DIE STRYD TEEN MANIPULERING

‘n Man maak ‘n afspraak om my te kom sien. Ek ken die persoon redelik goed en was nogal nuuskierig oor die rede vir sy besoek. Nadat ons al die koeitjies en kalfies gesprekke uit die weg ruim en ek die gesprek in die rigting stuur van die doel van sy besoek, kom die hele kwessie van manipulasie na vore.

Deur die loop van die gesprek kom die volgende opmerkings: “Ek weet ek word gemanipuleer om dinge te doen wat ek nie wil doen nie, maar wanneer ek agterkom ek is gemanipuleer, dan is dit te laat en ek kan my self skop.”

‘n Ander opmerking: “Ek voel misbruik. Ek word gebruik om ‘n ander persoon se agenda te dryf. Hy doen dit op so ‘n manier dat ek dit nie besef voordat dit nie te laat is nie.” Die gevolgtrekking wat ek vir myself uit daardie gesprek gemaak het was dat manipuleerders daarin slaag om hulle sin te kry ten koste van ander.
Die gesprek het my baie nuuskierig gemaak en ek het besluit om ‘n bietjie meer uit te vind oor manipulering en hoe mense ander manipuleer. Ek dink almal van ons word van tyd tot tyd gemanipuleer en daar is verskillende tegnieke wat manipuleerders gebruik.

SOMMIGE MANIPULEERDERS GEBRUIK DIE “ARME EK” BENADERING.

Die “arme ek” manipuleerder speel graag die rol van die slagoffer. Hierdie persoon het ten doel om ander mense se aandag te kry deur mense se simpatie te gebruik – dalk eerder te misbruik.

Die strategie van die manipuleerder is om sy doel te bereik deur die ander persoon effens ongemaklik en onrustig te maak  oor die moeilike posisie waarin die slagoffer hom-/haarself bevind en jou dan te laat besef dat jy iets aan hierdie “slagoffer” se situasie kan doen. Die een wat gemanipuleer word beleef op hierdie punt verskillende emosies. Aan die een kant simpatie vir hierdie mens in nood, maar daarmee saam soms skuldgevoel omdat “ek soveel het om voor dankbaar te wees en kyk nou hierdie arme mens.”

Maar die mense wat die kuns van manipulasie vlymskerp onder beheer het, plaas jou dikwels in die rol van die held of die redder of die een wat in beheer is en in ‘n posisie om regtig te kan help. Jy voel so half en half gevly dat hierdie arme mense soveel vertroue in jou het dat hy/sy regtig daarvan oortuig is dat jy die persoon is om hom/haar uit hierdie verknorsing uit te help. As jy jou weer kom kry het jy iets gedoen waaroor jy jouself later wil skop. Mense naby aan ons laat ons soms na helde en redders lyk wat in staat is om ander ‘n groot guns te doen.

Hoe hanteer mens hierdie mense?

Nie met aanval of agressie nie. Enige aanval of agressie maak die “arme ek” net nog meer van ‘n slagoffer en gee vir die manipuleerder en sy ondersteuners net nog meer skietgoed.

Moenie simpatie verwar met skuldgevoel nie. Die beste reaksie is waarskynlik om nie toe te laat dat hulle jou skuldig laat voel oor wat met hulle gebeur het nie en die omstandighede waarin hulle is nie. Wees jammer vir die persoon maar moenie verantwoordelik voel nie.

Handhaaf jou persoonlike grense. Moenie die persoon toelaat om die grense van jou gemaksone binne te dring nie. Moet hom/haar nie toelaat om fisies te naby aan jou te kom en moenie toelaat dat die persoon jou emosies vir jou bepaal of beheer nie.

Ken jou eie emosies. Weet vooraf wanneer jy gewoonlik iemand jammer kry en weet vooraf dat jy maklik verantwoordelik voel vir ander mense se omstandighede en dat jy geneig is om te wil help.  Die oomblik wat jy hierdie emosies begin beleef, behoort jy bewus te wees daarvan dat jy op die punt staan om gemanipuleer te word. Wanneer jy op hierdie manier kennis dra van jou eie emosies, kan jy opreg omgee vir persoon in nood en hom/haar selfs baie jammer kry sonder om die skuldgevoel te beleef dat jy byna verantwoordelik is vir wat die persoon beleef en sonder te beleef dat jy veronderstel en verantwoordelik en verplig is om iets aan hierdie persoon se omstandighede te doen.

