Ek het Sondag oor Filippense 3:4b-14 gepreek. Ek geniet dit altyd om in die week nadat ek oor ‘n teks gepreek het, terug te kom na die teks toe en net weer te vra: Wat het die Here vir my gesê deur die teks wat ek vir preek moes lees.
Die tekste wat ons lees is dieselfde tekste wat honderde duisende gemeentes dwarsoor die wêreld in ‘n betrokke week en op ‘n betrokke Sondag lees. Die Leesrooster wat ons volg staan bekend as The Revised Common Lectionary. Die tekste wat ons lees sluit dan aan by die betrokke stadium waar ons in die kerkjaar is. Ons is tans in Lydenstyd en ons tekste sluit daarby aan. In elke week sal daar ten minste ‘n teksgedeelte uit een van die evangelies wees, een uit die Ou Testament; een uit die Psalms en een uit die res van die Nuwe Testament.
Ons lees vandag Filippense 3:4b-14 met behulp van die MAAK DIT PERSOONLIK! metode van meditasie. Daar is een klein probleempie met hierdie teksgedeelte en dit is dat dit reeds in die eerste persoon geskryf is. Maar… ek weet nie van jou nie, maar ek lees dit nog altyd as van toepassing op Paulus. Ek wonder wat gaan gebeur as ek dit op my persoonlik van toepassing maak. Ek gaan probeer:
Maar, wat eers vir my, Attie, ‘n bate was beskou ek, Attie, nou as waardeloos ter wille van Christus, ja nog meer, ek, Attie, beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.
Ek wil jou uitnooi om hierdie vers dalk so oor te skryf. Lees voort “OF JY HOU MET ALTWEE HANDE VAS – OF JY HOU NIE VAS NIE”