Meneer…
Ek weet nie of jy my sal onthou nie. Jy was een van baie onderwysers in ons skool. Jy het die rugbyspan afgerig waarin ek ook graag wou speel. Jy het van graad 8 af (Toe was dit Standerd 6) af die A-span afgerig. Ek weet nie of jy sal onthou nie meneer, maar ek het nooit die span gehaal nie. Ek het destyds verstaan dat ek nie goed genoeg was nie en dat Schalk wat in my plek skrumskakel gespeel het net eenvoudig die beter speler was.
Ek het nooit in my hoërskool loopbaan die A-span of die eerste span gehaal nie. Dankie dat meneer my ten minste elke keer kaptein van die tweede span of die B-span gemaak het, dit het darem gehelp alhoewel ons dikwels nie kon speel nie. Die skool was te klein meneer, al die spelers het nie altyd opgedaag nie. Dankie ook dat ek so nou en dan reserwe vir die eerste span kon wees.
Ek wonder of meneer raak gesien het dat ek baie getrou was by die oefening en nie een oefening gemis het nie. Ek wonder of meneer gesien het dat ek hard gewerk het in die af-seisoen om fiks te bly en my bal vaardighede te verbeter. Ek wonder of meneer gesien het hoe ek alles wat meneer my geleer het probeer toepas het. Ek wonder…
Want daar is vandag iets op my hart meneer. Ek het dit nooit besef nie, maar vir redes wat nie nou belangrik is nie, het ek in die laaste paar dae weer oor hierdie dinge begin dink. Meneer sal verstaan hoekom ek so sê. Ek glo nie meneer onthou daardie rugbytoer waarop ons gegaan het en ek die hele toer nie een wedstryd gespeel het nie. Ek dink ook nie meneer sal onthou wat meneer vir my gesê het toe ek na die toer baie teleurgesteld van die bus afgeklim het nie. Almal het gespeel behalwe ek. Meneer se woorde was: “Nel, sê vir jou ouers hulle moenie inmeng met my afrigting nie.” Ek het toe nie verstaan nie, maar ek verstaan vandag. Ek is jammer dat my ouers gedink het ek speel bietjie beter as wat meneer gedink het ek speel. Ouers voel mos maar so oor hulle kinders, ek wou nie met meneer kontak hou nie, so ek sal nie weet of meneer enige kinders het nie, maar glo my – ouers voel maar so oor hulle kinders. Ouers wil die beste vir hulle kinders.
Maar dit tref my toe nou in hierdie laaste paar dae wat se groot pelle meneer en Schalk se pa was. Jy het graag whisky gedrink meneer. Ek onthou. Ons het jou afgeloer in die koshuis as julle daar in jou kamer kuier. Daar was mos nooit ‘n skaarste in jou kamer aan jou gunsteling whisky nie – ek moet darem sê meneer se whisky smaak was nie “cheap” nie. Jy en Schalk se pa en nog ander ouens het gaar daar in jou kamer in die koshuis gekuier. Ons het nogal so nou en dan lekker vir julle gelag as julle so effens op ‘n stasie was. Jy het my daardie een keer probeer vang, maar ek het weggehardloop en die volgende dag kon jy nie onthou nie. Ek onthou ook dat jy dikwels ‘n jagnawekie gekry het om saam met ‘n paar vriende ‘n bokkie te gaan skiet. Ek onthou ook hoe Schalk se pa die rugbyspan bederf het. Die span waar Schalk in was se moraal was hoog oor al hierdie bederfies vir die span en die span se afrigter. Schalk se pa was mos ryk – ‘n hele paar plase. Schalk het van Graad 10 af (Standerd 8 daardie jare) al met sy eie bakkie skool toe gekom. Ek dink amper meneer het hom nou en dan geleen as meneer se eie kar nie so lekker was nie – dikwels as gevolg van daardie nie te goedkoop whisky nie. Die res van ons was maar arm. Onthou, meneer ons het koshuisbeurse gehad omdat my ouers maar bietjie swaar gekry het en nie altyd al die finansiële puntjies by mekaar kon hou nie.
Ek skryf eintlik om dankie te sê.
