In ons gemeente is ons besig met die toerusting van 45 manne en vroue om in een tot een verhoudings mense te begelei om hulle tye van swaarkry en seerkry sinvol te deurleef met die hoop en vertroue dat die persoon wat swaarkry ‘n sterker en beter mens aan die ander kant sal uitkom. Ons is onbeskaamd Christelik in ons benadering. Hierdie mense word onder andere met gespreks- en verhoudingsvaardighede toegerus ten einde oor ‘n redelike langtermyn ‘n verhouding te vestig wat gebaseer is op wedersydse vertroue en respek. Hulle word ook geleer om sensitief te wees vir geleenthede om ‘n geestelike gesprek te voer, sodat ons die geestelike vrae wat elke mens mee worstel sinvol kan beantwoord.
Punt is… mense vra vrae wat die wese van hulle bestaan raak. Die volgende vrae blyk volgens bronne die belangrikste bestaansvrae te wees waaroor mense wonder:
Wat is die ware sin en betekenis van die lewe?
Hoekom is ek hier?
Hoe dink en voel God oor my? (Hoe sien God my?)
Wat is reg en wat is verkeerd?
Waarom laat God lyding en swaarkry toe?
Hoekom moet ek doodgaan?
As jy hier lees, wil jy nie so gaaf wees en een van twee dinge doen nie.
1. Gee bietjie jou antwoord op een van hierdie vrae?
2. Watter vraag dink jy behoort by daardie lysie vrae gevoeg te word as ons as die belangrikste vrae oor die lewe wil vra?
Ek hoor graag van jou?
Hoekom is ek hier: Ek is hier om te dien, nie om gedien te word nie. Daardie antwoord het vir my baie duidelik na vore gekom in Rick Warren se “Doelgerigte Lewe”.
Ek dink God laat lyding en swaarkry toe want as dit met ons te goed gegaan het hier op aarde, sou ons ons nie wou losmaak van ons lewe hier nie. Nou kan ons uitsien na die ewige lewe. Ook bied swaarkry en lyding vir my ‘n geleentheid om nader aan die Here te groei. Dit leer my om in totale afhanklikheid van Hom te leef.
Om dood te moet gaan beteken vir my net dat ek die tydelike met die ewige sal verwissel.
Wat is reg en wat is verkeerd? As ek, as Christen, met enige iets in my lewe besig is, kan ek myself net afvra of ek nog steeds daarmee sou besig wees as die Here reg langs my gestaan het en vir my gekyk het. Is my antwoord nee, dan moet ek weet ek is besig met die verkeerde ding.
Maar dit sal natuurlik ‘n perfekte lewe gewees het as ons altyd geweet het wat is die verskil tussen reg en verkeerd. Soms is die lyntjie daar tussen ragfyn.
My ekstra vraag: Hoekom gee God vir mense kinders sodat hulle mishandel kan word en die wat ‘n kind sou vertroetel, kan nie een hê nie? Ek weet dis onlosmaaklik deel van hierdie onvolmaakte wêreld, maar ek sou maar net wou vra.
kaalvoetkind: Dankie vir jou inset. Oor lyding moet mens maar altyd sê: Dit maak nie sin terwyl jy daarmee worstel nie. Ek het maar gevind dat dit eers daarna sin gemaak het.
unobastardo: Ai, die reg en verkeerd debat wat die sogenaamde post-moderne mens nie wil voer nie, maar intussen sê Geroge Barna hy het in sy navorsing veind dit is juis die een ding waaroor vandag se tieners wil praat. Ek sien sommer jou hart vir kinders. EK het ook nie ‘n antwoord op daardie vraag nie.
Kierts Doom! Wat ‘n skerp idee!
Maar Doom, hoe praat Doom dan nou lat dit smaak asof Doom vir Trossie wil se daai antwoord van Trossie kwalifiseer nie as antwoord nie? Ding reken nogals weer daai antwoord van Trossie is skerp, behalwe natuurlik, ding sukkel met die gedagte van die Here staan langs ding en kyk vir ding. Ding sal mos slagslag op die daad ophou met waarmee ding ookal besig is – soooo ‘n geleentheid sal ding mos darem nie laat verbygaan nie! Ding sal mos daar lostrek met ‘n rits vrae, sien jy.
