is vanoggend bewus van my gemaksone. In my eie bootjie gaan dit soms maar moeilik. Ons roei teen die wind in. Maar ten minste ken ek die veiligheid van my eie bootjie – my selfgemaakte gemaksone. Om uit daardie veilige bootjie te tree en op die water te loop is geen grap nie.

Petrus soek darem eers bevestiging. Hy spring nie sommer uit en begin loop nie. Here, as dit regtig U is…” Ek wonder vanoggend hoeveel keer het ek dit al gevra en toe nooit begin stap nie, omdat ek nie die opdrag “Kom!” gehoor het nie. Ek dink daar was dikwels nie die opdrag nie. Want dit was nie Jesus nie. Ek dink egter ook daar was die kere wat die opdrag daar was, maar ek wou dit nie hoor nie. Ek dink ook daar is baie kere stemme wat klink asof dit Jesus is, maar dan is dit nie Hy nie. Ek dink aan die kere wat ander my wil saamsleep op iets wat hulle passie is en nie myne nie. Dit is so maklik om sulke mense se passie te verwar met die Jesus wat sê Kom!”. My gebed is dat die Here in hierdie 40 Dae tyd vir my sal leer om te hoor en te onderskei.

Ek kan onthou van kere wat ek glo ek op die water geloop het. Ek kan onthou van kere wat ek probeer het om op die water te loop – en gesink het. Vandag wonder ek: Wat het die mees blywende indruk op my gemaak, die “loop” of die “sink”? Mens sou dink dat dit die kere moet wees wat jy op die water geloop het, maar dit wil vir my lyk dat die negatiewe emosies gekoppel aan “sink” so erg is dat dit die meer blywende indruk laat. Met die verloop van tyd word mens se wil om te waag stil.

Maar Jesus se woorde konfronteer my met die werklikheid: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” As ek nie meer kans sien om te waag nie, is dit niks anders as kleingeloof nie.

Ek sou darem maklik ‘n motiveringspraatjie hieruit kon haal en sê: “If you wan’t to walk on water, you’ve got to get out of the boat.” Maar dit alles is nie so maklik nie. Dit is vir my amper asof ek weer van voor af sal moet leer loop.

Hier binne in my is daar tog ook ‘n klein stemmetjie wat sê: “Jy is besig om op die water te loop. Moet net nie afkyk nie. Hou net jou oë op Jesus. Die wind is soms sterk. Maar jy is besig om te loop.”

Uiteraard gaan hierdie gedeelte deur die loop van die dag by my bly. Ek kry net die gevoel dat die Here nog nie met my klaar is oor hierdie gedeelte nie.

Gebed: 

Here Jesus U stuur my ook soms vooruit. Ek moet ook soms teen die wind in roei en dit gaan dan moeilik en dit vat lank. Ek besef vanoggend dat U my wel sal “inhaal”. As dit nodig is Here, klim by my in die skuit en laat die wind rondom my en die storm binne in my stilraak. Maar, Here as U my op die water wil laat loop, laat ek nie U opdrag mis nie. Laat my hoor as U sê: “Kom!” Ek wil wees waar U is, selfs al is dit waar die wind op sy ergste waai.

 

Amen

11 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

11 responses to “LOOP OP DIE WATER (DAG 13)

  1. DIV

    Nou hier is ek nou vanoggend eerste hier by die koffietafel.

    Toe ek my nou in hierdie situasie indink vanoggend, toe loop my gedagtes bietjie van ‘n ander rigting. Ek dink toe daaraan dat die dissipels eintlik maar so tussen twee gedagtes was oor wie Jesus was. Ek dink toe daaraan dat hulle ook vriende was. Ek kan mos nie dink dat alles altyd so ernstig moes gewees het nie. Ek dink myself toe in Petrus se situasie. Terug in die boot. Nou wonder ek eerstens, hoe kom Petrus toe terug in die boot? Het Jesus hom gedra of het hy die moed bymekaar geskraap om weer terug op die water te loop? (Ek los daai een maar bietjie vir julle.)

    Maar, my eintlike punt. Ek dink ek en Jesus sou lekker saam gelag het omdat ek probeer het en toe letterlik koue voete gekry het. Ek dink die ander dissipels sou my dalk ernstig geterg het oor wat gebeur het, maar ek sou vir hulle gesê het: Ek het ten minste al op die water geloop, wie van julle kan dieselfde sê?

    Ek verlang om so ‘n verhouding met die Here te hê. Alles moet nie altyd net ernstig wees nie. Ons moet ook saam kan lag en saam kan huil en oor my foute en “mishaps” soms kan lag. Want eintlik is my foute mos nie ‘n baie ernstige ding nie. Hy het my vergewe. Hy weet ek het Hom lief. Hy weet ek sal nie doelbewus iets doen om Hom teleur te stel nie. Maar foute gaan ek maak.

    Ek dink ek sal op die manier uit my foute kan leer.

    My koffie is klaar. Ek sit die ketel aan vir die volgende een.

  2. Henry

    Vir die eerste keer drink ek saam koffie. Julle laat mens diep dink so vroeg in die oggend! Die gedagte wat ek myself afvra, veral vandag waar my Sussie se roudiens netnou gehou word, is of ek nie geneig is om na Jesus se stem te luister net wanneer daar ‘n storm is nie? Sal ek in elk geval dan nog bereid wees om op die stil water te stap? Of moet ek eers deur bedreigings gemotiveer word? Ek bid dat dit nie so is nie. Met God se hulp. Uit genade alleen.
    Groete

    • Welkom Henry. Ons hier om die koffietfael sal bid dat jy beleef dat Jesus nie by jou verbygaan nie, maar saam met jou in die skuit klim en alles stil en rustig maak.

  3. Môresê
    Praat Doom en Div darem vanoggend so waar dat Ding die “D” sal wees wie net stil sit, suig aan die koffie en luister. Tussen Doom en Div se praat, kry Ding die behoefte om in daai boot te spring voor hy vol is en hand in die lug te volunteer om my voete nat te maak. Div, Ding reken ook die verhouding wat jy beskryf, is hoe Ding wil glo Ding se verhouding met God is van tyd tot tyd. Doom, Ding bid dieselfde woorde vandag. Dankie vir die voorgaan in gebed.

    Voor Ding die koffiebeker (onthou myne is die rooi blikbeker, ja) neersit en hoed opsit, pyp stop en die tafel verlaat, wil Ding darem net nog storie:
    Doom, dankie vir die geleentheid om soggens eerste ding in die oggend eers hier te kan kom stilword. Dis soos kerk toe gaan elke liewe dag – in die gemak, gerief en bekendheid van manman se eie vier mure. Doom bring vir God na ons elkeen toe in ons eie plek. Ons weet dit neem tyd, moeite en energie van Doom wat Doom elders moet gaan “leen” om vir ons hier bediening te bring. Dra asseblief ook ons dank en erkenning oor aan diegene van wie ons Doom wegneem vir hierdie geleentheid, veral Doom se vrou. Dankie dat sy/hulle verstaan.

    Div het die ketel aangesit; Ding skuif sy stoel terug en maak weer ‘n keer die ketel vol vir die volgende sarsie. Maar toe-toe, raak haastig, die dag staan nie stil nie!

    • DIng: “The Good Wife” lees ook so in die stilligheid hier. Dalk sal sy eendag nog kommentaar lewer, wie weet. Dankie die kuiers rondom die koffietafel is vir my ook goed. Darem nie so stormagtig as die tye toe ek begin “blog” het nie.😉 Jy sal onthou.

  4. Kobie Geldenhuys stuur vir my kommentaar per e-pos. EK plaas dit ook hier:

    Baie dankie vir elke dag se oordenkinge. Ek dink hoe meer ons oor die Skrifgedeeltes dink en gedagtes wissel, hoe meer sal dit iewers op die lang termyn vassteek. Op die manier word dit meer en meer deel van ons denke en gevolglik (hopelik) ook deel van ons lewenswyses.

    Ek maak n punt daarvan om eers nadat ek in my persoonlike stiltetyd en saam met die Here die Skrif deurdink het, jou en ander se gedagtes en kommentaar te lees. Dis vir my interessant hoe elkeen iets anders raaklees en dit beleef vanuit n ander perspektief. Ons omstandighede en behoeftes verskil en dit het tog n invloed op ons interpretasie van die Woord op n gegewe stadium in ons lewens. Ek kon nooit verstaan hoe dit moontlik is dat daar sulke ernstige meningsveskil en twispunte onder kerkmense kan bestaan nie. (Ons glo tog immers in dieselfde God en ons lees tog dieselfde Bybel). Maar ek besef dat selfs my eie oggend- en aandpraatjies op die lang duur wat sekere skrifgedeeltes betref nie dieselfde gebly het nie. Ek verstaan baie dinge anders as n paar jaar gelede. Geen wonder dat daar soveel verskillende standpunte is nie! My gebed is regtig dat ons bereid sal wees om stil te word en onsself oop te stel vir die Heilige Gees se leiding en werking.

    Van al die veldtogte en reekse wat ons sover in die gemeente gedoen het, glo ek dat hierdie 40Dae in die Woord die potensiaal het om die grootste impak te he en n blywende verandering ten goede in ons lewens kan veroorsaak. God se Woord keer immers nooit leeg terug nie. Mag die Heilige Gees kragtig in elkeen van ons werk.

    Baie dankie vir julle dominees wat dit vir ons moontlik maak.

