UIT DIE RYKDOM VAN SY HEERLIKHEID (DAG 7)

Wie van ons het dan nie behoeftes nie?

Die teksvers waarmee ons vanoggend besig is, is Filippense 4:19:

“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Hierdie is weer een van daardie verse wat nogal baie bekend is en my effens senuweeagtig maak.

“En… “ Waarom sou Paulus die vers met “en” begin? Dit is ongewoon om ‘n sin met “en” te begin. Vir my beteken dit dat juis hierdie vers saam met ander verse gelees word. Vanaf vers 10 praat Paulus hoe hoe die gemeente in Filippi gehelp het om in sy behoeftes te voorsien en hoe hy daarin kon slaag om in die tye wat daar te min was, kop bo water te hou. God het voorsien. Soms met materiële dinge soos die wat die gemeente in Filippi aangestuur het en soms met krag om deur moeilike tye te kom.

“… my God…” met ander woorde, God soos ek Hom in my lewe leer ken en ervaar het. Hierdie is nogal so. God hanteer nie almal dieselfde nie. God voorsien nie dieselfde vir almal nie. Wat Paulus beleef het is dat God weet wat hy nodig het en dit vir hom voorsien. Dieselfde God wat my bystaan en krag gee sal dit ook met julle doen. (Ek en God stem nie altyd saam oro wat ek nodig het nie, maar Hy voorsien in terme van wat Hy weet ek nodig het.) 

“… sal…” Die woordjie “sal” het enersyds ‘n element van sekerheid. Hy praat nie van “behoort” of “sal seker nie”. Ek kan nie anders as om die gevolgtrekking te maak dat hier by Paulus ‘n stuk sekerheid is dat jy maar jou behoeftes na God toe kan neem. Hy gaan iets hieromtrent doen. Sy sekerheid het egter ook daarmee te make dat hy daarvan oortuigis dat God met guns sien hoe die gemeente in Filippi in Paulus se behoeftes voorsien het. Andersyds dus kan dit ook as toekomstaal gelees word. God sal in die toekoms…

 “… in elke behoefte…” die engels het “meet all your needs”.  Elke behoefte. As ek dink aan die behoeftes waarna Paulus hier verwys is dit nogal alles. Weereens die fisiese of materiële en die emosionele. Die emosionele krag om te verdra in tye wat daar ‘n tekort is. God is in staat om elke behoefte wat ek of iemand ookal mag hê aan te spreek en te vervul.

“… ryklik…” God gaan nie net gee wat ek nodig het nie. Hy gaan meer gee as wat ek nodig het. Hierdie is vir my ‘n moeilike gedagte. Daar is dan soveel nood in die wêreld. Hoekom simmer die “ryklik” nie deur na die nood van die wêreld nie. Alhoewel ek al baie keer die opmerking gehoor het dat God wel in staat is om in die nood van die wêreld te voorsien, maar die kanale waardeur sy voorsiening na die nood van die wêreld moet vloei is bietjie verstop.

“…voorsien …” God sal voorsien. Hoe het God voorsien. God het voorsien deur dit wat die gemeente in Filippi gedoen het.

“Noudat ek van Epafroditus ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het.”

Ek besef vanoggend weer ek is soms die manier waarop God in ander se behoeftes voorsien. So byvoorbeeld glo ek dat die Here my baie jare terug bewus gemaak het van “blog”. Nou skryf ek daagliks tydens hierdie 40 Dae veldtog en ek weet so voorsien Hy en help Hy mense om hierdie verskillende maniere van Bybelstudie baas te raak. Die Here het ook aan my die gawe van erediens-leiding gegee en so voorsien Hy in mense se behoefte om ‘n Gods-ervaring in die erdiens te beleef. Die Here het ook baie jare terug met my duidelik en ondubbelsinnig oor my dankoffer gepraat. Ek weet ook dat Hy die geld wat ek gee gebruik om sy koninkryk te laat kom en aan ander te voorsien.

Hoe sou die Here jou kon gebruik?

“… volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Alles behoort aan die Here. Hy is vol genade en waarheid. God sal in die gemeente in Filippi se behoeftes voorsien omdat Hy in staat is om dit te doen. Wanneer Hy dit doen, sal sy heerlikheid sigbaar word.

Hierdie vers is ‘n reaksie op die gemeente in Filippi se goed-wees vir Paulus. Hierdie vers is eintlik ‘n seënwens. Lees dit as ‘n seënwens wat Paulus aan die einde van sy brief vir die gemeente stuur:

“En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Maar ek wil nie vanoggend die vers laat stop waar ek dink wat ek alles uit God uit kan kry of sou kon pers  nie. Hierdie is ‘n seënwens wat ek kan toebid vir elkeen wat op die een of ander manier toelaat dat God hom/haar/hulle gebruik om in my behoeftes te voorsien. Mag God ryklik voorsien in elkeen van hulle behoeftes volgens sy onmeetbare rdykom en heerlikheid in Christus Jesus.

Ek sou ook graag wou hê dat God uit die rykdom van sy heerlikheid in Christus Jesus in elkeen van my behoeftes voorsien… en terwyl ek dit skryf, besef ek: Hy doen dit!

“Ek weet wat dit armoede is en ek weet wat orovloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê sowelas om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Mag jy in hierdie dag die heerlike rykdom beleef van God wat jou gebruik om in ander se behoeftes te voorsien.