Maar ding reken self nogals dat die nommers van reg en verkeerd loop soos Trossie beduie – is daai wete hier diep binne wat vir manman vertel: broertjie, jy loop nou op die water (die dun ys is LANKAL gesmelt!). Dis nie altyd maklik nie, maar dis maar hoe dit is – elke ou se begrip en oordeel en wysheid verskil. Juis deurdat dit verskil, is dit nie vir die pot om die ketel te verwyt nie. Soos Moedertjie desjare gebeduie het, is dit een van die werke van die Heilige Gees in manman se binneste – om vir manman te vertel wanneer manman aanjaag. En omdat elke tweede ou se begrip van reg en verkeerd verskil, maak dit die geloofkwessie soveel interessanter, maar ook meer uitdagend (minder van ‘n puppet on a string, ne), want daai wat vir ding verkeerd is, moet ding kan opstaan in die bondel en verduidelik dat ding nie hier meer saamloop nie, want dis teen ding se geloofsoortuiging. Ding het nogals vrede in die hart met daai ene – verstaan mooi: ding se glad nie dat ding aan die regte kant bly en die regte nommers doen omdat ding weet wat reg en verkeerd is vir ding nie – ding se bloot ding het met daai oortuiging nogals ‘n idee van wat reg en verkeerd is.
En die antwoord is nie ‘n fynbeplande systap van antwoord op is ‘n nommer reg of verkeerd nie. Glad nie. Vra vir ding is ‘n bepaalde nommer reg of verkeerd en ding sal jou reguit antwoord, maar ding sal jou ook se – ding se antwoord is maar van toepassing op ding. In daai opsig – om vir tieners te leer van reg en verkeerd – reken ding nogals is almal veronderstel om padpredikante te wees.
Oor daai vraag van: hoekom moet ek doodgaan? Hier is ding maar half prakties: wat ‘n vraag! Vra jy daai vraag, is jy duidelik nog hoooopeloos te jonk om die antwoord te verstaan en het jy nog nie met genoeg regtig ou mensies gesels nie. (.) Vra eerder: hoekom moet ek so oud word?
Ding sou vraat trek en twee vrae wou byvoeg:
Waar/wat is die hemel (ewige lewe) en waar/wat is die hel?
In aansluiting by Trossie se vraag: Hoekom word mense in ‘n hierargie geskape met die noodwendige gevolg dat weerloses hulleself nie teen uitbuiting en mishandeling kan verdedig nie? Ter verduideliking van die vraag: Die doel van die hierargie is tog ook om die aardse, tasbare, sigbare vorm van verhouding tussen ouer en kind daar te stel – dit maak die verhouding tussen God as Vader en sy volgelinge as sy kinders meer verstaanbaar, dan nie?
Ding roep eers halt hier. Gee my eerder my klip – ding het vandag klipsit nodig, sien ding. hehe
Hi DIng.
Gewonder hoe gaan dit daar by jou. Dit is mos bietjie van ‘n erg besige tyd noudat alles so welig groei daar by jou. Nee, ek dink ook Trossie se antwoord iseintlik ‘n skerp antwoord. My punt is net dat heelwat mense dit so relatief gemaak het dat mens nie daaroor mag praat nie. Moedertjie het jou darem skerp geleer. Dit is inderdaad dink ek ook die werk van die Heilige Gees om my te oortuig van sonde. Daardie oortuiging kom nie nadat dit gebeur het sodat ek kan skuldig voel nie. Dit kom wanneer ek oppad is sodat ek versigtig kan wees en terwyl ek besig is, sodat ek kan stop.
Ooor die hierargie vraag… Ek wonder of die antwoord iets in die rigting van die vraag op swaarkry en lyding gaan wees. Ek gaan ook ‘n bietjie daaroor dink.
My antwoord is op waarom laat God swaarkry toe….