    Seenwense

    Kobie

    **** Dankie Kobie. Ek hou veral van jou werkswyse. Om eers self te dink en dan hier saam te dink.

  5. Petrus se trip op die water het vir Ding nog altyd ‘n spesiale plek gehad. So, die stuk is ook nog lank nie klaar met Ding nie, Doom.

    Lees Ding nou Matthéüs se weergawe en vergelyk dit met Markus s’n. Opvallend is dat Markus vertel Jesus wou by hulle verbywandel, terwyl Matthéüs daardie deel verswyg. Dit gee vir Ding so half die idee dat Jesus eintlik nog steeds alleen wou wees, maar gesien het hulle het Hom nodig. Toe van plan verander het en in die proses eintlik groter paniek onder hulle gesaai het. Partykeer is Jesus alreeds in Ding se lewe besig, maar dan is Ding so verward dat Ding homself wys maak dat hy spoke sien.

    Ook interessant is dat Markus vertel dat hulle by die wonder van die brode nie verstandig geword het nie, omdat hul hart verhard was. Jawel, dit laat vir Ding met ander perspektief na Petrus kyk en wonder of hy dom of dapper was, want die lyn tussen dom en dapper kan dikwels maar polonieskil-dikte wees. Ding kry dan nou die indruk dat Petrus nie eintlik voorsiening gemaak het daarvoor dat dit wel Jesus kon wees nie. “As dit U is…” is so al asof Petrus vir die Man in die boot wou sê, praat is maklik, maar sien is glo en voel is wragtig… Ding het al geleer dat hardekwaswees vir Ding ook partykeer so laat sê; eintlik vir God soort van uitdaag om vir Ding te wys God is God. Dis die dom-gedeelte. Maar dom word dapper wanneer Petrus dan wel van die skuit afklim en begin loop (miskien het Petrus nog steeds gereken sien is glo en voel is werklik?). Maar belangrik is dat hy wel probeer het.

    Matthéüs, meer as Markus, bevestig dan eintlik wat Markus rapporteer oor die verharde hart, want Matthéüs berig dan dat, toe hulle terugklim in die skuit, het die wat in die skuit was, voor Jesus neergeval en getuig dat Jesus waarlik die Seun van God is. Wat die brode en vis nie vir hulle gedoen het nie, het die storm, Jesus se wandeling en Petrus se waterspore gedoen.

    As Ding nou een van daai manne in die skuit was, sou Ding homself nogal ‘n warmklap teen die wang wou gee: net gister sien ek met my eie oë, proe ek met my eie mond, en voel ek met my eie hande, hoe hierdie Man ‘n skare kan kosgee, met kos wat logieserwys net onmoontlik soveel mense kan voed. Dit was darem ‘n seer versadigende, bevredigende gewaarwording – ek het so goed gevoel daaroor. En ‘n klein rukkie in tyd later, toe die toets kom in gevaar, my uithouvermoë beproef word en ek en die mense om my een ou takie sonder Jesus se fisieke teenwoordigheid moet uitvoer, toe vergeet ek daai wonderwerk. Toe sê my mensbrein vir my vis is een ding, maar ‘n klein ou skuitjie op die stormsee, eits, dis ‘n ander meneer! Hmmm, mens! Jy is maar dom, jong. En Petrus? Aijajaijajai, die ou WIL maar seker maak en wanneer hy selfs dan SELF eerstehands deel van ‘n wonderwerk word, kan hy dit nog nie glo nie. Ding beter leer uit Petrus se waterspore. Storm of nie storm nie; honger of nie honger nie – insig om God te herken, is wat saakmaak. En hoe halstarriger en verharder Ding se hart is, hoe ingrypender is God se bekendmaking van Sy teenwoordigheid. Want los, laat los God my so min as wat Jesus die dissipels gelos het.

    Grondgroete

    • BRIAN

      Ding: Thank you for your input. You have a creative mind and it appears that this type of meditation suits you just fine. You made me aware of the the disciples who worshipped Jesus when He joined them in the boat (With a soaked Peter). I am a worshipper. Something in me wants to stand in awe in the presence of this Almighty God day in day out.

  6. Christelle van der Walt

    Môre-môre al die mooi mense! Is daar nog bietje koffie oor vir my. Het julle my gemis? Ek het ALS opgevang intussen oor hoe julle met my spot maar dit is “okay” ek kan dit vat. – My brein is eintlik van gister af tot nou toe oorwerk – salarisaanpassings gedoen en als wat daarmee gepaard gaan.
    So nou weet julle waarmee ek besig was.

    Attie dit is ‘n weereens ‘n baie mooi stuk hierdie. Vanoggend kan ek ook sê dat GOD my gedra het deur my werk. Ek het al my vertroue in HOM gesit en hy het my daardeur.

    Ek moet nou eers groet, mag julle almal ‘n wonderlike naweek hê. Tot ons weer gesels. Wederom!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s