My voorbereiding vir die naweek se geleenthede maak my intens bewus van Jesus se lyding. Vir Vrydag-oggend se erediens werk ek rondom die Geluide van die Lydensweg. Geluide wat begin by die soldate wat kom om Jesus te arresteer en dan eindig by die geluid van die graf wat toegaan. Psalm 31 verwoord vir my iets van wat Jesus in daardie tyd moes gebid het. Ons weet van net een sinnetjie wat Hy in die tuin van Getsemané gebid het en dit is:
My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26:39)
Ons weet egter dat Jesus twee keer teruggekom het en twee keer sy dissipels aan die slaap gekry het en elke keer het Hy weer teruggegaan om verder te bid. Sonder twyfel moes Jesus Psalm 31 geken het. Ek wonder of dit dalk deel was van sy gebed daardie aand.
10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.
11 My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie; dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam en smee planne om my lewe te neem.
15 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!
Die metode waarna ek vanoggend na die Psalm kyk is die MAAK DIT PERSOONLIK! metode. Lees voort “DIT GAAN NIE OOR MY NIE” →