RED ‘N SONDAAR VAN DIE DOOD (DAG 28)

Vanoggend se teks is Jakobus 5:19-20.

19 My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, 20 weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

Hierdie week se Jakobus tekste het my laat besef dat die praktyk van Christenskap nie net teoretiese kennis kan wees nie. Iewers moet ‘n Christen die praktyk van sy geloof in die gesig staar.

Wanneer ek hierdie teks lees dan is hier ‘n paar dinge waaroor ek wonder. Die skrywer praat van “broers” en dan iemand wat van die “waarheid afdwaal”. Indien so iemand nou teruggebring word, word die persoon van die “dood gered” en ‘n “menigte sondes word vergewe”. Ek verstaan dat ‘n menigte sondes vergewe word, maar beteken dit dat die persoon  verlore geraak het in die “afdwaal” proses? Ek is nie eens seker al die vrae sal beantwoord kan word nie.

LEES DIE TEKS WEER EN WEER.

1933/53 VERTALING

19 Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer,

20 laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek.

Die vertaling gebruik die woord “bekeer” twee keer en praat selfs van “siel uit die dood red”.

DIE BOODSKAP

19 Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie. 20 As hy hom nie gehelp het nie, sou daardie persoon totaal van God af weggedwaal en sonder God gesterf het. Hy sal daardie persoon help om weg te draai van al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, asof dit nooit deel van sy lewe was nie.

Hierdie vertaling beklemtoon dat die skrywer met Christene praat. Met ander woorde ‘n Christen raak die koers byster. Die vertaling skep die indruk dat daar nog ‘n omdraaikans was (is?) Iemand wat die koers byster raak en op daardie koers volhou kan heeltemal van God afvallig raak en sonder God sterf.

THE MESSAGE

19-20 My dear friends, if you know people who have wandered off from God’s truth, don’t write them off. Go after them. Get them back and you will have rescued precious lives from destruction and prevented an epidemic of wandering away from God.

Wat my uit hierdie vertaling aanspreek, is dat ons nie mense wat die pad byster geraak het moet afskryf nie. Ons moet agter hulle aangaan. Hulle op een of ander manier oortuig om (weer) terug te kom. Mense wat die pad byster geraak het, loop dikwels onbewystelik ‘n pad van self-vernietiging, want ‘n lewe sonder God is ‘n lewe van selfvenietiging. Hulle lewens is kosbaar en hulle loop die risiko om sonder God te wees.

THE NEW INTERNATIONAL VERSION

19 My brothers and sisters, if one of you should wander from the truth and someone should bring that person back, 20 remember this: Whoever turns a sinner from the error of their way will save them from death and cover over a multitude of sins.

Die fokus is hier nie soseer op die persoon wat afgedwaal het of die koers byster geraak het nie. Die fokus is hier (en dalk deurlopend) op die een wat so ‘n persoon terugbring. Met ander woorde, dalk is dit nie belangrik om te weet of so ‘n persoon eers gered was en toe weer onegred en nou weer gered is nie. Die belangrike punt is dat wanneer iemand wat uit die gemeenskap van gelowiges weggeraak het, weer terugkom, word so ‘n persoon van ‘n moontlike ewige dood gered en so weg van die gemeenskap van gelowiges gebeur daar baie sondes wat nou vergewe word wanneer hierdie persoon teruggebring word na God. Die leser moet besef watter geweldige groot rol hy/sy in so ‘n persoon se lewe kan speel.

THE AMPLIFIED BIBLE

19[My] brethren, if anyone among you strays from the Truth and falls into error and another [person] brings him back [to God],20 Let the [latter] one be sure that whoever turns a sinner from his evil course will save [that one’s] soul from death and will cover a multitude of sins [procure the pardon of the many sins committed by the convert].

Hier is Truth ‘n hoofletter. Wat is die waarheid? is ‘n vraag wat dan waarskynlik hier aan die orde kom. Ek dink nie ons het klaar hieroor gedink nie. Hierdie vertaling praat van baie sondes wat deur die “convert” gepleeg is. Hierdie “convert” verwys dan waarskynlik na die “convert” na die terugbring episode.

SÊ DIT IN JOU EIE WOORDE

Mede-Christene, moenie mense wat volgens jou afdwaal van die waarheid sonder meer afskryf nie. Onthou die persoon wat iemand wat die pad byster geraak het help om terug te kom, voorkom dalk net dat die persoon so ver wegdwaal dat hy selfs nie meer in God glo nie en dan sonder God sterf. So iemand wat ‘n “afgedwaalde” terugbring, maak ook dat ontelbaar baie sondes bedek word.

HOEKOM SÊ GOD DIT VIR MY

Vanoggend wil ek nie daaraan dink dat hierdie vers handel oor fundamentele waarhede nie. Ek wil vanoggend doelbewus aanvaar dat dit hier gaan oor waarhede waaroor Christene oor die wêreld tog nie eenstemmig is nie en dat hierdie waarhede Christene wegdryf van mekaar af.