Ken jou self. Moenie toelaat dat die ander persoon vir jou ‘n prentjie van jouself teken wat anders is as wat jy jouself ken nie. As hy/sy jou begin ophemel en jou waarde en lof begin besing, sien rooi ligte flikker. Weet wie jy is en wie jy nie is nie. As die persoon jou ophemel en jou lof begin besing wil hy/sy waarskynlik hê jy moet iemand wees wat jy nie regtig is nie.
Weet wie jy is en wie jy nie is nie.

Sê wat jy dink en wat jy voel. Onthou manipuleerders kom met ‘n draai. Hulle wqil hê jy moet dink en voel dit was jou besluit en keuse om hierdie ding te doen. Moenie die spel volgens hulle reëls speel nie. Sy duidelik wat jy dink en wat jy voel sodat daar by persoon geen twyfel kan wees nie.

Bv.: “Ek is regtig jammer vir jou, maar ek gaan jou nie help nie.”

“Ek sien die probleem, maar ek weet ek is nie die regte persoon om jou te help nie.”

“Ek kan verstaan dat hierdie ding vir jou ‘n probleem is, maar vir my is ander dinge op hierdie stadium belangriker.”

Daar is nog drie manipuleer-tegnieke, waaroor ek by ‘n later geleentheid sal skryf.

Advertisements

20 Kommentaar

Filed under Nagedink

20 responses to “DIE STRYD TEEN MANIPULERING

  1. Thinus

    Doom

    Ek is ‘n manupileerder, ek het dit gelukkig vroeg in my lewe agter gekom, omdat iemand my daarop gewys het, daar is ‘n goeie boek daaroor geskryf, genaamd die ” Verwoester van ons tyd” deur Dr Scott, hy is ‘n Volle Evangelie prediker in Kempton Park.
    Hy praat oor verskillende vorms van manupilasie, hy noem dit emosionele aanvalle, waar die aanvaller dikwels iemand baie na ons is, en dat die slagoffer getrap voel partykeer in huwelike, families, werk omstandighede, hulle word ook baie keer manupileerders.

    Tiens

  2. Alec

    Attie
    Ek kan sien jy was al gemanupileer want jy beskryf dit so raak. Ek sou nog kon byvoeg dat hierdie persoon jou sal oortuig dat hy jou sou help as die situasie andersom was maar hy het dan nou hierdie “probleem” en daarom is hy so magteloos. As ek dit betyds agterkom voel ek ek moet aan die persoon se ek weet hy probeer my manipuleer.

  3. Attie, skryf tog ook oor die manier van manipulering, gewoonlik in ‘n verhouding, waar die een persoon die ander een manipuleer om by hom/haar te bly deur die persoon te laat glo hy/sy is nikswerd en niemand anders sal ooit in hom/haar belangstel nie.

    Die gemanipuleerde persoon het later geen selfbeeld meer oor nie. Hierdie is die wreedste vorm van manipulasie en sulke manipuleerders moet uitgelig word en gestop word!

  4. Tiens: Ek sal oor ten minste nog drie vorme van manipulasie ietsie skryf. Ek glo dat manipuleerders ook deur die genade van die here hulle leefstyl kan aanpas.
    Alec: Ja, ek is al gemanipuleer in my lewe. EK het dit die meeste van die kere agtergekom as dit te laat is. EK wonder dikwels of manipuleerders weet hulle manipuleer of, of hulle sal erken dat hulle manipuleer.
    sonkind: Dit lyk my verskillende manipuleerders gebruik verskillende tegnieke. Ek vermoed manipuleerders in verhouding kan ook die “arme ek” tegniek gebruik om mense in die huwelik en gesin te manipuleer. Hou gerus dop wat ek oor die ander drie skryf.

  5. Ansie

    Attie,
    Ek het ook alweer in die slaggat getrap.Hoe verder jy die manipuleerder beskryf hoe meer begin ek toe wonder of dit dieselfde persoon, wat my gevang het,is waarvan jy praat en of jy ook deur die persoon gevang is!Die beste van alles is: ek weet ek is besig om gemanipuleer te word maar ai,ek is mos n Christen, ek moet mos help!Agterna besin ek weer en hoe de vieste in is ek vir myself!!Sal ek nooit leer nie!Ek het n man wat nogal kan agter kom as iemand n mens manipuleer en as ek hom begin vertel en hy se:”Maar vrou,kan jy nie sien….” ,hoef hy nie verder te praat nie want ek weet dan ek het klaar weer daarin getrap!

    Tog dink ek al is jy hoe versigtig word jy tog soms uitgevang.My wyse man is self al ook n paar keer gevang,al is hy hoe bedag daarop.

  6. Justine

    Ek het so paar dae gelede ʼn hegste stel afgetrap; myself skop is ʼn understatement!

