INKEER…

Ek begin vandag my reis na Kersfees. Vir die volgende dae tot kersfees gaan ek elke dag iets uit die kergebeure uit die Bybel lees en dan ‘n paar van my gedagtes hier neerskryf.

Ek lees vandag Markus 1:1-4.

Markus is die oudste en korste van die vier evangelies. Hy begin ook sy verhaal die verste terug. “Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God. In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf…”

Die kersgebeure begin nie by die geboorte van Jesus nie, dit begin nie eers by die optrede of geboorte van Johannes nie, dit begin baie lank terug in die gedagtes van die profete – en aangesien die profete op ‘n onverklaarbare manier gesê het wat in God se gedagtes was, kan ons sê dat die geboorte van Jesus begin baie jare terug in die gedagtes van God.

Die geskiedenis kan God nie onverhoeds betrap nie. Een van die eienskappe van God is dat Hy altyd besig is om sy plan te werk. As Hy Abraham gaan roep in Ur van die Chaldeërs, is God besig om sy plan te werk. Wanneer Moses uit Egipte geskop word, is God besig om sy plan te werk. Wanneer Johannes gebore word, is God besig om sy plan te werk. Wanneer God hierdie gebroke mens roep om voltyds in sy diens te staan, is God besig om sy plan te werk. God sien die einde reeds in die begin. God werk vandag, gefokus op die einde wat Hy beplan.

Ons is deel van daardie proses – die proses waar God met alles oppad is na ‘n duidelike geformuleerde bestemming. Omdat ons deel is van daardie proses, kan ons een van twee dinge  doen: Ons kan die proses bevorder of ons kan die proses belemmer. Ons bevorder nie die proses deur op ‘n stoep te sit en na die eindpunt te verlang en oor die eindpunt te droom nie.

Ons bevorder ook nie die proses deur soos laerskoolkinders op dieselfde speelgrond mekaar sleg te sê nie.

My tydjie op die “blogosfeer”, het my laat besef dat jy nie die Christene in kategorieë kan indeel nie.

Tussen al die Christene of mense wat In Christus Jesus glo is daar die wat dit as hulle lewenstaak beskou om God se eer te verdedig deur enige iets wat enige iemand doen om God te na te kom, (Deon Maas en Garreth Cliff) aan die groot klok te hang en aksie te neem.

Daar is ook die ander wat hulleself dalk nie Christene sal noem nie, maar eerder gelowiges en dalk nie aan ‘n spesifieke kerk verbonde is nie, wat erg geïrriteerd raak en dan geroepe voel om teenoor hierdie eerste groep te reageer. Soms baie skerp en met baie venyn.

Altwee die groepe kry reaksie by die mense wat nie (meer) glo nie. Die eerste groep laat die wat nie (meer) glo nie net weer onthou waarom hulle nie (meer) glo nie. Die tweede groep gee vir die wat nie (meer) glo nie geleentheid om gal te braak en Christene en die kerk met klippe te gooi.

Nou lyk dit my sommige het nie my kommentaar op my eie post gelees nie, en daarom sal ek iets meer daaroor hier probeer sê. Ek was met my inskrywing oor Deon Maas daarvan oortuig ek dien die saak van die koninkryk van God. Vandag besef ek, daar is geen oorwinning in wat gebeur het nie. Die enigste manier waarop ‘n Christen op ‘n oorwinning kan steun is wanneer sy optrede die eer van God bevorder het, en dan sou dit ook die saak van die koninkryk van God bevroder het. My skrywe oor Deon Maas het nie daartoe bygedra dat die eer van God bevorder word en/of die saak van die koninkryk van God vorentoe geneem word nie, die teendeel is eerder waar. Met ander woorde: Ek was verkeerd.

Christene en gelowiges bevorder nie die saak van die koninkryk van God deur op mekaar te fokus en mekaar sleg te sê nie. Beide is kwaad oor dit nie is hoe God behandel moet word nie.  Maar sal enige iemand kies om in Christus Jesus as die Seun Van God te glo deur ons optrede. Ons belemmer net die saak van die koninkryk.

