“As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” ( Markus 9:35)
Hierdie is een van die moeiliker beginsels in die Bybel om uit te leef. Kyk maar net hoe lekker was dit vir almal van ons om Saterdag-aand te kyk hoe die Springbokke die wêreldbeker wen. Ons is almal so trots, ‘n buitestaander sou dink ons het self in daardie span gespeel. Dit het ons ook nie baie lank gevat om grappe uit te dink oor die Engelse nie.
Bv.: Wat noem jy ‘n Engelsman met ‘n Rugby Wêreldbeker in sy hand? ‘n Graveerder.
Sedert ons kinderdade is dit veral in ons manne se koppe ingedril: Die een wat laaste kom is die verloorder. Die gevolg van daardie beginsel wat in ons “hardeskywe” “geprogrammeer” is, is dat ons geneig is om enige iets te doen om eerste te kom, of so naby as moontlik aan eerste.
Om iets te verander wat so in ons ingedril is, is baie moeilik om te verander, maar dit kan verander. Die proses van verandering skop af met die sluk van ‘n groot stuk hoogmoed. As jy skielik sou besluit om nie meer die eerste plek en die hoogste sport te jaag nie, moet jy waarskynlik ook gereed maak vir ‘n bietjie spot en terg van die mense rondom jou wat jou geken het as iemand wat die eerste plekke jaag.
Die enigste rede, dink ek, waarom dit die moeite werd is om die jaag na die eerste plek prys te gee, is omdat die nederigheid wat die gevolg hiervan is, ‘n mens help om God se perpektief op die wêreld te kry. Wenners sien nie verloorders raak nie. Hulle leef in die kollig sonder dat hulle bewus is daarvan dat daar “verloorders” is.
Ons was Vrydag-aand by ons plaaslike Hoërskool se prys-uitdeling. Ons dogter (Elanè) het drie pryse gekry. Die wenners het tussen agt en tien pryse gekry. Sy is ook nie op die leerlingraad nie. Elanè het dalk verdien om op die leerlingraad te wees, maar die groep is besonder sterk en die proses was regverdig. Steeds moes ek saam met haar deur die teleurstelling werk van nie op die leerlingraad wees nie.
Die strewe na nederigheid is belangrik in die strewe na uitnemendheid. Met uitnemendheid word bedoel: Ek word die beste ek wat ek moontlik kan wees. Ek is tevrede wanneer ek weet dat ek elkeen van my gawes en my talente optimaal gebruik om die Here en ander mense te dien. Daarmee saam het ek die vryheid en die nederigheid om opreg bly te wees oor ‘n ander een se prestasie. Nederige uitnemendheid kompeteer nie. Nederige uitenemendheid leef in vrede met die self en met sy Skepper.
Elanè is ook ‘n sterk kind. Sy beleef ‘n teleurstelling intens en die trane loop. Maar, gee haar tyd. Gee haar ‘n paar ure en sy staan van daardie teleurstelling af op en sy is ‘n sterker mens as wat sy was. Valse nederigheid is om te maak asof prestasie nie saak maak nie. Opregte nederigheid is om te weet dat jy in die strewe na uitnemendheid nie anders kan as om kompetisie te kry nie, maar dwarsdeur die kompetisie fokus jy op jou doel: Ek wil die beste ek wees wat ek moontlik kan wees.
Elanè het drie pryse gekry. Elanè het nie leerlingraad gekry nie. Elanè is vandag ‘n beter Elanê as wat sy ‘n paar weke terug was. Een van die gevolge van hierdie proses is dat Elanè ‘n besondere oog en ‘n besondere hart het vir “down en outs”. Hoekom? Dalk omdat sy weet hoe dit voel om nie “on top of the world” te wees nie? Dalk omdat sy weet hoe dit voel om nie eerstw ees nie? Dalk is dit die Here wat daardie eienskap in haar geplaas het. Die punt is, Elanè het ‘n hart vir mens en dier wt swaarkry. As die teleurstellings moes help om haar hart so vorm, dan is ons tog dankbaar.