  7. Ansie: Jy’s reg. Mens weet, maar hulle slaag juis omdat die tegniek effektief is. My doel is juis om mense bietjie te help om hier deur te worstel.
    Justine: Is nogal waar dat mens bitter kwaad word vir jouself as jy te laat agterkom wat gebeur het.

  8. Doomat

    Hierdie is nou werklik ‘n interessante inskrywing!

    Dit is met groot huiwering dat ek dit tog versigtig waag …
    1. Is manupilasie nie ‘n kommunikasievaardigheid of -tegniek wat nie noodwendig net negatiewe gevolge hoef te dra nie?

    2. Is manupilasie (as kommunikasievaardigheid) nie ‘n tipiese bewys, onder andere, van emosionele of sosiale intelligensie nie?

    3. Presies hoe behoort manupilasie omskryf te word – op ‘n praktiese vlak: X en Y is in ‘n verhouding / getroud met mekaar. X is die een met ‘n persoonlikheid meer dominerend en sterker as die van Y. Y neig van nature tot ‘n melancholiese, haas depressiewe geaardheid. Wanneer Y bloot hom-/haarself is en ietwat a-sosiale gedrag toon, wakker dit die vuur in X aan. Kort voor lank irriteer Y vir X tot sodanige mate dat X genoop voel om Y aan die kort hare beet te kry. Soms grens dit aan ‘n uitskelparade – dis hoe Y, met die meer gematigde persoonlikheid X se optrede ervaar. X, daarenteen, met ‘n vinnige, dinamiese, passievolle persoonlikheid, het nog nie eers geDINK aan uitskelparade nie. X het bloot die frustrasie kommunikeer. Y se reaksie op wat Y ervaar as ‘n aktiewe aanval deur X, is om op ‘n gegewe stadium in neerslagtigheid te verval en noodwendig die gevoel van miserabelheid, goed-vir-niks te kommunikeer.
    Wie in hierdie voorbeeld is die ware manupileerder? X sal volkome oortuig wees daarvan dat X die slagoffer van manupilasie is – Y laat vir X skuldig voel met Y se “patetiese persoonlikheid”. Y, aan die anderkant, sal eweneens oortuig wees daarvan dat s/hy die eintlike slagoffer van manupilasie is – X manupileer Y met sy/haar “uitbarstings”.

    4. Verder tot die voorbeeld in nr. 3:- wie is die ware manupileerder? Die een wie beskuldig word van manupilasie of die een wie die aantuiging maak?

    5. Persoonlik reken ek dat manupilasie bloot ‘n kommunikasievaardigheid is, maar dat die oogmerk en die resultaat van die gebruik daarvan bepaal of dit “goed” of “sleg” is.

    6. Ten slotte: persoonlike oortuiging – die ware slagoffer van manupilasie besef nie dat s/hy gemanupileer word nie. Die meester manupileerder is die een wie die “aanval van manupilasie” herken, erken, ontvang en die aanvanklike manupileerder se manupilasie manupileer sonder dat die aanvanklike manupileerder dit besef.

    My opregte verskoning vir die lang, onsamehangende kommentaar. Baie dankie dat ek mog, Doomat.

    Hangergroete
    phlippa

  9. Haai Pippa.
    Dankie vir jou kommentaar. Jy is heeltemal reg. Hierdie is ‘n lewensvaardigheid wat te ver gevoer word. Emosionele intelligensie is ‘n baie belangrike aspek van enige persoon in enige posisie van leierskap. Wanneer die positiewe te ver gedruk word, ontaard dit in die fyn kuns van manipulering.
    Oor die probleme in ‘n huwelik. Dikwels voel mense die verhouding het ondraaglik geword omdat ek dinge doen en dinge beleef wat ek nie wil doen nie en nie wil beleef nie. Manipulasie is nie die oorsaak nie, ‘n verbrokkelende verhoudings is eie oorsaak van daardie ervaring.
    Die ander deel is natuurlik dat mense wat nie in staat is om hulle self te handhaaf nie, die maklikste slagoffers is van ander mense se nukke en grille. Vir sulke mense hoef jy nie ‘n manipuleerder te wees om hulle sover te kry om te doen wat jy wil hê nie. Hulle kan net nie “nee” sê nie.
    Die wat die kuns van manipulering bemeester het, manipuleer dikwels van die grootste en sterkste karakters in hulle omgewing.
    Laastens: Daar word in ‘n sekere van leiers verwag om mense sover te kry om te doen wat hulle oortuig is die regte ding is om te doen. Alle leiers is nie manipuleerders nie.
    Groete.
    Attie

  10. Doomat

    Doomat sê “alle leiers is nie manupileerders nie”. Beteken dit dan ook: “nie alle leiers is manupileerders nie”?

