DIE MELAATSES (DAG 8)

Ons gemeente is besig met die 40 Dae in die Woord veldtog. Tydens hierdie 40 Dae leer ons verskillende maniere om die Bybel in ons stiltetyd te gebruik of daaroor te mediteer.

Verlede week het ons meditasie behels dat ons een teksvers weer en weer hardop lees en elke keer die klem op ‘n ander woord plaas en dan probeer om te verstaan wat daardie woord vir ons wil sê. Dit was die SÊ DIT! metode. Hierdie week kom ons by die SIEN DIT! metode. Die SIEN DIT! metode van meditasie werk veral goed met die  verhalende gedeeltes in die Bybel.
Vanoggend se gedeelte is Markus 1:40-45 waar Jesus die melaatse man genees deur hom aan te raak. Die gedagte met die SIEN DIT! metode is dat ek as leser die gebeure voor my sal sien afspeel en dat ek my dan om die beurt in die verskillende karakters se skoene sou plaas.

Die eerste vraag is: By watter karakter vind jy die meeste aanklank?

Ek vind die meeste aanklank by die melaatse man. Deur die genade van die Here is ek nie melaats nie. Ek het nie een of ander afskuwelike aansteeklike siekte wat my uit die gemeenskap uit sou jaag nie. Maar, ek kan ‘n tyd in my lewe onthou toe ek wel gevoel het dat ek melaats was. Byvoorbeeld op hoërskool. Ek was op skool die maer en tingerige seuntjie wat redelik maklik die slagoffer van boelies was. Ek het dikwels in my Graad 8 en 9 jare op hoërskool gevoel ek is stoksielalleen en afgesny van die res van die wêreld.

Daar is natuurlik ook iets soos geestelike melaatsheid. Tye wanneer ek so skuldig gevoel het oor iets in my lewe dat ek nie kan dink dat die Here enigsins iets met my te doen sal wil hê nie. My sonde en skuld het my ook weggedryf van God af. Op hierdie stadium is ek genadiglik nie bewus van enige iets in my lewe wat my “melaats” sou maak nie. Maar een ding weet ek: Ek weet wat dit is om smekend op my knieë voor die Here te val en te vra dat Hy iets vir my doen. Gisteroggend moes ons nadink oor behoeftes. Ek en Renate kon vir mekaar sê: Op hierdie stadium is daar in ons persoonlike lewens nie regtig groot behoeftes wat ons aan die Here bekend wil maak nie. God se seën oor ons lewens is oorvloedig. Selfs ‘n paar maande terug was dit anders.

Ek vind aanklank by die melaatse man omdat ek weet wat dit is om “melaats” te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genees te word.

Wees die melaatse: In watter opsig hunker jy na God se werking in jou lewe?

Soos ek gesê het, ek beleef die Here se seën in my lewe in oorvloed. Tog is daar een klein dingetjie waarna ek verlang en ek wens Hy my kon aanraak. Jim Reeves het ‘n lied gesing wat dit vir my die beste verwoord: “Just a closer walk with Thee.”

Wees Jesus: Is jy bereid om die onreines aan te raak?

Melaatses was onrein verklaar en het buite die dorpe en stede gebly omdat hulle siektes hoogs aansteeklik was. Daar is darem nie vandag meer sulke siektes nie. Maar, ek dink ons het maar ons “melaatses”. Mense wat deur die gemeenskap eenkant toe gedwing word. Elkeen van ons het maar ons eie “melaatses” – anderskleuriges; seksueel losbandiges; homoseksueles; dwelmverslaafdes; straatkinders; boemelaars; werkloses. Die mense wat op rand van die samelewing hulle lewens bymekaar probeer hou. Ek besef dit sou so maklik wees om hierop “ja” te antwoord. Gelukkig weet ek die Here ken ook my hart en Hy weet dat ek nie terugdeins vir enige mens in enige omstandighede nie.

Hoe is die Bybelgedeelte op jou lewe van toepassing en wat gaan jy daaromtrent doen?

Ek aanvaar dat Jesus my melaatsheid genees het. Ek glo dat niks kan gebeur wat sal maak dat Hy nie bereid sal wees om my aan te raak nie. Ek aanvaar ook dat Hy vandag nog “melaatse” mense deur my wil aanraak. Vandag (En elke ander dag) sal ek beskikbaar wees om aan mense te raak sodat hulle kan beleef dat Jesus aan hulle geraak het.

Advertisements

1 Kommentaar

Filed under 40 Dae in die Woord

One response to “DIE MELAATSES (DAG 8)

  1. Christelle van der Walt

    Dit is diep woorde Attie. Ek self het ook al baie kere ondervind dat mense wat verkeerd handel, jou ook melaats kan laat voel. Soos jy hier meld van jou kinderdae, ek was ook ‘n slagoffer en dit is hier waar ons van jongs af al die seer en pyn voel wat “melaats” aan mens kan doen. Gelukkig weet ons dat die regverdige altyd aan die wen-kant voor GOD staan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s