Elanè het daarin geslaag om as verloorder eintlik ‘n wenner te wees.
“As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” ( Markus 9:35)
Dis nie lekker om te verloor nie, sekerlik oor die “programering” wat Ds oor gepraat het. In my werksituasie op die oomblik bly ek verloor. Ek bly in die moeilikheid oor goed wat ek doen en nie doen nie, maar met dieselfde asem as ek vra is ek in die moeilikheid en as ek nie vra nie, is ek ook in die moeilikheid. En elke keer as ek voel ek kan nie meer nie, sê ek vir myself ek groei hierdeur, die Here het ‘n doel met hierdie onregverdigheid. Dit maak nie my situasie makliker nie, ek voel net of my Rots stewig onder my voete is en keer dat ek nie val nie.
Ongelukkige verloorder: Ek dink swaarkry en verloor het ook ‘n stuk sinloosheid. Soos jy sê: “Dit maak nie my situasie makliker nie.” Met ander woorde: Selfs on beste antwoorde maak soms nie sin nie en bevredig nie regtig nie. Iemand het een keer gesê die lewe is soos ‘n Hebreeuse Bybel. Dit maak net sin as jy hom van agter af lees. Baie kere verstaan ons eers regtig as ons klaar daar deur is. Ek dink dit moet vir jou baie moeilik wees, maar dit lyk vir my asof jy die regte benadering het om te sê: Ek groei hierdeur. My Rots staan vas.
Die probleem is dat ons almal se EGO vir onsself tog so belangrik is. Of dit nou deel is van ons erfsonde, dit weet ek nie maar dat dit baie moeilikheid maak dit weet ek wel. As ons dit net eers besef dan het ons al ver gevorder. Wen op enige manier is maar n manier om hierdie ego n bietjie te streel en dis darem so lekker. Die problem is dat as 10 mense kompeteer moet 9 verloor sodat 1 kan wen en dis vir my so verkeerd. Ek dink ons kan almal sukses behaal hoewel ons nie top presteerders hoef te wees nie, byvoorbeeld: Ek het die vraelys oor “watter teoloog” voltooi en meer presteer as Martin Luther, maar dit help niks want kyk waar is Martin Luther en waar is ek. Die slimste en beste persoon is nie altyd die suksesvolste nie. Die geheim is om te leer hoe om sukses te bereik al is ek nie naby die beste nie en dis binne ons almal se vermoe. Dit begin deur die Here te vra om jou te seen en Hom dan daarvoor te dank.
Alec – dankie vir jou inset. Ek dink EGO het definitief hiermee te make. Ek dink jy sê ‘n belangrike ding wanneer jy sê dat sukses nie eers behaal word wanneer ek die heel beste is nie. Sukses is inderdaad binne almal se vermoë.
“Cut” en “paste” bietjie die opsomming van Martin Luther se teologie daar by Watter teoloog sodat ons ‘n kyk hoevel van die teoloë ons daar kry. Ek dink dit gaan baie leersaam wees.
Deur God se genade en met gebed,kan verloorsituasies wel wen situasies word.
Ek het baie lank in my lewe gesukkel om myself nie as ‘n verloorder te sien nie. Tog het dit vir my anders geword toe ek die Here Jesus in my lewe toegelaat het. Ek wens ek kon sê dit het oornag verander, dit het nie. Met die verloop van tyd het ek myself begin sien soos Hy my sien – dit het die verskil gemaak.
Ek wens ook ek kon sê ek voel nooit meer soos ‘n verloorder nie, dan sou ek nie eerlik wees nie. Ek het egter geleer dat ek in daardie tye draai na my mense toe wat regtig vir my lief is en na my Vader toe wat my onvoorwaardelik liefhet. Hy sit die pleistertjies op en Hy maak die wonde weer gesond. Meeste van die kere gebruik Hy die mense wat vir my lief is.
Jak: Maak sin nè, op mens se knieë draai God verloorsituasies om.
Kandas: Ons kan maar net dankbaar wees vir mense wat ons so liefhet.