    Weer eens: is dit moontlik dat ‘n leier van manupilasie as kommunikasievaardigheid gebruik maak ten einde ‘n bepaalde oogmerk te bereik? Indien wel, is dit noodwendig sleg?

    Hmm… self reken ek nogal dat manupileerders nie leiers is nie. En leiers nie manupileerders is nie, Doomat. Die kernverskil vir my tussen ‘n leier en ‘n manupileerder, is dat ‘n leier se voetspore gevolg word. ‘n Manupileerder kry gewoonlik ‘n ander om die voetspore te trap waar hy hulle wil sien lê.

    Dit bly vir my interessant … die verskillende perspektiewe. Dankie vir die geleentheid.
    p

  11. Pippa: Ek dink beslis leiers gebruik vaardighede wat ooreenstem met die tegnieke wat manipuleerders gebruik. Die een groot verskil is dat die leier se mense gewoonlik weet waarheen die leier oppad is omdat die leier nie met ‘n verskuilde agenda werk nie, terwyl manipuleerders hoofsaaklik met ‘n agenda werk waarvan niemand anders enige iets weet nie. Die wat dink hulle weet raai in elk geval net daaroor. Ek dink daar is manipuleerders in leiersposisies, maar dit maak nie van hulle leiers nie.
    Leiers trap die voetspore waar hy wil hê ander ook moet trap. Manipuleerders laat mense voetspore trap waar hy te bang is om self te trap.
    Dankie jy laat my dink.

  12. Zee

    Doom, hoe meer ek hierdie post en comments lees, hoe meer sien ek my in paragraaf 2 en 3. Ek is al jare die slagoffer van dit.

  13. Justine

    Baie interessant en leersaam, veral die selfverdedigingswenke. Dankie Attie.

  14. Magrietjie

    Die gevolge wat dit op my as persoon gehad het.

    Dit is ʼn stryd om in ʼn verhouding staande te bly waar die gesonde eerlike, spontane verwisseling van jou menswees verpand word vir ‘n leun leef. Diegene wat al reeds hierdie versmoring die ‘self’ ervaar het sal weet waarvan ek getuig.

    Dit kweek ʼn verwronge beeld van liefde; en die vrugte daarvan is; wantroue, onsekerheid, hartseer, bitterheid, twyfel ongegronde skuldgevoelens. As dit lank genoeg voortduur verloor, met die gepaardgaande ‘control freak attitude’ sal jy respek en agting vir jouself en vir die persoon wat jou menswees stuk vir stuk vermoor het verloor. Dit stroop jou spontaniteit en geloof in jouself en die mensdom en dit het baie ander verrykende gevolge.

    Ongelukkig laat ʼn mens dit toe; soms net in die begin, en soms vir jare uit onkunde en ʼn misplaaste gevoel van lojaliteit – gebore uit vrees.

    Dit het my baie lank geneem om uit hierdie wurggreep te ontsnap en myself weer te vind. Dit gebeur wel dat jy jou enkel swik as jy weer onverhoeds betrap word, maar jy leer om ook jou gedeelte van die verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

  15. Justine: Dankbaar as dit jou kon help.
    Magrietjie: Ek is altyd dankbaar mens leer uit jou foute uit, maar ek wens ek het genoeg geweet om nooit weer deur ‘n manipuleerder gevang te word nie. EK is bevrees ek swik ook maar nog my enkel dan en wan.

  16. magda scheepers

    graag meer wil uitvind omtrent manupilasie. Dankie

  17. Sonja

    Ek kon die wurggreep na 16 jaar ontsnap. Dit is nie maklik nie maar moontlik. Ek besef nou ek sukkel om myself te handhaaf, soek erkening en aanvaarding. Voel gou jammer vir mense en is baie naief.
    Tog is daar ook ‘n anderkant wat nie nonsens vat nie, realisties is, “handson” by die werk, betroubaar, sterk leierskap altyd positief. Hoe is dit dat die Wolwe ons so kan byt? Sal baie graag meer inligting oor die onderwerp wou lees. Dit lig vir my die slaggate uit en ook my swakpunte.

  18. Petra Moolman

    Waar begin mens die manupileerder help om anders op te tree? Het so pas by die skool gehoor dat my Graad RR kleinkind ‘n manupileerder is. Hoor graag van u

  19. Geen hoop meer nie

    Dear is niks hulp,raat,boeke,unions nie eers gebet of bybel help teen manipulering nie my lewe is niks mee nie my loopbaan niks my identityd niks nie een ding werk nie hy ken alles weet alles hy kan om elke ding werk SOO WAT DAN en hoe dan

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s