BYBELLEESPROGRAM VIR DESEMBER
Ek wonder hoeveel genade-kanse het ek al in my lewe gehad. Ek wonder hoeveel keer het ek deur die genade van my hemelse Vader ‘n tweede kans gekry en kon ek weer voor begin. Terselfdertyd weet ek ook van die kere wat ek my nie aan die waarskuwings gesteur het nie, en die bitter gevolge van my ongehoorsaamheid moes dra. Vandag se gelykenis gaan oor baie genade en ernstige waarskuwings.
“Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: ”n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek, maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk dit is nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.'” (Lukas 13:6-9)
Let op die volgende:
(i) Die vyeboom het ‘n spesiale plek gehad. In Palestina was die grond baie arm en vlak met die gevolg dat enige boom gelos is om te groei. In hierdie geval in die middel van ‘n wingerd. Die feit dat dit in dieselfde grond gestaan het wat die boer versorg het met die oog op sy wingerd het aan hierdie vyeboom ‘n bogemiddelde kans gegee om goeie vrugte te dra. Jesus het by herhaling gewaarsku dat mense verantwoording sal moet doen vir die geleenthede wat hulle gehad het. CEM Joad het gesê: “We have the powers of gods and we use them like irresponsible schoolboys.”
(ii) Nutteloosheid bring teenspoed. Die vraag waarop elkeen van ons ‘n duidelike antwoord sal moet gee is:”Van watter nut was jy in hierdie wêreld?” Ek is altyd verbaas oor die gemak waarmee ek selfs ‘n duur artikel kan weggee net omdat dit vir my geen waarde het nie, maar dit vir my lyk asof iemand die artikel nuttig sal kan gebruik.
(iii) Gebruikers kan nie oorleef nie. Die kultuur van die gemeenskap waarin ons leef is ‘n voorbeeld hiervan. Ons leef in ‘n gemeenskap met ‘n gebruikers-kultuur. (Misbruik is dalk nader aan die waarheid.) Ons is besig om die hulpbronne van hierdie wêreld op te gebruik. Hierdie gebruikers-kultuur is die belangrikste oorsake waarom natuurrampe oor die laaste vyf jaar met 100% toegeneem het.
Hierdie vyeboom het in die middel van die wingerd gestaan en net uit die grond uitgehaal, en niks terug gesit nie. My vrou het groot geword met die goeie gewoonte dat indien sy iets leen of iets van iemand anders moet gebruik, dan soek sy ‘n manier om daardie ding in ‘n beter toestand terug te gee as wat sy dit gekry het. As ons kinders byvoorbeeld ‘n skoolboek by iemand moes leen terwyl hulle op laerskool was, het die boek altyd teruggegaan met ‘n nuwe plastiek oor of ‘n mooi prentjie of so iets. So behoort ons ook met ons lewe en met ons aarde te werk. Ons behoort dit in ‘n beter toestand aan die volgende geslag en aan die Skepper na te laat.
(iv) Die goeie nuus van die tweede kans. ‘n Vyeboom neem gewoonlik drie jaar om volwasse te word en vrug te dra. As ‘n vyeboom na drie jaar nie vrugte dra nie, is die kanse goed dat dit nooit vrugte gaan dra nie. Die eienaar kom na die vyeboom toe met die verwagting dat genoeg groeityd verloop het sodat die vyeboom nou vrug sal dra. Hierdie vyeboom kry nog ‘n kans. Dit was Jesus se werkswyse – nog ‘n kans. Petrus en Markus en Paulus se lewens getuig almal van nog ‘n kans.
(v) Daar is ook ‘n laaste kans. Indien ons kans op kans nie gebruik nie en die Here se uitnodigings en uitdagings een na die ander van die hand wys, gaan die onvermydelike dag aanbreek. Nie die dag waarop die Here die deur vir ons gaan toemaak nie, maar die dag waarop ek self deur die keuses wat ek gemaak het om nie ‘n keuse te maak nie, vir my die deur finaal gaan toemaak.
Nou wonder ek: Hoe laat voorbeeld wat Jesus hier gebruik ons dink oor mense wat sê: “Ek het 20 jaar terug op ‘n kamp by die see my lewe vir die Here gegee en daar het ek besef dat Jesus in my plek aan die kruis gesterf het. Daarom weet ek dat ek hemel toe gaan as ek doodgaan.”
Hoe belangrik is dit dat die Eienaar by so ‘n persoon sal kom en vrugte sal kry wat by die bekering pas?
Ek lees graag jou gedagtes hieroor.
ek dink die woordjie “kans” word so algemeen gebruik vandag, omtrent soos “I love you” in die stories, dit het nie regtig meer betekenis nie. Juis daarom moet ons halt roep en weer besef dat daar nie oneindig kanse gegee word nie.
Vir my is die betekenis van die gelykenis nie net oor kanse nie. Die Here (die Eienaar van die vyeboom) stuur iemand (die tuinier) om ons te voed om te kan vrugte dra en as ons nie daarop ag slaan nie, kan dit slegte gevolge hê.
My vraag egter, hoekom sê die tuinier vir die eienaar hy kan hom self kom uitkap na ‘n jaar, die eienaar sal mos vir die tuinier die opdrag gee om dit te doen?
Ronel: Ek dink ook mens moenie staatmaak daarop dat daar altyd nog ‘n lans sal wees nie, maar ek is darem baie dankbaar dat daar elke keer vir my nog ‘n kans was. Ek is soms gefrustreerd met mense wat na my mening God se genade misbruik en soveel kanse as moontlik opgebruik, maar wie is ek? Ek ken nie my toekoms so dat ek sou kon dink dat ek nooit weer ‘n lans gaan nodig kry nie.
Oor die self uitkap, ek dink dit sinspeel op die wederkoms.
Attie, dis vir my onwerklik om te dink dat daar mense is wat self kies om ongehoorsaam te bly aan die stem van die Here. Ek stem saam dat mense die keuse uitoefen. Terloops, die Dordtse Leerrels se in hoofstuk 5 dieselfde. Maar tog, elke kans moet aangegryp word. daarom sal die engele juig oor elke wat positief reageer – bv. die man aan die kruis. God kap inderdaad die bome uit op die laaste dag.