Dankie dat meneer my geleer het hoe om teleurstellings te verwerk. Elke jaar het ek gehoop dit sal hierdie jaar anders wees. Elke jaar was ek teleurgesteld. Elke jaar moes ek hierdie teleurstelling hanteer. Meneer sal onthou dat ek erg rebels was en meer slae as kos gekry. So rebels dat ek allen in ‘n kamer moes bly omdat ek dalk ‘n slegte invloed op die ander ouens sal wees. Ek was kwaad meneer, baie kwaad. Maar ek was ook seer meneer. Menige aand na ligte uit het ek alleen in my gehuil van teleurstelling, meneer. Dit was baie seer, maar “cowboys don’t cry”. Maar dit was in Graad 11 wat ek ‘n besluit geneem het: Ek sal nooi ophou probeer nie net omdat ek dit een of twee of drie keer nie gemaak het nie. Ek het elke jaar teruggekom meneer, en ek weet dit was elke jaar, maar veral die laaste twee jaar was dit vir jou bitter moeilik om Schalk te kies, maar jy het hom gekies. Vandag kry geen teleurstelling my onder. Ek tel altyd weer my kop op. Jy het my dit geleer. Ek wil net sê, meneer ek het die volgende jaar in die weermag vir ons eenheid se eerste span gespeel. Ekhet proewe gespeel vir die Suid Afrikaanse Weermag span. Snaaks hoe mens se spel in een jaar kan verbeter.
Dankie vir wat meneer my oor deursettingsvermoë geleer het. Vasbyt is die woord wat meneer gebruik het. Ek het in daardie tyd geleer dat ek nie moed opgee net omdat een of twee persone vir my probeer sê dat ek nie my drome kan verwesenlik nie. Ek het geleer om vas te byt en weet meneer wat, die meeste van my drome het werklikheid geword. Ek het nie alles geword wat meneer gesê het ek gaan word nie. Ek het baie meer geword. In daardie jare van rugby op hoërskool het ek geleer wat deursettingsvermoë is.
Dankie vir dit wat meneer my oor selfbeeld geleer het. Ek het geleer dat my selfbeeld nie afhanklik is van dit wat mense soos meneer van my dink nie. My selfbeeld word gevorm deur ‘n eerlike kykie na myself deur myself en mense wat regtig vir my lief is en my belange op die hart dra. My ouers byvoorbeeld, hulle het deur alles steeds lief gebly vir my en my bly motiveer. Ek het ook goeie vriende gehad wat met my eerlik was oor my swakpunte en my sterkpunte. Ek het geleer om mense wat nie eerlik is nie nie te glo oor wat hulle wat van my sê nie. Van my grootste vyande was meer eerlik met my as wat meneer ooit was. Hulle het my meer gehelp om te sien wie ek regtig is as wat meneer ooit gedoen in ses jaar op hoërskool gedoen het. Ses jaar – ek het een jaar gedruip, maar dalk sal ek in ‘n volgende brief iets daaroor sê.
Dankie vir wat meneer my oor regverdigheid geleer het. Ek het geleer dat onregverdigheid en oneerlikheid mense seer maak, bitter seermaak. Ek probeer na die beste van my vermoë regverdig wees en eerlik wees. Ek kry dit nie altyd reg nie, en die kere wat ek dit nie regkry nie, dan dink ek aan my rugbyjare en ek gaan vra verskoning omdat ek mense seergemaak. Verskoning vra beteken ek gaan sê: “Sorry, dat ek jou met my optrede seergemaak het.” Ek dog meneer sou wou weet.
Dankie dat meneer my gehelp het om my kind ‘n klein bietjie te help om ‘n goeie onderwyser te wees. Ek vertel dikwels vir hom staaltjies van my hoërskooljare en my ervarings en baie kere eindig die staaltjie so: Dit is hoe jy nie ‘n onderwyser moet wees nie. Hy rig vandag sy hoërskool se hokkie span af. Hy gaan ook hier lees. En ek dink hy sal bietjie beter verstaan van afrigter wees nadat hy hier gelees het.
Ek dog net ek sê vir meneer hierdie paar dingetjies.
Groete en nogmaals dankie.
Attie.
Sjoe! Dit raak diep snare aan. Woorde het ek nie om dit te beskryf nie…
My (moeder)hart huil en is op ‘n onverklaarbare vreemde manier so baie baie trots op jou! Dat God nou so mooi na die ‘rebel’ gekyk het, soveel so dat God se fingerprints all over hierdie possie lê vandag – dankie daarvoor!
Ek wens jou meneer kan hierdie lees. Ek hoop ook dat ander onderwysers hierdie lees. Ek besef dat onderwysers deesdae in baie moeilike omstandighede skoolhou, ek was ook in die professie maar hele paar jaar gelede al opgehou. Ek weet ook dat kinders deesdae nie respek het vir onnies nie, maar soms wonder ek of die onderwyser se optrede die nodige respek verdien….ek vra maar net. Wat ek altyd saam met my sal dra is ” Mens het 2 ore en een mondgekry…..om MEER te luister as te praat!”