Ek dink nogal die Here wil vir my vra: Wat maak jy met die mense wat van jou verskil? Kom ons veronderstel vir ‘n oomblik ek is 100% reg en die persoon wat van my verskil is 100% verkeerd, wat word van die persoon? Sulke verskille plaas geweldig baie druk op verhoudings. Wanneer mense so verskil is die makliker oplossing dat elkeen sy eie pad loop en so is die konfrontasie uit die weg geruim. In die hedendaagse, post-midernistiese kultuur, kies mense ook soveel makliker om eers hulle rug op ‘n gemeente te draai en dan op die kerk en dan op God. Is dit aanvaarbaar om so ‘n persoon maar aan sy lot oor te laat en te maak sof dit jou glad nie raak wat van die persoon word nie? Ek dink hierdie teks wil my daarop wys dat ek ook teenoor so ‘n persoon ‘n verantwoordelikheid het. Ek verhinder nie net dalk sy  verval nie, maar help ook dat sy sonde bedek word.

Hierdie vers staan aan die einde van die boek Jakobus. Nou dink en aan hierdie week se verse.

Sondag – beproewinge stel my in staat om te volhard. Hierdie tipe van verhoudings is soms ‘n beproewing.

Maandag – ek moet meer luister as praat en seker maak ek het reg verstaan voor ek praat en nie te vinnig kwaad word nie. In hierdie situasies wil ons mos te alle koste verdedig wat ons glo reg is. Dit lyk my ons gaan meer regkry met “afgedwaaldes” as ons geduldig luister.

Dinsdag – Ek  glo net daardie dele van die Bybel wat ek doen ook. Dit gaan nie help ek weet wat al die regte dinge is om te doen en ek doen dit nie. Dan speel ek speletjies en is ek nie opreg met God nie. So moeilik as wat dit is, moet ek ook met betrekking tot die “afgedwaalde” die regte ding doen.

Woensdag – “Afgedwaaldes” wat hulle rug op gemeentes en die kerk en selfs God gedraai het, wil geloof in aksie sien. Dit is die enigste manier wat hulle oortuig gaan raak dat Christene ernstig is oor hulle God en hulle geloof.

Donderdag – Ware wysheid gaan sigbaar word in die manier waarop ons teenoor hierdie mense reageer.

Vrydag – Die Here ken my diepste bedoelings. Ek hoef net op een plek reg te wees, en dit is in die teenwoordigheid van God. Op elke ander plek kan ek maar weer en weer verkeerd wees. Soms gaan ek ‘n “afgedwaalde” terugwen deur “verkeerd te wees. Ek sê dikwels: “Choose the hills you are willing to die on.” Ek wil daarby aansluit en sê: “Choose the truths you are willing to die for.” Sommige waarhede is net nie die moeite werd om ‘n ander persoon se siel verlore te laat gaan nie.

PRAAT MET GOD DAAROOR

Hemelse Vader, ek dink vanoggend aan al die “lyke” wat daar dalk langs die pad lê wat ek gekom het. Here Jesus, ek bely U as die weg en die waarheid en die lewe. Heilige Gees U is vir my die Gees van die waarheid. U herinner my aan alles wat Jesus gesê het en U gee ook aan my deur wat U van Hom ontvang het. Tog dink ek vanoggend  aan mense wat van my verskil het en wat dalk beleef het dat ek in hoogmoed en eiewaan op so ‘n manier aan my standpunt vasgehou het, dat hulle gevoel het dat daar nie meer vir hulle ruimte is nie. Ek vra dat U my daarvoor vergewe. Meeste van alles vra ek dat U by my ‘n gesindheid kweek waar die persoon belangriker sal wees as die waarheid, sonder om U as die Enigste Waarheid prys te gee.

Amen

3 thoughts on “RED ‘N SONDAAR VAN DIE DOOD (DAG 28)

Add yours

  1. Baie dankie ds.Attie vir die uiteensetting van die verskillende vertalings en ook die opsomming van die hele week se skrifgedeeltes. Dit gee vir my ‘n wye-doek uitsig oor hoe om die situasie in Jak 5:19-20 op die regte manier te hanteer, ‘n mens kan so maklik meer skade doen as goed. Ons het ‘n groot verantwoordelikheid as christene, en ek dank ons Vader vir toerustingsgeleenthede soos hierdie, waar ons soveel leer en waar ons geestelik verryk word. Baie dankie vir die harde werk.
    Groete

  2. Dit is mooi gestel dankie Ds. Attie. Onse VADER, ek aanvaar verantwoordelikheid vir my besluite in verhoudings & gesindhede. Ek kan nie ander se besluite vir hulle neem nie, maar ek aanvaar verantwoordelikehid vir my aandeel. Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: