VOETE WAS AS ‘N GEESTELIKE DISSIPLINE

Ek wonder hoeveel keer het ek al oor die voete was gedeelte in Johannes 13 gepreek.

Jesus en sy dissipels sit aan tafel. Judas wat Jesus sou verraai; Petrus wat Jesus sou verloën; Johannes en Jakobus wat saam met Petrus aan slaap sou raak nadat Jesus vir hulle gevra het om saam met hom te bid; Markus wat kaal sou weghardloop toe hulle Jesus arresteer, hulle sit almal aan tafel. Eintlik lê hulle aan by ‘n redelike lae tafel. Elkeen se voete is naby aan die ander een se gesig en aan sy bord kos. Voete moet skoon wees. Vuil voete moet gewas word. Al die dissipels is te belangrik. Voete was is ‘n werk vir die laagste van die laagstes. Nie vir dissipels nie.

Dan doen Jesus die onverwagse. Dit is nie vir ons onverwags nie, want ons ken die storie. Ons weet al wat gaan gebeur. Ons weet Petrus gaan sê dat Jesus nie sy voete gaan was nie en as Jesus hom teengaan wil Petrus sommer sy hele lyf laat vas. Altyd vir my interessant dat Petrus wel wil keer dat Jesus sy voete was, maar nie keer dat Jesus die ander se voete was nie, of dan nog meer, dat hy nie aanbied om self die skottel te vat en hierdie vernederende werkie klaar te maak nie.

‘n Mooi verhaal. Ek het dit self al beleef. Ek het al beleef dat ‘n man in die gemeente ‘n afspraak met my maak en my voete kom was en terwyl hy my voete was sonder ophou vir my bid. Ek moet eerlik sê dit was vir my bietjie van ‘n ongemaklike situasie, maar ek ken die man en ek ken sy hart en ek weet dit is hoe hy in sy verhouding met die Here leef. Ek weet dat die man nie enige iets terug verwag nie en ook nie eers daaraan dink dat die Here hom ‘n besondere klop op die skouer moet gee vir wat hy doen nie. Hy doen dit net uit die diepte van sy hart. Hy doen dit in alle opregtheid en liefde.

Ek het ‘n vraag. Die vraag het my gedagtes te binne geskiet terwyl ons personeel gisteroggend ons Bybelstudie hou. Ons het ook as personeel met mekaar gepraat oor die hele gedagte van diensbaarheid aan mekaar en aan die gemeente. Die vraag skiet my toe te binne: Wanneer word die doen van die regte ding ‘n nuwe wet?

Wet en genade staan lynreg teenoor mekaar. Genade het kom doen wat die wet nie by magte was om te doen nie. Wie deur die wet probeer regkry wat net genade kan doen, het nooit begin om genade te verstaan nie. Gehoorsaamheid aan die wet sal nooit vir my kan verdien wat die genade van God deur die kruis van Jesus vir my gedoen het nie. Daar is die mooiste sê-goed oor genade. Bv.: Genade gee nie vir my wat ek verdien nie, maar gee vir my die teenoorgestelde van wat ek verdien. Dis genade.

Maar nou kry die wet allerhande nuwe gedaantes. Allerhande nuwe dinge wat maak dat ek nie op die genade steun nie, maar op iets wat ek doen. So sou iemand kon sê dat die een wat die meeste mense se voete gewas het, verdien iets by God. Ek het ‘n vermoede dat as ons wel meer gereeld mekaar se voete fisies was, daar iets gaan gebeur met betrekking tot verhoudings, maar dit is nie die punt nie. Ons formuleer nuwe voorwaardes waaraan mense moet voldoen as hulle hoop dat God aan hulle genade sal bewys.

Een so ‘n voorwaarde kan wees: Jy moet die Bybel reg verstaan en reg gebruik anders kan jy nie genade verwag nie. Dan is die “reg verstaan” van die Bybel natuurlik die manier hoe ek die Bybel verstaan. Sulke tye wil ek ook roep: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp.

Nog ‘n voorwaarde wat al hoe meer na vore kom is: Jy moet net so onseker wees as ek, anders kan die genade van God nie in jou lewe werk nie. Mense wat seker is, het nie genade nodig nie. Geloofs-onsekerheid is die mode-woord. Mag mens dan nie seker wees nie?

Ek het op 7 Desember 1977 in ‘n koffiekroeg op Oudtshoorn tot bekering gekom. Ek het my lewe aan die Here oorgegee aan die hand van die vier geestelike wette. Die vier geestelike wette het natuurlik teologies ernstige leemtes, maar dit was die begin van ‘n radikaal nuwe lewe vir my. Vandag sal ek tien keer dink voordat ek dieselfde werkswyse gebruik, maar iets het gebeur wat ek nie kan verklaar nie. My geloofsekerheid berus op daardie geleentheid in Desember 1977 toe ek deur geloof onlosmaaklik gekoppel is aan ‘n gebeure 2000 jaar gelde op ‘n koppie buite Jerusalem. My sekerheid ry wipplank, maar ek is elke keer dankbaar as die sekerheid deel bo kom.

