143 MENSIES GEREED VIR DIE HOËRSKOOL

“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het dit enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fillipense 1:6)

Ek wens darem ek kon met groter oorgawe sê dat dit waar is dat die 143 mensies wat ons op die skoolverwisselingskamp gehad het nou gereed is vir die hoërskool. Ongelukkig weet ons dat ons nooit heeltemal en klaar toegerus is vir die volgende tree wat gegee moet word nie. En hoërskool is ‘n groot tree.

Ons het baie lekker saam met die Graad 7’s op Badseloop gekamp. Badseloop is die NG kerk se kampterrein ongeveer 13 kilometer Suid van Naboomspuit. Die hoofspan het bestaan uit drie predikante en Charl, ‘n onderwyser van Letsitele. Aan die einde van die kamp het ons gesê: Ons is tevrede. Ons het gedoen wat ons wou doen. Nou is die bal in hulle hande.

Daar was Graad 7’s uit al die vlakke van die samelewing. Die kind uit die baie gelukkihe ouerhuis en ook elf kinders uit Abraham Kriel kinderhuis. Daar was kinders uit skatryk huise en daar was kinders wat nie self kon betaal om te kom kamp nie – ander moes help. Daar was kinders met waagmoed en kinders wat nie kans sien om die vreemde ding te doen nie. Daar was kinders wat redelike kennis oor die Woord van God en oor God het, dan was daar kinders wat feitlik niks geweet het nie.

Maar dit was 143 kinders vir wie mens in ‘n week se tyd lief geraak het. Sophy was so ‘n kind. Sophy is van die kinderhuis. ‘n Maer swart dogtertjie wat geen idee het hoe om haarself te handhaaf en hoe om teenoor ander mense op te tree nie. Haar handskrif op die dagboekvorms wat ons elke aand gelees het was die van ‘n kind wat pas leer skryf het. Sophy huiwer nie om enige mens se gemaksone binne te dring en dan mense kwalik te neem wat bedreig voel deur haar teenwoordigheid nie. Sophy kan nie ‘n sinvolle gesprek voer nie.

Donderdag-aand het ons hulle lekker laat kuier en ons het toesig gehou. Hulle sou half-een gaan slaap. Sophy het langs my kom staan en gevra hoe laat dit is. Toe ek my horlosie vir haar wys, toe kan sy nie tyd lees nie. Iewers was die pas van die lewe vir Sophy te vinnig.

Ek ken nie Sophy se geskiedenis nie. Ek weet sy is in die kinderhuis. Toe ek haar beter wou leer ken, kon sy ook nie enige een van my vrae sinvol antwoord nie. Maar ek het ook Sophy se gesig sien straal. Sophy ken ritme en sy ken die vloei van musiek. Deel van Donderdagaand se laat opbly was dat die kinders bietjie ge-“sokkie” het. Francois was een van ons Graad 11 seuns leiers op die kamp. Dans is vir Francois baie lekker. Op ‘n stadium toe sien ek maar Sophy is nie meer binne die omgewing wat sy as veilig beleef het nie – nooit meer as ‘n meter weg van my af nie. Sy was aan Francois se arm. Hierdie lang blonde laggende seun wat die swart meisie van die kinderhuis se hand vat en met haar oor die dansvloer beweeg. Eers het sy skaam onder die pet se rand uit na my kant toe geloer, maar later het haar gesig gestraal. Ek dink dit was die eerste keer in haar lewe dat sy die tipe aandag gekry het. Francois het haar nie laat voel hy doen haar ‘n guns nie. Hy was opreg in sy bedoeling.

Toe die dans klaar was. Was Sophy terug langs my. ‘n Skaam glimlag op haar gesig. Al wat sy gesê het was: “Ek het gedans. Met Francois gedans.” ‘n Paar minute later was sy weer weg. Ek sien haar staan in die kringejie waar ‘n groep tieners dans. Elkeen kry ‘n kans om sy dans-ding in die middel te doen. Sophy was seker vir 30 minute deel van die groep. Toe hoor ek die groep klap hande en ek kyk. Sophy dans in die middel van die kring. Die groep klap ritmies. Sophy het op Donderdag-aand 27 Oktober 2007 by ‘n sokkie op kerkkamp aanvaarding beleef en uit haar dop begin kruip.  

Ek weet nie wat nou vir Sophy voorlê nie. Sy gaan terug kinderhuis toe. Wie weet dalk sien ons haar op Juliemaand se “survivor” kamp vir die Graad 8 en 9’s. Wie weet. Al was die kamp net om Sophy aanvaarding te laat beleef, dan was die kamp die moeite werd.

Ek sal Sophy intussen aan die Here toevertrou. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het dit enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fillipense 1:6) Met hierdie kamp het die Here weer die goeie werk wat Hy baie lank terug in my lewe begin het, weer bietjie verder kom vat.

5 Kommentaar

Filed under Christen tieners., Die Christelike Lewe, Nagedink

5 responses to “143 MENSIES GEREED VIR DIE HOËRSKOOL

  1. ding

    Geseend is diegene soos Sophy, wie in aanvaarding deur ander tot hulle reg kom en begin blom.

  2. Sonnekind

    Dankie Here vir sulke geleenthede dat hulle wat in hul doppe gekruip is en nog op die pad na selfaanvaarding is, so kan uit klim uit hul dop. Seen vir haar.

  3. Ek is bly dit was ‘n sukses vir julle! Jy het op my blog gese jy het my probeer kontak – ek neem aan met e-mail. Watter probleem het jy ondervind?

  4. Volharding

    Dis wonderlik om te lees wat die kamp vir Sophy beteken. Daar is nog baie sulke kinders wat nog sukkel met die selfaanvaarding…

  5. Smiley

    Die kampe by badseloop is ‘n ervaring wat ek altyd sal onthou . Ek was al 2 keer daar gewees en elke keer word ek opnuut vervul met blydskap en nuwe insig . Ek wil graag die jaar ‘n kampleier wees by die skoolverwisselingskamp ek is in graad 11 . Dit is wonderlik om te lees van Sophy en ek glo dat sy tot haar volle potensiaal sal ontwikkel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s