Ek dink nou aan daardie een gelykenis waar Jesus vir die ouens wat duiwels uitgedryf het en mense gesonde gebid het sê dat Hy hulle nie ken nie. Ek het net ‘n vermoede dat hier ook so ‘n voorbeeld is. Ons sal voor die Here Jesus kom staan en sê: Ek het daardie sms aangestuur wat gemaak het dat Deon Maas nie meer in Rapport skryf nie; of: Ek het daardie petisie geteken wat Garreth Cliff in die moeilikheid laat beland het oor die dinge wat hy oor U gesê het; of: Ek het daardie “goeie Christene” op hulle plek gesit toe hulle Deon Maas of Garreth Cliff so sonder liefde behandel het en hulle ‘n klein bietjie van hulle eie medisyne gegee. Ek is bevrees dat die Here Jesus ook vir sommige van ons sou kon sê: “Gaan weg van My af, ek ken julle nie.”

God is met hierdie skepping oppad na ‘n wonderlike einde. Ek en jy is deel daarvan. Of ons kan die aanbreek daarvan bevorder of dit belemmer, maar ons kan dit nie maak gebeur nie, en ons kan dit ook nie keer om te gebeur nie. Ons kan die saak bevorder deur ‘n gesindheid van kom ons leer by mekaar. As ons die saak van God se koninkryk voorop stel in alles wat ons doen en mekaar help om die dinge te doen wat werklik die saak van die koninkryk op die regte manier bevorder, dan is ons op koers.

Baie jare terug het daar in die gedagtes van God reeds die antwoord bestaan vir die mislukking van die mens in God se skepping – God sou sy Seun stuur. Deur die profete het God die belofte van ‘n toekomshoop aan mense bekend gemaak. Vir baie jare was dit veral die Joodse mense wat in die verwagting geleef dat die Messias sou kom. Johannes is deur God gestuur om die omstandighede vir Jesus voor te berei. Hy het ‘n boodskap verkondig wat daarop neergekom het dat mense hulle moes laat doop as bewys dat hulle tot inkeer gekom, dat hulle ‘n nuwe rigting met hulle lewens ingeslaan het.

Die Messias het gekom en die Joodse mense het Hom gemis. Hy het tussen hulle geleef en hulle het Hom nie herken as die Enigste Seun van God nie. Hulle was blindelings op ‘n pad van self-regverdiging en geestelike hoogmoed.

As ek my moes laat doop vir elke keer wat ek ‘n nuwe lewenskoers ingeslaan het…

As ek my moes laat doop vir elke keer wat ek oortuig was daarvan dat ek reg was, en later tot inkeer gekom het en besef het dat ek verkeerd was…

As ek my moes laat doop vir elke keer wat ek in goeie trou ‘n ding gedoen het wat ek glo die saak van die koninkryk van God bevorder, om net later te ontdek…

Ek sal maar net in sy teenwoordigheid sit en sy genade oor my laat spoel. Ek sal maar net toelaat dat Hy deur die onverklaarbare werking van die Heilige Gees my vorm. Ek is die klei in die hande van die Pottebakker.

Ek het een keer as student ‘n t-hemp gehad waarop die volgende logo was: “I ain’t what I ought to be, but thank God I ain’t what I used to be.”

3 Kommentaar

Filed under 30 Dae met Jesus

3 responses to “INKEER…

  1. Attie, ek dink hierdie is ‘n uitstekende inskrywing!

    My 2 sent oor God se Almagtigheid: God se Almagtigheid le juis in die feit dat Hy ENIGIETS wat gebeur kan vorm om deel van Sy plan te wees!

  2. Bib: Thanx – ek het nou nie daaraan gedink nie, maar dit is natuurlik so: God kan absoluut enige iets in diens neem, selfs ons foute en mislukkings en stupidgeite.

  3. Pingback: My vyf? Nee, JULLE vyf!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s