Ek weet nie heeltemal wat dit alles te make het met Jesus wat die dissipels se voete gewas het nie, maar ek wou dit graag sê. Daar is nog ‘n paar dinge wat ek nie gesê het nie. Ek wonder net of ons nie dalk vandag eerder mekaar se voete kan was deur ruimte te laat vir ander en verskillende belewenisse en verskillende verstaan van God. Deur net ‘n klein bietjie minder seker te wees van die dinge wat ons so seker is ons oor seker is, sal ons ook dalk mekaar se voete was.
Ek sien die verstommende oortuiging waarmee sekere ervaringe en belewenisse en benaderings en van die tafel afgevee word, sodat ons kan plek maak vir my eie ervaring en belewenis en benadering. In die proses word ek die leermeester en jy die leerling. Ek leer jou en jy leer by my. Daar is ‘n appèl wat jou vra om minder seker te wees van wat jy dink en glo sodat ek jou daarvan kan oortuig dat ek eintlik reg is.
Dalk moet ek maar meer kere my weerstand en teenkanting uitspreek soos Petrus daar aan die tafel gedoen het, maar dan ook bereid wees om oortuig te word soos hy deur Jesus oortuig is dat dit wel nou die regte ding is dat sy voete gewas word.

Skielik weet ek nie of enige iets wat ek hier geskryf regtig sin maak nie. Maar nou ja, ek dink maar deur my vingers.

Advertisements

14 Kommentaar

Filed under Die Christelike Lewe

14 responses to “VOETE WAS AS ‘N GEESTELIKE DISSIPLINE

  1. Wat jy gesê het, maak vir my sin op die volgende manier: – Almal moet glo soos ek glo, ander is hulle verkeerd. Almal moet of soveel geloofsekerheid hê soos ek, of soveel geloof onsekerheid hê soos ek, anders is daar iets fout met hulle. Net wat ek sien en dink en glo en nie glo nie, is reg.

    Goed, dit wat ek hier bo getik het, is JUIS NIE hoe jy wil hê ons moet dinge sien en daaroor dink nie. Kom ons gee ander mense ook eerder die voordeel van die twyfel. Dalk is die ander persoon nie minder gered of minder van ‘n Christen of minder belangrik vir God, net omdat hy / sy nie dieselfde is, dink en doen as ek nie.

    Dit is hoe ek jou skrywe hier bo gelees het – nie alles nie, maar wel die belangrikste, tussen die lyne deur. Kom ons was figuurlik mekaar se voete deur meer verdraagsaam teenoor ander se denkwyses te wees.

    En nou weet ek ook nie of ek totaal sin maak vir jou nie 🙂

  2. Sonnekind

    Atttie en Sonkind
    Ek dink hierdie skrywe bring als tot een gevolgtrekking:NEDERIGHEID en geloof soos n kind.

  3. Doom Attie ek het vanoggend vrymoedigheid om te vertel van ‘n voetewas sessie. Ek en Willie gaan die laaste paar jaar erg gebuk onder allerhande kwessies waardeur ons as egpaar ergere druk ervaar. En soos dit is lei die verhouding skade en mens dryf al verder uitmekaar en op die ou einde wil jy alles SELF doen en voel dit asof jou huweliksmaat jou nie ondersteun nie. Ons is egter oop vir gesprekke met beraders en het ‘n paar sulke gesprekke gehad wat baie gehelp het. Een oggend baie vroeg het Willie my egter wakker gemaak nadat ons die vorige aand weer kwaad gaan slaap het. Hy sit toe voor die bed met ‘n skottel water en vra my of hy my voete kan was. En soos hy was verklaar hy dat hy besef hy het sy plig as vader en hoof van ons gesin verwaarloos en deur my voete te was neem hy weer volle verantwoordelikheid as pa, eggenoot en hoof van ons gesin. Ek kan nie beskryf die nabyheid van die Heilige Gees daardie oggend om ons nie! Daar het ook ‘n defnitiewe omkeer in ons gesinslewe plaasgevind. Die krisisse is daar, maar ek weet saam in die Naam van Ons Vader en in die Krag van die Heilige Gees kan ons as gesin dit aanpak. Soms gaan dit moeilik maar ons weet waar ons krag lê.

  4. Jinne Attie, jou inskrywing laat my dink aan die jaar 2000. Al die Christelike Kerke in ons dorp het bymekaar gekom en mekaar se ‘voete gewas’ en mekaar bewustelik ruimte gegee vir elkeen se belewenis en verstaan van God.

    Dit het oor ‘n hele paar weke gestrek. Die predikante, ens. het elke Sondag by ‘n ander kerk gepreek. By ons kerk was daar elke Sondag iemand van ‘n heel ander kerk. Die laaste week het al die kerke saam ‘n massiewe tent oorkant die Mall opgestaan, die hele dag was daar kort 15-30minute dienste deur die verskillende kerke aangebied. (Groot kermis ook) Dit was afgesluit deur een GROOT sangdiens in ‘n park, al die kerke se gemeentes was daardie dag daar. Daar was vrek baie mense!

    Die was ‘n wonderlike belewenis. Ons het so baie van mekaar oor hierdie tydperk geleer. Die belangrikste seker vir my was dat: Die kern van ware godsdiens gaan oor die persoonlike verhouding tussen jou en jou Verlosser, Jesus Christus. Dis nie ‘n stel reëls wat jy moet gehoorsaam om vir God aanvaarbaar te word nie. God vra nie goeie dade nie – Hy vra net jouself!

    Dankie

  5. Nuwe wet

    Wanneer word die doen van die regte ding ‘n nuwe wet?

    Ek dink…
    Met meer Bybelse kennis is daar die gevaar van misbruikte mag.
    Met meer insig is daar die gevaar van geestelike hoogmoed.
    Indien liefde ontbreek in die regte ding, is ons nie dan besig om ons self aan n wet te onderwerp nie?

  6. Attie, ek verstaan hierdie inskrywing soos Sonkind dit verstaan en ek stem saam met jou. Verrykende inskrywing!

  7. Sonkind: Dit lyk vir jy of jy raak gelees het. Klein bietjie meer verdraagsaamheid vir andersdenkendes en anders-glo-endes. Dan sal ons dalk een stem kan laat hoor.
    Sonnekind:Nederigheid is ‘n baie nodige eienskap in ons tyd. Maar… nederigheid wat nie weer ‘n wet word waardeur ek God en mens probeer beindruk nie, maar nederigheid wat in alle opregtheid my eie belangrikheid onder-waardeer.
    Marina: Jou man het ‘n groot dink gedoen – opregte voetewas is ‘n verhoudingsbou aangeleentheid – Let wel: opreg en net ek en die Here kan oordeel oor my opregtheid.
    Wag-‘n-bietjie: Jys reg oor persoonlike verhouding wat belangrik is. En daardie ding wat die gemeentes en kerke gedoen het was groot.
    Nuwe wet: Nou mag die gevare ons nie van meer Bybelse kennis weerhou nie of van meer insig nie. Ons moet maar altyd weer vra: hoekom doen ek (ons) wat ons doen.
    BiB: Dankie.

  8. Jy maak beslis sin…

    En eintlik was die ‘laagste werk’ weer eens baie na aan die belangrikste werk? Ironies.

  9. Plattertjie: Dit lyk altyd vir my asof daardie ding nie snap nie. Dat wat op die oog af die laagste werk was, was eintlik die belangrikste werk. Ek het nog nie regtig so daaraan gedink nie.

  10. Seker maar oorlat ek deurmekaar mens is dat ek ‘n ding van ‘n ander kant af sien….

    Eish, toe ek hierdie gisteraand gelees het, toe sit ek nou en smile en dink aan hoe goeie dieet-metode sommige van daai vuil onwelriekende voete moes gewees het…. Is why my sin vir humor my ook baie maal in die poef laat beland!!!

  11. Plattertjie: Een van die redes waarom die voete gewas is, was juis omdat die meeste voete so vuil was van die stofstrate en die sandale dat mens inderdaad nie lus gehad het om te eet as die ander een se voete so naby jou bord kos is nie.
    Dankie vir jou humor.

  12. Johan Labuschagne

    Hallo Attie. Ek’s predikant in Oos-Londen en het die afgelope paar dae Jesus se voete was in my kop en kry dit nie uit nie! Weet toe vanoggend ek moet daaroor preek. En wat kry ek toe ek ‘voete was’ op internet intik? Attie se uitstekende gedeelte! Ek dink jy verstaan meer van Jesus se voete was as baie ander! En nadat ek my gedagtes getik het, kry ek dié gedeelte van jou. Dankie. Dit gee my ‘n uitstekende nuwe perspektief. Jou gedagtes is vars. Ja, nooit so daaroor gedink dat Petrus nie aanbied om skottel by Jesus te vat of moan toe Jesus ander dissipels se voete was nie.

    Lappies

  13. Manie

    Ai dit is wonderlik om te besef dat God se genade nog daar vir my, my vriende asook vir my vyande daar is en ek boonop self die kersie op die koek kan sit. Baie dankie vir hierdie mooi van die Evangelie wat ons met mekaar kan deel. Voete was is voorwaardelik iets spesials en dit verander en omskep wat dalk vir ander nie verstaanbaar is nie, totdat jy self dit toepas en die werklikheid ervaar van God se genade, liefde en trou op daardie oomblk. Om weer in God se teenwoordigheid te kom soos ‘n Moses van ouds voor die brandende bos en Sy teenwoordigheid te ervaar maak jou op ‘n wolk loop en nog vir dae daarna top en bepeins eintlik, wat het werklik gebeur en dan tref die waarheid – God is in beheer en Hy is alomteenwoordig vir my en hulle wat Hom wil ervaar. God se liefde en genade sal bly totdat Hy kom om Sy bruid te haal, Amen. Dankie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s