Ek is skrikkerig vir bekende verse. Bekende verse kom met bagasie en mens loop die risiko dat die werk van die Heilige Gees uitgedoof word deur al die stemme wat alreeds iets oor ‘n bepaalde vers gesê het. Somtyds gebruik die Heilige Gees ander “stemme”. Ander kere staan “stemme” in die pad van die werk van die Heilige Gees. Filippense 4:13 is so ‘n bekende vers.
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Ek moes vanoggend begin by: Wat is Filippense 4:13 nie? Hierdie vers is nie deell van ‘n self-help en self-motivering handboek waardeur ek aangespoor word om enige ondenkbare droom aan te pak met die versekering dat ek nie sal misluk nie. Vers 13 mag onder geen omstandighede ten minste sonder vers 11 en 12 gelees word om te verstaan waartoe God vir Paulus in staat gestel het nie.
Kom ons probeer…
“Ek…” Natuurlik is dit Paulus wat hier skryf, maar dieselfde God wat Paulus bygestaan het, is ook in my lewe betrokke. Hierdie besondere waarheid is ook op my lewe van toepassing.
“… is …” As hy die woord “was” gebruik het, sou dit beteken het dat hy in die moeilike tye waarna hy in vers 11 en 12 verwys die krag gehad het. As dit “sal” was, sou dit beteken dit is iets wat in die toekoms gaan gebeur. “Is” verwys na dit wat gebeur het, maar nog steeds besig is om te gebeur. Met ander woorde ‘n handeling wat iewers in die verlede begin het en nog steeds voortduur. Paulus kan terugkyk in sy verlede en sien dat die Here vir Hom die krag gee, hy weet egter ook dat dieselde krag steeds in Hom aan die werk is en Hom weer in staat sal stel.
Dit is so belangrik dat ons ook dikwels terugkyk om te sien hoe God in die verlede in ons lewens gewerk het, want Hy is nog steeds dieselfde God.
“…tot alles…” Hier is ek versigtig. Aan die een kant wil ek sê dat ek niks sonder die Here kan doen nie. Aan die ander kant wil ek sê dat hierdie nie vir my ‘n vrypas gee om enige iets aan te pak in die verwagting dat die Here my sal help nie. Ek is nou al 25 jaar in die bediening. In hierdie 25 jaar het ek in my werk met en saam met God se kinders omtrent alles beleef wat mens kan beleef. Ek kan omtrent ook sê wat Paulus sê: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly , om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” Maar die “alles” sluit ook die emosionele in. Ek weet wat dit is om met emosionele ondersteuning oorlaai te word. Ek weet ook wat dit is om arm te wees aan emosionele ondersteuning terwyl ek die werk van die Here doen. Ek kry vanoggend bemoediging uit hierdie vers vir die werk wat ek vir die Here doen.
“… in staat…” Die Engels lees: “I can do everything…” Paulus skryf natuurlik oor die moeilike tye toe hy sonder ondersteuning moes klaarkom. Paulus skryf as iemand wat die wil van die Here wil doen en beleef dat die Here vir Hom die krag gee om dit te doen. Maar, daar was ook die tye wat my eie emosionele lyding en swaarkry gedreig het om vir my te veel te word. Daar het die krag ontvang om daardie kruis ook te dra. God is betrokke in my hele lewe. Op elke terrein van my lewe gee Hy vir my die krag wat ek nodig het om die mens te word en te wees wat sy skeppingsdoel uitleef.
“… deur Hom…” Wie is dit wat die krag gee? Tog interessant dat Paulus nie sê Christus nie. Natuurlik is daar die opstandingskrag van Christus. Maar dit is God die Vader wat deur die werking van die Gees Christus uit die dood opgerig het. In hierdie omstandighede is God drie-enig in my lewe aan die werk. God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees stel my in staat om te doen wat ek moet doen sodat sy koninkryk in my en deur my kan kom.
“… wat my krag gee…” Hierdie “in staat stel” is op so ‘n besonder persoonlike manier dat ek selfs sou kon dink dat ek dit reggekry het omdat ek persoonlik sou sterk of so oulik is. Hy doen nie iets wat ek kon gedoen het nie. Hy gee vir my die krag om te doen wat ek moet doen. God gaan dit nie vir my doen nie. Hy gee vir my die krag sodat ek dit kan doen. Ek weet nie of ek te veel hier in lees nie, maar op ‘n stadium sal ek skouer an die wiel moet sit en gebruik maak van die krag wat tot my beskikking is.
Ek dink nou aan Sondag se twee preke. Die Here gee aan my die krag om te kan preek. Maar van Maandag af gee Hy ook al vir my die krag om daagliks ‘n paar ure te gee vir voorbereiding. Hy gee vir my die krag om Sondag te preek, maar deur die week moet ek skouer aan die wiel sit en my voorbereiding doen. God se krag gaan niks doen wat ek nie kan doen nie.
Die kerk is God se voertuig na die wêreld toe. Ons is die kerk. Elkeen van ons het in hierdie “voertuig” ‘n funksie en ‘n rol. Om daardie funksie of rol te vervul verg inspanning en moeite en opoffering en deursettingsvermoë. Soms is dit dinge wat direk te doen het met my rol. Ander kere is dit dinge wat op ‘n indirekte wyse ‘n negatiewe invloed op my het. Hoe dit ookal sy, ek sal nooit vind dat God nie vir my gegee het wat ek nodig het om sy wil vir my lewe uit te voer nie. Maar, dalk moet jy ook nou iewers skouer aan die wiel begin sit en begin doen wat jy weet jy moet doen.
Ek finaliseer vanoggend my preek vir Sondag. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.
Uitstekend gesê Attie!
Ek wil net so ‘n klein ietsie byvoeg wat ek ook al hoe meer raaksien in mense se lewens en dit is: Dat mense GOD beskou as ‘n “sake-transaksie”. Mense verwag iets van GOD in ruil vir iets. Sien jy dit ook raak Attie?
GOD se kinders is hardwerkend, hulpvaardig en het defnitief deursettingsvermoë, al hierdie karakters staan uit bo die ander.
Ek noem hulle die “blink-oog” mense. Want hulle siele is so skoon dat dit skitter in hulle oë. Mense se oë vertel alles.
Ds. Attie, Filippense is ‘n baie besonderse boek. Paulus praat met soveel liefde, elke keer as ek dit lees is dit asof daar iets oor my kom, dit is net iets spesiaal.
Ek het die Bybel al een en half keer deur gelees en my man het die Bybel al twee keer deur gelees. Om GOD se werk ten volle te verstaan moet ‘n mens SY Woord heeltemal lees want die boeke pas inmekaar in soos ‘n legkaart.
Dankie dat ek deel kan wees van hierdie besonderse lewenslesse wat jy met ons deel Attie. Dit is verrykend!