6 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

6 responses to “UIT DIE RYKDOM VAN SY HEERLIKHEID (DAG 7)

  1. Johan vd Westhuizen

    Attie, ek het vir baie jare al ‘n tipe van “ongemaklikheid” oor dit wat ons van God verwag en wat ons van Hom vra in gebede.
    Dit is ‘n baie bekende en gewilde gedeelte in die Bybel die en ek stem saam met jou vertolking daarvan, maar ek sien dit so bietjie naders, maar ek mag verkeerd wees.
    1. Ek dink Paulus probeer vir ons sê om in alle omstandighede “bly te wees”, hierby bedoel ek tevrede en dankbaar met dit wat ons toegedeel is.
    2. God ken al ons behoeftes en nog voor ons gevra het voorsien hy elke dag in elke behoefte van ons.
    3. Miskien probeer paulus vir ons leer om meer tyd te spandeer om God te dank vir goed waaraan ons nooit dink nie en net as vanselfsprekend aanvaar – die lug wat ons inasem, die natuur om ons, vir ons werk en ons vriende en ons kerk en ons kos en gesondheid en alles wat ons aanvaar as vanselfsprekend.
    4. Baie mense en sommige kerke lê verskriklik klem op God se werke en genesings wat Hy gedoen het en reël selfs genesingsdienste. Die relevante vraag is waarom het God aarde toe gekom? Om wonderwerke te kom doen om sodoende Sy almag te kom bewys, of om mense te genees van allerlei kwale en siektes? Het God se tyd op aarde bestaan uit die liggaamlike versorging van mense of uit die geestelike versorging van mense? Ja daar moet ‘n balans wees en ons moet eet en bly, maar is ons seker ons balans is reg? Gaan ons behoeftes vandag nie meer oor die materiele as oor die geestelike? Hoekom het God toegelaat dat so baie van sy volgelinge (selfs oorlede Paulus) soveel liggamlike skade gely het, maar tog soveel klem gelê op die geestelike versorging van mense. As my inligting reg is, het baie profete en volgelinge van God geweldadige dode gesterf en die vraag bly altyd, hoekom laat ‘n liefdevolle God dit toe? Baie keer dink ek ons as mense het net ‘n “vra Godsdiens” ter wille van materiele voorspoed. As ons bid bestaan die grootste gedeelte van ons gebed uit “gee my asseblief” en ‘n baie klein persentasie van ons gebed bestaan uit dank en lofprysing, maar miskien is ek verkeerd. Ek luister maar altyd as predikante en mense bid en dan wonder ek maar net waaroor gaan die gebed regtig?
    5. As ‘n pa en ma in een week twee keer langs ‘n seun van 23 jaar oud se hospitaal bed in ‘n ICU sit dan verander mens se gebed so bietjie en bestaan dit uit aanvaar wat jou toegedeel word want jy kan niks daaraan verander nie, maar dank God vir elke klein stukkie wonderwerk wat gebeur voordat jy nog gevra het en dan verstaan mens wat Paulus vir die sê die mense van Fillipie probeer sê. God het aarde toe gekom om mense te leer oor verhouding en soms het Hy wonderwerke en geneesings gebruik om ‘n punt te maak. Godsdiens betaan uit: Verhoudings, verhoudings, verhoudings! Eerstens jou verhouding met God en tweedens en daarmee gelyk, jou verhoudings met jou medemens en as een nie reg is nie, is alles tevergeefs. Jy kan nie God dien as jy kwaad is vir net een van jou broers of susters nie. Was Paulus ooit kwaad vir die wagte toe hy in die tronk was? was Paulus kwaad omdat die Here ‘n “doring in sy vlees” (waarsynlik ‘n oog probleem op die pad na Damaskus) toegelaat het? Lees ons in die Bybel dat Paulus die Here voordurend vra om die “doring uit sy vlees” te verwyder, of lees ons dat Paulus dit aanvaar as God se plan om sy bediening beter te maak?
    Miskien moet ons maar net aanvaar dat God altyd ryklik sal voorsien in elke behoefte van ons en hom meer dank, loof en prys vir sy groot genade.
    Ek het self baie vra die afgelope tyd, maar een ding weet ek. Aanvaar wat jou toegedeel word en dank God vir elke klein wonderwerkie elke dag, soos om te kan asem haal. Doen goed aan alle mense met jou beperkte middele en vermoens en vertrou op God om te voorsien in al jou behoeftes – geestelik en liggaamlik.

    • Johan: Ek dink saam met jare kom die wete dat my verhouding met God nie afhanklik is van watter en hoeveel gebede hy verhoor of nie verhoor nie. Ek skryf dit in vandag se stukkie ook. Ek loop eerder die risiko om die Here vir enige ding te vra en dan te beleef dat hy die gebed nie verhoor nie as wat ek lewe met die vraag of dinge nie dalk anders sou gewees het as ek net gevra het nie. My gebede en versugtinge in my binnekamer en my gebede in die openbaar stem nie met mekaar ooreen nie. In my binnekamer het dit wat ek vra geen grense nie. In die openbaar is ek versigtig, want dit kan so maklik valse hoop skep en jong Christene se geloof negatief raak as ons vir dinge bid en God verhoor nie.

  2. Christelle van der Walt

    Baie dankie Attie vir die mooi woorde in jou slot paragraaf.

    Ek gaan hard probeer om te kyk hoeveel keer op ‘n dag ek iets goed vir iemand kan doen. Al is dit net ‘n glimlag.

  3. David Booyens

    Amen

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s