KONINGSHEERSKAPPY: GISTER, VANDAG EN TOT IN EWIGHEID

ONS LEESPROGRAM VIR DESEMBER

Ek was op hoërskool in die koshuis gewees. Opstaantyd was 06:00. Etenstyd was 07:00. Van 06:50 af het ons die ry gaan staan om in die eetsaal in te stap. Vanaf 06:40 tot 06:50 elke oggend was dit stiltetyd. Vir elkeen van hierdie gebeure is die klok gelui en het jy geweet wat nou gaan gebeur.

 

Vandag hou ek elke oggend stiltetyd voor die dag begin en voor die huisgesin wakker word. Ek lees die gedeelte van die dag en dan het ek ‘n tyd van nadink en gebed en dan kom skryf ek my gedagtes oor die gedeelte wat ek gelees hier op die blog.

Jesus het ook die stil-word gewoonte gehad. “Vroeg die volgende oggend het Jesus na ‘n verlate plek vertrek.” (Lukas 4:42) Uit ander ssortgelyke gebeure weet ons dat dit gewoonlik ‘n tyd was wat Jesus gebruik het om te bid.

 

Ek dink nog steeds dit is ‘n goeie gebruik of gewoonte of ritueel om vroeg in die oggend stil te raak en in gebed met God te praat. Een van die dinge wat my bybly van my Universiteitsjare is die dag toe Prof. Willie Jonker, een van die briljantste teoloë van ons land vir ons vertel het hoe hy eers op sy eie stiltetyd hou en daarna saam met sy vrou gaan bid voor die dag begin. As hy dit nodig gehad het, het ek by myself gedink, sal ek nie te sleg doen om dieselfde gewoonte aan te leer nie.

 

Maar, Jesus se alleentyd word onderbreek. “Die skares het oral na Hom gesoek en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie.” (Lukas 4:42)

Ek wonder of Jesus sy selfoon sou afsit terwyl Hy alleen met God was? Ek wonder of Jesus sy radio sou afsit? Ek wonder of Jesus sekere prente van sy mure sou afhaal in kamer of vertrek waar Hy alleen by God is? Ek wonder of Jesus sou probeer het om te verseker dat Hy ten minste vir ‘n tyd lank nie gepla word nie? Ek wonder…

Toe die mense Hom kry, toe wil hulle vir Jesus daar by hulle hou. Jesus se antwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor ek gestuur is.” (Lukas 4:43)

Daar is ook ander plekke waar Jesus geen twyfel laat oor sy missie nie. Jesus se missie is: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God… verkondig.” (Sien ook Markus 1:5) Ek wonder wat beteken dit as ‘n gemeente of ‘n kerk se missie afwyk van hierdie missie van Jesus?

Wat het Jesus bedoel met die “koningsheerskappy van God” (Koninkryk van God) ?

(i) Die verlede is deel van die koningsheerskappy van God. Abraham, Isak en Jakob was deel van die koninkryk van God en hulle het duisende jare terug gelewe. (Sien Lukas 13:28)

(ii) Die hede is deel van die koningsheerskappy van God. In Lukas 17:21 sê Jesus vir sy dissipels: “Hulle sal nie sê: ‘Kyk hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle.” (Lukas 17:21)

(iii) Die toekoms is deel van die koningsheerskappy van God. Die koningsheerskappy van God is iets wat God nog gaan laat gebeur en iets waarvoor die dissipels van die Here Jesus moes bid.

Die vraag is: Hoe kan die koningsheerskappy van God al hierdie dinge (verlede, hede en toekoms) gelyk wees. Ek dink dat die modelgebed wat Jesus ons geleer het, help ons om ‘n antwoord te kry op hierdie vraag.

Eers net dit: Wanneer ‘n mens die Psalms lees, dan kom jy agter dat die Hebreërs ‘n manier gehad het om ‘n ding twee keer te sê. Die tweede keer verduidelik dan gewoonlik wat die eerste keer gesê is. Hou hierdie werkswyse nou in gedagte wanneer jy lees hoe Jesus ons in Matteus 6:10 leer bid het: “Laat U koningsheerskappy spoedig kom. Laat U wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.”

As enige mens in die verlede die volmaakte wil van God gedoen het, dan is hy in die koninkryk van God. Let wel hierdie is nie in die eerste plek ‘n etiese (reg of verkeerd) wil van God nie. As enige iemand gedoen het waarvoor God hom/haar op hierdie aarde geplaas het, dan is daardie persoon in die koninkryk. Daarom is Abraham, Isak, Jakob en Ragab die prostituut in die koninkryk.

Enige mens wat vandag sy lewe wy aan die doen van God se wil – die uitleef van sy skeppingsdoel, is binne die koninkryk van God. Daar is net een manier om te weet of jy God se skeppingsdoel leef en of jy nie dalk jou eie fantasië uitleef nie – ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here. (Dis waar die stil-word gedagte weer inkom.)

Die dag wanneer almal egter volkome gehoorsaam aan die wil van God sal lewe is nog ver in die toekoms – dit is die wederkoms van ons Here Jesus Christus wanneer Hy alles en in almal sal wees.

Net Jesus was altyd en elke keer 100% gehoorsaam aan God se wil. Die res van ons doen dit maar van tyd tot tyd. Tye van gehoorsaamheid word dikwels afgewissel met tye van ongehoorsaamheid. Ons droom egter van ‘n lewe waarin die volmaakte wil van God altyd en elke keer ook in ons lewens sal geskied. Daardie lewe van gehoorsaamheid is nie moontlik sonder ‘n persoonlike verhoduing met die Here wat begin by gereelde tyd alleen met God nie.

HIER KAN JY ‘N DAAGLIKSE GEBED LEES

As jy ook soos ek God se koningsheerskappy wil sien gebeur in hierdie wêreld, “copy” en “paste” hierdie woorde as jou kommentaar of skryf iets soortgelyks: “Here God, laat U Koninkryk hier op aarde kom. Begin met my!”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: