Hierdie week se metode van Bybeltsudie of meditasie is die MAAK DIT PERSOONLIK! BID DIT! metode. Die metode behels dat ek die gedeelte wat ek bestudeer in die eerste persoon enkelvoud plaas – asof dit van my af kom. Daarna probeer ek om dit op my eie lewe van toepassing te maak. In die MAAK DIT PERSOONLIK! gedeelte vra ek sekere vrae soos: Hoe lyk ek in die spieël van die Skrifgedeelte? Wat sien ek in die lig van hierdie waarheid? Hoe is hierdie vers of parragraaf nou op my lewe van toepassing? Wat wil God hê moet ek daaromtrent doen? Hoe kan ek dit prakties maak? Waaroor moet ek anders dink of anders voel? Wat vra God van my om te doen, of wat moet ek ophou doen; wat moet ek glo, of nie meer glo nie? Hoe wil Hy hê moet ek van nou af lewe?
Vandag se teksvers is:
“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Filippense 1:6)
Wanneer ek die vers dan nou persoonlik maak en sekere woord met die eerste persoon enkelvoud vervang, dan lyk die vers so:
Ek is veral ook daarvan ootuig dat God, wat die goeie werk in MY begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
Hierdie vers speel nog dwarsdeur my lewe ‘n baie belangrike rol. Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek gedink het dat ek die goeie werk wat God in my begin het, ongedaan gemaak het. Ek het op ‘n punt in my lewe gekom waar ek eerder daarvan ooruig was dat God nie meer kans sien vir my nie. In daardie tyd het hierdie vers vir my geweldig baie beteken. Ek moes veral vir myself vra: Wat beteken dit om van ‘n saak “oortuig” te wees? Wel dit beteken om 110% seker te wees van ‘n saak. As jy van ‘n saak oortuig is, dan is daar niks wat jou anders oor die saak kan laat dink nie. Hierdie teks vra toe van my om van twee dinge oortuig te wees. Eerstens dat God ‘n goeie werk in my begin het en tweedens dat God die goeie werk wat Hy begin het gaan klaar maak. God gaan nie moed opgee nie. Alles en almal rodnom my, selfs aekself, kan moed opgee, God gaan nie. Nadat ek die keuse gemaak het om aan deur die Heilige Gees oortuig te word dat dit wel waar was, het ek die moeilike tyd in my lewe verby laat gaan en God daarna toegelaat om weer die skerwe op te tel.
Hy het, en vandag is Hy nog steeds besig om die goeie werk wat Hy begin het voort te sit. God se goeie werk in my is ook nog nie klaar nie. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God se werk in my klaar wees. “I am a work in progress.” Ek is God se meesterstuk en God is nog nie klaar met my nie. Ek is God se onvoltooide simfonie. Sy onafgehandelde meesterstuk.
Ek dink vandag ek het al ‘n hele entjie gekom vandat ek so oor myself gedink en gevoel het, maar ek moet nog steeds in God se werkswinkel wees. Die eerste aand wat ek met die tieners oor die 40 Dae in die Woord gepraat het, het ek vir hulle gesê dat stiltetyd my in God se werkswinkel intrek. Daar in sy werkswinkel is Hy deur die Woord, onder die leiding van die Heilige Gees besig om aan sy meesterstuk te werk. Om getrou te wees in my stiltetyd is om vir God kans te gee om alles wat met my gebeur en alles wat ek in die Woord lees te gebruik om in my en met my te werk. Hoe verder ons met hierde 40 Dae gevorder het, hoe meer het ek beleef dat dit so is. As ek toelaat dat my omgang met God se Woord iets meer is as net iets wat ek doen omdat ek dit moet doen, of selfs iets wat ek doen in voorbereiding van ‘n preek, dan beleef ek hoe God aan my en in my werk.
GEBED
Hemelse Vader, U is die Skepper van alles en die her-Skepper van my lewe. Ek dank U uit die diepte van my menswees vir die besondere groot voorreg van verlossing in en deur U Seun Jesus Christus, my Here. Ek dank U ook Heilige Gees dat U sedert my bekering baie jare gelede nooit opgehou het om in my lewe te werk nie. Dankie dat U ook in die tyd wat ek self wou moed opgee, nooit opgehou het om omstandighede en gebeure te gebruik om my te vorm nie. Ek weet dat U ook in hierdie tyd in my lewe besig is om te werk en my tot voltooing te bring vir die dag wanneer Jesus weer kom. Opnuut sê ek vandag: Neem my lewe Heer, vorm dit tot U eer.
Amen
So mooi Attie, jy het hierdie stuk vir my eintlik, meesterlik beskrywe. Ek prys U, O VADER wat voorsien vir die fees in my lewe. Dankie vir elke viering, vreugdes en seën – vir die goedheid en guns wat my volg…. Ek prys U ook vir die ewige fees wat wag! Amen