Iemand vra my onlangs: “Sê nou jy het alles geweet wat jy nou weet, wat sou jy anders gedoen het toe jy jou werk as dominee begin het?” Ek skuld die persoon nog ‘n antwoord.
Die een ding wat ek anders sou gedoen het, is ek sou baie erns daarmee gemaak het om vir my ‘n geskikte en ‘n waardige rolmodel te kry. Iemand met wie ek openlik kon gesels oor onsekerhede en besluite en oor dinge wat rondom my gebeur en in my eie lewe gebeur. Maar, in besonder sou ek graag wou hê dit moet iemand wees wie se voorbeeld ek sou kon navolg – iemand wat my sou aanspoor tot groter en intenser gehoorsaamheid aan God en na ‘n lewe waar ek tot eer van die Here sou lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Dit lyk amper asof Paulus homself aanbied om ‘n rolmodel te wees. Hy skryf:“Wees my navolgers broers…” (Fil. 3:17a)
Waarin sou hierdie mense Paulus se navolgers kon wees?
Vers 7-9: Hy besef dat alles net genade is en dat hy niks het waarop hy kan staatmaak om God se guns te verkry nie. (Fil. 3:7-9)
Vers 10: Hy het ‘n besondere passie vir die Here Jesus en hierdie passie is die dryfkrag in sy lewe. (Fil 3:10)
Vers 12: Hy is nog nie alles wat hy behoort te wees nie, maar hy werk daaraan. (Fil 3:12)
Vers13a: Hy is eerlik met homself oor wie hy is en waar hy is. (Fil:3:13)
Vers 13b: Hy hanteer sy “bagasie” van die verlede en is die heel tyd besig om vorentoe te beweeg. (Fil. 3:13)
Vers 14: Hy werk hard om God se doel met sy lewe en in sy lewe te verwesenlik. (Fil. 3:14)
Vers 15: Hy sien homself as geestelik volwasse. (Fil. 3:15)
Ek sou graag iemand in my lewe wou gehad het wat met groot vrymoedigheid kon sê: Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg.
Op hierdie stadium is Renate (my vrou) sonder twyfel die grootste invloed en motivering in my lewe, maar nie noodwendig ‘n rolmodel nie. Daar was ‘n paar mense wat ‘n invloed op my lewe gehad het, maar hulle was nie noodwendig rolmodelle in die sin wat ek ‘n rolmodel sou wou gehad het toe ek my werk as predikant begin het nie.
Ek het Susan Erlank vir ‘n baie kort tyd in my lewe geken nog voordat ek die Here geken het, maar sy het my geleer dat die wêreld en die lewe nie net uit pret en plesier en partytjies bestaan nie. Sy het my letterlik aan my hand gevat en my in ‘n koffiekroeg op Oudtshoorn ingelei en my aan die mense voorgestel wat my aan die Here voorgestel het. Twee weke later is sy weg en ek het haar nooit weer gesien nie.
Daar was ook mense wat ‘n vormende invloed op my lewe gehad het, maar nie ek of hulle het dit noodwendig besef nie. Ek het later in my lewe eers ontdek dat hulle hierdie invloed gehad het. Ek besef vandag dat ek soveel agting vir die mense gehad het, dat die Here hulle vormend in my lewe kon gebruik.
My een dosent Daniël Louw het sonder twyfel so ‘n invloed gehad. By Daniël het ek ‘n passie vir evangelie en vir God se mense geleer.
Die dominee in die gemeente waar ek as student jeugwerk gedoen het, Willie van der Vyfer, was ‘n ander groot invloed op my lewe. By Oom Willie het ek geleer dat ‘n mens die werk van die Here vanuit ‘n persoonlike verhouding met die Here moet doen, anders bou jy jou eie koninkryk.
Nou wonder ek:
Was daar ooit ‘n rolmodel in jou lewe? Watter invloed het hy/sy op jou lewe gehad en op wie en wat jy vandag is?
Is daar iemand vir wie jy dink jy ‘n rolmodel is? Hoe sou jy daaroor voel as daardie persoon oor vyf-tien jaar lewe soos jy lewe en doen wat jy doen en optree soos jy optree?
Dominee ek sou nie dieselfde foute weer wou maak nie, dalk sou ek nog harder probeer het om my eks te help! Maar hoe help mens ‘n vroueslaner! Dalk sou ek nie met Koos getrou het nie? Want tussen ons is daar GEEN huwelikslewe nie, ons leef nie soos man en vrou nie, Koos wil nie verander nie, sy broer se Ds het gesè Koos hoef nie te weet ons bid vir hom nie!! Ek wens baie dae my lewe was anders, dat ek ook gelukkig kon gewees het, maar ek wens nie my kinders weg nie, ek lewe net vir hulle!!
My rolmodel is my PA!!
Hi Meermin: Ek is altyd verbaas oor die onbeskryflik wonderlike tweede kans wat ek met Renate (my vrou) gekry het. My eerste huwelik het baie min geluk geken. Net soos jy wens ek ook nie my drie kinders uit my eerste huwelik weg nie, want hulle het ook my en Renate se lewe wonderlik verryk. Stertkte – ek dink aan jou.
Ek het eenkeer ‘n kollega gehad en die een ding wat ek van hom onthou is dat hy nooit iets negatiefs of afbrekends oor enigiemand gese het nie. Dit bly my steeds by, omdat dit so skaars is.
BiB: Dis nogal waar. Ek dink altyd sulke mense leef dalk die liefdesgebod op sy beste uit en hulle skep altyd by my die indruk van respek vir ander mense.
Attie, daar het jy nou die sleutelwoord genoem! Ek weet dis ‘n groot vereenvoudiging, maar byna alles (en veral die liefdesgebod) draai vir my rondom RESPEK. In enige verhouding, enige situasie en in enige samelewing is RESPEK vir my die belangrikste bestanddeel. Daar waar dit ontbreek, sal vehoudinge ook gebroke wees. Ongelukkig moet ek se dat respek baie afwesig is binne die Suid-Afrikaanse samelewing. Sonder respek, sal die RSA net nooit vooruitgaan nie.
meeste ‘rolmodelle’ sukkel ook maar met klei voete….
Baie mense het n invloed op my lewe gehad, negatief en positief.
Sekere aspekte van my kan seker werk as rolmodel’materiaal’, maar in totaliteit? Uh uhhh!
Dink nie rerig daar is iets soos ‘perfekte’ rolmodel nie! Stukkies v verskillende mense as riglyn kan werk.
So lanklaas comment, ek dink ek mis my punt! Hehe! Makliker om net te lees en te leer!
Ek stem saam Plattie, stukkies van verskillende mense is my rolmodelle. Want die standaarde wat ek vir ‘n rolmodel stel is baie hoog en moet perfek wees. Dan sal die Skepper van hemel en aarde alleen kan of mag deurgaan as my rolmodel.
BiB: Vreemdelingehaat wys weer dat respek afwesig is, maar ek is daarvan oortuig dat as Christene hierdie wedersydse respek begin uitleef, gaan ons ‘n verskil kan maak.
Platter: Waar – alle rolmodelle het voete van klei, maar as jy met daardie gedagte ‘n rolmodel in jou lewe toelaat, kan so ‘n persoon waarskynlik ‘n groot invloed en impak in jou lewe hê.
Wipneus: Ek dink dit is beter om verskillende mense toe te laat om die rolmodel posisie in jou lewe in te neem. Nie Daniël Louw of Willie van der Vyfer was volmaakte mense nie, maar juis in die ontdekking van hulle onvolmaaktheid het ek die baie belangrike beginsel van aanvaarding ten spyte van onvolmaaktheid beleef.