BB: Dankie ek het gedink ek skryf namens ‘n paar ouers vandag ook.
Marina: Wat jy sê is waar – onderwysers het dit nie maklik nie. My eie seun is een (Hy studeer eintlik terwyl hy onderwys gee) maar hy glo dit is waartoe die Here hom geroep het. My vrou was ook een en ek ken baie onderwysers in ons skole en ek sal met baie groot vrymoedigheid sê: Nie alle onderwysers is so nie.
Doom ek stem saam, daar IS goeie onderwysers en ek dank die vader vir hulle en dat hulle ‘n passie het vir wat hulle doen.
Sjoe, jou brief bewys net weereens watter massiewe verantwoordelikheid onderwysers eintlik het. Hulle woorde/dade kan so maklik ‘n kind se gees breek. Want kom ons wees nou maar eerlik, nie alle kinders is gelukkig genoeg om ten volle deur hulle ouers ondersteun te word nie, en sukkel dus om sulke terugslae te verwerk.
As jy dit uit daardie hoek beskou behoort opvoeders dan eintlik hoog besoldigde mense te wees, gegewe die verantwoordelikheid wat hulle dra
Dankie vir hierdie vertel, dit sny diep. En dit bewys ook weer die woorde: “You can’t keep a good man down.”
Ek was bevoorreg om deur al my skooljare goeie en regverdige onderwysers te he, dit besef ek nou weer.
En ek wonder nou, wat het toe van Schalk geword?
Jaco ek kan nie meer met jou saamstem nie. Goeie opvoeders word nie genoeg waardeer of genoeg betaal nie.
Sonkind: Schalk… ek weet nie regtig wat om te sê nie. Ek sal maar net sê dat sy ouers nie graag oor hom praat nie.
wag-‘n-bietjie: Skuus man hierdie ding spam jou die hele tyd. Sodra ek dit sien maak ek reg.
More Attie,
Ja hierdie roer n hart…..
n Onderwyser kan jou maak of breek, ek onthou in standerd 3 het ek n Wiskunde onderwyser gehad wat alles vir my was en Wiskunde was my beste vak tot in matriek.
Ek dink nie onderwysers besef altyd wat hul kan skade doen nie, maar gelukkig kry jy ook goeies.
Dankie vir hierdie deel vamore het ek dit nodig dat ek goed kon
uit huil………
Sonnekind: Ons huil saam met jou. Sterkte vir jou en mannie.
Attie dit is treffend en weereens bevestig dit hoeveel mense met wonde rondloop. Die grootste wonde word deur ouers, onderwysers en vriende veroorsaak maar gelukkig ken ons die Geneser van wonde. Jy het my ook geleer dat ons wel vergewe maar die vergeet is nie verpligtend nie. Die moeilikste om te vergeet vir my is die kere wat ek ander mense gewond het met my woorde en dade, veral in my B.C.- dae.
Ek mis julle vrek baie. As ek jou blog lees voel dit asof ek tuis is…
Hi Fanie. Lekker om van jou te hoor. Net gisteraand oor jou ge-“skinder”. Die tieners in die selgroep mis jou en Louise besonder baie. Sê groet vir haar en die kinders.
Attie, hierdie was nou ‘n treffende inskrywing. Wel gedaan!
Dankie BiB. Dit is hoe ek hierdie dinge destyds beleef het, maar ek het eerder besluit om die brief vir my destydse onderwyser te skryf as wat ek dit aan een van vandag se onderwysers geskryf het.
Ai Attie sorry vir jou simple meneer. Maar dankie vir die positiewe wat ek kon lees en n les of 3 wat ek weer vir my seuns deur hulle “rugby loopbaan” kan leer. As ons groot is besef ons A Span en B span is toe nou nie so belangrik nie maar vir die kids is dit tog belangrik….
Oe hoe dink ek ook nou terug. Ons juffrou het weer haar oogappeltjies gehad, wie altyd die span gehaal het, of hulle nou kon of nie kon nie.
Snaaks hoe onderwysers ook teen jou dogter draai as sy goed is in ń sport en sy besluit sy het nou genoeg gehad.
Die lewe is nie vir sissies nie
Briljant geskryf. Baie dankie
Jy laat my hart swel met wonderlike emosies want sien, ek is ook ‘n oorwinnaar. Dit is fantasties, maar die beste van alles is dat ek weet wie ek is en niemand kan dit wegneem nie
Attie, hoe bitter waar is hierdie brief nie! As onderwysers net wil besef hoeveel mag hulle oor ons kinders se selfbeeld het… Diep woorde wat sekerlik nie maklik was om neer te pen nie. Veertjie uit my hoed vir jou.