As jy swaarkry, jy besef dit nie dan nie, dan groei jy eintlik inJesus….my Pa het altyd die gesegde gehad van …wat nie dood maak nie maak groot…en as jy daar deur is dan IS jy groot en sterker en beter mens….as jy dan daarna iemand oor jou pad kry wat swaarkry verstaan jy soveel te meer daardie persoon se swaarkry en kan jy dit sommer gebruik om Jesus te eer en loof
My vraag is…..en net soms, maar vamore is dit n knop in my keel…Hoekom is daar siektes en hoekom op dieselfde siekte is daar die wat beter(gesonder) is in die siekte as ander…kry vanoggend n mail met siekte wat ek ken en sien die persone is in n baie beter “toestand en verstand ” as die persone wat ek ken…ek weet eintlik die atwoord, maar paty dae soos vandag wonder ek net……..
God se stem
Ek was ongeveer 10 toe ek my oom hoor se dat hy met God gepraat het.Wat het Hy gese vra ek toe?.Wel Hy praat soos ek en jy was my oom se antwoord.Heellaas is ek naweek vir naweek op magaliesberg naby ons huis.Ek gaan nou met God praat.As ek net eers kan regkry om met Hom te praat ,dan sal ek my vrae stel het ek gedink.Ek het my swart greatdane hond saamgevat.Daar op die berg het ek begin praat.Eers sag en mooi,toe hard en koud.In engels en dan weer in afrikaans.My hond het net na my gekyk en dan weer voor hom uitgestaar.Miskien werk God op n ander manier.Miskien moet ek more net stilbly.Niks het gewerk nie.Nee Hy het nie op my versoek gepraat nie.Jare later toe my hele lewe verander het,toe albei my ouers oorlede is nadat ek gese het hier is ek vat my net soos ek is.Ek het Sy stem gehoor,ek ken nie Sy stem nie maar dit was God wat die dag met my gepraat het.Dit klink soos n manstem in hawai se groot kolkende golwe.Wat Hy gese het het sin vir my in die lewe gegee.Ja nou lees ek van mense wat twyfel,wonder ens.Maar ek het 100% geloofsekerheid gekry.
Sielekind: Antwoorde is maklik. Relatief maklik om te sê dat my swaarkry my help om ander se swaarkry beter te verstaan. Antwoorde troos nie. Antwoorde help nie as jy “jaloers” sien hoe dit met iemand anders beter gaan en met jou slegter nie. Ek wens ek kon ‘n sinvolle antwoord daarop gee. Lyding maak nie sin nie.
Pieter: Ek is saam met jou dankbaar dat die stem van die Here vir jou daardie wonderlike sekerheid laat beleef. Ek sien rondom my baie mense wie se sekerheid gebaseer is op wat die Here in sy Woord vir hulle sê. Hulle twyfel dalk so nou en dan oor al hierdie dinge, maar tog bly hulle twyfelaars wat glo. Op ‘n dag kan daardie wonderlike stem wat klink soos ‘n mansstem in Hawai se groot kolkende golwe, stil raak – wat dan?
kleurling: Hoeveel mense worstel nie rondom die sin van lyding nie? Lyding is een van die dinge wat mens nooit hier op aarde tenvolle sal verstaan nie. Ironies, dat wanneer lyding geskied het dit die effek om jou nader aan God te trek of verder van Hom te dryf. Lyding laat mens ook net weer opnuut besef dat ons “mens” is en afhanklik is van ‘n groter Teenwoordigheid. Wat hierdie “Teenwoordigheid” is is verskillend vir verskillende mense asook kulture en godsdiensgroepe.
Goeie dag
Kan u asb vir my skrif gee oor wat die Bybel se van ons vertroue tussen mekaar. Ek is in ‘n verhouding en het leiding nodig oor vertroue gebaseer op die Woord.
Groete
Anita – as ek in een kort sinntejie moet sê, dan kom ek tog nie verder as die samevatting van die wet in, onder andere, Markus 12 nie. Jy moet God meer lief hê as enige iets anders en jou naaste soos jouself. Ek dink egter dat dit belangriker is om ‘n gesprek oor wedersydse vertroue te voer as wat dit is om teksverse aan te haal oor vertroue. Indien nodig moet julle selfs met iemand daaroor gaan praat. Teksverse gaan iemand nie oortuig om iets te doen as hy nie in ys hart regtig daarvan oortuig is dit moet so gedoen word nie.