Dankie vir julle terugvoer. Nege jaar terug se inskrywing.
Die brief moet aan alle skole in SA gestuur word, waar steeds onregverdige keuses gemaak word al beloof die afrigters en hoofde dat dit nie die geval nie. Wikus
Baie dankie vir die pragtige brief. Dit is so treffend. Ken ook sulke persone wat alles na die onnie of hoof aangedra het, vir n plek in n span of hy dit verdien of nie. Ek is so bly jy het “BO” uitgekom, en kyk die opvoeding na jou kinders is hoogs super en hulle vorder baie goed. Sterkte. die brief was n riem onder die hart !!!!!!!
Wonderlik gestel. Uitstekend! Laat my so baie dink asn my learskool afrigter en klasonderwyser. In 1978 het hy my die prys gegee as die lelikste kind in die skool. Hulle kon broers gewees het. Daai woorde van hoe ‘n onderwys nie moet wees nie, was my motivering on die beste onderwys te wees wat ek moontlik kon. Ek voel jou.
Sjoe! Wens elke MENS wat met ander mense werk lees vandag hier. NIE net onderwysers nie. Ons tonge BREEK of BOU !
Ek sien die brief is al in 2009 geskeyf. Ek sien dit nou eers en gaan nietemin kommentaar lewer
As onderwyser, amper aan die einde van my loopbaan, weet ek dat daar baie waarheid in die brief is en dat wat daar beskryf word, sekerlik nog vandag ook plaasvind.
Tog wil ek ‘n lansie breek vir die al doe onderwysers wat dag na dag en nawek na naweek op die sportveld staan saam met hulle spanne. Onderwysers wat net die beste ten doel het vir hul leerders. Onderwysers wat, ten spyte van baie eksterne druk, nog steeds die spelers kies in wie hulle glo sonder doelbewuste benadeling van enige kind.
Hulle is ook nog daarbuite! Hulle benodig ook ons erkenning!
Ek hoop “Meneer” het die treffende brief gelees. Gaan gerus Parlement toe Meneer. Jy sal baie goed inskakel daar. Attie jy is ‘n doring.
Dankie vir ‘n wonderlike brief Attie. Ja onderwysers en skool hoofde doen dit aan kinders. Ons het daar die jaar deur gedring na die finaal op Loftus in die ou Administrateur beker as O15A span. Al ons wedstryde gewen maar daardie belangrike een verloor. Slegs drie in die span het rugby balkies gekry. Ek het altyd gedink ‘n span bestaan uit 15 spelers plus reserwes. Dit was die 3 blou oog spelers van die skool hoof wat natuurlik die balkies gekry het. Noodeloos om te noem dat ek besluit het om nie verder vir die groter spanne wou speel die volgende jaar nie.
Dit is baie hartseer wat met jou gebeurhet, en ek kan se dat ek verstaan. Ek was ook in n’ klein skool gewees en ek weet nie of dit so in groot skole ook gaan nie, maar die ryk ouers trek all die toutjies. Ek weet van baie sportsmanne in ons skool wat goed genoeg was, maar wat op die kantlyn moes sit omdat die ryk ouers se kinders kan speel.
Ek is bly dat jy deur dit gekpm het en vir jouself ‘n goeie lewe gemaak het. Ek haal my hoed af vir jou!!
My storie is effe anders want ek het ‘n meneer gahad wat potensiaal in almal gesien het. Hy het my van die skoolstoepe gekry (onwetend het by my ma gebel en haar gesmeek om my toe te laat om rugby vir skool as o/15A te speel. Hy het ons binne maande tot topspan verhef. Ek hoop en glo jou seun Sal die tipe opvoeder en afrigter wees. Vandag is ‘my meneer’ die hoof uitcoerende beampte van gesiene procinsiale rugby maatskappy.
Ai Attie, dit bly maar ‘n verhaal vir menigte kinders – met of sonder ryk ouers! Glo my…jou brief slaan baie na aan die huis. Maar ja, met een ding stem ek saam….my kinders leer teleurstelling verwerk en eendag gaan dit hulle help in die grootmenslewe daar buite!
Pragtige eerlike brief!
Laat my besef hoe “blessed” ek was. Wiskunde was my doodsvak…my pa het my gedwing om wiskunde as vak te neem. Dankie tog vir my wiskunde onnie. Hy het besef ek en wiskunde hoort nie in dieselfde kamer te wees nie. Hy het al sy vrye tyd opgeoffer om my te laat slaag…jaar na jaar. Ek het dit nooit vergeet nie.
Dankie vir die besielende brief; dit onderstreep weereens dat ’n onderwyser nie daar is in ’n beroep wat net aan die leerlinge feitekennis moet oordra nie, maar dat hulle ook opvoeders moet wees om, soos ’n beeldhouer beelde maak nie, maar dat hulle opvoeders moet wees wat die kinders waarmee hulle werk ook moet leer van eerlikheid, respek vir mekaar, integriteit, nederigheid en deursettingsvermoë en baie ander sterk karakter eienskappe.
Wat is kosbaarder as die siel van ‘n kind. Die een wat skade daaraan doen sal verseker ‘n prys betaal. Troos jou daaraan nie net jy nie maar baie ander kinders kan van dieselfde storie getuig. Daarbuite die skoolterrein gaan dit erger. Dit is seerkry wat ‘n mens ervaar wat jou siel seermaak en dit is blywend. Die houe wat die lewe jou uitdeel wat mens moet kan hanteer. Glo vir my eendag sal elkeen se verhaal aan die lig kom, goed of sleg.
Lank laas soveel treurmare gelees. Die Onnie het my sleg behandel… die maaitjie het my kos gesteel…Daai een het dit gedoen… Die een het dat gedoen en deur dit alles is die arme kindjies wat tog so benadeel word.
Soos jy se die weermag het jou dinge geleer., Hoekom…want hulle het nie jou treurmare geduld nie. Die leuse was “Fit in or else” miskien is dit wat meer geleer moet word vir die kinders.
Hou op teef en kerm as jy nie jou sin kry nie. Niks in hierdie lewe werk so nie. So die onderwyser was onregverdig. Deal with it.
As hy dit nie gedoen het nie het jy net so slap gat soos die ander uitgedraai.
Se eerder dankie en hou op twak briefies skryf. Moet ek ‘n briefie skryf vir die Kpl in die weermag wat my 24 uur opgevoeter het maar wat uiteindelik gely het dat ek as een van die bestes geklasifiseer kon word?
Kyk maar in die geskiedenis. Alle groot name is deur groot moelikke omstandighede gevorm. Dit is wat verloorders van wenners sky.
So skryf eerder vir die bloeidjies van vandag dat hulle meer probleme moet voor hoop sodat hulle sterker kan uitkom.
Dit is nie die Onderwyser se plig om jou op te voed nie maar jou Ouers s’n. So gaan vra hulle eerder hoekom hulle jou behandel het soos ‘n porselein poppie in plaas daarvan om jou te leer hoe om dit te verwerk.
Treurmade? Jy sit die pot ver mis, ou seun. Geen treurmade van meeste komnentare, myne ingesluit, slegs gedagtes, en hoe dit ons gevorm het om beter mense te word. Ek is self ‘n onderwyser vir die laaste 27 jaar, en dit wat ek deurgegaan get het my ‘n beter mens gemaak. Leer lees eerste, lewer dan kommentaar, anders klink jy nes een van daai onderwysers wat nooit een moes wees nie.
Beste Hendrik
Ek hoop nie jy gee om dat ek vir jou ‘n briefie skryf nie. Ek kan egter nie anders nie, want dit lyk regtig vir my asof jy nie die hele brief gelees het nie.
Dalk kan ek vir jou die eerste sinne van die laaste parragrawe hier plaas:
“Ek skryf eintlik om dankie te sê.
Dankie dat meneer my geleer het hoe om teleurstellings te verwerk.
Dankie vir wat meneer my oor deursettingsvermoë geleer het.
Dankie vir dit wat meneer my oor selfbeeld geleer het.
Dankie vir wat meneer my oor regverdigheid geleer het.
Dankie dat meneer my gehelp het om my kind ‘n klein bietjie te help om ‘n goeie onderwyser te wees.”
Dus Hendrik, ongelukkig is my pa nou al oorlede, so ek sal nie vir hom kan vra hokeom hy my soos ‘n porseleinpoppie groot gemaak het nie, maar ek het juis nogal gedink dat hulle ‘n baie groot aandeel gehad het in hoe ek daardie dinge verwerk en hanteer het en wie en wat ek vandag is.
Groete
Attie
Hopenlik lees al die menere hierdie brief want n onderwyser kan n kind maak of breek. Ek is net bly hierdie verhaal het n positiewe einde. Daar is ongelukkig staaltjies waar kinders nie so sterk was om die onderwyser verkeerd te bewys nie. Dit is so waar dat die rykes het die onderwysers in my tyd ook omgekoop en jy as kind het maar geswyg. Daar is niks erger as n onderwyser n kind vertrap nie.